Soms as ek so om my kyk en sien hoe ons as menslike spesie met disrespek teenoor ander lewensvorme optree, voel ek ‘n diep skaamte in myself.

Hoe het dit gebeur dat ons so min verstaan van ons deelwees en gemeenskaplike verbintenis met ons mede lewensvorme?

Lê die skuld by ons godsdienste?

Veral die godsdienste waarin die mens geleer het hul is die kroon van die skepping, en dat alle ander lewe ondergeskik is, en selfs hulle bestaan bloot te danke het aan die mens se behoeftes en oorlewing.

Soos byvoorbeeld in die Bybel in Genesis 1 vers 26 aangeteken staan: “Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip…”

En in plaas van dat dit die mens ‘n verantwoordelikheidsbesef gegee het, het dit presies die teenoorgestelde gedoen. Die mens het hulleself verwyder van die netwerk van die lewe en sodoende ‘n arrogante wese geword.

En in plaas van die beskermer van lewe, het ons die vernietiger daarvan geword.

So asof ons verhewe is bo die natuur. Seker daarom dat ons so wreed en onrespekvol begin omgaan het met diere en die natuur. En dit het ‘n prys!

‘n Hoë, baie hoë prys. Kyk maar net na die ekologiese krisis wat die mensdom tans in die gesig staar. Die einste ekosisteem wat ons besig is om te vernietig, waarvan lewe op aarde afhanklik is.

En die mens sal moet besef dat ons nie die kroon van die skepping is nie, nee, ons is maar ‘n klein deeltjie van die groter omvattende geheel. Niemand beheer niks nie. Inteendeel – die mens se bestaan en voortbestaan is ten diepste gekoppel aan die welstand van alle die ander vorme van lewe.

En hierdie vorme van lewe is ten diepste verbind aan mekaar, ons is een lewende organisme; mense, diere, insekte, plante, minerale, klippe, riviere ens.

Een groot familie. En die hartklop van hierdie een familie is respek. Respek vir mekaar, respek vir die lewe.

Ons het nodig om weer ons eenheid, ons respek en eerbied vir mekaar – ongeag spesie, ras, klas of geslag – te herontdek. Ons het nodig om eerbied vir mekaar te hê.

Om weer te verstaan dat ons is een, dat ons mede verantwoordelik is vir mekaar se oorlewing. Dat ons sal moet anders begin kyk na die lewe.

Dit geld vir hoe ons omgaan met die aarde se natuurlike hulpbronne, ons eetgewoontes en ons elke dag verbruik en misbruik gewoontes.

Presies dit wat die Nobel-vredespryswenner, Albert Schweitzer (1875-1965) gesê het met: “Until man extends his circle of compassion to include all living things, he will not himself find peace.”

Schweitzer was nog altyd vir my ‘n bron van inspirasie en ‘n rolmodel as dit kom by verantwoordelikheid neem vir mekaar; en met mekaar bedoel ek alle lewe.

Hoor hoe mooi stel hy dit self: “I can do no other than be respectful before everything that is called life. I can do no other than to have compassion for all that is called life. That is the beginning and the foundation of all ethics.”

Ek dink as ons weer Schweitzer se lewe en boodskap ernstig opneem kan dit dalk net ons weer help om ons rol en verbintenis te verstaan. En ook so ons innerlike vreugde herontdek.

Wie was Albert Schweitzer?

Albert Schweitzer is op 14 Januarie 1875 in die dorpie Kaisersberg op die Duits-Franse grens gebore. Hy was lief vir musiek en die kunste maar wat hom meer getrek het was teologie en filosofie. En dit is dan ook wat hy gaan studeer het op die Universiteite van Straatsburg.
Tydens sy studies word hy gefassineer deur die filosofie van Immanuel Kant en doen hy sy eerste doktorsgraad oor Kant.
Ek vermoed dat Schweitzer juis by Kant sy bewustheid vir eerbied vir alle lewe gekry het. Kant sê juis dat: “We can judge the heart of a man by his treatment of animals.”
As Christen teoloog doen hy baie navorsing oor die historiese Jesus. En sy tweede boek, getitel The Quest of the Historical Jesus, ondersoek Jesus as ‘n profeet van sy tyd.

Maar wat ek van hom die meeste waardeer, is dat hy, alhoewel ‘n briljante akademikus, reeds vroeg besluit het dat hy sy lewe aan sy medemens wil wy.

Daar word vertel dat hy homself voorgeneem het om net tot op die ouderdom van dertig, te studeer. Daarna sou hy sy lewe aan sy medemens en die natuur wy.

Hierdie ingesteldheid kan ook duidelik in sy woorde raakgelees word: “The purpose of human life is to serve, and show compassion and the will to help others.”

Hierdie passie vir sy medemens het hom uiteindelik laat besluit om medies te gaan studeer. Hy voltooi dan ook sy mediese studies in 1913 en vertrek dadelik daarna na Frans-Ekwatoriaal-Afrika (vandag bekend as Gaboen).

En anders as wat baie mense dink, was dit nie om mense tot die Christelike geloof te bekeer nie. Nee, sy grootste dryfveer was om ‘n fisiese verskil te maak in mense se lewens.

Sodoende help hy om ‘n hospitaal (in Lamberéné) op te rig en praktiseer hy daar as dokter en, slegs met enkele onderbrekings, doen hy dit tot aan die einde van sy lewe.

Natuurlik het baie van sy tydgenote gevoel hy gooi sy talente weg en dat hy meer sou kon doen as ‘n teoloog en filosoof.

Maar Schweitzer het ‘n innerlike visie gehad, en dit was dat die mensdom slegs gered kon word as daar weer ‘n diepgaande respek vir alle vorme van lewe sou wees.

‘n Lewensfilosofie wat hy “Ehrfurch vor dem Leben” (“Respek vir die lewe”) noem. Hy ontvang dan ook die Nobelprys vir Vrede is in 1952, juis vir sy filosofie en die uitlewing daarvan in sy werk by die hospitaal in Lamberéné.

En dit is juis sy filosofie van “respek vir die lewe” en die feit dat hy dit geleef het wat vir my so inspirerend van hom is.

Want kyk ek na hoe die moderne mens sonder respek leef, verstaan ek ook hoekom ons tans in so ‘n groot ekologiese krisis is. Sommige wetenskaplikes meen selfs dat ons moontlik ‘n sesde uitwissing van lewe op aarde in die gesig staar.

Schweitzer se filosofie van “Respek vir lewe” mag dalk net ons red. Hierdie filosofie van hom is nie ‘n ego gedrewe respek nie, nee, hy praat van die sterkste krag op aarde, die bron, hartklop van die kosmos: liefde.

Die krag wat alles laat wees, alles uitstuur en alles laat terugkeer. Die liefde wat die lewe is en dit ook omvat.

Die liefde waarvan die Christelike geloof ons vertel, in 1 Korintiërs 13 (vers 4 en 5): “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie na sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie…”

Dit wat Schweitzer probeer sê het met: “By respect for life we become religious in a way that is elementary, profound and alive.”

Nou die vraag, lewe jy respekvol? Sien jy die lewe rondom jou, in jou en in ander as die waardevolste geskenk moontlik?

Besef jy dat hierdie wonderlike planeet waarop jy leef, nie net ‘n dooie stuk rots is wat doelloos in ‘n baan om die son wentel nie. Maar dat alles, jy ingesluit, pols met energie. Met wat ons noem lewe.

En dat, net soos Schweitzer se ‘respek vir lewe’ hom gedryf het om uit te reik en ‘n verskil te maak, jy ook sal moet probeer om ‘n beter wêreld vir jou, jou kinders en alle lewe te skep.

Kom ons verkondig deur ons respekvolle optrede teenoor ander, die boodskap wat Lloyd Biggle Jr. so mooi verwoord met: “Life is life’s greatest gift. Guard the life of another as you would your own because it is your own. On life’s scale of values, the smallest is no less precious to the creature who owns it than the largest.”

Die tyd is nou, die plek is hier!