Alhoewel genadedood tans onwettig in Suid-Afrika is, het die uitspraak van Regter Hans Fabricius (Donderdag, 30 Mei 2015) om die aansoek van Robin Stransham-Ford vir genadedood, toe te staan, die saak nou weer op die voorgrond geplaas.
Stransham-Ford (65) wat ‘n lang stryd teen terminale kanker gevoer het, het die hooggeregshof in Pretoria gevra dat ‘n dokter hom mag bystaan om sy lewe te beëindig. Hy is egter dood aan natuurlike oorsake, kort voordat die hof sy aansoek om genadedood toegestaan het. Maar die uitspraak bly staan van Regter Hans Fabricius, en dit kan in die toekoms nog baie beteken vir die wettiging van genadedood.
Tans is dit wettig in Nederland, België, Switserland en die Amerikaanse deelstaat Oregon. Daar is wel in Suid-Afrika (al reeds in 1997 begin) ‘n wetsontwerp voorgestel wat aktiewe genadedood, asook selfmoord met mediese bystand, aanbeveel – natuurlik onder streng toesig en voorwaardes. Dit is egter nog net ‘n konsep voorstel.
Net voor ek aangaan, dit is wel belangrik om te verstaan dat daar onderskeid getref moet word tussen aktiewe en passiewe genadedood. Passiewe genadedood is wanneer mediese behandeling gestaak word, soos wanneer masjiene afgeskakel word wat iemand aan die lewe hou.
Wanneer ek egter van die wettiging van genadedood praat, verwys ek dus spesifiek na aktiewe genadedood, waar iemand gehelp word om te sterf. Of anders gestel, die reg het om waardig te kan sterf.
Aktiewe genadedood is nie ‘n eenvoudige saak nie. Dit raak aan wesensvrae soos lewe, dood, lyding en wie uiteindelik kan besluit.
Nou ek is die eerste een om te erken dat die saak rakende lewe en dood baie traumaties en emosioneel is. En geen woorde kan regtig voldoende troos bring vir iemand wat ‘n geliefde sy laaste asem sien uitblaas nie.
Maar dit is nodig om te onthou dat lewe nie net asem is nie. Jy is meer as jou asem en meer as jou liggaam. Lewe lê ook in die gehalte van jou verhoudings. Die lewe gaan nie oor verhoudings nie, die lewe is verhoudings. En wanneer jy moet besluit om ‘n geliefde se behandeling te staak, of jy moet besluit om ‘n span dokters te laat besluit om ‘n geliefde se lewe te beëindig – dan gaan dit ook oor verhoudings. Jou verhouding met jou geliefde, jou verhouding met jou familie, jou verhouding met lewe en dood, jou verhouding met jouself en jou verhouding met liefde.
Met genadedood gaan dit oor masjiene en medisyne wat nie meer kán help nie. En al waaraan daar dan vasgehou kan word, is dat ons in liefde vir mekaar se lewe en dood verantwoordelikheid sal neem. Maar voordat ons verantwoordelikheid vir mekaar se dood kan neem, moet ons eers leer om verantwoordelikheid vir ons eie lewens te neem. Om weer te verstaan wat respek vir die lewe beteken.
Maar meer as dit, dat ons veral in Suid-Afrika weer ons respek vir lewe herstel. Om met respek en deernis so te leef dat ongeag lewe of dood, elke tree voluit geleef word. Dat ons weer verstaan wat deernis beteken en wat dit van ons vra ten opsigte van ons medemens.
Want essensieel is lewe en dood dieselfde, dit kom vanuit dieselfde bron voort. Noem dit God as jy wil. Noem dit Liefde. Noem dit die wetenskap se sterstof tot sterstof of die kwantum-fisika se energie. Of soos Edvard Munch dit stel: “From my rotting body, flowers shall grow and I am in them and that is eternity.”
Die punt is, lewe en dood is dieselfde. Net ons tref ‘n onderskeid, seker omdat ons lewe ken maar totaal in die donker is oor die dood. Daarom vrees ons dit. Net soos ‘n kind wat bang is vir die donker. Vrees vir die dood is egter onnodig.
Om dood te wees is nie ‘n realiteit terwyl jy lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Want as jy voluit lewe, in die hier en nou, dan is die dood maar net nog ‘n nou.
Natuurlik neem hierdie idee nie die angstigheid weg nie, dit bring net perspektief op die saak. Ons verbeelding maak ons veel banger as die realiteit ooit sou kon. Ek persoonlik aanvaar my sterflikheid en werk hard daaraan om die idee rondom die Groot Niks of ‘terugkeer na vanwaar ek kom,’ te aanvaar.
So, ek vrees nie die dood nie, maar wel hoe ek moontlik kan doodgaan. Daarmee bedoel ek die wyse en manier waarop ek sal sterf. Dit kan dalk wees dat ek vir jare in ondraaglike pyn moet leef, soos Robin Stransham-Ford en soos hy selfs met onwaardigheid moet wag op die dood.
Iets wat ek vir niemand toewens nie. Daarom dat ek so sterk ten gunste van aktiewe genadedood voel. Die keuse om te mag sterf met waardigheid.
En ja, ek weet van die grootste teenstaanders teen genadedood is mense wat dit vanuit hulle geloofsoortuigings doen. En vir seker het almal die reg om te lewe soos hulle glo.
Maar dit is ook belangrik om respek te hê vir iemand wat anders glo. Nie almal glo in ‘n Teïstiese God (‘n Wese wat ver, buite jou iewers, bonatuurlik heers oor alles), of ‘n hiernamaals soos die Christene, Moslems of Jode nie.
Ons moet daarom versigtig wees om resepmatige, koue, teoretiese, dogmatiese geloofsoortuigings op ander af te dwing. Ons moet respek hê vir mekaar en toelaat dat elkeen die vryheid van keuse kan hê oor kwessies van lewe en dood.
En selfs die godsdienstige mense sal moet erken dat die mens al reeds op soveel ander maniere in die sogenaamde “God se beskikking” ingryp. Dink maar aan die voorbeeld waar masjiene jou moet help asemhaal, of hoë bloeddruk medikasie waarsonder jy nie sou kon oorleef nie.
Dit is nodig dat mense raaksien dat genadedood die verkorting van (sinlose) lyding is, eerder as bloot net die beëindiging van lewe. Dit verg ook ‘n denkskuif oor die wetlikheid van mediese ingrypings by die einde van die lewe. Om onder andere, van genesend na pynverligtend te dink, en uiteindelik, die waarde van menslike lewe.
Recent Comments