Die stadsplein was vol gepak met nuuskierige mense. Almal was daar om die debat tussen die twee filosowe te sien.
Die jonger een van die twee filosowe was baie ambisieus en het hierdie openbare debat met die ouer filosoof gesien as sy groot kans om uiteindelik naam vir homself te maak.
Maar vinnig het die jonger filosoof agtergekom hy is nie opgewasse vir die goed deurdagte argumente van die ouer filosoof nie. Met ‘n laaste poging om die ouer filosoof van stryk te bring, vrae die jonger filosoof die volgende vraag: “Weet jy wat dink ek van jou?”
Waarop die ouer filosoof rustig antwoord: “Ek gee nie regtig om wat jy van my dink nie. Jy het tog die reg, soos enigiemand hier, om te dink wat jy dink.”
“Hah!” Roep die jonger filosoof selfvoldaan uit, “…ek sal jou presies sê wat dink ek van jou! Jy is oud en jou teorieë is nog ouer. Om die waarheid te sê, ek dink jy is irrelevant!”
Hierop het die ou filosoof net geglimlag en stil gebly. Die jong filosoof het die stilswye gesien as ‘n teken van oorwinning. En hy het dadelik gevra: “En jy wat dink jy nou van my?”
“Ek dink jy is ‘n goeie en slim filosoof,” het die ou filosoof geantwoord.
Na die debat het die jong filosoof met smaak aan sy vrou vertel dat hy die ou filosoof lekker op sy plek gesit het. Hy vertel haar wat hy gesê het en wat die ou filosoof daarop geantwoord het.
Sy vrou het saggies haar hand op sy skouer gesit en vir hom gesê: “My liefste man, jy is ‘n dwaas! Toe jy hom sleggesê het, het hy nie stilgebly omdat hy nie geweet het wat om te antwoord nie. Hy het stilgebly omdat hy geweet het dat dit wat iemand van iemand anders sê, eintlik meer van hulself onthul as van die ander.”
Sy het voortgegaan: “En daarom toe jy vra wat hy van jou dink, het hy geantwoord wat hy van homself dink. Almal daar het dus duidelik gesien wie die eintlike goeie en slim filosoof is, en dis nie jy nie!”
Presies so onthul ons opinies, oordele, kritiek, woorde en dade, veel meer van onsself, as wat dit noodwendig iets sê van ‘n ander.
In sielkunde word daar gepraat van ‘projeksie’. Daarmee word bedoel, dat meeste mense, daagliks onbewuste gevoelens (motiewe en idees), vrese en onsekerhede aan ander mense en dinge toegeskryf.
Volgens die vader van psigoanalise, Sigmund Freud, is mense veral geneig om onaanvaarbare gevoelens (veral seksuele), gedagtes, wense of impulse aan ander toe te dig.
Dink maar aan mense wat baie skinder. Dit is ‘n goeie voorbeeld van projeksie. Want deur heeltyd op ‘n ander persoon se foute en swakhede te fokus, is ‘n duidelike teken van iemand wat sy of haar eie swakhede minder opvallend probeer maak, om daardeur eie skuld- en minderwaardigheidsgevoelens te verminder.
So eenvoudig gestel, is projeksie waar iemand se ‘ek haat jou,’ getransformeer word na ‘jy haat my.’ Dit stel die persoon dan in staat om die bron van konflik en stres buite die self te lokaliseer.
Maar eintlik is dit nie ‘n baie goeie strategie nie, want meeste mense kyk uiteindelik deur so ‘n projeksie. Want die een wat projekteer kan nie anders as om dit aanhoudend te doen nie.
En sodoende word sy of haar onbewustelike gevoelens – soos angs, verleentheid, minderwaardigheid, skuldgevoelens en woede – mettertyd vir almal sigbaar.
Die rede hiervoor is dat mense se onverwerkte gevoelens soos ‘n kool vuur binne hulle psige brand en mettertyd word die pyn so intens dat dit moet onthul word.
Juis daarom is dit so belangrik dat ‘n mens altyd sal moeite doen met jou innerlike wêreld. Om gereeld jou eie motiewe en idees te ondersoek. Om seker te maak dat jy nie vanuit ‘n innerlike onverwerkte pyn- of vreestoestand projekteer nie.
Want dit is ‘n voldonge feit dat meeste mense se vrees en angs mettertyd sal oorspoel in hulle optredes en dade. En meestal is dit in die vorm van vrees, woede en haat. En dit vergiftig alles rondom jou; familie, vriende, werksverhoudings en ook jou eie gesondheid.
En hierdie verstaan van onsself as die draer van die gif, is natuurlik om tot die diep insig te kom dat indien jy eers binne jouself begin om te genees, jy ook daardeur jou omstandighede kan verander.
As voorbeeld, neem jou intense woede wat jy voel vir iemand. En alhoewel jy dalk dink jou woede is geregverdig, onthou dat voordat jy nie die proses van vergifnis eers binne jouself kan begin nie, sal daar nooit ‘n einde aan die siklus van woede en haat kan plaasvind nie.
Die Zen leermeester Thich Nhat Hanh verduidelik dit so: “When we look deeply into our anger, we will begin to see that the other person, whom our anger is directed at, is only a secondary cause. The other person is not the real cause of our anger, we are.”
Presies waarna A. C. Benson verwys met: “Very often a change of self is needed more than a change of scene.” Die waarheid hieragter is dat die oomblik wat jy verander, verander alles.
Die ander kant is ook natuurlik waar. Indien jy iemand anders blameer vir jou woede of vrees, gee jy in der waarheid jou vermoë om te kan verander weg. En word jy so ‘n slagoffer van die een waarvoor jy kwaad is.
Daarom dat ek altyd myself herinner daaraan dat dit wat my kwaad maak, my regeer.
As ons regtig eerlik is, sal ons baie duidelik sien dat die huidige geweld, wreedheid en mishandeling wat ons so gereeld om ons sien, duidelik projeksies is van mense se eie onverwerkte innerlike vrese, woede en haat. Alles bewyse van die saad van vrees en woede wat binne meeste mense se harte lê.
En meer as enige ander tyd in die geskiedenis, is dit nodig dat ons die saadjies van vrees en woede binne ons sal begin transformeer. Hoe? Deur met eerlike waarneming en sagte oë eerste na ons eie motiewe en idees te kyk. Om eerlik te wees oor watter vooroordele ons daagliks in ons saamdra.
Dan, slegs dan sal ons vredemakers kan wees wat, deur insig en sensitiewe aandag, die moeilike en komplekse gebeure van ons tyd nie net verstaan nie, maar ook kan transformeer na iets beters. Vredemakers wat die wêreld kan verander.
Is dit nie waarheen Jesus, ook genoem die ‘Prins van Vrede’, almal opgeroep het nie? “Salig is die Vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Onthou altyd dat jy en ek moet begin by ons eie wonde voor ons ander kan help met hulle pyn. Wayne Dyer: “If you change the way you look at things, the things you look at change.”
Recent Comments