Het die moderne mens horende doof geword?
Want neem ek my wêreld om my waar, word ek vinnig bewus van die ewigdurende “geraas.” Dit is soos ‘n stroom wat eenvoudig nooit ophou vloei nie. En dit is orals, in ons motors, buiten die enjin se meganiese klanke, is die motorradio selde stil. In ons huise, TV’s, radios, lugversorgers, die yskas, waaiers. En dan praat ek nog nie eens van al ons sogenaamde kommunikasie middele nie. Dit is orals en hou nooit op nie.
Robert Wolff skrywe in sy boek, Original Wisdom, hoe oorlaai ons moderne omgewings geword het. “I am certain I am not the only one who has to turn off some senses in a supermarket or in a train station or in an airport … One learns – has to learn – to shut off some senses, to protect oneself from all that noise.” Klink dit bekend? En in die proses om onsself te beskerm teen die oorlading het ons ongelukkig verleer om diep te kan luister. Ons het eenvoudig net aangeleer om harder en meer te praat. En ons het hulpmiddels daarvoor gekry, van selfone tot rekenaars … maar luister, ongelukkig nie. En dit is so gevaarlik. Want om nie te kan luister nie maak ons dommer, nie slimmer nie. Presies wat die 14de Dalai Lama sê met: “When you talk, you are only repeating what you already know. But if you listen, you may learn something new.”
Natuurlik is die enigste manier om die volume van al die “geraas” om ons minder te maak, om self eers stiller te word. Maar soos Mark Sisson tereg vra: “Is silence just the absence of noise, or is there something deeper that defines silence – something we need to invite into our lives?”
Dit gaan dus nie net daaroor om stilte rondom jou op te soek nie, maar om veel eerder om innerlike stilte te vind. En dit gebeur op twee maniere; eerstens om bewus te raak van die stroom gedagtes in jou kop en eenvoudig dit te sien vir wat dit werklik is.
Kom ek verduidelik dit so. “Wie is jou grootste vyand?” het die Boeddha op ‘n keer gevra. En die vraag het hy dadelik opgevolg met ‘n tweede vraag, “En wie is jou grootste vriend?”
“Die antwoord op albei vrae is dieselfde,” antwoord Boeddha na ‘n rukkie van stilte, “… dit is jou gedagtes!”
Jou gedagtes is jou grootste vyand, omdat niks anders jou soveel pyn en leed kan bring as ‘n ongedissiplineerde kop nie. Maar die ander kant is ook waar, niemand of niks kan vir jou van soveel waarde wees as ‘n gefokuste en helder kop nie. En met kop bedoel ek natuurlik die gedagte- en emosiestroom wat ononderbroke deur jou psige vloei. Daarom is een van die heel belangrikste spirituele dissiplines, om te leer om ‘n waarnemer van jou eie gedagtes te word. En as waarnemer te besef jy hoef nie jou gedagtes so ernstig op te neem nie. Want alhoewel jou gedagtes ‘n wonderlike dienskneg is, is dit glad nie ‘n wonderlike meester nie.
Hoekom sê ek so? Want meeste gedagtes is destruktief en herhalend. En om blindelings toe te laat dat hierdie gedagtes jou lei, is om jouself bloot te stel aan ‘n doolhof van negatiewe energie. Jack Kornfield, ‘n sielkundige en een van die groot verkondigers van ‘Mindfulness’ stel dit so: “With mindfulness of the mind, you come to realize that much of what you believe is the product of your imagination.”
Tweedens, in die proses van innerlike stilte te vind gaan dit oor jou woorde. Woorde het krag. Woorde kan lewe gee, woorde kan lewe neem. Woorde kan vrees sowel as liefde aanwakker. Presies dit wat in die Bybel in Spreuke (18:21) omskrywe word as: “Dood en lewe is in die mag van die tong.” Woorde is ‘n skeppende krag.
Hiervan is daar die afgelope tyd vele voorbeelde. Dink maar net aan die onlangse rassisme-debat wat in sosiale media hom uitwoed. Alles die bewys van die krag wat woorde het om mense te verenig of te verdeel. Woorde het ongetwyfeld ‘n enorme vormende invloed op mense se belewenis en opinies van hul werklikheid. Want deur iets in woorde vas te vang gee jy nie net weer nie, nee, jy gee betekenis daaraan deur jou interpretasie, vrese en vooroordele.
En dan spoel dit oor in dade. Want dit is nou maar hoe dit werk. Woorde van vrees, haat en oordeel is soos saadjies wat in jou hart geplant word. En dit vat gewoonlik nie lank voordat die regte omstandighede dit laat ontkiem nie. Miskien is een van die belangrikste spirituele dissiplines daarom dat jy gereeld jou hart moet ondersoek. Sodat jy die onkruid van haat, woede en vrees vroegtydig kan uittrek en skoonmaak.
Ek onthou so goed hoe ek elke oggend in die Zen-klooster onder opleiding van Thich Nath Hanh die volgende beginsel moes opsê:
“Ek is bewus daarvan dat my woorde lyding of vreugde kan voortbring, daarom is ek daartoe verbind om opreg en opbouend met ander te praat. Om net woorde te gebruik wat hoop en vertroue skep. Ek is vasbeslote om nie onwaarhede kwyt te raak ter wille van eie gewin of om ander te beïndruk nie; of om woorde te gebruik wat verdeling of haat veroorsaak nie. Ek sal ook nie nuus versprei waarvan ek nie seker is dat dit waar is nie, en nie dinge kritiseer of veroordeel waarvan ek nie seker is nie. Ek sal egter my bes doen om wel oor dade of situasies van onreg te praat, selfs al kan dit my eie veiligheid bedreig.”
Iets waarop Don Miguel Ruiz in sy boek The Four Agreements ook baie klem lê: “Be Impeccable With Your Word. Speak with integrity. Say only what you mean. Avoid using the word to speak against yourself or to gossip about others. Use the power of your word in the direction of truth and love.” Is dit nie mooi nie? “… use the power of your word in the direction of truth and love.” Want as jy uiteindelik nie jou woorde in die rigting van waarheid, genesing, vrede en liefde stuur nie, dan is dit in die rigting van verdeling, haat en vrees.
Daarom is dit so belangrik om jou hart te ondersoek en jou tong te beheer. Meer nog, dit is ‘n verantwoordelikheid. En as jy in ‘n spesifieke situasie nie opbouend, positief of in die rigting van liefde kan praat nie, bly dan eerder stil. Meer nog as net stil bly, luister! Luister met ‘n oop gemoed. Luister nie om te kan antwoord nie, maar om te verstaan. En so, skep jy vir jouself en ander, meer stilte. En stilte is heilig, stilte bring ruimte vir groei en genesing. Daarom, praat minder, luister meer en word sodoende ‘n brug vir ander om die afstand tussen vrees en liefde te kan oorbrug. Sela!
Recent Comments