Verlede week berig Rapport dat Afrikaanssprekendes minder godsdienstig word en haal dan navorsing van Markdata aan wat wys dat die getal lidmate van die gereformeerde-kerkfamilie (wat die NG Kerk, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk insluit) besig is om te krimp.

Ek kom self uit hierdie kerkfamilie en val onder hierdie “kerkverlater”-statistieke.

‘n Paar jaar gelede het ek uit die NG Kerk bedank as predikant en lidmaat en sedertdien het ek gesien hoe al hoe meer mense die kerk verlaat. Anders as wat die kerkinstellings dink, verlaat mense nie noodwendig die kerk omdat hulle nie meer glo nie. Mense verlaat die kerk oorwegend omdat die kerk nie meer geloofwaardig is in sy vertolking van die werklikheid nie.

Mense wil nuut oor God en die werklikheid van die lewe praat. Hulle wil die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie en filosofie by hul verstaan integreer. Hiermee help die kerk bitter min, want die kerk het vasgeval en verkondig nog ‘n premoderne verstaan van God.

Vele van hierdie “kerkverlaters” maak ‘n draai by die charismatiese kerke, maar ná ‘n paar jaar verlaat hulle ook hierdie groepe. Want anders as wat die meeste mense dink, wil die postmoderne mens in ‘n eietydse taal nadink oor God. Die antieke metafore van konings en koninkryke is eenvoudig te klein vir die nuwe wêreld wat die tegnologie moontlik maak. Bio-tegnologie, bio-chemiese navorsing, stamsel-navorsing, neurologie, argeologiese ontdekkings en vele ander wetenskaplike prestasies verander nie net hul uitkyk op die werklikheid nie; dit plaas hulle in ‘n nuwe era waar nuwe spiritualiteit en ‘n nuwe verstaan van die goddelike ‘n voorvereiste word.

Die eenvoudige waarheid is dat mense meer weet en daarom wil mense anders dink en praat oor God. Op alle terreine is daar vooruitgang en ‘n vrye mark van idees. Behalwe in die kerk.

Mense sien dit raak. Mense sien die predikant se aanbiedings as oningelig en selfs oneerlik. Dit bring mee dat mense op ander plekke begin soek na antwoorde. Kyk maar net na die ongelooflik hoë verkope van boeke soos Eat Pray Love. Dit wys vir my hoewel tradisionele kerke se getalle drasties minder word, is daar ook ‘n momentum wat besig is om te groei – mense wat openlik al hoe meer nuwe vrae stel.

Voorbeelde hiervan is die Nuwe Hervormings Netwerk, die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, en die Renaissance gemeentes. Al drie verteenwoordig oop en vrye denke. Die mense wat dit bywoon, is Afrikaanssprekendes wat die tradisionele verstaan van God nie meer onderskryf nie. Mense wat van verskeie tradisies gebruik maak, van Boeddhisme en Christelike Mistiese sienings tot die wetenskaplike verstaan van die werklikheid. Hier word geneem uit die beste van vele tradisies, sonder om ‘n nuwe dogma te verkondig.

‘n Veilige ruimte vir soekers word geskep en stadig maar seker word die oop ruimte ál hoe gewilder onder die “kerkverlaters”.

As die kerk enigsins relevant wil bly, sal hy weer eerlik moet gaan kyk na hoe hy mense kan help om in die hier en nou gelukkig te kan leef. Hy sal moet besef dat mense se wêreld anders lyk. Aan die een kant het ons die kwantumfisika wat toon dat atome, wat aanvanklik as die kleinste boustene van die heelal beskou is, onderverdeel kan word. Dat hierdie sub-atomiese deeltjies, wat ook in die buitenste ruimtes van die heelal is, energie uitstraal; energie is. Dat die ganse kosmos energie is.

Dat die nuwe model van God verstaan energie in ag sal moet neem.

Dat hy eerlik sal moet kyk na wat leer hy kinders. Dat niemand meer eerlik kan glo dat Adam en Eva die eerste mense was nie; ook nie dat die aarde in ses dae geskape is; dat Noag nie sy gesin en pare van al die diere in ‘n primitiewe houtskip maande lank gehuisves het nie.

Want selfs kinders se praktiese ervarings en insigte sê bogenoemde is bloot nie die waarheid nie.

Die tyd is hier en die tyd is nou!

Mense is gereed om oop, eerlik en met verantwoordelikheid die lewe met al sy uitdagings tegemoet te gaan.