Abel Pienaar:
Pionier in ‘n religieuse wendingstyd
deur Kobus Krüger
Your Title Goes Here
Your content goes here. Edit or remove this text inline or in the module Content settings. You can also style every aspect of this content in the module Design settings and even apply custom CSS to this text in the module Advanced settings.
I) Uitdagende religieuse konteks
Die groter verband waarin die lewe, werk en uitwerking van Abel Pienaar (24 Augustus 1969 -1 Julie 2021) afgespeel het, was wêreldwyd ‘n situasie van grootskaalse verskuiwing en onrus. Dit is steeds die geval en sal vir nog ‘n geruime so bly. Kom ons beperk ons egter nou tot die Suid-Afrikaanse, spesifiek die Afrikaanse sosiale en kulturele konteks, met klem op die religieuse aspek van hierdie gemeenskap.
Mense afkomstig uit die Afrikaanssprekende kultuurgroep bevind hulle hier te lande in ‘n hoogs pluralistiese samelewing in krisis, worstelend om ‘n sinvolle verband te lê tussen Afrika-, Europese en Oosterse denk en leefwyses; om ‘n problematiese koloniale verlede kulminerend in apartheid en ‘n moontlike samewerkingstoekoms te versoen; om ‘n optimale koördinasie van uiteenlopende en skynbaar onversoenbare politieke, ekonomiese en algemeen kulturele behoeftes en belange daar te stel. Dit is ‘n samelewing in krisis en in oorgang. Waarheen? Hoe? Lê dekades van konflik voor, of sal versoening, optimale integrasie, moontlik wees en sosiale gestalte vind? Die vrae van uiteindelike waarheid en waarde meld hulself onontwykbaar aan. Dit is inderdaad in menige opsig ‘n wendingstyd. Sou ‘môre’ dalk meer kon wees as net nog kwantitatiewe, ‘kronologiese tyd’ (chronos) van een sinnelose episode van geweld en korrupsie na die ander tot wie weet wanneer, of miskien tog kwalitatiewe ‘geleentheidstyd’, ‘beslissingstyd’, ‘skeppingstyd’ (kairos)?
Hoe pas religie daarin? Die geskiedenis bewys dat sulke situasies soms meer was as broeikaste van twyfel, defensiewe apologetiek en offensiewe polemiek, maar wel ook die uitdagende geleenthede vir skeppende religieuse denke.
Die religieuse beweging waarin Abel gebore en getoë is en begin werk het, was die Gereformeerde/Hervormde Christendom, in ‘n nog breër verband die pluralistiese beweging teruggaande op Jesus van Nasaret. Oor die eeue het die breë volgelingskap van Jesus hulself in die brandinge van verskeie golwe bevind. Drie buitengewoon belangrikes, in die sin van mees uitdagendes en vernuwende denk-aanpassing wat noukeurigheid verg, was die volgende:
(a) Eerstens die aanpassing by en inpassing van Jesus in die Joodse monoteïstiese godsdiens, deur sy eerste volgelinge aanvaar as onbetwyfelbaar geldig want dit is deur God aan Abraham en Moses geopenbaar, en tog op sy beurt deel van die breër Nabye Oosterse teïstiese denke in verskeie, selfs botsende variante. Wat is die verhouding tussen Jesus en Jahweh?
(b) Die tweede branding, wat betreklik gou na die kruisiging van Jesus begin vorm aanneem het, was die integrasie van die monoteïstiese geloof in Jesus met die klassieke Griekse, Platonies-Aristotelies-Neoplatoniese metafisika. Hierdie grootse dogma-vormende sintese, wat sy piek in die dertiende eeu na Christus in Wes- en Oos-Europa bereik het, verkeer sedertdien in ‘n gestadige proses van problematisering, disintegrering en uitputting. Dit was manifestasies van die kognitiewe dissonansie tussen die onwrikbaarheid van die dogma (in werklikheid ‘n veranderende denkproses oor eeue) en die groeiende post-Middeleeuse verstaan van die werklikheid, onder die invloed van die wetenskap, in samehang met veranderende lewensgevoel en sosiaal-etiese denke.
(c) Tans verkeer die Christendom ook in die branding van ‘n uitdagende en uitnodigende ontmoeting met veral Oosterse religieë, wat in religieuse diepgang en teoretiese sofistikasie geensins vir die Christelike denkstelsels terugstaan nie.
Wat die breë Hervormde/Gereformeerde tradisie in verskeie variante, teruggaande op Calvyn (1509-1564) betref, kan gekonstateer word dat dit ook oor vyf eeue deur verskeie interne hervormings- en vernuwingsprogramme beweeg het, wat programmaties saamgevat kon word in die slagspreuk: ‘ecclesia Reformata semper reformanda’ (‘die Gereformeerde/Hervormde Kerk moet deurlopend hervorm word’ ─ per implikasie, terug na die sestiende eeu). Vandag is die vraag of die deurlopende vernuwende en tog terug-hervorming na die Hervorming ‘n voldoende antwoord op die huidige religieuse situasie bied. Die uitdaging, glo ek, behoort breër geformuleer te word, aan die hand van ‘n nuwe kernspreuk religio semper amplius formanda (‘religie [in ‘n nuwe, breë sin bedoel] moet [en kan] immer meer [breër, dieper, verder, subtieler] gevorm word’): dit gaan oor die moontlikheid van ‘n nuwe, verder-strekkende, meer-omvattende, meer-insluitende religieuse geheel-visie. Die tragiek van apartheid het stellig hier te lande ‘n betekenisvolle rol gespeel in die problematisering van enige dogmatiese absoluutheidsaanpraak van die Hervormde/Gereformeerde tradisie, en van die Christendom as geheel. Dit beteken nie dat die breër Calvinistiese tradisie, of die Christelike geloof afgeskryf en verwerp moet word nie. Inteendeel. Dit word gedra deur die oortuiging dat ‘n geheel-visie, soos in hierdie artikel veronderstel en in die denke van Abel Pienaar gesuggereer, ‘n geldige vertolking is van die diepste, half- of onder- of on-bewuste, onuitgesproke, ongeformuleerde tendensie (strekking) van die lewe en volgelingskap van Jesus.
Dit is die groter verband waarin Abel Pienaar geleef en gewerk en sy buitengewone bydrae gemaak het.
II) Lewe
(a) Ideël-tipiese pioniersfigure
Die geskiedenis toon dat in sulke situasies van krisis nuut-denkende pioniersfigure dikwels na vore tree. Hulle kan homoversele (die ganse mensdom betreffende) of beperkte groepsrelevansie hê. Soms bly sulkes non-konformiste alleenlopers buite die sosiale hoofstroom. Soms tree hulle met meer gevolg op, positief of negatief, en word beloon of bestraf deur die heersende omgewing. Soms boet hulle met hul lewens in die proses. Sommige, uiters weinig, soos Moses, Confucius, Lao-Tzu, Siddharttha en Jesus, het selfs funderingsfigure van nuwe en millennia-durende religieë geword.
Veralgemenend ideël-tipies gesproke, sou ‘n saak uitgemaak kon word dat sulke mense dikwels, maar nie altyd nie, van redelik jongs af sosiaal randstandig was, en nie heeltemal suksesvol geïntegreerd in die heersende samelewing nie; dat hulle een of ander tyd waarskynlik deur ‘n persoonlike sinskrisis gegaan het, wat kort of jare lank van duur was; dat hulle daardeur gekom het, grootliks danksy helpende figure, hetsy uit die verlede of tydgenote; dat hulle anderkant die krisis verskyn het met ‘n nuwe, intens–beleefde insig in waarheid, en gevul met ‘n nuwe taak-oplegging; dat hulle soms as mense charismaties was, suksesvolle leiers en organiseerders. Laat my byvoeg dat ander faktore, behalwe die intiem-persoonlike, mede-bepalend is in ‘n persoon se publieke profiel. Sosiale dinamika, kondisionerende omstandigheidsfaktore, speel ‘n groot rol. Die geskiedenis verberg talle onbekende paccheka-Buddha’s, groot nooit-gekende, vergete of verdronge verligtes. Soms bemark skelms hulself suksesvol as weldoeners, en soms word heiliges gebrandmerk as duiwels, met regters banger as veroordeeldes (soos in die geval van die verbrande Giordano Bruno [1548-1600]).
Ons wil Abel Pienaar, merkwaardige mens en religieuse pionier, verstaan.
(b) geboorte en kindertyd
Hy is in 1969 gebore in die Hoëveldse landbou-gesentreerde dorp Bethal, in die huidige provinsie Mpumalanga. Sy ouers was Pine en Esther, en hy was die oudste van drie kinders, met twee susters, Renata en Marelize.
Hy het in alle opsigte ‘n gelukkige, kommervrye kindertyd gehad, skool gegaan in Bethal, in Marietjie van Niekerk Laerskool en Hoërskool Hoogenhout. Hy het, verstandelik sowel as fisies sterk, ook in sport (rugby, karate en stoei) uitgeblink, en deelgeneem aan al die normale kinderbedrywighede van ‘n dorp, insluitend kerklike jeugaktiwiteite, sonder enige uitgesproke religieuse reserwe. Tog het hy self later (2014:xi) geskryf dat hy as negejarige luisterende na die dominee in die kerk onrusvrae oor godsdiens gehad het (“Presies hoe weet die dominee wat God dink?”), wat oor die jare bly toeneem het tot sy uiteindelike bedanking as predikant en lidmaat van die kerk as ses-en-dertigjarige, steeds besig om te vra.
(c) akademiese studie
Na skool het Abel gaan studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, met klem op sielkunde. Tydens sy studentetyd daar het sy onderliggende belangstelling in geloofsake toegeneem tot ‘n belangstelling in teologie, en het hy die innerlike roeping ervaar om tot die bediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk toe tree. Hy verwerf die BA (Teologie)-graad aan die Universiteit van Pretoria in 1993, die BD-graad aan dieselfde universiteit in 1996, en in 2006 die PhD-graad aan die University of Hartford.
(d) gemeente-bediening
Abel het in 1996 ‘n beroep na die Nederduitse Gereformeerde gemeente Skuilkrans in die ooste van Pretoria aanvaar, en is vroeg in 1997 as predikant daar bevestig. Dit was ‘n suksesvolle bediening, met Abel wat van die begin af as kansel-orator en geestelike jeug-berader die aandag getrek het. Hy het van die begin af ook ‘n sterk klem op spiritualiteit getoon. Dit het uiting gevind in sy direkteurskap van die Sentrum van Spritualiteit van die Oos-Transvaalse sinode. Tog het ‘n onderliggende twyfel, oor jare sluimerend, ontvlam en het ‘n nuwe denkwyse geleidelik ontstaan en gegroei. ‘n Spesifieke voorbeeld van die probleem waarna hy self verwys het, was sy begeleiding van ‘n sterwende bejaarde dame, in haar laaste bewuste oomblikke angsbevange oor die hel. Dit kon tog nie reg wees nie? Geleidelik het spanning in homself toegeneem, gepaardgaande met beduidende aksentverskille tussen hom en die kerklike leiding. Daar was egter nie vyandskap en gevegte uit teologiese loopgrawe nie. Inteendeel; selfs na sy vertrek was daar ‘n hoë mate van vriendskap, soos blyk uit gelukwensende korrespondensie van hom as oud-leraar met ‘n verjaarsdagviering van die gemeente, wat positief ontvang is. Vir skrywer hiervan is dit verblydend dat wat die gemeente sowel as homself betref, daar so ‘n mate van vriendelike toleransie was. Beginsel- en aksentverskille in situasies van krisis en oorgang soos tans die geval is, is onvermydelik en hoef nie te verval tot geestelike oorlog nie.
Aan die ander kant was ‘n besonder belangrike sneller en versneller van die sluimerende aardverskuiwing in sy binneste ‘n besoek aan Taizè in Frankryk as jeug-predikant in Skuilkrans. Hy het van die geleentheid gebruik gemaak om ook ‘n weeklange intensiewe studiebesoek naby Bordeaux af te lê by Thich Nhat Hanh (1926–2022). Hierdie privaatbesoek het heeltwat verder gegaan as die amptelike besoek aan Taizè as jeugleraar. Taizè was ‘n ekumeniese inrigting, bewoon deur Katolieke en Protestantse lidmate. Thich Nhat Hanh was ‘n Vietnamese Boeddhistiese Zen-meester, met ’n internasionale reputasie as geestelike begeleier. Kennelik het Abel ‘n persoonlike krisis beleef. Hy het stellig sy krisis met die Zen meester bespreek, wat hom, soos hy later verhaal het, die raad gegee het dat verlating van die Christendom nie nodig is nie. Tog was ‘n sluimerende saad van nie-konformerende denke wat ontwaak het, geleidelik aan die groei. Die feit dat hy so ‘n besoek geïnisieer het, onthul ‘n rigting van denke wat by hom reeds sterk teenwoordig was. In Abel se nagelate persoonlike notas en woord-en tekensketse speel Thich Nhat Hanh ‘n besondere rol. My vertolking van Abel se lewe is dat hierdie kontak, kort en tog lewenslank in gedagte voortgesit, ’n beslissende keerpunt was. Dit het die skaal finaal geswaai.
In 2006, na ‘n bediening van ‘n dekade, bedank Abel as predikant in die gemeente Skuilkrans, en terselfdertyd as lidmaat van die kerk. Maande van intense bestaansonsekerheid volg, waartydens hy onder andere as afrigter by skool-rugby aktief is, en ook T’ai Chi klasse aanbied, tot sy aansluiting as voltydse geestelike begeleier by Renaissance Gemeenskap in dieselfde jaar.
(e) huwelik
Abel tree op 22 Augustus 2008 in die huwelik met Zelda Löding. Die besondere band met haar was ‘n volgende deurbraakpunt in sy lewe. Tot Abel se dood toe was die egpaar ’n hegte eenheid, met Zelda “my weerligafleier en my vaste grond”. Hy het dikwels verwys na die ondersteunende en konstruktiewe rol wat Zelda en haar drie kinders (Wilna, Gerhard en Jané), soos sy eie kinders, in sy lewe gespeel het. Die foto-albums en die talle aantekeninge van Abel in sy joernale, tans soos sy boekery in sy studeer- en beradingskamer liefdevol in stand gehou soos dit tydens sy lewe die geval was. In die voorlaaste boek tydens sy lewe gepubliseer (Power of calm, 2017:92) lewer Abel getuienis van sy waardering van sy ouers, en van die onvervangbare rol van Zelda: “best possible friend”, en “the one who understands me best”.
(f) heengaan
Abel, 52 jaar oud, was op die kruin van ‘n golf van religieuse inspirasie en persoonlike lewensgeluk. Maar in Junie 2021 word hy ernstig siek aan Covid, word 13 dae in die Pretoria Oos hospitaal verpleeg, maar sterf tot die verbystering van almal wat hom as ‘n fisies sterk mens geken het, op 1 Julie. Dit was die einde van sy lewe, maar nie van sy uitwerking en invloed wat steeds voortduur nie.
III) Renaissance: Institusionele werk, uitwerking
In Augustus 2006 het Abel diens aanvaar by die ‘Renaissance Gemeenskap’, wat weekliks by die Safari Kwekery in Pretoria vergader het, Christelik in uitgangspunt, mettertyd meer ‘gnosties’ wordend, soos aangedui op die rugkant van sy vertaling en vertolking van die TaoTe Ching (2016) vir hedendaagse mense. Die intree by Renaissance met die uitnodigende moontlikheid van nuwe denke saam met geesgenote op reis, mede-pelgrims na nuwe horisonne, was ‘n derde lewensveranderende gebeurtenis.
(a) ideël-tipiese begin van nuwe religieuse strukture
In II hierbo is ideëltipies begin met ‘n nuut-denker se persoonlike ervaring. Laat ons nou, om die konteks van Abel se ontwikkelingsgang te verstaan, op dieselfde wyse begin, met verwysing na so ‘n denkbeeldige persoon se sosiale werking, uitwerking en nawerking. Om te begin, is, soos bekend, fonteine van nuwe inspirasie wat in gunstige omstandighede riviere van religieuse institusionalisering kan word, tipies charismatiese figure rondom wie anekdotes en legendes en selfs soms beskawing-verandererende mites kan ontwikkel. Dit was byvoorbeeld op ongeëwenaarde wyse die geval na die dood van Siddhattha die Boeddha en van Jesus die Christus. So ‘n mens is nie net inspireerder, voorbeeld en denker nie, maar sal dikwels ook oor die inspirerende en organisatoriese vermoë beskik om mense aan mekaar te bind en sosiale strukture en rolle te skep of bestaandes vol te staan.
Om te slaag, moet so ‘n beweging, organisasie-geworde gemeenskap, suksesvol kan populariseer en mense aantrek en inspireer; ‘n sosiale identiteit en tradisie kan skep; emosionele steun aan volgelinge en lede kan bied; voortsettende denkers voortbring; inspirerende rituele skep, en ‘n oortuigende leer en etiek bied. Die vestiging en voortsetting van sulke strukture is nie maklik nie, soos die religie-geskiedenis bewys, en so riskant as enige ander vorm van sosiale vormgewing. Primêre stil oer-inspirasie word, soms onontwykbaar, verpligte denk-aksiomas, dogmas; word vervolgens, in dalende orde harde sosiale grond toe, denk-en sosiale sisteem, ideologie; word beleide, programme; word, nog platter op die grond, toepassings met haas onvermydelike politieke posisionering, meningsverskil en twis, intern en na buite.
(b) Renaissance Gemeenskap
‘Renaissance’ (soos dit algemeen bekend is) is in September 2004 deur nog twee jong Afrikaanse alternatief-denkendes gestig: Gert Janse van Rensburg en Flip Schutte, albei uitgetree uit die Nederduitsch Hervormde Kerk. Daar was nog ander soekers ook, in dieselfde tyd in dieselfde dampkring asemend maar funksionerend in ander institusionele vorme soortgelyk aan Renaissance. In hierdie skets word volstaan met die noem van Renaissance en van die twee direk betrokke stigtersfigure. Soos gesê, in Augustus 2006 het Abel ook sy kragte ingewerp. Mettertyd het Gert sowel as Flip uit Renaissance vertrek.
In Renaissance het Abel met sy teenwoordigheid en ligte, aansteeklike humor, as denker, spreker, geestelike begeleier en institusionele leier groot indruk gemaak en ‘n blywende invloed op talle tastendes na ‘n ruimer denkruimte uitgeoefen, soos verskeie persone spontaan en vol waardering aan my gesê het.
Ruimte laat nie toe om in besonderhede in te gaan op die lewensveranderende uitwerking wat hy op talle mense gehad het nie.
(c) ‘sewe vertrekpunte vir oop debat’
Vir ons huidige doel sal dit belangrik wees om die ‘sewe vertrekpunte vir oop debat’ van Renaissance, deur Abel en ander taamlik vroeg in sy bediening daar (2014:287-291), effens verkort weer te gee:
“Vertrekpunt 1
Ons staan in verwondering voor ‘n groot en onpeilbare Geheim wat ons die goddelike noem, nie bevatlik vir enige mensewoord- of formule nie. Ons voorneme is dus om nooit ‘n afgod temaak van enige leerstelling oor of van die goddelike as sodanig nie. Alhoewel ons bewustelik vanuit die Christelike tradisie ─ in sy breedste sin ─ werk, is ons oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en die menslike gemeenskap van alle tye en kulture.
“Vertrekpunt 2
Ons aanvaar die solidariteit met alle lewende wesens; daarom dra ons ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar, die natuur en ons omgewing ─ wat soos die kosmos groei en ontwikkel. Ons voorneme is dus om aktief ons medemense te help in tye van nood en rampe, en om vir die minderbevoorregtes, swakkes en weerloses te sorg en op te kom. Hiermee saam wil ons ook veg vir die behoud en sorg van ons diere, plante en hulpbronne.
“Vertrekpunt 3
Ons is oortuig van die ewe-waardigheid en gelykheid van almal (geslagte, generasies, rasse, ens.) en ook hulle oortuigings … Ons voorneme is dus om nie eng aan ons huidige sienings vas te klou nie. Ons het waardering vir die Bybel en ander religieuse geskrifte. Maar soos enige menslike kennis en insig voorlopig is, so ook is religieuse kennis en insig voorlopig en gebrekkig; dus kan daar geen absolute gesag aan enige geskrif of belydenis toegeskryf word nie (ook nie aan hierdie geskrif nie).
“Vertrekpunt 4
Ons leef in hierdie wêreld, ons leef nou en ons streef om sin aan ons bestaan te gee deur ‘n eietydse spiritualiteit; wat oop, krities waarderend en saamwerkend is ten opsigte van die algemene samelewing, kultuur, wetenskap en die resultate daarvan, soos dit met tyd verander en groei …
“Vertrekpunt 5
Ons volg Jesus na as voorbeeld en leermeester. Daar is ook vele ander voorbeelde van leermeesters vir wie ons oop is om by te leer. Hulle almal is vir ons ‘n simbool van ons verbondenheid en eenheid met die goddelike. Ons voorneme is om nie ons opvattings op ander af te dwing nie, ons is vasbeslote om niemand ─ nie eens ons kinders ─ te dwing om ons opvattings te aanvaar nie, hetsy deur gesag, indoktrinasie of propaganda.
“Vertrekpunt 6
Ons lê klem op die kwaliteit van ons praktiese lewe: indiwidueel en sosiaal … en besef dat ons verantwoordelik gehou word vir die gevolge van ons keuses. Ons voorneme is dus om ons eie motiewe altyd eerste te ondersoek en indien ons woede en haat daar vind, dit te hanteer en te transformeerdeur liefde …
“Vertrekpunt 7
Ons weet dat niemand hierdie oortuigings alleen kan uitleef nie; dat ons afhanklik is van ons medemense …Ons voorneme is dus om met mekaar die lewe met vreugde en vrede te vier, maar om nie ander wat ly te vermy of ons oë vir hulle lyding te sluit nie, en om te help om lyding te verminder …”
(d) die huidige situasie in Renaissance
In 2019 het Philip Liebenberg by die voltydse span aangesluit deur ‘n tak van Renaissance in Johannesburg te stig. Met die siekte van Abel het Philip se bediening na Pretoria verskuif, en vandag, na die oorlye van Abel, is hy leraar van die gemeenskap.
IV) Geskrifte
Abel was wyd-belese, soos blyk uit sy boekery in sy en Zelda se woning, en die aanhalings uit geskrifte van verskeie religieuse tradisies en filosofie, asook veral sielkunde, teologie en algemene literatuur. Laasgenoemde verleen aan sy kommunikasie met die leserspubliek ‘n toon van kontemporêre relevansie. Vir hierdie artikel is die volgende gepubliseerde boeke uit sy hand geraadpleeg:
Saam op soek na God. Soeke na ‘n eietydse spiritualiteit. Griffel Media, 2010.
The warior’s manifesto, by Smile Warrior. Malan Media, 2012.
God se oë is blou. ’n Kop-en-hart-reis. Naledi, 2014.
Die dans met God. Naledi, 2015.
Tao Te Ching. Boek van die weg. Malan Media, 2016.
Power of calm. Malan Media, 2017.
Tao van wakker word. Spirituele gids tot innerlike ontwaking. Naledi, 2021.
Bykomend tot sy boeke, het hy ook foto-albums en boeke met besonder oortuigende sketse (hy was ‘n vaardige kunstenaar met pen in hand), handgeskrewe meditasies en opmerkings nagelaat. Veral bondige maar veelseggende Zen-aforismes, kultureel ver-Afrikaans, met Thich Nhat Hanh prominent teenwoordig, is die kosbare en fassinerende neerslag van sy steeds voortdurende soeke na oortuigende singewing.
V) Denke
Die onderliggende breed-Christelike vertrekpunt en oriëntasie in die sewe vertrekpunte hierbo val op. Dit is nou van pas om die algemene ontwikkeling en rigting van Abel se denke te verklaar, verstaan en vertolk.
(a) strategieë van religieuse denke
Soos vroeër opgemerk, verkeer die Afrikaanse kultuur, insluitend religieuse denke, in ‘n staat van oorgang, deel van die huidige homoversele gemeenskap. Die mislukte en tragiese, die totaal-situasie verkeerd-lesende politieke apartheids-episode (vgl. 2010:35 vir Abel se sydelingse kritiek daarop), het oor bykans dekades maar berustend op ‘n veel langer tyd se religieus gelegitimeerde praktyke, ‘n ernstige krisis geskep, nie slegs ten opsigte van wat sommige sou wou afmaak as ‘n ondergeskikte sydelingse etiese kwessie nie, maar ten opsigte van twee besonder basiese sake: (a) die keuse vir ‘n insluitende menslike gemeenskap in ‘n Kosmiese, universele lewensgemeenskap, of nie; en, daarmee samehangend, (b) die vraag of ’n hoogs letterlike, Biblisistiese, hiper-konserwatiewe, aan fundamentalisme grensende hermeneutiek noodwendig die beste, mees getroue omgang met ’n duisende jare oue tradisie is. Tot onlangs, selfs vandag nog, was en word eiesoortige, afsonderlike ontwikkeling, ook van religieë, ook vriendelik bedoel (dus in effek ‘apartheid’ met die beste voetjie voor, maar met vermyding van hierdie belaste woord), in effek aanvaar as ‘n geldige opvatting. Tans is die komplekse geheel-situasie heel vloeibaar. Afgesien van die globale mensheidsituasie en, plaaslik, die keuse tussen uitsluitende of insluitende denke, bevind ons ons al eeue-lank in die gestadige proses van ‘n ontbinding van die indrukwekkende Middeleeuse denk-katedraal, ‘n skynbaar onstuitbare proses waarin die Reformasie ‘n moment was. Die metafisiese grondwaarhede van die ou Boeddhisme, naamlik die anicca (‘nie-permanensie’)- en anattā (nie-ewige substansialiteit’)-karakter van die werklikheid en alles daarin, meld hulself vir oorweging aan.
Strategieë van religieuse denke vandag sluit ‘n paar oorvleuelende moontlikhede in. Een is, byvoorbeeld, die strategie van bolangse, eklektiese lukraak hier-pik daar-pik, onverwerk tot ‘n sinvolle geheel. ‘n Tweede is ‘n oppervlakkige sinkretistiese deurmekaar klits van religieë (‘almal sê dieselfde’). ‘n Derde, verwant aan die tweede, volstaan met ‘n tolerante suum cuique (‘[gun] elk sy eie’), met vermyding van die waarheidsvraag. ‘n Vierde is ‘n revisionistiese repristinasie van een of ander tydsgebonde model uit die verlede, miskien met enkele bolangse aanpassings. ‘n Vyfde is propagandistiese dominasie, bestem vir uitsluitlik een, al die ander, met aanspraak op onfeilbare, direkte Godsopenbaring, verwerpend as goddeloos boos en hel-bestemd. ‘n Sesde is ‘n apatiese of aggressiewe anti-religieuse diskwalifikasie van die vraag na uiteindelike sin as sodanig.
(b) God
In Abel se denke en publikasies speel die worsteling met die godsvraag ‘n sentrale rol. Die drie Afrikaanse boeke waar die woord ‘God ‘ in die titels voorkom, vertoon die voortgang van sy denke: in 2010 is hy “op soek na God”, in 2014 stel hy die alomteenwoordigheid vas van God wie se “oë blou”is, en in 2015 “dans” hy met God.
Abel het vroeg duidelik en uitgesproke afskeid geneem van die tradisionele, in dogma vasgelegde Christelik-teïstiese godsbegrip (2010:103). Daarmee samehangend is die Jode nie die uitverkore volk nie, is daar nie ‘n fisiese hemel en hel nie, en verkies God nie sommige volke en individue uit nie. Abel skaar hom egter nie in die kraal van a-(anti-)teïsme nie. Wat in die plek van die teïsme kom, is (nog) nie ‘n duidelik omlynde alternatiewe teorie of visie nie, maar die spekulatiewe, tentatiewe aftasting van ander moontlikhede sonder om tot ‘n finale slotsom te kom. Die volgende verwysings uit Abel se boeke bevestig die siening dat hy tot aan die einde van sy so gou beëindigde lewe gesoek het na ‘n alternatief. In sy ontwikkelende denke het Taoïsme en Zen-Boeddhisme toenemend ‘n sleutel-ontsluitingsrol gespeel.
Hy skryf byvoorbeeld (2010:2): ”God is nie meer ’n persoon nie … meer soos ‘n energie – die energie van liefde.” ‘n Ander denk-eksperiment (2010:11 e.v.) is om agnostisisme aan die een kant (dat God as “Bron van Alles” bestaan, word nie ontken nie, wel enige wete aangaande die hoe van die syn van God) en gnostisisme aan die ander kant (“God binne ons”) op te weeg. Daar word geen sterk keuse gemaak nie, maar ‘n voorkeur vir agnostisisme skemer deur (2010:27 e.v.). Nog ‘n ander moontlikheid, teen die einde van Saam op soek na God (2010:104 e.v.) entoesiasties geopper, is ‘n sterk suggestie van panenteïsme, waarmee hy bedoel dat hy tog in God glo, maar dan in “die goddelike meer as die heelal”. Die substansialiteit van God buite die kosmos word nie bevraagteken nie.
In 2014 word die werklikheid van (‘n) God aanvaar, maar as “almal se God” (2014:31 e.v.). Dit word dan toegelig met die klassieke Boeddhistiese beeld van die ses blinde broers wat vir die eerste keer met ‘n olifant te doene kry. Elke broer kry ‘n deel van die olifant beet (byvoorbeeld stert of slurp), en verabsoluteer dan die deel-perspektief tot die geheel-kennis van die dier, wie se massiewe teenwoordigheid nie ontken word nie. Op hierdie trajek denkend is daar ‘n God, en het al die gelowe ‘n deeltjie van die waarheid beet. In God se oë is blou beweeg die outeur op sy aftastende, spekulatiewe omskrywing van die goddelike, ook steeds sterk in ‘n panenteïstiese rigting. Hy betwyfel nie die bestaan van God nie, maar wel die verskillende (o.a. manlike) godsbeelde as menslike mitologiese dogma-konstruksies. God manifesteer nie net op die drie maniere (as ‘Vader’, ‘Seun’ en ‘Heilige Gees’) nie, maar op oneindig veel maniere, ook, formuleer hy treffend, in die blou oë van Zelda. Hy identifiseer steeds sterk met agnostisisme (2014:72-75), maar laat die moontlikheid van panenteïsme steeds besonder positief oop (2014:238-240). Hierdie “nuwe God” is “hier en nou” teenwoordig as “die krag agter die immer-veranderende kosmos”. Hieraan koppel Abel ‘n nuwe kosmologiese respek vir alle lewe. Hierdie denkrigting, ‘n finale fase in sy denke markerend, is tog nie heeltemal identies met die belydenis in Vertrekpunte 1 hierbo genoem (die vroeë Renaissance se bewustelike “vertrek vanuit die Christelike tradisie ─ in sy breedste sin ─ [is] ons oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies” ) nie. Die finale fase het die grens van blote ‘verdraagsamheid’ oorgesteek, en dui op die oop proses van sy denke tot op die einde van sy ondersoekende denke.
In sy lighartige 2015-boek opper Abel die verrassende, belowende perspektief van die kosmiese proses van immer herhalende lewe en dood as ‘n goddelike dans waaraan mens vrolik- gelukkig mag deelneem, en afskeid mag neem van “’n God wat gevrees moet word” (2015:266).
(c) stigtersfigure en die ontmoeting van religieë
Veral in Die dans met God (2015) word die verhouding tussen religieë en ons outeur se verhouding met Christendom en Boeddhisme (met Taoïsme ook teenwoordig) temas van bepreking. In sy ontwikkelende denke in al sy boeke is Jesus mens (2010:3), soos Lao-Tzu en die Boeddha en Mahatma Ghandhi ook was. Die maagdelike geboorte en opstanding is mitologiese metafore, en Jesus is soos die Boeddha “vir my ‘n verligte leermeester” (2014:205). Dus: “noem my gerus ‘n Zen-christen of ‘n Boer-boeddhis” (2014:203 e.v) (die skryfwyse ‘Boer-Boeddha’ in die teks is stellig ‘n onbedoelde skryffout). Sy self-identifikasie is een van dubbele assosiasie, christen sowel as boeddhis, al is dit nie in institusionele sin nie. In 2015 (bladsy 29 e.v.) is Jesus en die Boeddha “broers”. Mettertyd het Taoïsme ‘n besonder sentrale fokuspunt geword (vgl. 2016 en 2021). Opvallend is dat hy (2014:39, 163 e.v., 222 e.v.) die gesprek tussen gelowe as dringend uitlig, nie met die oog op ‘n nuwe sinkretisme of die stigting van ‘n alternatiewe godsdiens nie, maar as “intergeloofsdialoog”, gegrond in “diep waardering van ons gedeelde menslikheid”. Juis op grond daarvan het Abel nooit die Christendom verwerp of verlaat nie (2015:253-4).
(d) spiritualiteit en meditasie
Nodig is dus nie onderwerping aan verletterlikte mitologieë of rasionele dogma-konstruksies nie, maar die saam “raaksien en beleef van die Transendente”, die direkte belewenis van Gees, die Ander, as ‘n lewende werklikheid, in ‘n proses waartydens God en mens in mekaar “oplos” ─ ‘n gebeurtenis wat “in alle godsdienste dieselfde” is (2010:23 e.v.). Dit is “spiritualiteit”, in onderskeiding van “godsdienstigheid” (2014:114 e.v., 142 e.v.). Betekenisvol behels dit die dekonstruksie van dominerende manlikheid en die vervanging van ‘n antroposentriese lewenswyse na ‘n biosentriese lewenswyse (2014:280 e.v.), implikasies van die ontdekking van mens se “eie outentisiteit” .
Op die spirituele weg speel die “kontak met die goddelike” (2010:4, 91 e.v.), die belewing van God, vergestalt in meditasie, ‘n sentrale rol. Sy lering oor meditasie het sy finale vorm gevind in Power of calm (2017) en Tao van wakker word (2021).
(e) “geloofsbelydenis van ‘n soeker”
Boeiend is Abel se samevatting van die sentrale momente in sy geloof in ‘n persoonlike geloofsbelydenis (2014:373-74). Dit word aangekondig as die belydenis van “’n soeker”, nie van ‘n gearriveerde nie. Die eerste drie artikels en die laaste van die nege lui soos volg:
“Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos,
wie se naam verander soos die
soekers dit tydelik vind en noem.
Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.
Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en dat wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.
Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.”
VI) Terug- en vooruitblik, nawerking en toekoms
Belangrik is dat Abel nie sy voorlopige gevolgtrekkinge aanbied as bo-natuurlike openbaring of onfeilbare dogma of die nasê van so iets nie, maar as diskusseerbare, toetsbare vertrekpunte, uitnodigings tot oop, kritiese gesprek op die weg van soekers.
Dit beteken dat hy die eerste sou wees om die nie-finaliteit van sy denke te erken. Fynlees van sy geskrifte bring aan die lig dat sy denke oor ‘God’ nog in ‘n proses van oorweging was, en dat ‘n mate van onopgeloste oneffenheid bespeur kan word. In watter ‘n mate het hy byvoorbeeld uitgesproke die risiko in ‘panenteïsme’ aangespreek dat ‘God’ sodoende gesubstansialiseer kan word as binne en buite die kosmos bestaande, in wat as ‘n stap in ‘n proses van oneindige regressie, van al verder strekkende konsentriese sirkels van ‘binne’ na ‘buite’ gesien sou kon word? Wie of wat lê agter die God buite die pan-en-teïstiese kosmos, ad infinitum? Sou die ten diepste agnostiese, totale swye op die volkome einder van menslike dink en weet, nie die dieper insig wees nie? En meer in ooreenstemming met die Taoistiese en Boeddhistiese denkwyses waarby Abel so passievol aansluiting gesoek het ? Nie-substansiële leegte … die leë as waarom die wiel draai? Weer: in watter graad en op watter wyse sou hierdie laaste denkwendings die perke van Christelike ‘verdraagsaamheid teenoor alle religieuse tradisies’ oorskry?
Van groot waarde is sy klem op die mensheid en menslikheid van Jesus, op gelyke voet met enkele ander heel grotes, met insluiting van verligte geeste soos ‘n Confucius, ‘n Lao-Tzu, ‘n Moses, ‘n Siddhartha, ‘n Rumi. Hulle was ook groot leermeesters en voorbeelde, ook almal in die oorlewerings van hul lewens en lere bemitologiseer, maar almal kinders van menslike vaders, en met hul sterwes almal teruggekeer in die groot Kosmiese, sikliese bestaansdans.
Abel, bewustelik as Afrikaanstalige, simptoom en uiting van, maar ook mede-skepper van ‘n diep-liggende paradigma-verdieping en -verskuiwing in die denke oor religie, het vroegtydig, net oor vyftig, uit die lewe afskeid geneem, sonder vrees vir hel of hoop op hemel as plekke iewers elders, maar as “sterstof en tot sterstof terugkerend” (2014:211-221). Tog, in ‘n belangrike opsig en in ‘n groot mate eindig mens se bestaan nie met jou fisiese dood nie. Jou lewe is ‘n voorlopige som, met ‘n karmatiese nawerking. Mag Abel se nawerking geseënd wees.
Reisiger na stilte en insig, pelgrim na universele liefde en vrede, onthou Abel Pienaar: ontdekkingsreisiger, prospekteerder, ontdekker, delwer van skatte; vry gees, vrydenker, grensmens.
(Met dank aan familie, vriende en kollegas van Abel vir inligting en toeligting.)
