Die soveelste debat oor evolusie tussen godsdiens en wetenskap, het weer eens aan my bevestig dat meeste mense verkies – juis wanneer dit oor geloofsake gaan – die veilige hawe van blinde geloof.

Min mense (aan die kant van die godsdiens sowel as die wetenskap) hou van die kompleksiteit van onderling insluitende moontlikhede. Blinde geloof het natuurlik te doen met uitsluitende denke – gelowiges glo byvoorbeeld sonder enige ruimte vir kritiese denke aan die skeppingsverhaal, soos voorgehou word in hulle betrokke geloofstradisie.

Geen gesprek of moontlikheid vir die verstaan van evolusie word geduld nie. Hulle beskou enige twyfel of denke oor die saak as ‘n keuse teen God. Insluitende denke, daarenteen, sê jy hoef nie te kies nie. Jy mag maar probeer versoen. Jy mag eerlik en krities omgaan met jou betrokke geloof sowel as die nuutste wetenskaplike ontdekkings en bevindings.

So kan jy byvoorbeeld as Christen, redeneer oor wat is die bedoeling van die skeppingsverhaal in Genesis. Wat probeer die storie, metafoor en mite oordra aan jou ten opsigte van die lewe en die sin van jou menslike bestaan.

Natuurlik in ag genome dat die skrywers van daardie tyd, die beste gemaak het met die beperkte kennis tot hulle beskikking. Dat hulle met ‘n voorwetenskaplike wêreldbeeld gewerk het. Dat hulle skeppingsverhaal eintlik maar net ‘n storie is wat uitdrukking probeer gee het, aan hoe hulle op ‘n sekere tyd in die geskiedenis hulle werklikheid verstaan en geïnterpreteer het.

En dat hulle stories gekenmerk was en is deur metafore en simbole wat iets probeer sê, van hoe hulle toe oor die goddelike gedink het.

Dit kan ons vandag nog baie help in ons denke oor die mistieke. Want dit help ons ook om oor die dieper dimensies van menswees te wonder; hoe ‘n verhouding met die goddelike lyk; hoe ‘n sinvolle lewe in die hier en nou gestalte kan kry, en hoe om die heiligheid van die lewe te herontdek. Hiermee help die wetenskap nie regtig nie.

Daar is egter by my geen twyfel dat wetenskaplike kennis oor byvoorbeeld evolusie, die mens se verstaansmoontlikhede ongelooflik verryk; dat dit ‘n venster help oopmaak het, sodat ons ietsie van die groot geheim kan sien.

Natuurlik vervang die evolusieteorie nie die godsdiens storie-werklikhede nie, maar vertel eerder ‘n wetenskaplik geordende verhaal oor ons en die kosmos. Ja, dit is twee verskillende maniere van kyk en dink – maar as jy jou kop en hart oop genoeg laat – gaan daar ‘n wonderwerk voor jou oop!

Daarom dat ek so hou van die astronoom Carl Sagan se siening: “Science is not only compatible with spirituality; it is a profound source of spirituality. When we recognize our place in an immensity of light-years and in the passage of ages, when we grasp the intricacy, beauty, and subtlety of life, then that soaring feeling, that sense of elation and humility combined, is surely spiritual. So are our emotions in the presence of great art or music or literature, or acts of exemplary selfless courage such as those of Mohandas Gandhi or Martin Luther King, Jr. The notion that science and spirituality are somehow mutually exclusive does a disservice to both.”

Daar is ook ander soos die afgesterwe paleontoloog prof. Phillip Tobias, in my opinie een van Suid-Afrika se mees gevierde wetenskaplikes. Hy’t gesê: “Ek glo sowel wetenskaplikes as godsdiens-filosowe het groot respek vir die soeke na waarheid. As ons toenadering tussen wetenskap en teologie soek, moet ons fokus, op die dinge wat die twee gemeen het. Dit is net te maklik om te fokus op die dinge waaroor hulle verskil.”

Die einste prof. Tobias het glo jare gelede met Richard Dawkins (ateïstiese kampvegter en skrywer van onder meer The God Delusion) gesels en aan hom gesê daar is in die wetenskap heelwat ruimte vir verwondering en misterie. Dawkins het toe later presies dié stelling in een van sy boeke gemaak.

Daarom kom ons kyk met oë van verwondering na die lewe. Dink maar net aan iets soos die Oerknal-teorie. ‘n Teorie wat aandui dat die kosmos ongeveer 15 miljard jaar gelede ‘n beginpunt gehad het, en dit uit byna niks. En vandaar die oerstof wat evolusie aan die gang gesit het en steeds gestalte gee aan die uitdyende kosmos.

Ja, dat ons en alles om ons deel is van die steeds groeiende, oneindige kompleksiteit, is tog ‘n ontsagwekkende, goddelik en heilig iets. Dit is soos om God te sien as jy ‘n godsdienstige mens is.

Saam kan ons lewensbetekenis vind “…tussen die fisika van oneindigheid en die teologie van ewigheid,” soos Dr. Wilhelm Jordaan dit so mooi stel. Want die skeppingstories en mites oor God en die evolusie van die wetenskap, kan ons tog saam help om die binne en buite van menswees beter te verstaan.

Insluitende denke kan ons net verryk. Want kom ons wees eerlik met mekaar. Die antwoorde lê altyd ontwykend buite ons bereik. Opponerende en uitsluitende denke help niemand op die lang termyn nie.

Hopelik is ons as mensdom gereed om die volgende stap in ons evolusieproses te neem; en dit is om verligte en vrydenkende mense te word. Mense wat verstaan dat ons deel is van die netwerk van die lewe, deel is van die storie wat daagliks ontvou.

Daar is soveel wat nog op ons wag. Soveel wonderlike ontdekkings, wonderlike avonture. Kom ons gaan hierdie toekoms saam in. Met respek vir mekaar en met respek vir mekaar se menswees. “Science without religion is lame, religion without science is blind.” – Albert Einstein.