Kyk maar net rondom jou, en jy sal vinnig kan sien tot watter mate ons vergiftig is. Die simptome is oral sigbaar. Siek mense wat in verskillende fases van lyding en sterwe is.
Die siekte en lyding waarvan ek praat is dit waarna Boeddha verwys het as, Dukkha (lyding). Dit wat deur woede, haat, wanhoop, jaloesie, verslawing en selfbedrog die mensdom nie net vergiftig nie maar ook mettertyd vernietig.
Die Zen-leermeester, Thich Nhat Hanh, het hierdie vergiftiging so beskrywe: “These dukkha-mental formations can be described as poisons. And as long as these poisons are still in our heart, peace and happiness cannot be possible.”
En is dit nie ooglopend hoe siek iets soos woede en haat, die mensdom reeds maak nie? ‘n Siektetoestand wat ongelukkig hoogs aansteeklik is. Want sodra iemand vergiftig is, vergiftig hulle almal met wie kontak gemaak word.
Die mensdom is so vatbaar vir hierdie giftige emosies dat dit soos ‘n veldbrand kan versprei. Kyk maar net hoe vinnig haatspraak en geweld kan versprei.
En met ons moderne kommunikasiemiddele word dit net nog soveel makliker. Self-vernietigende en destruktiewe gedrag is ongelukkig aan die orde van die dag. ‘n Toksiese wêreld voorwaar.
Dit is die simptome wat ons sien van iets wat soos ‘n virus binne mense skuil. Binne elke mens se bewussyn is daar pyn, woede en frustrasies. Anders genoem: emosionele gif. ‘Gif’ genoem omdat dit ‘n mens letterlik innerlike siek maak.
Kom ek illustreer dit vinnig. Wanneer iemand jou misken of benadeel in iets, vorm jy ‘n innerlike teenreaksie. En as jy nie baie vinnig iets daaraan doen nie, vergiftig jy letterlik jou hele sisteem.
En dan wanneer jy eendag (selfs jare later) weer die persoon raakloop, dan borrel al daai vergiftigde emosies dadelik na bo. Of wanneer iemand anders iets sou sê of doen wat jou herinner aan die onverwerkte pyn, versprei die gif vinnig. Let wel, alhoewel jy kwaad is vir iemand anders, is jy die een wat vergiftig is. Jy’s die een wat die gevolge van die vergiftiging beleef, nie die een vir wie jy kwaad is of nie kan vergewe nie.
Ek weet nie van beter manier om die gif uit jou sisteem te kry as “mindfulness” meditasie waarvan Boeddha geleer het nie.
Woede, byvoorbeeld, is een van die mees destruktiewe innerlike gifstowwe wat ‘n mens se lewe vinnig kan vergiftig. En daarom is dit een van die grootste redes tot menslike lyding.
Die eerste stap tot effektiewe ontgiftiging is dus om te kan erken jy is reeds vergiftig. Om bewustelik, in die hier en nou, jou emosionele vergiftiging waar te neem.
“Breathing in, I know that anger has manifested in me; breathing out, I smile towards my anger. This is not an act of suppression or of fighting. It is an act of recognizing. Once we recognize our anger, we embrace it with a lot of awareness, a lot of tenderness,” so verwoord Thich Nhat Hanh dit.
Die beste definisie vir “mindfulness” is die van die bekende Jon Kabat-Zinn. Hy is die stigter van “The Mindfulness-Based Stress Reduction Program” van die Universiteit van Massachusetts se mediese fakulteit.
Hoor hoe stel hy dit: “Mindfulness is the capacity of being aware of what is going on in the present moment, and it means paying attention in a particular way; on purpose, in the present moment, and nonjudgmentally.”
Daarom is die effektiefste manier tot ontgiftiging om, byvoorbeeld, woede-gif binne jou nie te probeer beveg, ontken, of onderdruk nie. Nee, dit moet eenvoudig net erken word en met deernis aangeraak word.
In die praktyk beteken dit juis dat, deur mindfulness-meditasie, jy jou innerlike wêreld omarm en transformeer, en nie beveg nie.
Stap twee is om nie jouself te veroordeel, te verdoem of te haat oor die feit dat jy jouself en dalk ander vergiftig het nie. Nee, om eerder te verstaan dat net liefde meer liefde kan bewerkstellig.
En dat haat, vrees en veroordeling meer van dieselfde in jouself na vore sal bring. Hierop sê Thich Nhat Hanh: “If you don’t know how to treat yourself with compassion, how can you treat another person with compassion?” Want is dit nie presies die punt nie?
Bewustelike aandag bring meer deernis, sagtheid en liefde in jouself na vore. En dit vloei dan uit na ander. Jy kan tog net gee en wees wat jy self het en is. Jy kan net ‘n ander vergewe, in die mate wat jy jouself vergewe het.
Om dus wakker te word vir jouself, in hierdie oomblik, om wakker te word vir wie jy reeds is. Nie jou ego-storie, wat in essensie op vergiftiging neerkom nie.
Nee, jou ware self, die self wat nie vergiftig kan word nie. Want daar is geen ego, geen vrees en geen selfsug. Word wakker vir hierdie deel van jou.
Dit beteken gaan na binne, onderneem die belangrikste reis van jou lewe, die reis na die kern. Innerlike en sodoende uiterlike genesing is dan moontlik, maar slegs vir die wat bereid is om bewustelik na binne te gaan, en wat met deernis transformeer wat hulle daar vind. Moet nie te lank wag voordat jy met die reis begin nie. Daar is minder tyd oor as wat jy dink. Begin vandag. Richard Bach moedig jou aan met: “You have the freedom to be yourself, your true self, here and now, and nothing can stand in your way.”
Recent Comments