Ek kry gereeld versoeke van mense en groepe, wat met my wil gesels oor my idees rondom God en godsdiens. Ek geniet hierdie gesprekke baie.
Dit voel altyd vir my dat dit juis tydens hierdie geleenthede is dat ons naby aan die waarheid kom. En is dit nie ‘n ongelooflik kreatiewe geleentheid om saam met mekaar te soek, te wonder en te skep nie.
Want essensieel is daar geen vaste, altyd geldende en empiries bewysbare stellings as dit kom by God nie. En juis daarom is dit so ‘n lekker avontuur om saam met mede soekers na die ewig ontwykende goddelike te soek.
Konstante nuwe inligting oor wie ons is, van waar ons kom en hoe dinge in mekaar steek maak hierdie soeke opwindend. Presies dit wat John Hunt probeer sê met: “Our understanding of God today needs to be bigger as much as our picture of the universe is bigger.”
Nou toe ‘n groep my laas week nader om weer deel te word van so ‘n gesprek, het ek dadelik ja gesê. Ek het ‘n kort opsomming probeer maak van die aand se gesprek.
Vraag: Abel hoekom dink jy het die mens so ‘n soeke na sin en betekenis?
Abel: Wel saam met die mens se proses van taal ontwikkeling, het ook die vermoë om idees en konsepte te kan uitruil, ontwikkel. En om te kan filosofeer, te wonder en te redeneer het die mens toe begin onderskei van diere. En anders as diere het die mens nou begin soek na betekenis. Vrae soos, Hoekom is ek hier? Wat is my doel? Wie is ek? En wat gebeur met my na hierdie lewe? het natuurlik voortgevloei. En binne ‘n baie onvriendelike wêreld vol sinlose wreedheid en dood het die mens ontdek dat daar ‘n gevoel van veiligheid volg sodra hy of sy kan sê van iets, ‘ek verstaan’.
Vraag: Buiten die wetenskap, wat gee vir mense die meeste ‘ek verstaan’ antwoorde? Is dit nie maar die godsdiens tradisies nie?
Abel: Ja, godsdiens tradisies belowe dat hulle die antwoorde op hierdie bogenoemde lewensin vrae het. Die belofte van ‘n resep om die Skepper (soos ‘n spesifieke geloof tradisie dit verstaan) se goedgesindheid te kan wen – deur sekere gedrag aan te leer soos offers bring, rituele, gebede en spesifieke gedrag sodat die gode tevrede sal wees en beskerming en belonging sal voorsien. En om hierdie gode gelukkig te hou is om verseker te wees van reën vir die oeste en vrugbaarheid van hulle vroue om kinders te kry. Oorlewing. Daarom het primitiewe mense gestroom na die shamans, priesters en geestelike raadgewers van hulle tyd. Onthou dat die antieke mense nog nie veel geweet het van hoe dinge werk nie. Hulle was byvoorbeeld nog vas oortuig dat donderweer eintlik God se stem was as hy kwaad is. En so het mense oor die gode, natuur en lewe gedink en opgetree vanuit hulle beperkte insigte op daardie gegewe oomblik in tyd. Met die ontwikkeling van die wetenskaplike wêreldbeeld waar daar nie meer ‘n bo en onder in die heelal is nie en waar daar bewyse is van ‘n evolusionêre ontwikkeling oor miljoene jare, het dit egter vir die denkende mens toenemend moeilik geword om aan so ‘n primitiewe wêreldbeeld te glo.
Vraag: Hoe kry jy antwoorde op jou vra? Bid jy nog tot God? Vertel meer van jou ervaring/s.
Abel: As jy bedoel met God die ou siening van ‘n drie-verdieping wêreldbeeld waar God ‘n wese is wat daar ver bo die wolke op ‘n troon sit, wat soos ‘n koning ons hiet en gebied – of as jy bedoel dat engele en demone tussen bo en die middel rond swewe en ons as mense teister en as ons die toets slaag word ons beloon met die hemel en as ons die toets dop is ons voorland die hel of Hades – dan moet ek sê, kry ek nie veel meer sinvolle antwoorde nie. In die opsig van ‘n teïstiese verstaan van God is ek ‘n a-teïs. God is vir my veel groter as enige projeksie of idee wat ek van Hom/Haar kan maak. Want sien vir my is Alles God en ook is God meer as alles. En omdat ek deel is van Alles, is God en ek deel van mekaar. Anders gesê, elke keer wat ek besef “Ek is”, is ek deel van die groot “EK IS!” Soos die Evangelie van Thomas sê: “Daar waar ek hout kap en daar waar ek ‘n klip oplig, daar kry ek vir God.” En juis daarom is gebed nie meer vir my om tot die geskepte prentjie van God in my kop te bid nie. Nee, gebed word ‘n sug tot die misterie van God. Gebed is vir my nie ‘n oomblik op my knieë nie, veel eerder om my daagliks oop te stel vir die goddelike teenwoordigheid in alles rondom my, en binne my. Daarom is meditasie vir my so belangrik. As ‘n mens se gedagtestroom rustig vloei, kan jy maklik kontak maak met dit wat dieper in jou hart leef soos jou gevoelens, behoeftes en oortuigings. Hierdie proses van rustig word en konsentreer op stil word, plaas my op ‘n pad van kontak met die goddelike binne my. Deur meditasie kom daar ‘n groter eenheid tussen die verskillende lae van my innerlike. En dit help my met my bewustelike lewe. En ‘n bewustelike lewe – is om te bid. En daarin vind ek my antwoorde.
Vraag: Wat is jou verstaan van spiritualiteit?
Abel: Spiritualiteit is om direk en eerstehands te leef. Om verantwoordelikheid te neem vir jou lewe en die rol wat jy speel in mense, diere, plante en minerale se bestaan. Jou buitekant is soos jou binnekant en jou hele menswees is deurdrenk met die goddelike kern in jou. Dan is jy eg. Dan is jy heel. Spiritualiteit het dus volgens my alles te doen met ‘n sinvolle lewe hier en nou. En sinvol beteken om jouself te ken. Om te snap dat jy die een is wat kyk. Jy is die een wat skep. Om te verstaan dat alles by jouself begin. Daarom is selfkennis so belangrik. Want slegs wanneer jy jouself beter leer ken en verstaan vanwaar jou idees oor jouself en die lewe kom, kan jy begin dieper gaan. En met elke afskil van jou kondisionerings en vooropgestelde idees, kom jy nader aan die goddelike. Die groot mistikus Meister Eckhart sien hierdie afskil proses as die ontdekking van jou siel – jou ware identiteit. Hy skryf: “God is not attained by a process of addition to anything in the soul, but by a process of subtraction.” Hierdie proses van selfkennis, selfontdekking en sin vind is my verstaan van spiritualiteit.
Vraag: Noem jy jouself nog ‘n Christen?
Abel: Daar is besondere mense wie se lewens en woorde almal om hulle geïnspireer het om iets groters as hulle self, omstandighede en idees raak te sien. Hiervan is Jesus vir my ‘n besonderse voorbeeld. Ek noem myself graag ‘n navolger van Jesus. Maar ek het egter geen probleem om van die mistieke gnosties Christelike tradisies, Boeddhisme en ander gelowe, wetenskap, filosofie en sielkunde as voertuie gebruik te maak in my spiritualiteit nie. Al die tradisies is vir my net ‘n vingerwysing na die goddelike.
Vraag: Het die kerk jou geestelike reis bevoordeel of nie? En dink jy die kerk kan nog relevant wees?
Abel: Ek’s glad nie spyt dat ek as Christen groot geword het nie. Dit het my die geleentheid gegee om ‘n godsdiens tradisie met sy dogma en gebruike van binne te beleef. Ek het daarmee ontdek dat godsdiens is ‘n emosionele soeke na sekuriteit en nie noodwendig na waarheid nie. Ek het ook besef dat die kerk (hiermee verwys ek na die tradisie waaruit ek kom, die Nederduits Gereformeerde kerk) wel nog ‘n groot rol sou kon speel vir vandag – indien hulle ‘n ruimte kan wees waar mense ontmoet en met waarheid op ‘n eerlike en oop wyse kan omgaan. ‘n Ruimte waar daar saam na die goddelike gesoek kan word, met beide logos (rede, wetenskap) en mythos (simbole, mites, kuns, musiek). Die hartseer is egter dat die kerk tans kies om te sê hulle het reeds al die waarheid. En daardeur stop hulle die gesprek en die soeke. En so word die tradisionele kerke ‘n geslote sisteem. Ek pleit egter vir ‘n oop sisteem. Kan jy jou indink watter verskil die kerk kan maak indien daar green vrees vir die wetenskap of ander gelowe sou wees nie!
Vraag: Ten slotte, hoe vind jy persoonlik betekenis: in wie of watter dinge in die lewe vind jy sin?
Abel: Ek kyk nuut na my wêreld. Ek het dualisme (bo en onder, sigbaar en onsigbaar) laat vaar. Die heelal het nie meer vir my ‘n binne- en ‘n buitekant nie. Die paradigma waarmee ek nou na my werklikheid kyk is evolusie en die Oerknal, gegrond op Darwin, Einstein en Hawkins. My filosofie maak nou gebruik van al die grotes deur die menslike geskiedenis heen o.a. Boeddha, Jesus, Bruno, Dante, Gibran, Rumi, Ruusbroec, Tillich, Camus, J. Krishnamurti, Wilber, Spong en vele ander. Ek probeer luister en leer by almal, van die Christendom, Boeddhisme tot by die wetenskap. En godsdiens word nou vir my vervang met die woord spiritualiteit. En so word God nie meer ‘n God van sommiges nie, maar van almal. En nee, ek is nie besig om die goddelike weg te verklaar nie, ek is eerder besig om my denke rondom die goddelike te verskuiwe. Anders gestel, word die goddelike vir my groter nie kleiner nie. En in hierdie verskuiwing word dit duideliker dat die goddelike ‘n dinamiese krag is in die groot netwerk van lewe. En so word die lewe vir my soos ‘n dans. Om met eerlikheid, nederigheid, vreugde en passie elke dag se ritme te voel en daarop te reageer. Om met God te dans. Dit is wat vir my sin gee! Khalil Gibran: “Your daily life is your temple and your religion. When you enter into it take with you your all.”
Recent Comments