Dr. Elisabeth Kübler-Ross het haar lewe lank met sterwendes gewerk. En met verloop van tyd het sy letterlik duisende sterwensbegeleidings gefasiliteer. Vanuit hierdie ondervindings het sy ‘n hele paar boeke geskryf oor rou en die hantering van verlies.

In een van haar boeke beskryf sy die vyf stappe van rou. Dit is dalk eerder vyf prosesse, want hierdie prosesse is so uniek soos die persoon wat rou, verduidelik sy. Hulle is: Woede, depressie, ontkenning, onderhandeling en aanvaarding.

Elke stap is deel van die genesingsproses, maar soos reeds genoem, beleef verskillende mense dit verskillend. Kübler-Ross verduidelik dit so: “The five stages are a part of the framework that makes up our learning to live with our loss. They are tools to help us frame and identify what we may be feeling. But they are not stops on some linear timeline in grief.”

Hoewel Kübler-Ross op spesifiek die rouproses ná die afsterwe van ‘n geliefde gefokus het, is die prosesse van toepassing op enige belewenis van verlies. Dink maar aan hoe Suid Afrikaners vandag in die nuwe Suid-Afrika worstel met verlies. Die teenwoordigheid van woede, depressie en selfs ontkenning is oral sigbaar.

Daar word geworstel met verskeie eksterne verliese, soos die van posisie, mag, ekonomiese stabiliteit, erkenning en invloed. Dit veroorsaak dat ‘n nog verlies beleef word – die van sekuriteit. Byvoorbeeld: Baie mense weet nie meer wat hul rol en identiteit in die samelewing is nie. En dit bring gevoelens van woede, depressie en moedeloosheid na die oppervlak.

Natuurlik is dit net deel van die proses. Indien ons daar deur sou kon werk, sou ons uiteindelik by aanvaarding uit kon kom. Dit is wat Kübler-Ross as die punt van heelword beskou. Maar aanvaarding is vir baie mense nie noodwendig ‘n positiewe eindpunt nie.

Dit is vir meeste mense dieselfde as die passiewe, negatiewe en wanhopige uitkyk wat bekend staan as nihilisme. ‘n Toestand van opgee, onttrek en oorgee. Maar is dit wat Kübler-Ross met aanvaarding bedoel?

Aanvaarding is ‘n deur, waardeur elkeen moet gaan wat op soek is na heling. Let wel ‘n deur, nie ‘n bestemming nie. Slegs ‘n eerste stap in die rigting van transformasie, nie die laaste nie. Want Kübler-Ross het bevind dat sonder innerlike aanvaarding – van hetsy dood, fisieke of emosionele verlies – is daar eenvoudig geen liefde (lewe) nie, net vrees (dood).

En vrees is die broeiplek van woede, haat, selfsug en uiteindelik selfvernietiging. Want is dit nie so nie, dat innerlike en uiterlike konflik altyd voortvloei vanuit mense se onvermoë om te kan aanvaar dit wat is?

Aanvaarding van dit wat gebeur het, dit wat voor jou besig is om te ontvou, is die eerste stap in die rigting van liefde. Die grond vir kragtige verandering en transformasie innerlik sowel as uiterlik.

Boeddha wys dan ook uit, dat die alternatief vir aanvaarding, is die begeerte dat dinge anders moet wees, en dit, is die grootste bron van lyding sê hy. En Jesus se beklemtoning van die belangrikheid van vergifnis, kom op dieselfde neer.

Dit wat Kübler-Ross beskryf as: “We need to teach the next generation of children from day one that they are responsible for their lives. Mankind’s greatest gift, also its greatest curse, is that we have free choice. We can make our choices built from love or from fear.”

Aanvaarding is om te kies om saam met dit wat is te vloei, eerder as om dit teen te staan, te probeer beveg, verander of te beheer. Aanvaarding van wat is, is dus ten eerste om wakker te word vir die werklikheid. Dit wat is. Ongeag goed of sleg. Net wakker, net bewus.

Presies waarna die Jin en Jang-beginsel verwys. Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplimenterende teenoorgestelde het, byvoorbeeld: soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag. Dit is nie negatief teenoor positief nie, nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk.

Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterwe en dat die een voortvloei uit die ander – net soos die sonsopkoms gevolg word deur ‘n sonsondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel.

Want verandering is ‘n konstante proses, dit is nie goed of sleg nie. Dit is net. Meer nog die een het die ander nodig. Net soos jy ook jou skadukant nodig het. Die geheim is egter om die balans te vind, om geïntegreerd te leef.

Daarom is dit so nodig om te kies om wakker, bewustelik en in harmonie te leef, om te aanvaar wat in die hier en nou voor jou en binne jou ontvou. Om jou balans te vind te midde van wat gebeur.

Dink net hoeveel energie jy daagliks vermors omdat jy nie kan aanvaar wat is nie – jy nie saam met die ewigdurende wisselende ritme van die lewe wil vloei nie. Miskien is dit omdat meeste mense nog nie besef daar is so ‘n vaste ritme nie. Miskien het ons godsdienste, ons teorieë en filosofieë ons balans gesteel.

Wat ook al die rede, meeste mense mis die essensie van hul lewe omdat hulle vasgevang sit binne hul kop en droom van eendag, eerder as om die werklikheid voor hulle in die oë te staar. Die denkfout wat meeste van ons maak is om nag teenoor dag te stel. Om te wil kies vir een, in plaas van saam met die afwisseling te dans.

Want om nie te aanvaar wat in die oomblik ontvou nie, is om heeltyd te dink aan waar jy nie is nie en aan dit wat jy nie nou het nie, en dit is ‘n resep vir lyding. Deur te aanvaar dat jy in die hier en nou is, bring jou direk in die stroom van die lewe. Die enigste plek waar jy werklik ‘n verskil kan maak.

En om te midde van jou lewe se storms en sonskyn balans te vind. ‘n Middelpunt. Jou lokus van kontrole binne jou, nie buite jou nie. Dit waarna die Tao Te Ching vers 12 verwys (my vertaling):

Die wêreld word deur die Ware Wyse waargeneem
Maar hy vertrou net sy innerlike visie.
Hy laat dinge kom en gaan.
Sy hart is so wyd soos
Die hemele.

Binne bepaal buite. En dit is waaroor aanvaarding gaan, innerlike vrede. ‘n Vrede wat alle verstand te bowe gaan, ‘n innerlike lig wat die uiterlike donker kan verdryf. Soos Kübler-Ross dit dan ook pragtig verwoord: “People are like stained-glass windows. They sparkle and shine when the sun is out, but when the darkness sets in, their true beauty is revealed only if there is a light from within.” Wil jy jou wêreld verander? Begin dan by die aanvaarding van dit wat is. En soos jy jou balans en vrede terug wen, begin jou wêreld transformeer om by jou aan te pas.