Daar is niks magies of bonatuurlik aan meditasie nie. Nee, die teendeel is eerder waar, meditasie is natuurlik en aards.

Meditasie is om bewustelik terug te keer na jou asemhaling. En dit bring jou ook terug na die nou, na die werklikheid, na jou lyf.

‘n Eenvoudige hulpmiddel wat jou kan help om wakker te word; wakker vir dit wat is, eerder as vir dit wat was of nog gaan wees.

Meditasie is dus om doelbewus verby jou innerlike gedagte-stroom te beweeg, jou los te maak van die obsessiewe inkoop op jou storie.

‘n Storie wat heeltyd teruggryp na gister en dan daaruit ‘n konstruk skep, wat ons die ego noem. En hierdie ego konstruk projekteer dan hom/haarself op ‘n geantisipeerde toekoms. Meditasie is die een ding wat hierdie ego kan ontbloot vir wat dit is – ‘n geskepte storie. En dit gebeur omdat meditasie jou aanhoudend terugbring na die nou. Die plek waar geen geskepte storie kan standhou nie. Want in die skerp lig van die nou los alles vinnig op wat vals en kunsmatig is.

Kom ek illustreer wat ek bedoel.

Is die ‘nou’ dan nie die enigste plek waar jy kan asemhaal nie? Jy kan nie asem spaar vir more nie en jy kan nie asem gaan leen by gister nie. Net hier en nou is asem beskikbaar. Lewe werk ook so. Dit is net in die hier en nou beskikbaar. Dit is net nou werklik. Gister en more is nie vir lewe toeganklik nie.

Tog het ons onsself so verwyder van hierdie realiteit dat meeste mense ‘n kunsmatige en selfs onwerklike toestand van ‘aan die slaap lewe’ verkies bo wakker wees in die oomblik.

Dit is asof mense dit nie besef nie, maar hulle offer hulle lewens op vir ‘n dooie verlede en ‘n ongebore toekoms. Presies waarna Thich Nhat Hanh verwys met: “Many people are alive but don’t touch the miracle of being alive.” En hiermee kan meditasie ons help; om die wonderwerk van die lewe aan te raak.

Want is dit nie so nie, dat wanneer jy onbewustelik lewe, jou lewe in der waarheid meganies word? Jy beleef niks meer direk en eerstehands nie. Niks het meer betekenis in dit self nie, want jy filter dit heeltyd deur jou verlede belewenisse, herinneringe, kondisionerings, klassifiserings en ego storie. Sodoende vermoor jy die werklikheid deur dit wat voor jou afspeel te ontken. In der waarheid is jy dood vir die wonder.

En dit wat werklik is en dit wat lewe is, mis jy. En wat is werklik? Die asem in jou longe, die lig in jou oë, die wind teen jou vel, die gras onder jou voete, die sweet van jou dagtaak en die lewenspad wat jy tree vir tree loop. Maar meeste mense verruil dit vir ‘n opgemaakte, kunsmatige en geprojekteerde eendag. Die resultate van so ‘n lewe? ‘n Onbewuste, vrees en spanning gevulde bestaan. Vasgevang in gister se pyn, skuldgevoelens en mislukkings. Gedoem om dit te herhaal.

En in plaas daarvan om uit hierdie siklus te breek, vervang mense dit met ‘n verdere siklus van vrees en spanning – deur tydelike plesier, ekstase en ontvlugting na te jaag. Mense gebruik dwelms, drank, kos, seks, sport, vermaak, werk, godsdiens, politiek, verhoudings-drama, besittings ens, alles natuurlik met die hoop dat dit verligting sal bring.

Maar dit kan nooit meer as net tydelike verligting bring nie. Daar is in der waarheid geen bevryding op hierdie pad nie. Net meer van dieselfde. Meer van ‘n onbewuste bestaan.

Die enigste werklike bevryding is om heeltemal uit te klim. Om op te hou jaag van een ding na ‘n ander. Om te stop en wakker te word vir dit wat hier en nou in jou lewe besig is om te ontvou. Niks meer nie, maar ook niks minder nie.

Dit is die geheim van ‘n bewustelike lewe. Om sensitief vir die oomblik te wees, dit wat is. Nie vreesbevange vas te klou aan die verlede nie maar ook nie ontkennend en onbewus net te dwaal nie. Nee, veel eerder om met ‘n oop en vry gemoed elke hier en nou te sien as uniek en heilig. Om ‘n heilige te word.

In die Tao Te Ching word so ‘n heilige beskrywe as ‘n meester. “The master observes the world but trusts his inner vision. He allows things to come and go. His heart is open as the sky.”

Iemand met ‘n oop hart. Ken jy enigiemand wat heilig is? Iemand wat heilig leef?

Wel, indien jy so ‘n mens sou raakloop sal jy vinnig agterkom dat hulle nie engele of bonatuurlike wesens is nie. Hulle is gewone mense met gewone elke dag lewens. Die enigste verskil tussen hulle en jou is dat hulle nie meer inkoop op hulle ego stories nie. Hulle leef bewustelik in die hier en nou. Ongeag of die hier en nou, lekker of sleg is. Ongeag of dit dag of nag is.

Hulle aanvaar wat is. Hulle leef vanuit ‘n innerlike vrede wat oorspoel in hulle uiterlike lewens. Omstandighede bepaal nie hulle innerlike toestand nie, hulle innerlike toestand is bepalend.

Hierdie mense sterf daagliks aan hulle ego’s. Sterf daagliks aan hulle vooropgestelde idees en konstrukte. Dit wat J. Krishnamurti beskrywe as: “One must die every day to everything that the mind has captured and holds on to. Otherwise there is no freedom.” Hierdie mense leef lig en vry. Iets wat nie net vanself gebeur nie, nee dit is mense wat bewustelik kies hiervoor. Daarom sal jy vind dat die een ding wat hierdie mense ook in gemeen het, is ‘n meditatiewe lewe.

In watter vorm ook al, hierdie mense mediteer almal. Of dit meditasie is in die vorm van Zazen (sit meditasie), Tai Chi (meditasie in beweging), yoga, meditasie van die hart (Christelike vorm van kontemplasie) of net daagliks ‘n wandeling neem, stil in die natuur sit of tyd maak vir alleen wees.

As jy helderheid, fokus, kalmte en vrede begeer, is daar regtig net een manier, begin om te mediteer. Presies wat Amit Ray probeer sê met: “If you want to conquer the anxiety of life, live in the moment, live in the breath.”

Want om elke dag stil te word bring jou nie net in kontak met jouself nie, maar die stilte gee jou innerlike nou kans om dit wat aandag nodig het, uit te lig. Dit is soos die see wat vreemde voorwerpe mettertyd uitspoel. As die innerlike die kans kry, doen hy sy eie werk en hou homself gesond. Sodra jy nou hierdie innerlike stilte begin beleef word jy ook al meer oopgestel om bewustelik teenwoordig te leef.

Net so help meditasie die brein om van die aktiewe, rasionele en onrustige bewussynstoestand oor te beweeg na ‘n rustige, helder, kalm en ontvangende bewussynstoestand. En dan word elke asemteug en elke tree wat jy gee, gevul met vrede – en word die lewe heilig.

So, vra jouself af, wil jy gelukkig wees? Is jy op soek na vrede en harmonie? Wil jy jou wêreld ‘n liefdevoller en kalmer plek maak?

Mediteer dan elke dag. Met die klem op elke dag. En indien jy voel jy is te besig om elke dag te mediteer, luister dan na die raad van die Rooms Katolieke Biskop van Genève, St. Francis de Sales (1567-1622): “Half an hour’s meditation each day is essential, except when you are busy. Then a full hour is needed.”