Al hoe meer statistieke wys dat Afrikaanssprekendes minder godsdienstig word. Ek het selfs vanuit kerkkring navorsing gesien wat wys dat die getal lidmate van die gereformeerde-kerkfamilie (wat die NG Kerk, Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk insluit) besig is om baie te krimp.
Ek kom self uit hierdie kerkfamilie en val onder hierdie “kerkverlater”-statistieke.
Ek is nou al meer as tien jaar uit die kerk, in my geval die NG Kerk. Waaruit ek bedank het as predikant en lidmaat en sedertdien het ek gesien hoe al hoe meer mense die kerk verlaat. Anders as wat die kerkinstellings dink, verlaat mense nie noodwendig die kerk omdat hulle nie meer glo nie. Mense verlaat die kerk oorwegend omdat die kerk nie meer geloofwaardig is in sy vertolking van die werklikheid nie.
Mense wil nuut oor die goddelike en die werklikheid van die lewe praat. Hulle wil die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie en filosofie by hul verstaan integreer. Hiermee help die kerk ongelukkig bitter min, want die kerk het vasgeval en verkondig nog ‘n premoderne verstaan van God.
Vele van hierdie “kerkverlaters” maak ‘n draai by die charismatiese kerke, maar ná ‘n paar jaar verlaat hulle ook hierdie groepe. Want anders as wat die meeste mense dink, wil die postmoderne mens in ‘n eietydse taal nadink oor God. En die kerke se gebruik van antieke metafore van konings en koninkryke is eenvoudig te klein vir die nuwe wêreld wat die tegnologie moontlik maak.
Bio-tegnologie, bio-chemiese navorsing, stamsel-navorsing, neurologie, argeologiese ontdekkings en vele ander wetenskaplike prestasies verander nie net hul uitkyk op die werklikheid nie; dit plaas hulle in ‘n nuwe era waar nuwe spiritualiteit en ‘n nuwe verstaan van die goddelike ‘n voorvereiste word.
Die eenvoudige waarheid is dat mense meer weet en daarom wil mense anders dink en praat oor die goddelike. Op alle terreine is daar vooruitgang en ‘n vrye mark van idees. Behalwe in meeste godsdienste.
Mense sien dit raak. Mense sien die predikant, geestelike leiers en leermeesters se aanbiedings as oningelig en selfs oneerlik. Dit bring mee dat mense op ander plekke begin soek na antwoorde. Kyk maar net na die ongelooflik hoë verkope van boeke soos Sapiens en Homo Deus van Yuval Noah Harari. Dit wys vir my hoewel tradisionele kerke se getalle drasties minder word, is daar ook ‘n momentum wat besig is om te groei – mense wat openlik al hoe meer vrae stel.
Voorbeelde hiervan is die Nuwe Hervormings Netwerk, die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, en die Renaissance gemeente. Al drie verteenwoordig oop en vrye denke. Die mense wat dit bywoon, is Afrikaanssprekendes wat die tradisionele verstaan van God nie meer onderskryf nie. Mense wat van verskeie tradisies gebruik maak, van Boeddhisme en Christelike Mistiese sienings tot die wetenskaplike verstaan van die werklikheid. Hier word geneem uit die beste van vele tradisies, sonder om ‘n nuwe dogma te verkondig.
‘n Veilige ruimte vir soekers word geskep en stadig maar seker word die oop ruimte ál hoe gewilder onder die “kerkverlaters.”
As die kerk enigsins relevant wil bly, sal hy weer eerlik moet gaan kyk na hoe hy mense kan help om in die hier en nou sin en betekenis te vind. Hy sal moet besef dat mense se wêreld anders lyk. Aan die een kant het ons die kwantumfisika wat toon dat atome, wat aanvanklik as die kleinste boustene van die heelal beskou is, onderverdeel kan word. Dat hierdie sub-atomiese deeltjies, wat ook in die buitenste ruimtes van die heelal is, energie uitstraal; energie is. Dat die ganse kosmos energie is.
Dat die nuwe model van die goddelike omskryf en probeer verstaan, verseker energie in ag sal moet neem.
Dat hy eerlik sal moet kyk na wat leer hy kinders. Dat niemand meer eerlik kan glo dat Adam en Eva die eerste mense was nie; ook nie dat die aarde in ses dae geskape is; dat dit nie logies is om te glo dat Noag sy gesin en pare van al die diere, in ‘n primitiewe houtskip maande lank gehuisves kon hou nie.
Want selfs kinders se praktiese ervarings en insigte sê bogenoemde is bloot nie die waarheid nie. Dat metafore, simbole en mites nooit aangebied kan word as feite nie. Daardeur word die waarde, les en wysheid verloor.
Mense is gereed om oop, eerlik en met verantwoordelikheid die lewe met al sy uitdagings tegemoet te gaan. Om diep, met deernis en liefde sin te vind in die hier en nou. En daarvoor is nuwe, vryer en ooper denke nodig.
Ek sluit af met ‘n gedig van my, waarin ek op ‘n manier probeer verwoord hoe so ‘n nuwe, vryer denke kan lyk:
wat lê anderkant die horison?
geen woorde kan dit raak
as jy probeer
lieg jy te veel
as jy sê ‘Jahweh’, ‘Allah’ of ‘Brahman’
of as jy uitskree ‘Niks!’
konstrueer jy te veel
inderwaarheid kan geen een
beweer ‘wat’ nie
of selfs beskryf ‘dat’ nie
Recent Comments