Ek is nou al oor die jare verskeie byname of skelname toegesnou. Sonder om die kras en onwelvoeglikes te noem, waarvan daar ongelukkig heelwat is, is die meer algemene een die van Antichris.

Dit is seker nou maar die prys wat iemand moet betaal wat buite die gebaande weë wil wandel. Maar soms kom daar ‘n interessante etiket na vore, iets wat as ‘n skelnaam bedoel is maar wat op ‘n vreemde manier tog presies vasvat waar jy jouself bevind.

Die eerste van dié is “Agnosties.” Want sien, ek is vir seker agnosties. Die term is ‘n woord wat gebaseer is op die Latynse agnosco, wat beteken “Ek weet nie.”

Want as agnostikus het ek nog altyd gevoel dat ek nie so seker is oor al die sekerhede waarmee meeste gelowiges blykbaar omgaan nie.

Ek wonder nog te gereeld oor wie presies God is en wat beteken ‘n goeie lewe. Let wel, as ek sê ek is nie seker nie, verwys ek nie na ‘n oningeligte of besluitelose toestand nie.

Nee, ek verwys spesifiek na die ingesteldheid van nuuskierigheid (die behoefte om meer uit te vind), sowel as ‘n kritiese ingesteldheid om eie sekerheidskonstruksies heeltyd te bevraagteken. Dalk dit waarna Bertrand Russell verwys: “What is wanted is not the will to believe but the wish to find out.”

En dit is juis hierdie behoefte van my om vir myself te dink en self te beleef, wat die tweede interessante bynaam na vore bring. Dié van “Zen-Christen”.

Ek vermoed my kaalkop en my beoefening van meditasie het hierdie bynaam die lig laat sien. Ja, selfs onlangs het ‘n finalejaar student, Waldo Swart, ‘n projek oor my gedoen en tot die volgende konklusie gekom: “Abel Pienaar is ‘n dominee wat in Zen-Boeddhisme sy geestelike rigting vind, daarom noem ek hom ‘Boer-Boeddha’.”

Met “boer” verwys hy natuurlik na my Afrikaner-Calvinistiese agtergrond.

Die kombinasie van Zen-Boeddhis en Christen is wel ‘n rare kombinasie, maar in my geval glad nie onakkuraat nie.

Want in Zen (‘n mistieke vorm van Boeddhisme), gaan dit juis oor direkte en eerstehandse belewenisse en denke. Presies dit wat my so daarna aantrek. Zen-Boeddhisme is in vele opsigte eerder ‘n etiese en filosofiese sisteem as wat dit ‘n geloof in, of aanbidding van ‘n God is.

Dit is soos die Zen leermeester D.T. Suzuki dit stel: “Zen teaches nothing; it merely enables us to wake up and become aware. It does not teach, it points.”

Nou om iets meer te verstaan van Zen, moet ek dalk noem dat dit gegroei het vanuit die leringe van die Indiese prins Siddharta Gautama (563-483 vC) of die Boeddha (“die een wat wakker is”).

Interessant is dat Boeddha nooit na homself as God verwys het nie en dat hy ook sterk gevoel het dat dit tydmors is om oor die bestaan van God of gode te spekuleer.

Daar word ‘n mooi storie vertel, wat bogenoemde illustreer. ‘n Mede-leermeester het vir Boeddha onder ‘n boom sien mediteer. Toe het hy nader gestap en hom gevra: “Is jy ‘n god?” Boeddha het geantwoord; “Nee, ek is nie ‘n god nie.” Die leermeester was egter nie tevrede met die antwoord nie en het verder gegaan en gevra of hy dan ‘n engel of gees is. Maar Boeddha het elke keer nee geantwoord. Moedeloos het hy gevra: “Dan wat is jy?” waarop Boeddha geantwoord het: “Ek is wakker.”

In Zen word ook Jesus nie as ‘n goddelike wese gesien nie, maar as ‘n wyse en selfs “wakker” leermeester. Presies hoe ek ook Jesus verstaan. En as ek dus sê ek is ‘n volgeling van Jesus bedoel ek juis dit; hy is soos Boeddha vir my ‘n verligte leermeester.

Ek het ‘n paar jaar gelde in Frankryk, onder die Zen leermeester Thich Nhat Hanh gestudeer. En een dag toe ek alleen saam hom tee drink het, het ek hom gevra wat hy dink van Jesus. Hy’t geantwoord: “If you only satisfy yourself with praising a name, even the name of Jesus, it is not practicing the life of Jesus. We must practice living deeply, loving and acting with charity if we wish to truly honour Jesus. The way is Jesus himself and not just some idea of him. A true teaching is not static. It is not mere words but the reality of life … When we understand and practice deeply the life and teachings of Buddha or the life and teachings of Jesus, we penetrate the door and enter the abode of the living Buddha and the living Christ, and life eternal presents itself to us.”

Hiermee het hy gewys op sy verstaan van Jesus, wat net soos Boeddha ‘n verligte mens was – vir seker navolgenswaardig – maar wat nie daarmee sê dat hulle ‘n God was of is nie. Hulle is net vingerwysings na ‘n veel dieper realiteit.

Daarom het Boeddha se lering gefokus op die lewe hier en nou. Sy “Vier Edel Waarhede”-preek is gelykstaande aan Jesus se bergpredikasie in Matteus (hoofstuk 5 tot 7).

By hierdie geleentheid het Jesus sy aanhoorders vertel wat ware geluk beteken. Hy’t gesê: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt. 6:21), en daardeur het hy almal bewus gemaak van ‘n bewustelike lewe in die hier en nou.

Net so preek Boeddha dan ook oor wat ware geluk beteken. Hy sê dit kom neer op vier waarhede: Eerstens, die lewe is vol lyding, ellende, hartseer en onvervuldheid.

Tweedens, omdat ons inkoop op hierdie tydelike lewe vol lyding – want alles is tydelik en verander gedurig – ly ons. Derdens, om bevry te word van lyding moet ons afsien van ons begeertes na die tydelike (hierdie begeerte is vir Christene die definisie van sonde). En laastens, ‘n mens kan bevry word van die begeertes, deur die Agtvoudige pad te volg.

Die Agtvoudige pad gaan oor hoe ‘n mens met wysheid, morele gedrag, meditasie en intellektuele dissipline kan gelukkig leef. Natuurlik, net soos met die bergpredikasie, gaan dit oor ‘n morele en sinvolle lewe in die hier en nou.

En so kom ek by die tweede deel van die kombinasie van “Zen-Christen,” naamlik Christen. Wel, nieteenstaande die oortuiging van baie mense dat ek nie meer myself ‘n Christen kan noem nie, sien ek tog nog myself as ‘n Christen. Ek kan nie anders nie.

Dit is my tradisie en die plek waar ek die eerste keer met die dieper dimensie van die goddelike in kontak gekom het. En daarvoor sal ek my Christelike wortels ewig dankbaar wees.

Toegegee, my verstaan van Christen-wees, is nie deel van die hoofstroom verstaan daarvan nie. En ek aanvaar dit so. Maar dit maak nie my verstaan minder geldig nie.

Kom ek probeer verduidelik, ek vind binne die Christendom ongelooflike wonderlike rigtingwysers tot die dieper verstaan van die misterie van die Lewe.

Ek verstaan myself, ander mense, die wêreld en die kosmos – as deel van ‘n groter ontvouende geheim. En Jesus is vir my ‘n voorbeeld van hoe om sinvol hiermee om te gaan.

Ek meen as jy nie die Bybel as letterlik lees nie, is daar wonderlike spirituele wysheid opgesluit. Dink maar net aan Paulus wat in die Nuwe Testament sy lesers aanmoedig om verder te groei in kennis. Hy sê dat daar verby die fundamentalistiese feeste, heilige dae, reëls, regulasies en dogma gegroei moet word (vormgodsdiens). En dat Christene moet wakker word vir die groot geheim wat geopenbaar is: Christus is in jou.

Daarom moet elke Christen aan homself sterf (die eie ego en laagste bewussynsvlakke) en opstaan (wakker word, of volgens Zen die Boeddha word) as die Christus. (Rom. 6:4.)

Natuurlik is dit wat ek in die Bybel lees, nie meer vir my geskiedenis of letterlik nie. Nee dit is simbolies, metafories en vol wonderlike mites. En binne hierdie mitiese wêreld vind ek vele rigtingwysers na die moontlikheid van elke mens tot ontwaking en verligting. Ja, dat elkeen van ons kan wakker word vir die Christus-bewussyn of Boeddha-bewussyn binne ons.

En vir my is Jesus net soos Boeddha, nie ‘n geïsoleerde historiese gebeurtenis nie. Hulle lewens is die bewys van die menslike potensiaal tot liefde, deernis en innerlike vrede.

Hoor hoe mooi gebruik Thich Nhat Hanh die Christelike metafoor van die koninkryk van God in die volgende:

“The kingdom of God is available to you in the here and the now. But the question is whether you are available to the kingdom. Our practice is to make ourselves ready for the kingdom so that it can manifest in the here and the now. You don’t need to die in order to enter the kingdom of heaven. In fact, you have to be truly alive in order to do so.”

Dit is dan ook wat my Christenskap vir my beteken; om bewustelik in die hier en nou vanuit my ware identiteit te leef eerder as uit my ego of valse self. En hierdie ware identiteit kan genoem word die Boeddha-bewussyn of die Christus-bewussyn binne my. En dan word die volgende gedeelte ook weer lewend: “Ek is gekruisig saam met Christus: van nou af leef ek nie meer nie, maar Christus in my.” (Gal. 2:20.)

Dit is seker hoekom ek ook so groot geneentheid het tot die Gnostiese Christelike tradisie. Want hulle verstaan van Jesus was nooit dat hy God was nie, nee, hy was net ‘n mens soos ek en jy.

Hierdie “Zen-Christen” etiket is natuurlik nie uniek aan my nie. Juis een van my Christen-geloofshelde, Thomas Merton (1915-1968) is dit ook genoem. Merton was ‘n Christen mistikus, ‘n “Trappist Monk” wat gestaan het onder die orde van St. Benedictus.

Hy het dit so verduidelik: “In Zen I had found a way to see the Christian faith in its original spirit, before the theological formulations based upon Hellenistic philosophy became central … really, I see no contradiction between Buddhism and Christianity.”

En hoor hoe het die Dalai Lama (Tibettaanse Boeddhis) vir Merton beskryf: “I could see that he was a truly humble and deeply spiritual man. This was the first time I had been struck by such a feeling of spirituality by anyone who professed Christianity.”

Ek wil afsluit. Dit was vir my interessant dat die persoon wat het ‘n “Zen-Christen” genoem het dit so gekies het (bewustelik of onbewustelik), want in die etiket lê vir my opgesluit die nuwe spirituele weg waarop ek tans myself bevind.

Hopelik sal ek op hierdie weg ook ander kan help om ‘n outentieke, eerlike en eerstehandse belewenis van die lewe te hê. Dalk sal hierdie weg juis vrydenkers en vrygeeste help om weer nuut te begin dink oor hulle Christelike wortels. Weg van dogma, wette en menslike reëls. Thomas Merton: “In the last analysis, the individual person is responsible for living his own life and for ‘finding himself.’ If he persists in shifting his responsibility to somebody else, he fails to find out the meaning of his own existence.”