‘n Paar dae gelede het ek weer ‘n diep en mistieke belewenis gehad. Ek was besig met my gewone oggend meditasie, toe ek meteens voel of ek buite myself begin sweef. Eers wou ek my oë oopmaak en sodoende die vreemde gevoel stop, maar iets binne my wou nie. Toe gee ek myself maar oor daaraan.
Ek weet regtig nie hoe om dit in woorde om te sit nie. Maar laat ek tog probeer deur ‘n gebrekkige paar woorde.
Dit het gebeur: waar ek in ‘n flou winter sonnetjie sit
Niks groots of belangrik
Net ek wat sit
‘n Vlietende oomblik in tyd,
‘n Dinsdag voor ‘n Woensdag,
Iewers in Julie op pad na Augustus.
Ewe skielik breek ek in skerwe
Soos ‘n kleipot teen ‘n rots
Geen meer binne en buite
Geen meer erts of klip
Binne word buite
en buite word binne
Ek weet nie meer van self of grens
alles een, oplossend lig,
líg, en dan niks –
oneindigende niks
Tydloos en woordloos
Daarna, die wentel terug,
al stadiger,
tot stil,
gewoon die winter sonnetjie op my vel
Niks het gebeur,
maar alles het verander.
Hierdie beskrywing van ‘n mistieke belewenis is sekerlik niks nuuts nie. Baie mense het al sulke belewenisse gehad. Die verskil is net, vir my het hierdie belewenis niks te make gehad met God of godsdiens nie. En alhoewel hierdie belewenis, ‘n heilige en lewensveranderende ervaring is, is dit nie vir my ‘n bonatuurlike belewenis nie. Dit was ‘n natuurlike en eg menslike gebeurtenis.
Ek weet dat in godsdienste dink mense altyd aan die mistieke as ‘n ekstatiese, bo-natuurlike gebeurtenis. Maar omdat ek al lankal nie meer met ‘n teïstiese verstaan van God werk nie, was my ervaring in der waarheid “God-loos.”
Dit was veel eerder ‘n diep bewuswording van die eenheid van alles, selfs my eenheid met tyd en ruimte. Hier en nou.
Ons interpreteer altyd sulke belewenisse. Ons probeer dit verstaan. Konteks gee daaraan. En die wyse waarop ons dit doen is om dit te probeer “vertaal” deur die filter van ons spesifieke godsdienstige opvoeding (meeste mense se enigste blootstelling aan die mistieke en spiritualiteit).
So word spiritualiteit dus altyd gekoppel aan mense se spesifieke godsdiens. Só sal ‘n Boeddhis of Hindoe met spiritualiteit heeltemal iets anders bedoel as wat ‘n Christen of Moslem daarmee bedoel. En dit sal ook heeltemal verskil van wat ‘n ongelowige of ‘n ateïs daarmee bedoel.
Maar spiritualiteit is altyd veel meer as die eng definisie van enige mens of godsdiens tradisie. Meer nog, is spiritualiteit nie noodwendig teenwoordig waar godsdienste beoefen word nie. Soos Eckhart Tolle dit ook raak stel: “You can have religion with spirituality. You can also have religion without spirituality.”
Dit gaan dus alles oor hoe ‘n mens spiritualiteit verstaan. Spiritualiteit kom byvoorbeeld vir my neer op ‘n spontane, direkte en eerstehandse belewenis van die heiligheid van die lewe self. Dit wat ek ook beleef het, ‘n oomblik van een word met dit wat is.
Om dieper te leef, ongeag of dit van binne ‘n godsdiens of daarbuite is; verwondering, vreugde en liefde is tog eg menslik.
Iets van wat die filosoof Ken Wilber so akkuraat omskryf: “Spirituality, according to the testimony of the world’s great yogis, saints, and sages, has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice open one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit.”
Met ander woorde, om in kontak te wees met “a living Reality” is om diep te leef, om spiritueel te wees. En hierdie kontak of belewenis is waarvan Wilber praat as ‘n “direct experience of Spirit.”
Hierdie belewenisse bring ‘n nuwe uitkyk op die lewe, op die self en selfs op die dood. Daar kom by die een wat hierdie belewenisse het, ‘n innerlike oortuiging dat daar ‘n groter “bewussyn” is, iets waarvan meeste mense onbewus is.
Dit wat Jalaluddin Rumi (1207-1273) poëties omskryf as: “One day, you will find yourself outside this world which is like a mother’s womb. You will leave this earth to enter, while you are yet in the body, a vast expanse, and know that the words, ‘God’s earth is vast,’ name this region from which the saints have come.”
Hierdie ervaring is vir die een wat dit beleef meer wesenlik en “waar” as wat enige feitelike ervaring kan wees. Dit is nie ervarings in logika en woorde nie, eerder ‘n belewenis in beelde en metafore. Dis ook nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Want onthou spiritualiteit vra nooit waar kom alles vandaan of hoekom is dinge soos dit is nie – daardie is die plek van die wetenskap.
Spiritualiteit vra eerder hoe kan jy vry wees, ten spyte van wat is.
Hoe kan ek dieper leef, ten spyte van ‘n oppervlakkige wêreld.
Hoe kan ek met meer respek, eenvoud en deernis in ‘n meestal wrede, selfsugtige en liefdelose wêreld leef.
Spiritualiteit is hoër as die hemele, dieper as die see en ver anderkant reg of verkeerd. Spiritualiteit is om wakker te word vir jou ware identiteit en om daaruit te leef, alles ten spyte van jou omstandighede. Spiritualiteit is meestal om te besef: “Niks het gebeur, maar alles het verander.”
Recent Comments