Met die ontdekking van die grafkelder van die jong Egiptiese farao Toetankamen in 1922 deur die Britse argeoloog Howard Carter, het daar vir baie ‘n nuwe verstaan van die kultuur van antieke Egipte oopgegaan.
Toetankamen was een van die mees enigmatiese figure in die Egiptiese geskiedenis. Hy het Egipte tien jaar lank tydens die 14de eeu v.C. geregeer.
Hy was die seun van die farao Akhenaten, en het aan bewind gekom toe hy maar net agt jaar oud was. En op 18 jaar is hy in geheimsinnige omstandighede dood.
Sy opvolgers, soos vele opvolgers gedoen het, het Toetankamen se naam van alle monumente verwyder met die gevolg dat hy tot vergetelheid gedoem was. Natuurlik totdat sy grafkelder 3500 jaar later in die Vallei van die Konings ontdek is.
Hierdie is ook die verhaal van die vroeë Christene se geskiedenis. Want net soos met Toetankamen se opvolger wat hom letterlik uit die geskiedenis gehaal het, net so het die latere Christene die vroeë Christene eenvoudig uit die geskiedenis geskryf.
Gelukkig was daar ook (in Egipte) ‘n ontdekking wat 1600 jaar later weer aan die sogenaamde eerste Christene ‘n stem teruggee.
Hierdie maand (Desember) ongeveer sewentig jaar gelede het twee Egiptiese kleinboere, naby die dorpie Nag Hammadi ‘n ontdekking gemaak wat ons siening van die Christendom se vroeë geskiedenis ingrypend verander het.
Ali al-Sammaan en sy broer was besig om grond naby die ruïnes van die Koptiese klooster van St. Pachomius te bewerk, toe hulle afgekom het op ‘n erdekruik van byna ‘n meter hoog.
Tot hul teleurstelling het dit nie goud bevat nie, maar eerder boeke van papirus (wat altesaam twee-en-vyftig verskillende tekste bevat het).
Die twee broers het dit saamgeneem huis toe en vir die volgende paar weke is daar van die papirusblaaie wat los was, gebruik om hulle stoof aan die brand te kry vir kosmaak.
Gelukkig het ‘n plaaslike priester van hierdie papirusblaaie te siene gekry en dadelik besef dat dit van historiese waarde kan wees. Hy het een van die boeke saam met ‘n vriend na Kaïro toe gestuur, om te probeer vasstel wat die waarde daarvan sou wees, indien enige.
Daar het ‘n Franse geleerde, Jean Dorese, die boek as outentieke vroeë-Christelike geskrif geïdentifiseer.
Dit het meegebring dat die Koptiese museum in Kaïro dadelik die kodekse aangekoop het. Hierna is die kodeks toegesluit en enige toegang deur eksterne akademici is geweier.
En net soos met die Dooie See-rolle, wat in 1947 ontdek is, is die studie van die Nag Hammadi-tekste deur onderlinge jaloesie, gierigheid, en burokratiese korrupsie vertraag.
Maar so reg uit ‘n Indiana Jones rolprent, sou die res van die ander (ongeveer elf) kodekse boeke, eers deur vele hande en intriges gaan.
Dit het begin toe Bahij Ali, ‘n bekende krimineel die elf kodekse opgekoop het en dit skelm op die swartmark verkoop het. Dit het natuurlik ‘n kettingreaksie aan die gang gesit van koop en herverkoop totdat dit uiteindelik opgeëindig het as deel van ‘n boedel.
Toe die Nederlandse geskiedkundige, prof. Gilles Quispel, in 1952 hiervan hoor, het hy die Jung-stigting in Switserland oorreed om dit aan te koop.
Quispel het gou agtergekom dat belangrike bladsye van die versameling wat hy aangekoop het, ontbreek. En in 1955 het hy Egipte toe gevlieg om by die Koptiese museum die ander te gaan bestudeer.
Daar kon hy net toegang kry tot foto’s van die tekste. Dit was egter genoeg vir hom om dit te kon ontsyfer. So sien hy dan ook die openings-vers van die tekste:
“Dit is die geheime woorde
wat die lewende Jesus gespreek het
en deur Didimus Judas Thomas opgeteken is.”
“Didimus” is ‘n Aramese woord vir tweeling en “Thomas” ‘n Griekse woord vir tweeling. Daar staan dus letterlik dat “hierdie geheime woorde is opgeteken deur die ‘Tweeling Judas die Tweeling.”
Hierdie woordspeling op ‘tweeling’ dui dus daarop dat iemand wat hierdie “geheime” woorde ernstig opneem en sy lewe daarvolgens inrig, die “Geestelike Tweeling” van Jesus sou word.
Verdere ontsyfering van die teks het verduidelik dat ‘n tweeling een kan word, net soos ‘n mens heel kan word indien ‘n mens jouself kan leer ken.
Quispel het verdere gedeeltes vertaal: “Jesus sê: As hulle wat julle voorgaan vir julle sê: ‘Kyk, die koninkryk is in die hemel,’ sal die voëls van die hemel voor julle daar wees. As hulle sê: ‘Dit is in die see,’ sal die visse van die see voor julle daar wees. Maar die koninkryk is in julle en rondom julle. Wanneer julle julself ken, sal julle geken word en julle sal besef dat julle kinders van die lewende vader is. Maar as julle nie julself ken nie sal julle in armoede lewe en julle sal self die armoede wees.”
Quispel het dadelik besef dat hy met die teks van ‘n outentieke evangelie in sy hande sit – vertaal vanuit Grieks in Kopties.
Hierdie ou tekste is toe later ook deur ander akademici bestudeer en daar is bevind dat meeste daarvan veel ouer is as die vier Evangelies wat in die Bybel opgeneem is.
Jy kan jou dus net indink hoeveel weerstand daar vanuit tradisionele Christelike kringe opgegaan het.
Want in hierdie ou tekste is daar onder andere gevind dat meeste van die vroeë Christene nie die maagdelike geboorte van Jesus of die opstanding uit die dood as letterlik verstaan het nie, maar eerder as simbolies.
Hiermee saam ook dat vroue ‘n veel groter aandeel gehad het aan die ontwikkeling van die Christendom, en meer as dikwels die leiersposisies in die beweging beklee het.
Hoe het dit dan gebeur dat die Christendom so ‘n manlike aangesig gekry het en vroue heeltemal uitgeskryf is? Selfs in so ‘n mate dat hulle tot ‘n tweedeklas mense saam met slawe en kinders verdoem is?
Wat ook baie duidelik geword het met die bestudering van hierdie tekste is dat meeste van die opgetekende geskiedenis van die kerk, toe nie heeltemal so betroubaar is nie.
Want wie in die geskiedenis as ‘reg’ beskou word en die as ‘verkeerd,’ was meestal deur die politiek van die dag bepaal, eerder as deur geloofsoortuigings.
Hiervan is die beste voorbeeld toe Konstantyn in die vierde eeu die burgeroorlog gewen het en keiser van die Romeinse Ryk geword het.
Konstantyn het geheers oor ‘n erg verdeelde ryk wat hy in ‘n politieke eenheid wou saamsnoer. En hy’t geweet dat indien hy die invloedryke groep Christene op een geloofsbelydenis kon laat saamstem, dit hom sou help om die nodige politieke eenheid binne sy gebied te bewerk.
As heerser het hy ook goed geweet dat eenheid nie vanself kom nie. En die Christene wat nie die nuwe Niceense geloofsbelydenis wou aanvaar nie, is eenvoudig met geweld onderdruk en vervolg.
En natuurlik ook enige geskrifte wat ‘n alternatiewe boodskap sou verkondig moes vernietig word. Groepe sogenaamde ‘kerkbewaarders’ het deur die Romeinse Ryk getrek, antieke tempels vernietig en selfs van die grootste biblioteke in die destydse wêreld, soos onder andere Alexandrië, afgebrand.
Dit is waarskynlik ook waarom die Nag Hammadi-geskrifte naby die klooster van St. Pachomius weggesteek is. Pachomius, na wie die klooster vernoem is, was juis een van die bogenoemde vlugtende Christene.
Ek wil hier afsluit en my gunsteling woorde van George Santayana (1863-1952), die Spaanse filosoof en digter: “Those who cannot remember the past are condemned to repeat it.”
Hopelik herinner dit ons daaraan dat daar veel meer onder die sand van die geskiedenis begrawe lê as wat ons so vinnig en geredelik aanvaar. Dat dit daarom so belangrik is om altyd oop en soekende die lewe te benader. En of dit godsdiens of politiek is, ons sal onthou dat daar soveel meer is as net een siening en een interpretasie.
Dat ons sal onthou om meer oop, akkommoderend en ontvanklik vir mekaar se stories en geskiedenis te wees. Om meer te luister en sodoende bereid te wees om meer te leer. Dat ons sal onthou dat dit een ding is om te glo jy is op die regte pad, maar totaal ‘n ander ding, om te glo net jou pad is die regte pad.
** Erkenning aan Dr. Piet Muller vir sy navorsing en vertaling van die Thomas Evangelie.
Recent Comments