Lank lank gelede, iewers in antieke China, was ‘n student besig om te worstel met die konsep van “doen aan ander soos jy graag aan jouself gedoen wil hê,” die sogenaamde “Goue Reël.”
Hy vra toe sy leermeester eendag: “Daar word gesê, dat die belangrikste reël in enige godsdiens is om altyd ander te behandel soos jy jouself behandel wil word. Is dit so?”
Die leermeester het geglimlag en gesê: “Dis so en die krag van die goue reël lê juis daarin dat dit die ego se drang na selfgelding en selfsug direk kan aanspreek.”
Die student het fronsend geluister en toe die leermeester klaar gepraat het, vra hy: “Maar hoe weet ek dat ek nie maar net vanuit my ego optree nie? En dat die goue reël nie maar net ‘n verdere uitdrukking van my ego is nie?”
Die leermeester het vir ‘n oomblik in stilte nagedink en toe antwoord hy deur ‘n storie te vertel.
“Daar was lank gelede ‘n belangrike koning, die koning van Lu. En toe op ‘n dag na ‘n hewige storm het sy onderdane ‘n beseerde seemeeu na hom gebring. Die storm het die manjifieke voël onkant gevang en baie ver van sy roete af geneem. Toe die koning die rare spesie sien was hy in vervoering.
Hy het dadelik opdrag gegee dat die seemeeu net die beste behandeling moes kry. Daar is selfs ‘n fees in sy eer gereël. Dag en nag is net die beste wyn en kos aan die seemeeu voorgesit. Hy was behandel soos die Koning self. Die arme voël was so verskrik en deurmekaar dat hy niks geëet of gedrink het nie. En na drie dae is hy dood.
“Die koning van Lu het die seemeeu behandel soos hy graag behandel wou word, eerder as om die seemeeu te behandel soos die seemeeu sou wou.”
Hierdie storie is vertel deur die Taoïstiese filosoof Chuang Tzu. Chuang Tzu (ook bekend as Zhuangzi) was die opvolger van Lao Tzu en ook een van die mees invloedryke Chinese filosowe van sy tyd. Hy’t geleef in die 4de eeu vC.
Wat het Chuang Tzu deur die storie probeer sê? Wel, in sy eie woorde stel hy dit so:
Hoe hanteer ‘n mens ‘n seemeeu?
Soos jy jouself wil of soos die seemeeu wil?
Is voëls nie bedoel om te vlieg nie?
En haal visse nie in water asem
en mense daarbuite nie?
Die ware Wyse lê nooit
slegs een maat vir alles neer nie.
Wysheid is dus om te verstaan dat selfs die ‘goue reël’ nie ‘n onveranderende, vaste reël is nie. Nee, alles is lewend en vloeiend. Alles is onderworpe aan verandering en groei, niks staan vas en is altyd geldend nie. Presies waarna Miles Kington ook verwys met sy: “Knowledge is knowing that a tomato is a fruit, wisdom is not putting it in a fruit salad.”
Alles vra van ons om in die oomblik ten volle wakker te wees. Vloeibaar en soepel. Om dit wat voor ons ontvou vars en met nuwe oë te sien. Sodat ons regtig kan sien wat voor ons is, en nie net ons eie idees, opinies en herinneringe nie.
Dit wat Brooks Atkinson omskrywe as: “The most fatal illusion is the settled point of view. Since life is growth and motion, a fixed point of view kills anybody who has one.” En hiermee stem die Indiese filosoof Jiddu Krishnamurti (1895-1986) saam: “It is only when the mind is free from the old that it meets everything anew, and in that there is joy and wisdom.”
Dit is wat Chuang Tzu ook probeer sê. Hou op rigied wees en vaskyk in jou behoeftes en drange. Stop. Luister en leer. Sodat jy werklik die behoefte van ‘n ander kan raaksien. Dit is dus nie net om te doen wat jy dink nodig is nie, maar om te doen wat die ander nodig het. Daar is ‘n groot verskil.
Die goue reël kom dus eers tot sy waarde, wanneer jy regtig jou in ‘n ander se skoene kan plaas. Deur ‘n ander se oë kan sien. Want dan sal jy nie net ‘n ander se werklikheid sien nie, jy sal ook begrip en insig vind. En dit is wysheid. Dit is genesend.
Dit maak jou ‘n wyse. Dit help jou om verder en wyer te sien. Dit waarna George Eliot verwys: “It is a narrow mind which cannot look at a subject from various points of view.” En wanneer jy ander kan verstaan, verstaan jy in wese ook jouself. Want is ons nie op die ou einde een en dieselfde nie?
Dit laat my dink aan ‘n ander student wat vir ‘n ander leermeester gevra het: “Hoe moet ons teenoor ander optree?” En hy (Ramana Maharshi) het hom geantwoord: “Daar is nie iets soos ‘n ander nie!”
Presies dit wat Jesus uitgewys het is ware godsdiens, naamlik liefde en diens aan mekaar.
En die “mekaar” is ons almal. Elke lewende uitdrukking van die goddelike … alle mense, diere, seemeeue, plante en minerale.
Dan sal ons die Tao Te Ching vers 13 (my vertaling) verstaan:
Sien die wêreld as jouself.
Vertrou dit wat is.
Wees lief vir die wêreld,
net soos jy jouself liefhet;
dan sal jy kan omgee vir alles. En omgee, soos die ander dit nodig het. Nou is die enigste vraag wat oorbly: Is jy bereid om te gee wat die ander nodig het?
Recent Comments