Donald Trump, die huidige Amerikaanse President, het met sy aankondiging dat Jerusalem deur hom beskou word as die hoofstad van Israel, ‘n baie delikate en sensitiewe situasie in die Midde-Ooste aangeraak. Die betogings en onrus was enkele dae na sy aankondiging al klaar aan die broei.

Ek kan maar net wonder wat gaan gebeur as die Jode, Christene en Moslems mekaar gaan takel oor wie nou alleenreg op Jerusalem, as hulle geestelike hoofstad gaan hê. Want wat Trump nie in ag neem nie is hoe plofbaar uiteenlopende gelowe en ideologieë wat meeding vir beperkte bronne kan wees. Elkeen van hierdie godsdienste is oortuig dat hulle God se uitverkorenes is en dat die beloftes van land (in die geval die heilige stad, Jerusalem), eiendom, geboue en welvaart hulle alleen toekom.

Globalisering het meegebring dat ons nou op mekaar se voorstoep bly. Ek meen dit is glad nie snaaks om ‘n moskee, tempel en ‘n kerk langs mekaar in dieselfde straat in Jerusalem te vind nie. En almal maak aanspraak op die heilige plekke daar. Juis dit maak daardie wêreld so plofbaar.

Dit het al veel minder, in die verlede, gevat om ‘n bloedbad tussen mense van verskillende gelowe te veroorsaak. En soos ons weet, is heilige oorloë vernietigende tsoenami’s. Dit laat my onwillekeurig weer dink aan die woorde van Anne Lamott: “You can safely assume that you’ve created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do.”

Die feit van die saak is dat godsdiens mense polariseer. Die situasie in Egipte die laaste paar jaar met Moslems en Christene wat mekaar elke nou en dan aanval is duidelik ‘n teken van die konflik wat ook in die res van die wêreld broei. So, kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die politiek, magspeletjies tussen lande en die ewigdurende gekonkel vir grond, minerale, olie ens, en kyk na een van die grootste sondebokke in die skepping van konflik in die wêreld, godsdienste.

Die aanhoudende klem wat godsdiens lê op blindelingse navolging bo kritiese denke bring mee dat mense hulle verstand afskakel. Godsdiens leer: Moenie dink nie, moenie vrae vra nie; glo net. Alle godsdienste leer verder dat ‘n mens se waarde niks te doen het met wat jy gedoen het, doen, of sal doen nie; nee, jy het net waarde omdat God jou liefhet.

Daarom dink godsdienstige mense dat moraliteit begin net wanneer jy jou onderwerp aan dit wat jy nie verstaan nie. Selfopoffering word so die hoogste waarde. Watter verwoestende invloed het hierdie waansinnige leringe nie op mense se denke nie! En watter negatiewe gevolge het hierdie leringe nie op mense se verstaan van hulle rol en plek in hierdie wêreld nie?

Sekerlik daarom dat Joseph Lewis op ‘n keer gesê het: “Man’s inhumanity to man will continue as long as man loves God more than he loves his fellow man.”

Vir elke bietjie verligting van die gruwels van die menslike bestaan waarop godsdienste aanspraak kan maak, moet ek ongelukkig sê dra godsdiens deur die menslike bestaan ‘n ton lyding by van stenigings, brandstapels, kruistogte, djihads, die Inkwisisie, babamoorde, vroue-onderdrukking, haat teenoor homoseksueles, fatwas, pouslike dekrete ens. Godsdiens maak van ons wêreld ‘n kruitvat!

In enige kultuur, subkultuur, ideologie, familie, skool of gesin waar geloof bo denke gestel word, waar selfopoffering bo integriteit gestel word, is mense besig om hulle gesonde verstand af te skakel en hulle toekoms in die hande van die godsdiensleiers (wat blykbaar direk met God in kontak is!) oor te gee.

Ek persoonlik dink ons wêreld sal ‘n beter plek wees as alle godsdienste net wil erken dat hulle verstaan van God se wil – net hulle menslike verstaan is, en ophou aanspraak maak dat dit ‘n Goddelike openbaring en sanksie is. Ek vermoed dat daar waar mense vir hulle self kan dink – daar ook meer eerlikheid, moraliteit en menslikheid sal wees!

Die logika van liefde bo haat en waarheid bo die leuen is tog in ons harte geskrywe. Geen godsdiens is nodig om dit daar te plaas nie. Louis Kronenberger stel dit baie goed: “There seems to be a terrible misunderstanding on the part of a great many people to the effect that when you cease to believe you may cease to behave.”

Miskien is 2018 die jaar waar ons die greep wat godsdienstige ideologieë op die menslike verstand het, begin breek. Ook mekaar begin help om nuwe maniere van respek, barmhartigheid en omgaan met mekaar, te vind. Dalk ‘n nuwe filosofie aanneem.

Iets soos waarna die huidige Dalai Lama verwys het: “There is no need for temples, no need for complicated philosophies. My brain and my heart are my temples; my philosophy is kindness.” Wel, of ons begin in hierdie rigting beweeg, of ondenkende goedgelowiges gaan mekaar uitwis in die naam van hulle God!