In musiek is die laaste noot nie noodwendig die fokuspunt van die komposisie nie.

Indien dit so sou wees, dan sou die beste dirigente die gewees het wat die orkes die vinnigste laat klaar speel, en die beste musikant sou die een wees wat die vinnigste deur die musiekstuk kon speel.

En mense sou na konserte gegaan het om die laaste noot te hoor, en sodoende sou die simbale die gewildste musiek-instrument gewees het.

Dieselfde met dans. Niemand jaag om die dansvloer om eerste klaar te maak nie. En niemand mik vir ‘n eindpunt om by te arriveer nie.

Die hele punt van dans is die dans. Die hele punt van musiek is die musiek.

Ongelukkig leer ons nie betyds dat dit presies so met die lewe ook is nie. Ons hele opvoedingfokus gaan oor die bereik van ‘n sogenaamde eindpunt.

Alles is deel van die trappe na sukses … eendag. Die eindpunt, die plek waar almal wil arriveer. Seker daarom dat ons na suksesvolle mense verwys as “hulle wat gearriveer het.”

Voorskool opvoeding is bedoel om jou gereed te kry vir laerskool en laerskool is daar om jou so effektief moontlik voor te berei vir hoërskool. En hoërskool is die volgende trappie net voor Universiteit of Technikon.

En die heeltyd groei daar ‘n verwagting binne jou: “Ek is op pad na groot dinge…”

Dan maak jy klaar met Universiteit of een of ander naskoolse opleiding en nou is jy reg om te begin werk. En as jy begin werk, begin jy geld verdien, begin jy belangrik word.

Uiteindelik is jy nou deel van die grootmens wêreld. Jy’s nie meer ‘n kind nie. En binne jou voel jy die opgewondenheid van “die groot dinge wat op pad is…”

Nou is jy deel van die rot-resies. Jy moet maandeliks kwotas maak, jy moet presteer en geld inbring. Die een wat die meeste geld kan inbring is die voorloper in die wedloop na die eindpunt.

Maar ten spyte van die stres wat oplaai en jy wat al vinniger moet leef, voel jy diep binne jou “groot dinge is op pad.” Jy moet net vasbyt en opoffer, die sukses waarvoor jy sedert voorskool voorberei is, is naby.

En dan eendag, skrik jy wakker. Jy’s veertig. En jy dink by jouself, “Ek het gearriveer!” Ek is getroud, het kinders, het ‘n huis, ‘n kar ens. Jy dink by jouself dat jy nou regtig groot is, dat jy uiteindelik daar is.

Maar die probleem is, jy voel glad nie anders as wat jy nog altyd gevoel het nie.

En jy voel teleurgesteld. Selfs ontnugter en bedrieg.

En dit is presies wat gebeur het, jy het onwetende ingekoop op ‘n bedrogspul.

‘n Kollektiewe bedrogspul.

Jy het alles gemis deur heeltyd te wag vir eendag.

Kyk maar net hoe meeste mense leef om eendag af te tree. En dan, wanneer jy by die 75 jaar merker aankom, is jy moeg, selfs afgeleef en sonder energie. En dan al wat verder oorbly is om as ‘n senior burger te wag vir die einde.

En die hartseer is, dat meeste mense hulle self bedrieg het om so vinnig as moontlik by die eindpunt aan te probeer kom. En by die sogenaamde eindpunt, wat kry die wenner?

Want sien ons kyk na die lewe as ‘n wedloop. En die doel van ‘n wedloop is om eerste die wenstreep te bereik. Nie waar nie? Sukses, of wat ook al dit mag wees, of die hemel na die dood of iets belangriker as hierdie oomblik.

Maar in essensie mis ons die punt van ons lewens.

Dit was al die tyd, ‘n musiek en dans ding. En ons was veronderstel om heelpad te sing en te dans terwyl ons die musiek hoor. Dit was nooit bedoel as ‘n wedloop nie, al een wat wen is die dood.

Dit is veel eerder ‘n dans. ‘n Dans waarin jy jouself in die musiek verloor. Elke passie, die enigste belangrike passie. Elke dans – die dans.

So, stop. Haal asem. En begin dans.

Paul Theroux: “Tourists don’t know where they’ve been. Travellers don’t know where they’re going.”