Wanneer gaan die mensdom besef dat vrees net meer vrees bring. En dat geen vrees ooit vrede, harmonie of liefde kon of kan bewerk nie. En geen manipulering, onderdrukking of dwang kan op die langtermyn vrede bewerk nie.

Dit is tog voor die handliggend dat slegs liefde meer liefde kan bewerk. Wel, miskien is dit nie so duidelik vir almal nie. Kyk maar net weer wat Dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending by die afgelope Daniëlkonferensie van die NG gemeente Moreletapark gesê het: “Mense het hul vrees vir God verloor.”

Hy het blykbaar gesê die land is besig om te beweeg in ‘n rigting waarop konflik tussen die staat en die kerk, tussen die Grondwet en die Bybel, onvermydelik is en dat Christene in Suid-Afrika moet vasstaan en verdedig wat God vir hulle gegee het. Toe het hy die mans na aanleiding van die voorbeeld van Eleasar, wat volgens die Ou Testament (1 Kronieke 11) man-alleen ‘n garsland teen die Filistyne verdedig het, aangemoedig om ook hul garslande te verdedig. “Here, ek gaan nie my garsland vir die Filistyne gee nie…”

Nou hierdie tipe retoriek is en was nog altyd meer afbrekend as wat dit enigsins opbouend is, want dit speel in op mense se vrese. Miskien kan dit tydelik help om mense te mobiliseer en aanvuur om tot aksie oor te gaan. Maar soos ons weet is die uiteinde net meer vrees, aggressie en geweld. En is dit nie totaal anders as wat Jesus sou verkondig het nie.

Want as ek Jesus reg verstaan, het hy juis vergifnis, minste wees en omgee verkondig. En kyk ek na meeste godsdienste en hulle wette en reëls is dit tog ook gefokus eerder op deernis en liefde as op haat, selfvergelding en woede. Hoe gebeur dit dan dat iemand soos Dr. Burger dit mis?

En natuurlik nie net hy nie, want as daar mooi gekyk word, is daar ongelukkig ‘n lang geskiedenis van verontmensliking, geweld en miskenning wat deur gelowiges veroorsaak en gedryf is.

Presies dit wat die voortbestaan van ons vrede bedreig, want godsdienste is ongelukkig net so veel ‘n vonk vir geweld vandag, indien nie meer nie, as wat dit in die verlede was.

Gee vir mense irrasionele en onaanvegbare redes om vir hulle sg. “Godgegewe garslande” teen die “Filistyne” te veg, voeg daarby ‘n tekort aan lewensbronne soos voedsel, water, grond en ander hulpbronne en jy’t ‘n resep vir ‘n groot tragedie.

Miskien is dit veel meer verantwoordelik, in veral vandag se tye, ongeag geloofs-, politiese- of kulturele oortuigings, om te kies vir liefde en nie vir vrees nie. Ja, dit is nie die populêre keuse nie, was ook nooit nie. Daarvan is die ongewildheid en selfs die dood van die wat dit verkondig het nog altyd ‘n duidelike voorbeeld. Dink maar aan Jesus, Mahatma Gandhi en Martin Luther King jnr. wat moes sterf vir hulle vredesboodskap in tye van konflik.

Want dit is vir my baie duidelik dat ‘n God wat gevrees moet word, of vrees vereis van sy volgelinge, geen God van liefde is nie.

En as ek praat van liefde, praat ek nie net van ‘n romantiese tra-la-la liefde nie. Nee, ek praat van die liefde wat Paulus so mooi in van sy briewe omskryf het: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet” (Romeine 13:10) en “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie” (1 Korintiërs 13:4). M.a.w. dit, wat jou ander se belange en behoeftes net so hoog as jou eie laat ag. Robert A. Heinlein stel dit so: “Love is that condition in which the happiness of another person is essential to your own.”

En is dit nie so dat meeste godsdienste juis hierdie boodskap verkondig nie? Nou hoekom het dit nog nie inslag gevind nie?

Kan dit wees dat die mens inherent egosentries is en altyd sy eie belange eerste sal stel? En dat Richard Dawkins met sy “Selfish Gene” teorie eintlik reg is, dat ons deur evolusie so geprogrammeer is dat selfs liefdevolle en ooglopend onselfsugtige optredes maar eintlik net gaan oor ons eie oorlewing.

Ek weet nie, dit is seker ‘n moontlikheid, maar ek kies om te dink dat ons as mens ‘n groter kapasiteit vir liefde en deernis het as wat ons het vir vrees en selfsug. Dit hang net af vir watter saadjie jy meer water gee. Maar nog meer as dit, dat liefde eintlik die enigste opsie is indien ons ernstig wil praat van oorlewing.

Want dit lyk vir my dat daar waar mense mekaar lief het, vrede, harmonie en deernis ‘n werklikheid word. En daar waar mense selfsugtig, aggressief en uit vrees lewe, kwaliteit lewe radikaal verminder. Prof. Dacher Keltner, ‘n sielkunde professor aan die Universiteit van Kalifornië, het in sy boek Born to be Good geskryf dat daar nou genoeg data is om ‘n einde te maak aan die lank gehuldigde opvatting dat ons gemaak is om net ons eie begeertes na te streef: “Darwin himself observed that sympathetic communities are more likely to produce healthier offspring than cruel ones. Human history shows that compassion always pulls through in times of war. And new studies of our body’s physiology show that caretaking emotions are wired within our nervous systems. As a species, we evolved at some point to walk on two feet. In doing so, the female’s birth canal narrowed. Our babies therefore have to be born small in order to pass through the smaller opening. In comparison to other animals whose newborns can walk upright the moment they’re born, our babies need a long time of nursing – at least eighteen months and continually at that all throughout the day – before they can survive on their own. As a result, caregiving for the human species became a way of life.”

Vele ander studies toon dat mense wat bereid is om hulle besittings met ander te deel, gelukkiger is as suiniges. En dat lande waar mense se verhoudings op respek en vertroue gegrond is, ook ekonomies beter vaar. Mense wat vriendelik en bedagsaam is, het minder stres, leef langer en het meer vreugde in hulle elke-dag lewens.

Presies dit wat die Dalai Lama bedoel het met, “If you want to be happy, practice compassion; if you want others to be happy, practice compassion.” Liefde, deernis en vrede is dus ‘n innerlike en persoonlike werklikheid, wat kan oorspoel in ‘n uiterlike werklikheid.

Dit is egter belangrik om raak te sien dat hierdie keuse vir liefde teenoor vrees, eerstens ‘n individuele en innerlike proses is. Pierre Corneille sê dus met reg: “Self-love is the source of all our other loves.” Liefde en vrede begin dus by jou!

Want dit is tog so dat jou innerlike landskap die rigting en weg van jou uiterlike landskap gaan bepaal. Daarom dat liefde, vergifnis, omgee en deernis eerstens ‘n innerlike ingesteldheid is.

Is en was dit nie die eintlike doel en funksie van godsdienste nie? Om as ‘n gids te dien vir elkeen wat sy of haar innerlike wêreld wil betree. Om ‘n gids te wees. Om elke innerlike reisiger te help om die self geskepte (ego-vrees) grense te kan transformeer.

Daarom seker ook dat deur die eeue filosowe, leermeesters en godsdienste ons aanmoedig het om eers ons eie innerlike grense van vrees, verwerping, haat en selfsug te transformeer sodat ons dit ook in ons buite wêreld kan transformeer.

Natuurlik deel ons hierdie innerlike transformasie met elke ander persoon op hierdie planeet. Ons innerlike transformasie is onlosmaaklik deel van die transformasie van die geheel.

Daarom help dit nie as godsdienstige leiers, soos in die geval van Dr. Burger, mense se vrese, haat en aggressie aanblaas nie. Nee, sy en elkeen van ons se taak is veel eerder om mekaar aan te moedig om op ‘n innerlike reis te gaan en weer ons inherente goedheid te herontdek. En om so ons kunsmatige vrese te kan transformeer deur liefde.

En hierdie innerlike transformasie word goed beskryf deur die Zen leermeester Thich Nhat Hanh: “When we look deeply into our anger, we will gain many insights. One of the first insights may be that the seed of anger in us has grown too big, and is the main cause of our misery. As we begin to see this reality, we realize that the other person, whom our anger is directed at, is only a secondary cause. The other person is not the real cause of our anger, we are.”

Presies dit wat die mistikus Smile Warrior verwoord met: “The true Warrior knows that if you have not tamed the enemy of your own anger, combating outer opponents will only make them multiply.”

Want is die geweld, wreedheid en vrees wat ons in die wêreld om ons sien, nie uiteindelik maar net simptome van ons eie innerlike onverwerkte vrese, woede en haat nie?

Alles bewyse van die saadjies van vrees wat binne ons harte lê. En enige kans wat ons as mense hier en wêreldwyd het op enige uiterlike vrede is om te begin by die saadjies van vrees, woede en haat wat in ons harte lê – en as ons verstaan dat die gif van vrees, woede en haat deur ons self versprei word. Marie Curie verduidelik dit met: “Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less.”

Daarom is ‘n uitspraak soos “Mense het hul vrees vir God verloor,” nie net onnadenkend nie, dit is gevaarlik. Dit dui op ‘n ondeurdagte omgaan met die realiteit van haat, woede en vrees wat binne mense se gemoed sluimer.

Ek dink dat Christene, veral ouens soos Dr. Burger, eerder in ‘n tyd soos hierdie Jesus se bergpredikasie woorde moet verkondig. Sodat mense vredemakers word en met insig in moeilike en komplekse tye soos hierdie genesend kan optree. Want is dit nie waarheen Jesus, ook genoem die ‘Prins van Vrede’, almal opgeroep het nie? “Salig is die Vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Transformeer die saadjie van vrees binne jou met eerlike waarneming en sagte oë. Transformeer dit in ander met eerlike luister en sagte, deernisvolle en liefdevolle woorde en dade.

Ek wil afsluit met ‘n gedig van Thich Nhat Hanh, (in Afrikaans verwerk deur Dr. Piet Muller). Hierdie gedig is deur hom geskryf in ‘n tyd toe hy self met sy lewe gedreig was en vele van sy mede monnike lewendig verbrand en vermoor is omdat hulle opgestaan het vir die weerlose en onskuldige mense tydens die Vietnam oorlog.

Belowe my,
belowe my vandag,
belowe my nou terwyl die son op sy hoogtepunt is,
belowe my

Selfs as hulle jou platslaan met ‘n berg vol haat en geweld;
selfs as hulle op jou trap en jou vermorsel soos ‘n wurm,
selfs as hulle jou ledemate afkap en jou ingewande uithaal,
onthou: die mensdom is nie jou vyand nie.

Al wat jou waardig is is medelye –
onoorwinbaar, eindeloos, onvoorwaardelik.
Haat kan jou nie help om die dier in die mens te konfronteer nie.

Eendag wanneer jy hierdie dier alleen konfronteer,
met jou moed ongebroke, jou oë vriendelik,
onversteurbaar (selfs al sien niemand dit nie),
uit jou glimlag sal ‘n blom groei.

En hulle wat jou liefhet sal van jou weet
oor tienduisende wêrelde van geboorte en dood.
Weer alleen sal ek met geboë hoof stap,
in die wete dat liefde ewig geword het.

Op die lang, skurwe pad sal die son en die maan
steeds skyn en vir my die pad aanwys.

“A country living in harmony with its inner peace builds trucks and tractors. A country in disharmony builds tanks and guns.” – Smile Warrior