Ek het ‘n geheim wat ek jou wil vertel…

‘n Geheim tot ‘n sin- en betekenisvolle lewe.

Ek noem dit ‘n geheim omdat dit blykbaar vir soveel mense heeltemal verberg is. Wel soos dit met meeste sulke geheime gaan, is dit gewoonlik voor die hand liggend, vir enigiemand om te sien. Vry en verniet.

En juis hierdie rede maak dat soveel mense dit heeltemal miskyk. En meestal is dit die eenvoudiges en onskuldiges soos kinders, wat dit raaksien. Iets waarna die Nuwe Testament skrywer Matteus verwys met (18 vers 3): “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.”

So wat is hierdie geheim?

Hierdie antwoord op wat die doel en sin van die lewe, wat kindertjies kan sien maar volwassenes meestal mis?

Wel, eerstens is dit belangrik om te weet hierdie geheim is nie ingewikkeld en weggesteek binne dik boeke of moeilike raaisels nie. Anders sal ‘n kind dit tog nie verstaan nie.

Tweedens, vind slegs die wat gereed is, die geheim.

Derdens, hierdie geheim kan nie oorvertel of uitgewys word vir iemand anders nie, jy het nodig om dit self te vind. Die filosoof, J. Krishnamurti verduidelik dit so: “To understand the mystery that exists, we must first find clarity within ourselves. This clarity is not to be organized, for it cannot be exchanged with another. Organized group thought is merely repetitive; clarity is not the result of verbal assertion, but of intense self-awareness.”

So, waar vind ‘n mens hierdie helderheid, hierdie geheim?

Volgens die skrywer van Prediker is dit nie te vind in die wêreld buite jou nie. Hoor net hoe mooi verwoord hy dit (2 vers 11): “Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.” Matteus sê dit is so eenvoudig selfs ‘n kind sal dit verstaan en Krishnamurti sluit hierby aan met “self-awareness” is die sleutel. So wat is die geheim wat nie buite jou te vind is nie, maar binne jou en so eenvoudig selfs ‘n kind sal dit kan verstaan?

Die geheim is: Waar jy ook al gaan, daar is jy.

Dit is die geheim! Teleurgesteld? Want dit is te eenvoudig? Te maklik? Te min?

Oppas nou dat jy nie soos vele voor jou, die geheim van ‘n sinvolle en gelukkige lewe miskyk nie. Wag vir ‘n oomblik. Word eers stil en kyk weer na die eenvoudige woorde. WAAR JY OOK AL GAAN, DAAR IS JY.

Kom ons verpak hierdie paar woorde.

En hiermee kan die Zen leermeester, Dogen se vraag ons baie help: “If you cannot find the truth right where you are, where else do you expect to find it?” Want sien, lewe is net in die hier en nou teenwoordig, en daarom ook is sin en betekenis net hier te vind. Gister is verby en more is nog nie gebore nie. Lewe is net nou. En net nou, kan jy die waarheid vind. Uit gister kan jy leer en vir more kan jy beplan. Maar net nou kan jy leef. Net hier kan jy die geheim vind. Presies waarna Lu Yu in sy Zen gedig verwys:

“The clouds above us join and separate,
The breeze in the courtyard leaves and returns.
Life is like that,
So why not relax?
Who can stop us from celebrating?”

Want waar anders dink jy sal jy kan leef?

Die realiteit van die saak is, daar is geen ander tyd nie, geen ander oomblik as hierdie een nie. En in der waarheid kan jy nie hierdie oomblik ontsnap nie. Jy dink jy kan, maar jy kan nie. Jy kan probeer ontvlug in jou kop in, maar jy’s nog steeds hier. Jy kan jouself probeer verdoof, vermaak of verplaas, maar jy is nog steeds hier. Dit is wat ‘n kind snap. Of dit winter of somer is, dag of nag, reën of sonskyn, COVID of nie, dit is wat is. Omhels dit, gebruik dit, leef dit. Soos Lu Yu sê: “…so why not relax? Who can stop us from celebrating?”

Want as jy dit nie doen nie – as jy bly skop en baklei teen dit wat is – sal jy ly en sal jy ongelukkig wees. Sal jy nooit die waarheid en skoonheid vind wat reeds reg voor jou oë is nie. En om so teenwoordig in jou eie lewe te leef (om te wees waar jy is) is om heilige grond te betree. Ja selfs hierdie oomblik, binne jou deurmekaar of hartseer, dit is ‘n heilige oomblik, ‘n heilige plek.

Presies wat Dorothy in The Wizard of Oz ontdek het: “If I ever go looking for my heart’s desire again, I won’t look any further than my own backyard. Because if it isn’t there, I never really lost it to begin with.”

Laat die wat wakker is, sien!