My vrou kry sulke skoonmaak- en opruimbuie … en dan moet jy uit haar pad bly. En indien jy nie vinnig genoeg onder haar voete kan uitkom nie, word jy ook opgekommandeer.
Die naweek wat verby is was so ‘n tyd.
Ek is gedreig dat indien ek nie die garage in orde kry nie, sy dit namens my gaan doen. En dan “Gaan alles asblik toe!”
Nou in my geval anders as in my pa en my swaer Borries se geval, staan my garage nie vol gereedskap en tipiese manne-dinge nie. Nee, al die boeke wat nie in die huis ‘n tuiste kon vind nie, staan in die garage.
En uit vrees dat my vrou dalk net haar dreigement sal uitvoer, gaan loer ek toe maar brom-brom in die garage rond. En só kom ek af op ‘n ou dagboek van my.
Dis van my swerwersdae. Ek het ‘n paar jaar terug Europa gaan toer, ironies genoeg, op soek na myself.
Ek blaai nuuskierig deur my ou dagboek. Dan val my oog op die volgende inskrywing.
4 Augustus.
9:00. Die sneltrein op pad na Parys, se ritmiese beweging en verby flitsende landskap van die Franse platteland laat my nou skielik vaak voel. Ek het wakker geskrik toe ‘n klein, ernstige mannetjie met ‘n amptelike uniform van die treinmaatskappy, SNCF ‘n beskaafde kuggie gee – met apologetiese handgebare en ‘n klomp woorde waarvan ek net La Petite Couronne, (wat ek vermoed iets sê van Parys se buitewyke) kon verstaan. En dat ek seker nou naby my eindbestemming is, Gare du Nord.
14:00. Na ‘n uitputtende oggend van moltrein ry en oorklim van stasie tot stasie, is ek uiteindelik by my hotel, Hotel Des Invallides. Terwyl ek uitpak kan ek nie ophou nie om kort-kort by die venster uit te kyk na die betowerende Eiffeltoring. Ek is regtig hier!
16:00. Buite in die strate is dit soos ‘n ander wêreld. Orals loop ek vas in die mense wat die Franse die dakloses (les clochards of les sans-abri) noem, die musikante en kleinhandelaars. En natuurlik heelwat verdwaalde toeriste soos ek.
Na ‘n lang soektog kom ek uiteindelik aan by Montmartre, die enigste heuwel in Parys, met ‘n klomp klein straatkafeetjies. En dan daar voor my is die groot wit kerk, die Sacré Coeur. Regtig ‘n mooi kerk.
Ek het huiwerig ingestap en gaan sit op die naaste kerkbankie. Ek kon letterlik voel hoe die stilte binne my siel kom nesmaak. Onwillekeurig het ek gedink aan die woorde van die oorlede Suid-Afrikaanse teoloog David Bosch, ek is juis besig om een van sy boeke te lees. Hy skryf: “Only persons who have found themselves can give themselves; otherwise, there is nothing to give…”
Hoe het dit gebeur dat ek myself verloor het? Miskien is verloor dalk nie die regte woord nie … miskien eerder afgestomp of vergeet. Maar die werklikheid is dat ek reeds jare nou al nie meer regtig kontak het met my diepste wese nie. Ek soek myself … hopelik kan ek myself weer vind!
Daar is seker baie redes of verskonings hiervoor. Die stres van die moderne lewe, die (te) vinnige pas waarmee ek leef en natuurlik die gat in my binneste…
Wat ook al ek dit wil noem, die feit is ek het vir seker kontak verloor. Dit het my nou gekos om halfpad rondom die wêreld te vlieg, en hier in ‘n vreemde land myself as ‘n vreemdeling te kom ontmoet. Vreemde gedagte.
Die stil atmosfeer binne die katedraal is wonderlik … daar is darem iets te sê vir die ou argitektuur. So anders as meeste moderne geboue wat baie keer eerder ‘n onrustigheid binne ‘n mens wakker maak. Hier gebeur die teenoorgestelde. Dit is asof die gebou ‘n voertuig word vir die reis na binne.
Ek onthou die woorde van Thomas Keating, “When we start to quiet down, we begin to realize the amazing amount of nonsense stored in our heads.” Dit is darem die waarheid!
Soms is my gedagtes ‘n onproduktiewe gemaal in my kop, soms is dit doelgerig of spontaan kreatief. En dan lei dit my tot oplossings en doelgerigte optredes, maar ongelukkig moet ek erken dat meestal is dit net ‘n sinlose gedagte-maalstroom.
En dan word ek stil … so stil dat ek vir ‘n oomblik myself ontmoet. Soos ‘n ou langverlore vriend. Gestroop van enige maskers en ego. Net ek.
‘n Heilige oomblik. Nogals gepas binne ‘n ou katedraal, glimlag ek. En met heilig bedoel ek nie iets bonatuurliks nie, nee, ek verwys na ‘n oomblik in tyd waar ek stil genoeg is om myself weer te kan herken.
Joseph Campbell, beskryf hierdie heilige oomblik so mooi: “Your sacred space is where you can find yourself again and again.”
En ek huil … trane van vreugde en verwondering. En vir die eerste keer verstaan ek die woorde van Rumi: “When you do things from your soul, you feel a river moving in you, a joy.”
Ek is nie my gedagtes nie, nie my suksesse of my mislukkings nie. Ek is nie my liggaam of my storie nie. Wie ek is, is soveel meer as my of ander se definisies van myself. Thomas Merton noem hierdie ontdekking van my: “We have the choice of two identities: the external mask which seems to be real … and the hidden, inner person who seems to us to be nothing, but who can give himself eternally to the truth in whom he subsists.”
Iemand naby my begin hoes en dit bring my tydelik terug na die hede. Toe ek op my horlosie kyk sien ek dat ek reeds vir meer as ‘n uur hier sit.
Ek besef net weer dat sonder hierdie heilige stiltes sal ek eenvoudig nie kan vrede maak met my lig- en donkerkant nie. En sonder innerlike harmonie kan ek nie werklik weet wie Abel is nie. En as ek nie myself ken nie, wie en wat sal ek dan ooit kan ken?
Daarom seker dat ware kennis deur filosowe en leermeesters, altyd gesoek is in die ken van die self. En van die vroegste tye af het mense op tempels en belangrike geboue die woorde wat ook in die Thomas-evangelie voorkom, geskryf: “Om jouself te ken is om God te ken.”
Ek maak stadig die ou dagboek toe.
Die woorde van Paulo Coelho kom meteens by my op: “Every moment of searching is a moment of encounter.” Selfs hierdie oomblik, hier binne my deurmekaar garage, is ‘n heilige oomblik, ‘n heilige plek.
Ek glimlag want ek voel die vrede binne my, die innerlike vrede wat saam met selfkennis, aanvaarding en deernis kom. Dit is heilige grond. Dit is my katedraal.
Jalaluddin Rumi (1207-1273): “What you seek is seeking you.”
Recent Comments