Wat is nodig om ‘n sinvolle en gelukkige lewe te leef en dit te help skep vir ander? Dit was nog altyd vir my ‘n rigtinggewende en belangrike vraag.
‘n Vraag wat my net nooit alleen los nie. Ek onthou nog goed hoe ek die vraag as student, heeltyd probeer inpas het in my teologiese studies.
Ek was oortuig daarvan dat ek die antwoord op my vraag in teologie sou vind. Want teologie is tog die studie van God. Want was dit dan nie so, het ek gedink, dat God die een is wat al die antwoorde het nie. Ek meen Hy is tog die skepper en argitek van lewe. Wie beter om te vra?
En as Christen het ek van kleins af geleer die Bybel is die onfeilbare woord van God en dat enige lewensvraag, selfs hierdie vraag, daaruit beantwoord sou word.
Hierdie heilige, goddelike boek het al die antwoorde gehad. Hierdie boek, is ek vertel, het God se ontwykende stem vasgevang in wit en swart.
Ek onthou nog hoe beïndruk ek was met hierdie hoogs heilige boek. En hoe gefassineerd ek met ons dominee was. Hy was vir my soos die heilige buikspreker van God. En ek het met ontsag geluister na God se “eie woorde.”
Hoe dan anders, daarom moes ek eenvoudig teologie gaan studeer. Dan, het ek geglo, sou ek wel self ook God se stem hoor en die antwoord op my vraag kry. Iets van wat Albert Einstein verwoord het met: “I want to know all Gods thoughts; all the rest are just details.”
Maar eers moes ek God dieper leer ken, verstaan en gehoorsaam. Dan sou Hy my tog genoeg vertrou met ‘n antwoord op my vraag.
Ongelukkig was my teologiese studies nie waarop ek gehoop het nie.
Ja, ek het baie geleer van God, soos gesien vanuit die Christen verstaan. Ek het geleer dat die tradisie waarbinne ek groot geword het, wel ‘n wonderlike en ryk tradisie is, wat ‘n barmhartige hart het wat vir sy medemens klop.
Maar ongelukkig moes ek ook aan myself, na jare van studie en in die bediening staan, erken dat God self nooit aan die woord gekom het nie.
Ja, daar was vele “profete, priesters en predikers” wat maar te gretig was om namens God te praat. (Waarvan ek ook oor die jare een was.) Maar God self, was stil soos die graf.
Aanvanklik het dit my laat voel ek is nie goed genoeg nie. Want hoekom sou God dan so duidelik met ander mense praat, maar met my moes ek maar tevrede wees met my eie gedagtes en idees.
En al God se sogenaamde woorde het altyd na my gekom deur hoorsê. Hierby sluit ek die Bybel in.
Hoekom wou God nie direk in sy eie stem met my praat nie? Hoekom die heeltyd Sy stilswye? Moes ek net meer blindelings glo? Dalk was daar een of ander sonde wat ek nog nie bely het nie? Dalk moes ek net minder krities wees en enige ‘stemmetjie’ verstaan as God sin?
En soos reeds bekend, het ek mettertyd besef dat enige idees en konsepte rondom God, uiteindelik maar net mensgemaak is. God is in ons koppe. So ook Sy stem.
Dit wat Meister Eckhart (1260-1328) lank voor my ontdek het, het al hoe meer vir my ook ‘n werklikheid geword, “Die oog waarmee ek God sien is dieselfde oog waarmee God my sien.”
Ja, dat ek maar net my eie ‘stem’ hoor, begeertes en versugtinge hoor en dan glo ek dit is God se stem. Die realiteit is, niemand het nog ooit God se stem gehoor nie.
Mense deur al die eeue heen het hulle eie idees, oortuigings en interpretasies gehoor en dit ‘verwoord’ as God se stem. En hoe hulle hierdie ‘stem van God’ gehoor en verstaan het, was ingekleur deur hulle ervarings, opvoeding, kultuur en omstandighede.
Seker daarom dat ek in my soeke na ‘n antwoord op my vraag altyd soveel uiteenlopende antwoorde gekry het.
Want sien, iemand se prentjie van God, bepaal sy of haar prentjie van die lewe. Kyk maar net hoe God, soos verstaan vanuit die Christelike, Joodse en Islam tradisie, as ‘n teïstiese God, ook bepaal hoe hulle die lewe verstaan as ‘n koninkryk met ‘n koning op ‘n troon.
En daarom word my vraag elke keer beantwoord vanuit hulle verstaan, dat ‘n sinvolle en gelukkige lewe net moontlik is as hierdie sg. koninklike wese gelukkig gehou word.
Hiermee stem ek natuurlik nie meer saam nie; hoofsaaklik omdat ek geen bewyse vir so ‘n teïstiese wese kon vind nie. Ek dink eenvoudig dat dit ‘n onbewysbare menslike konstruk is. En daarmee saam nog ook ‘n antieke menslike konstruk.
Dit het vir my, iemand wat groot geword het met die geloof in ‘n teïstiese God wat op ‘n troon sit en al die antwoorde het, natuurlik laat voel ek het in ‘n doodloopstraat beland het. Wat nou? Hoe beantwoord ek my vraag na sin nou?
En dit is hier waar my ontdekking (of laat ek eerder dit my bewuswording) van Zen Boeddhisme, my lewe heeltemal verander het.
Want sien, Zen werk glad nie met ‘n God konstruk nie. In Zen gaan dit oor hoe om sinvol in die hier en nou te leef.
Daarom dat Zen, volgens my maklik langs enige godsdiens kan staan. Want anders as meeste godsdienste, is dit in Zen glad nie belangrik om ‘n dogma rondom God te hê nie.
Zen wys juis daarop dat enige idee of konsep van God, jou in der waarheid verder weg neem van die waarheid, eerder as nader.
Shunryu Suzuki vat dit ‘n stap verder, wanneer hy sê dat sulke idees oor God jou kan blind maak, want dit is essensieel ego: “No matter what God or doctrine you believe in, if you become attached to it, your belief will be based more or less on a self-centered idea.”
Dalk is dit duideliker in die woorde van Alan Watts oor wat Zen is: “Zen does not confuse spirituality with thinking about God while one is peeling potatoes. Zen spirituality is just to peel the potatoes.”
Vanuit Zen het ek besef, dat al wat ek met oortuiging kan sê; is dat ek is en dat ek nou is. Dat ek hier is. En wie of wat ook al God is, dit dus sal beteken: God is hier. God is nou en dit wat is, is goddelik.
En toe ek dit begin verstaan, toe word ek ook wakker vir vele ander, ander vanuit verskillende tradisies, wat ook soos ek dink. Kom ek gee net een voorbeeld, en dit vanuit my ou tradisie, die Christelike tradisie.
St. Gregorius van Nyssa (ca. 335 tot ca. 395) skryf, “The man who thinks that God can be known does not really have life; for he has been diverted from true being, to something devised by his own imagination.”
En juis omdat Zen nie werk met ‘n godsbegrip nie, help dit ‘n mens om self verantwoordelikheid te neem, sowel as om meer gesag aan jou eie stem te gee.
Want daar is nie nou meer ‘n God wat namens jou besluite neem nie. Nee, dis jy, en jy alleen wat moet besluit. Dis daarom ook jy wat self die vraag moet beantwoord. Niemand en niks kan dit namens jou doen nie en daarom kan jy ook niemand verantwoordelik hou vir jou antwoorde nie.
Zen gee wel ‘n vingerwysing na ‘n antwoord op my vraag. Maar ek moet self die pad stap, die weg vind.
En hierdie pad of weg kan net in die hier en nou bewandel word. Daarom wys Zen vir my dat elke tree bewustelik en aandagtig gegee moet word. En slegs as ek regtig teenwoordig is in die gee van elke tree, sal die weg voor my ontvou.
Daarom is daar soveel klem in Zen op die aanvaarding van wat is. Om wakker te wees vir dit wat voor jou in hierdie oomblik ontvou. Ongeag wat dit is.
Sonder om daaruit te probeer weg vlug of om dit te probeer verander of te beveg of te probeer manipuleer.
Om saam met dit wat gebeur te vloei, natuurlik met die wete dat dit wat nou is heeltyd verander, “…to face the flux of impermanence and the reality of emptiness. To face the flux of impermanence means that the student appreciates the impossibility of clinging to things – all things must pass – and is encouraged to participate in the process of life,” verduidelik Vader Robert E. Kennedy, ‘n Amerikaanse Rooms-Katolieke priester, wat ook ‘n Zen Roshi (leermeester) is.
En binne hierdie verstaan het ek ook my antwoord gevind.
Deur te aanvaar wat is en daarmee saam te vloei, vind ek nie net die sin in my bestaan nie, ek vind ook lewensgeluk. En dalk die belangriker deel, ek vind dat ek meer deernis (compassion) vir my mede lewensvorme het.
So, terug by my vraag: Wat is nodig om ‘n sinvolle en gelukkige lewe te leef en te help skep vir ander?
Wel vanuit Zen sal die antwoord iets wees soos wat Karen Maezen Miller dit stel in haar boek, Momma Zen: Walking the Crooked Path of Motherhood:
“You are looking for answers, insight, and wisdom that you already possess. Live the life in front of you, be the life you are, and see what you find out for yourself.”
En in hierdie woorde lê die geheim van lewensgeluk. ‘n Eenvoudige en voor die hand liggende geheim:
Asem in, ek’s hier.
Asem uit, ek glimlag.
Marty Rubin: “Walk slowly through the world and pay attention.”
Recent Comments