Hierdie week het ek en ‘n bekende Christen-teoloog ‘n lang gesprek gehad oor geloof en ongeloof. En alhoewel ek die debat baie geniet het, het ek net weer besef hoe ver weg ek beweeg het van my vorige geloofsoortuigings. My godsbeeld en lewensfilosofie het oor die afgelope paar jaar radikaal verander, in so ‘n mate, dat ek soos ‘n geloofs-vreemdeling voel.
My gespreksgenoot vra dan ook my op ‘n stadium of ek nie baie alleen voel nie, in ‘n land waar meer as 80% van die mense nog die Christelike geloof aanhang. My antwoord was natuurlik dat daardie statistiek van hom nie regtig ‘n akkurate weergawe is van wat in baie gelowiges se koppe en harte aangaan nie. Want soos ek dinge tans sien lyk dit of baie mense begin skuif in hulle beskouings. Kyk maar net hoeveel mense na hulleself verwys as spiritueel en nie godsdienstig nie. Dit sê tog duidelik dat mense nie meer gemaklik voel met die ou definisies en idees oor God en godsdiens nie. Dat daar dalk veel meer mense soos ek is as wat hy en die kerk vermoed.
Op hierdie punt kon ek egter sien dat my gespreksgenoot begin ongemaklik voel met my weergawe van dinge. Hy sê toe dat dit juis hierdie wollerige praatjies van my was wat vele gelowiges deurmekaar laat voel en uiteindelik laat twyfel. Hiermee saam het hy ook sterk gevoel dat ek mislei baie goedgelowige mense met my sogenaamde eietydse spiritualiteit. Hy het genoem dat Renaissance Spirituele Gemeenskap in Pretoria, waarvan ek, Flip Schutte en Piet Muller die spirituele begeleiers is, eintlik maar net ‘n valse “kerk” is.
“Wees vir eens eerlik en sê reguit wat jy glo!” het hy gefrustreerd gesug en met sy vinger na my gewys. En alhoewel ek sonder skroom nog heeltyd gesê het wat ek dink en glo, het ek besef dat ek my dalk nie so duidelik uitgedruk het as wat ek gedink het nie. So kom ek probeer weer:
Ek verstaan spiritualiteit as ‘n reis en nie ‘n bestemming nie. Daarom is dit vir my en my mede reisigers so belangrik om ‘n lewe van verwondering en eerbied voor die groot en onpeilbare Geheim wat ons die goddelike noem, te leef en te sterf. Hierdie Geheim is nie vir my bevatlik in enige mensewoord of formules nie. Daarom is my oortuiging om nie ‘n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskap van alle tye en kulture…
“Ja, ja … weereens wollerige woorde! Gee vir my jou geloofsbelydenis. Sê reguit wat jy glo!” My gespreksgenoot is duidelik nie beïndruk met my poging tot ‘n verduideliking nie. En alhoewel ek nie van geloofsbelydenisse of groot “waarheids”-verklarings hou nie – want alle menslike kennis is voorlopig – het ek ‘n tyd gelede al met so ‘n poging tot ‘n geloofsbelydenis begin en kon toe dit net so gee. En ja, natuurlik is dit slegs ‘n voorlopige, beperkte en hoogs persoonlike siening.
Ek noem dit die Geloofsbelydenis van ‘n soeker, en hierdie belydenis is ‘n uitnodiging tot verdere gesprek en eerlike soeke. Hierdie woorde is slegs vingerwysings na die groot Misterie, tekens en simbole wat die reisiger altyd verder en verder laat reis. En as dit te wollerig is vir my gespreksgenoot, is ek jammer maar volgens my, kan niemand sê “Daar is God” nie. Ons kan op die meeste sê, “Daar is my voorlopige verstaan van God.”
Geloofsbelydenis van ‘n soeker
Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.
Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.
Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.
Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.
Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.
Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ‘n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.
Ek glo dat die lewe ‘n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.
Ek glo dat die wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.
Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.
Recent Comments