Ons leef in interessante tye. Aan die een kant het ons ‘n vrywordende wêreld. Waar daar vroeër onderdrukking en min vryheid was staan die massas op en veg vir hulle regte. Die onderdrukkers word al meer ontbloot en omvergegooi deur vroeëre onderdruktes – kyk maar net na Egipte as voorbeeld.
Hiermee saam is die snelle vooruitgang van die tegnologie en soveel verskillende terreine van die wetenskap, besig om vir ons meer grense te help deurbreek. Grense wat ons vroeër ingeperk het, selfs gevange gehou het.
Tog wil dit voorkom asof daar nie veel vordering gemaak word op die terrein van innerlike vryheid nie. Ek meen, ons was al op die maan en mars en ons verken al verder en verder. Maar die reis na die self, het meeste mense nog nie eers begin nie. Seker omdat dit soveel moeiliker is om die innerlike kosmos te verken as die uiterlike een. Want daar is geen uitgewerkte leerplan, geen laboratorium waar jy klinkklare bewyse kan vind nie en geen vaste formules nie.
Daar is ook geen finale gesag wat kan help om die komplekse entiteit genaamd die innerlike bewussyn te ondersoek nie. Jy is op jou eie, net jy kan dit doen; niemand kan dit namens jou doen nie. Dit is jóú reis. Geen kortpaadjies of skyn-prestasies nie. Geen selfoon app’s of rekenaarprogram wat vir dit jou makliker kan maak nie.
Daarom seker dat uiterlike vryheid nie noodwendig innerlike vryheid waarborg nie. Kyk maar net hoe mense wat uiterlik en fisies vryheid het, dikwels nog gevangenes en selfs slawe van hulle denke en gevoelens kan wees. Mense wat pynlik afhanklik bly aan die opinies, vooroordele en verwagtings van ander. Baie sulke mense is nie bereid, of selfs in staat, om vir hulle self op te staan nie, om ‘n eie opinie te waag nie, of om, waar nodig, in te gaan téén die populêre opinies nie. Hulle bly ondanks hulle vryheid van beweging gevangenes van allerlei vrese, denkbeelde, dogmas en ideologieë.
Die teenoorgestelde is gelukkig ook waar. Daar is mense wat uiterlik onder druk verkeer en ingeperk word, wat selfs in tronke beland, maar wat innerlik onaantasbaar en vry is – mense wat, ondanks onderdrukking, intimidasie of sensuur, presies weet wíé hulle is en wát hulle glo, en wat nie huiwer om dit met selfvertroue uit te leef nie.
‘n Voorbeeld van so iemand is Aung San Suu Kyi, ‘n vreeslose menseregte-aktivis van Mianmar (Burma). Dié petite 66-jarige Suu Kyi verstaan politieke mag se inperking van uiterlike vryheid. Sy is in 1989 die eerste keer in huisarres in Rangoen geplaas nadat sy besef het sy is voor ‘n onmoontlike keuse – haar land óf haar liefde vir haar man, wat toe aan terminale kanker gely het. Tussen 1989 tot haar man se dood het sy hom net vyf keer gesien. Suu Kyi het haar daarop toegespits om vanuit haar huistronk binnelandse én buitelandse opposisie en druk teen die oorheersers in te span. Haar stem is gehoor en haar durf is in 1991 in absentia met die Nobelprys vir vrede beloon. In 2000 is sy kortstondig vrygelaat voordat sy weer in dieselfde jaar tydens ‘n betoging in hegtenis geneem is. Dié keer was sy maande lank iewers in ‘n militêre tronk aangehou.
Haar uiterlike vryheid is weggeneem, maar haar innerlike vryheid kon haar onderdrukkers nooit van haar wegneem nie. Dit maak van haar ‘n simbool vir ons almal. ‘n Simbool van die menslike potensiaal tot innerlike vryheid en vrede, te spyte van uiterlike omstandighede.
Dié enigmatiese vrou kan ons baie leer van innerlike vryheid. Sy wys daarop dat enige ware vryheid altyd gewortel is ‘n innerlike vryheid. Sy wys daarop dat daar “ses groot dukhas” is waardeur elke mens eers innerlik moet werk voordat jy ware Vryheid kan ken: om siek te word; van geliefdes geskei te word; oud te word; om gedwing te word om te leef met hulle wat nie liefde ken nie; én om te sterf.
Nog ‘n vroulike aktivis wat net soos Suu Kyi van anti-revolusionêre aktiwiteit beskuldig was en in ‘n stadium en vir twee maande lank daarvoor in ‘n tronk gegooi is – Alexandra Tolstoi, die beroemde skrywer se dogter – skryf die volgende daaroor: “I am not using my final statement to defend myself, because I do not consider myself guilty of anything … I consider that we are free people, and that this freedom is within myself – no one can deprive me of it, neither the walls of the Special Division, nor internment in a camp. This free spirit is not the freedom which is surrounded by bayonets in free Russia, but it is the freedom of my spirit, and it will stay with me…”
Is dit nie hierdie soort vryheid wat ons in Suid-Afrika met al sy korrupsie en magsmisbruik nodig het nie? Lyk my egter dat die hartseer tendens is dat hoe vinniger die moderne, tegnologies-gedrewe wêreld vooruitgaan hoe vinniger en meer oppervlakkig begin ons leef. Ons koop meer, versamel meer, beleef meer, reis meer, speel meer, werk meer, doen meer, oefen meer, eet meer, steel meer, produseer meer, verniel meer, lees meer, weet meer, praat meer, haat meer, verander meer en word meer.
Dit is die mantra van ons tyd, meer en meer en meer. Maar as ons eerlik met mekaar moet wees, lyk dit nie of ons in hierdie rigting meer geluk, meer vrede en meer Vryheid gaan vind nie. Ek vermoed geluk, vrede en vryheid het nog altyd gewoon in die land van minder.
Dit klink soos ‘n paradoks, maar die wyses onder ons, Nelson Mandela, Suu Kyi en Alexandra Tolstoi het geleer dat daar waar uiterlike vryheid weggeneem word en ‘n mens met minder moet regkom, eenvoudiger en stadiger moet leef – daar vind ‘n mens innerlike vrede en vryheid.
Iets wat William Emery Channing verwoord met: “To live content with small means; to seek elegance rather than luxury, and refinement rather than fashion; to be worthy, not respectable, and wealthy, not rich; to listen to stars and birds, babes and sages, with open heart; to study hard; to think quietly, act frankly, talk gently, await occasions, hurry never; in a word, to let the spiritual, unbidden and unconscious, grow up through the common – this is my symphony.”
Miskien het ons nodig om stilte, eenvoud, minder eerder as meer en stadiger eerder as vinniger doelbewus op te soek. Dalk as ons eenvoudiger en stadiger begin leef sal die dinge wat regtig saak maak weer kans kry om na vore te tree. Dit waarna die kunstenaar Hans Hoffman verwys met: “The ability to simplify means to eliminate the unnecessary so that the necessary may speak.”
Want ons het so nodig om dit wat werklik belangrik is weer te hoor! Die nodigheid, nee, dringendheid dat ons met ons meer en meer nie net onsself nie maar ons woning vernietig. Die mensdom moet minder gebruik, misbruik, verbruik en vernietig. Is dit nie hartseer nie dat ons wêreld opgedeel is in een helfte van mense wat met soveel oorvloed leef dat hulle moet op dieet gaan vir hulle gesondheid, en die ander helfte het nie genoeg om te kan leef nie. Miskien is die woorde van Elizabeth Seton iets wat op elkeen van ons yskaste in dik rooi letters geskryf moet staan: “Live simply that others might simply live.”
Dalk is dit tydens die ekonomiese krisis, die korrupsie, hongersnood en die onnodige oorloë wêreldwyd presies dié oproep tot eenvoudiger, minder en stadiger wat elkeen van ons nodig het. Dalk help dit ons om weer die heiligheid in elke oomblik raak te sien, dalk net dalk sal ons nou luister na Robert Louis Stevenson as hy sê: “The best things in life are nearest: breath in your nostrils, light in your eyes, flowers at your feet, duties at your hand, the path of right just before you. Then do not grasp at the stars, but do life’s plain, common work as it comes, certain that daily duties and daily bread are the sweetest things in life.”
Laat dié wat ore het om te hoor, hoor!
Recent Comments