Die bekende Amerikaanse filosoof en skrywer Ken Wilber het op ‘n keer gesê: “I have one major rule: Everybody is right. More specifically, everybody – including me – has some important piece of truth, and all of those pieces need to be honored, cherished, and included in a more gracious, spacious, and compassionate embrace.”

Hierdie stelling van Wilber maak nie vir ons logiese koppe lekker sin nie. Want ons werk met ‘n reguit lyn van logiese beredenering. As A gelyk is aan waar, en B is gelyk aan vals, is dit tog ‘n logiese afleiding dat albei nie kan reg wees nie.

En ja, dit werk verseker so in die wêreld van meetbare, logiese en feitlike werklikheid. Maar die oomblik wat jy met die kreatiewe, poëtiese en innerlike wêreld werk, kan twee uiteenlopende waarhede wel langs mekaar staan.

En dit is ook baie keer vanuit hierdie meervlakkige verstaan van die lewe dat daar soveel insigte na vore kom. Dink maar net aan een van die grootste logiese denkers, Albert Einstein, se wonderlike woorde hieroor: “Imagination is more important than knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world … Logic will get you from A to Z; imagination will get you everywhere.”

Natuurlik is dit belangrik om te besef dat die twee nie teenoor mekaar staan nie, nee, dit vul mekaar eerder aan. Maar wanneer dit kom by dieper insig, is dit baie keer nodig om verby teenstellings en dualiteite van logiese denke te beweeg.

Presies dit waarna die Sufi, Jalaluddin Rumi (1207-1273) verwys met: “Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there.” Want om regtig te kan verstaan, om dieper te kan beweeg – kan jy nie net met jou vlees oë kyk nie. Nee, jy moet met jou innerlike oë kyk. Want vlees oë kan net mooi of lelik sien. Reg of verkeerd, lig of donker.

Maar jou innerlike oë sien raak dat mooi en lelik is eintlik dieselfde, en hard bestaan as gevolg van sag, en donker en lig is ‘n tweeling. En die sogenaamde onderskeid tussen reg en verkeerd is ‘n onderskeid wat binne die waarnemer lê. Die onderskeid bestaan nie noodwendig binne die waargeneemde nie.

Iets wat ek probeer verwoord het met ‘n gedig:

Te-mi-de die storm
‘n beweginglose dans
Te-mi-de die geraas
‘n oorverdowende stilte
Te-mi-de my sterwe
my opstanding

Ja slegs wanneer jy verby dualiteit kan kyk, word die misterie van die eenheid van alles sigbaar.

Maar omdat baie van ons nooit geleer is om ons eie dualistiese gedagtes te bevraagteken nie, verval ons so maklik in ‘n geskepte idee van wat werklik is. Ons interpreteer, klassifiseer en definieer alles wat ons waarneem. En daarin lê ons vasgeloopte probleem.

Want wat gebeur, is dat ons ‘n storie skep vanuit dit wat met ons gebeur, wat ons sien en ervaar. En ons definieer hierdie storie dan as goed of boos, lekker of sleg, reg of verkeerd. En so word ons stories ons werklikheid, ons tronk. ‘n Tronk waarbinne ons, onsself emosioneel gevange hou.

Want eerder as om die lewe te leef, net soos dit in die oomblik ontvou – sonder om dit heeltyd persoonlik te wil maak – probeer ons deur ons stories om ons betekenis en verklarings daarop af te dwing.

Seker daarom dat die Alan Watts soveel keer gesê het: “Life is not a problem to be solved, but a reality to be experienced.” Want die lewe se betekenis kom juis na vore in die leef van die lewe, nie in die ewigdurende analisering daarvan nie.

Want is dit nie so dat elke keer wanneer jy jou lewe vanuit jou storie bekyk, jy begin ly nie? Byron Katie wat vir jare lank ‘n depressielyer was het presies tot hierdie konklusie gekom: “When we believe in our thoughts, when we tell ourselves a story, we suffer. ‘My husband doesn’t respect me.’ ‘I should be thinner.’ Those are stories. When there’s no story, there’s no suffering. When we stop opposing reality, action becomes simple, fluid, kind, and fearless.”

Die lewe is eintlik heel eenvoudig. Dit bestaan uit ‘n reeks natuurlike en spontane veranderings. Dis al. Geen plan, geen doel en geen rede. Die doel van die lewe is Lewe.

Dit is dus dwaas om die lewe se ewigdurende veranderings heeltyd te probeer teenstaan. Wanneer mense probeer om dit te doen, beleef hulle lyding en daardeur veroorsaak jy dit ook vir ander.

Die eerste stap tot ‘n direkte, vreeslose en sinvolle lewe is dus om in elke oomblik saam met dit wat is te vloei. Presies soos ‘n mens moet maak wanneer ‘n seestroom jou intrek. Sonder enige weerstand. Veral weerstand in die vorm van gedagtes. Want gedagtes is die mens se manier om dit wat gebeur te probeer interpreter en kategoriseer. Die spirituele skrywer, Jac O’Keeffe, stel dit so duidelik met: “In any moment, you are either observing effortlessly or you are believing your thoughts.”

Die weg vanuit jou malende gedagtes of geskepte stories, is om eerstens, te aanvaar wat is, sonder om heeltyd vanuit jou kop dinge te ooranaliseer. Slegs dan sal jy kan vry genoeg wees om dit waarmee jy nie gelukkig is nie te transformeer.

“All that we experience is subjective, there is no sensation without interpretation. We create the world and ourselves; only when we stop do we see the truth,” so beskryf Deng Ming-Dao die weg uit ons koppe en ons geskepte stories.

Onthou dat die weg na innerlike vrede juis begin by jou keuse om nie meer in te koop op die illusie van jou stories nie. Dit is ‘n ego-spel. ‘n Spel wat jou maklik kan verblind. ‘n Spel wat jou ‘n slagoffer maak van jou vooropgestelde idees en teorieë oor hoe die lewe veronderstel is om te wees. ‘n Slagoffer van jou innerlike vrese en angs.

Waarna Kodo Sawaki verwys met: “It is not life that causes suffering, but our expectation that life should be the way we want.”

Anthony de Mello, ‘n Christen leermeester wat bekend was vir sy transformerende retreats, het dit akkuraat vasgevat met: “Don’t seek the truth; just drop your opinions about the truth. Drop your theories; don’t seek the truth. Truth isn’t something you search for. If you stop being opinionated, you would know.”

Dan begin jy besef dat jy eintlik aan niks kan vashou nie. Lewe lig en sonder vrees vir verandering. Want as jy dit sou kon regkry, sal daar niks wees wat jy nie kan regkry nie.

Hoekom? Want dan beleef jy verligting (enlightenment). Dit waarna Eckhart Tolle verwys: “When you no longer believe everything you think, you step out of thought and see clearly that the thinker is not who you are.” Jy’s meer as die denker, jy is meer as jou storie van jouself en ja, jy is meer as jou prestasies, mislukkings en geskiedenis.

Ek sal nooit vergeet hoe ek die eerste keer bewus geword het van hierdie konstante gedagtestroom en ewigdurende ego-storie wat ek geglo het is die waarheid nie. Ek was op ‘n sewe-dag Zen retreat. Die Zen leermeester was ‘n Japannees vanuit die Soto Zen tradisie.

Deel van die verloop van die retreat was dat ons elke dag ‘n persoonlike gesprek met die leermeester moes hê. Met een van hierdie een tot een gesprekke het hy vir my die volgende gesê: “Rather than continuing to seek the truth, simply let go of your views.”

Dit het nie vir my op daardie stadium veel sin gemaak nie en toe ek hom vra wat hy daarmee bedoel het hy die volgende geantwoord: “Stop thinking in terms of good or evil. Don’t try to stop thoughts from arising, only ask yourself: ‘What is my own Mind?’ Now, even when your questioning goes deeper and deeper you will get no answer until finally you will reach a cul-de-sac. You won’t find anything within that can be called ‘I’ or ‘Mind’. But who is it that understands all this? Continue to probe more deeply yet and the mind that perceives there is nothing will vanish; you will no longer be aware of questioning but only of emptiness…”

Ek antwoord toe dat as ek hom reg verstaan, beteken dit dat ek moet ophou deur my ego dink en leef, en daarom dat ek eers moet leeg word aan myself. Maar voordat ek myself op die skouer kon klop vir my wonderlike insigte, gaan hy verder, “…awareness of even emptiness will disappear, and then you will realise there is no You outside Mind and no Mind outside You … Now for the first time you will discover that when you do not hear with your ears you are truly hearing, and when you do not see with your eyes you are really seeing. But remember Abel, don’t cling to any of this, just experience it for yourself!”

So tipies Zen … met ‘beleef dit vir jouself.’ Dit is natuurlik ook my pleidooi vir elkeen wat hier lees; dink vir jouself, ervaar vir jouself en belangrikste van alles, leef eerstehands.