Ons almal dra maskers. Ons glimlag as ons hartseer voel en ons is aggressief as ons minderwaardig voel. Ons baklei om ons vrees te verberg en ons koop goeters en dinge wanneer ons waardeloos voel.

Ons betaal ‘n hoë prys vir ons maskers, want dit vat ongelooflik baie emosionele energie om te verberg wat ons eintlik voel en dink. Presies waarna Henry David Thoreau verwys het met sy: “Most men lead lives of quiet desperation.” En na wat Boeddha verwys het as “dukkha” (lyding), wat ‘n realiteit is in die menslike bestaan.

En tog op ‘n dieper vlak weet ons dat die maskers nie altyd mense se lyding sal kan verberg nie. Dit is nou maar net eenvoudig so dat pyn, ongeag psigies of liggaamlik, uiteindelik altyd na die oppervlak sal borrel. Vir almal om te sien.

Dink maar net aan voor die hand liggende gevalle, waar mense ten spyte van rykdom, sukses en selfs jeug, fisies siek word, of dit griep of kanker is, dit word eenvoudig sigbaar.

Rondom my, minder as 10 minute se ry in enige rigting, is daar nie minder as vyf hospitale, hospices en vele privaat mediese praktyke, psigiaters en sielkundiges se kantore. Dit is iets wat ons tog weet is deel van die menslike kondisie, siekte hetsy liggaamlik of geestelik. Iets wat enige van ons enige tyd kan tref.

‘n Man ry sy eie kind in sy huis se oprit raak, ‘n vrou hoor sy het ‘n terminale kanker die week voor haar troue. ‘n Jong belowende atleet is in ‘n motorfiets ongelukkig en verloor sy been. ‘n Ma kry die slegte nuus dat haar pasgebore babatjie ‘n ongeneeslike siekte het en ‘n man in sy vyftigs hoor sy vrou wil van hom skei.

Niemand spring hierdie pyn en lyding vry nie, maak nie saak wie jy is of wat jy besit nie. Niemand nie.

Dink maar o.a. aan die ryk en bekende mense van ons wêreld. Hulle wat alles het wat die res van ons so begeer. Sien ons nie daagliks op TV hoe hulle – sport en rolprent sterre, politieke en geestelike leiers – deur skandale ontbloot word as net so weerloos soos die res van ons nie. Van dwelm en drank verslawing, seksverslawing, depressie tot vele sielkundige en persoonlikheid versteurings. Mense wat diep lyding beleef, ten spyte van ongelooflike talent, rykdom en aansien.

Hierdie toestand van “dukkha” lê egter dieper as net dit. Selfs al gaan dit tydelik goed met ‘n mens, bly meeste nog bewus van ‘n onderliggende onbevredigende en onvervulde innerlike toestand. Nie waar nie?

Baie mense voel ontevrede oor hulle voorkoms, is ongelukkig met hulle werk, voel onvervuld in hulle verhoudings. Sukkel met gevoelens van minderwaardigheid en selfs selfhaat. Selfs vir buitengewoon bevoorregte en suksesvolle mense, is die lewe swaar. En as ons regtig die saak dieper ondersoek, kom ons vinnig agter dat meeste mense gevangenes van hulle eie binne-wêreld is.

Boeddha sê juis dat “dukkha” begin binne ons koppe. En is die feit van die saak nie dat ons hele lewe tussen ons twee ore gebeur nie? Seker daarom dat hy gesê het: “We are shaped by our thoughts; we become what we think.” Mense leef vasgevang binne hulle koppe. Dit bring mee dat bitter min mense werklik die lewe as uniek, nuut en vars beleef. Nee, die lewe word ‘n projeksie van mense se innerlike wêreld.

En die innerlike gedagtes en herinneringe van pyn, onsekerhede, drama, hartseer, verveling en vrese, word die filter waardeur elke nuwe oomblik beleef en gesien word. Jiddu Krishnamurti verduidelik dit so: “Thought is never new; thought is always old; thought can never be free, because it is tied to the past and therefore it can never see anything new.”

Hiermee wys Krishnamurti op die mens se onvermoë om direk en eerstehands te kan sien. Om direk in die stroom van die lewe teenwoordig te kan wees. Die hartseer werklikheid is dat meeste mense leef tweedehandse lewens. Natuurlik beteken dit nie dat eksterne omstandighede nie belangrik is nie. Dit is, maar dit is jou gedagtes, eerder as omstandighede wat die kwaliteit van jou lewe bepaal.

Presies dit wat die neuroloog Sam Harris ook sê: “Your mind is the basis of everything you experience and of contribution you make to the lives of others. Given this fact, it makes sense to train it.” Ja jy’t reg gelees. “…it makes sense to train it.” Net soos ‘n atleet sy spiere oefen om ‘n beter atleet te word net so kan jy jou denke, dit wat tussen jou ore is, oefen.

Want is dit nie so dat jy word waaraan jy die heeltyd dink nie? Dit wat Mahatma Gandhi ook soos Boeddha gesê het: “A man is but the product of his thoughts. What he thinks, he becomes.” Daarom is dit so belangrik dat elke mens sal verantwoordelikheid neem vir dit wat daagliks sy kop beset.

Jy is nie maar net negatief van geaardheid nie, jy is nie maar net angstig as gevolg van stresvolle situasies nie, en jy is vir seker nie maar net ‘n humeurige en geïrriteerde mens weens ander mense se optredes nie.

Nee, jy kies hierdie innerlike toestande, omdat jy onbewus is van jou innerlike programme. En deur onbewus te wees daarvan, word jy ‘n slaaf daarvan. Presies dit waarna Alan Watts verwys: “Your mind is a beautiful servant, but a dangerous master.”

Die waarheid is, dat geen eksterne kragte ‘n houvas op jou het nie. Niemand kan byvoorbeeld jou ontstel of beledig, as jy dit nie toelaat nie. Daarom is dit so belangrik dat jy wakker word vir jou gedagtes en denke. En jy doen dit deur jouself doelbewus dop te hou. Sonder oordeel en kritiek, net waarneem. Dit wat Krishnamurti noem: “The highest form of human intelligence is to observe yourself without judgement.”

Want wanneer jy ‘n bewustheid begin ontwikkel vir die strome van gedagtes en emosies binne jou, word jy ook bewus van die tydelike aard daarvan. Geen gedagte hou vir ewig nie, nee, gedagtes is per definisie tydelik en gaan vinnig verby.

Dit is ons wat ‘n gedagte vasgryp, vertroetel en lewend hou. Seker daarom dat die Zen leermeester Shunryu Suzuki die volgende gesê het: “If something comes into your mind, let it come in, and let it go out. It will not stay long.”

Hierin lê daar ‘n wonderlike geheim opgesluit. Die vryheid om dit wat opkom in jou gemoed, nie vas te gryp, te beoordeel of selfs te beveg nie. Om dit net uit te los. Want net so vinnig soos dit in gekom het, net so vinnig sal dit weer weggaan. Neuroloë praat van gedagtes se duur, van begin tot einde is 90 sekondes. Mits die denker dit uitlos.

Thich Nhat Hanh het dit meer poëties beskryf met: “Feelings and thoughts come and go like clouds in a windy sky.” Sien jy raak dat hierin ‘n vryheid lê, ‘n vryheid om in enige situasie, ongeag goed of sleg, vreugdevol of hartseer, self te bepaal hoe jy voel en reageer?

Presies dit wat Sam Harris verwoord: “The realistic goal to be attained through spiritual practice is to be free in this moment, in the midst of whatever is happening.”

Dit is wat dit beteken om sonder ‘n masker te leef. Jy is eerlik, vreesloos en wakker vir jou lewe; wat oomblik vir oomblik, voor jou ontvou. Jy hoef nie meer voor te gee of weg te kruip nie. Is dit nie wat ‘n lewe van vryheid is nie?