Boeddha het op ‘n keer gesê: “Those who cling to views and perceptions wander the world offending each other.” En is dit nie presies wat gebeur nie? Veral meer in ons tyd. Juis omdat ons wêreld so klein geword het. Ons moet onthou dat ons woon in ‘n “Global Villiage.” En dit beteken dat Iran, Noord Korea, Engeland en Japan ons bure is.
Dit is byvoorbeeld vandag nie meer snaaks om mense van verskillende lande, gelowe en oortuigings in een werksplek te vind nie. Anders as vyftig jaar gelede, woon ons nou op mekaar se voorstoep. En daarom is ons lankal nie meer verskillende gemeenskappe nie; inteendeel, ons is al reeds ‘n geruime tyd een groot wêreldgemeenskap. En is Boeddha se woorde nie meer waar as enige tyd voorheen nie?
En ons hoef nie eens ver te “wander” om mekaar te “offend” nie. Ons is een groot spinnerak, pluk aan een stringetjie en die hele spinnerak bewe. Sirië, Donald Trump en ‘n natuurramp in China het dus met my en jou te doen, of ons dit wil weet of nie. En alhoewel dit wonderlike kruisbestuiwing van idees, kulture en gebruike meebring, is dit ongelukkig ook ‘n kookpot van konflik en misverstande. En wanneer mense met vooroordele, met ‘n konserwatiewe en onverdraagsame ingesteldheid leef, het ons ‘n ernstige probleem. ‘n Probleem soos o.a. xenofobie en rassisme wat wêreldwyd al sterker momentum kry.
Dit wat Thich Nhat Hanh probeer sê het met: “People kill and are killed because they cling too tightly to their own beliefs and ideologies. When we believe that ours is the only faith that contains the truth, violence and suffering will surely be the result.” En haat en geweld is vir seker die gevolg. Sit maar net jou TV aan, ons wêreld brand.
Die Chinese filosoof Chuang Tzu (ook bekend as Zhuangzi) het in die 4de eeu v.C. geleef. Hy was die dissipel van Lao Tzu wat die Tao Te Ching geskrywe het. Hy’t die volgende te sê gehad: “Great knowledge is universal. Small knowledge is limited. Great words are inspiring; small words are chit and chat.” En is dit nie die hartseer realiteit van ons huidige vlak van kennis in die wêreld nie, dat alles op die vlak van “chit and chat” is. En die hoofrede daarvoor is omdat ons ingekoop het op ons eie beperkte en begrensde ego stories.
Ons het vergeet wie ons werklik is en ons vryheid verruil vir ‘n aangeleerde en verdelende vrees-konstruk. En dit het ons geweldadig gemaak.
Presies dit wat die filosoof Jiddu Krishnamurti raakgesien het: “When you call yourself an Indian or a Muslim or a Christian or a European, or anything else, you are being violent. Do you see why it is violent? Because you are separating yourself from the rest of mankind. When you separate yourself by belief, by nationality, by tradition, it breeds violence. So a man who is seeking to understand violence does not belong to any country, to any religion, to any political party or partial system; he is concerned with the total understanding of mankind.”
So, wat Krishnamurti hier voorstel, is dat slegs wanneer jy leeg word, leeg van jou vooropgestelde idees en vooroordele, leeg van jou ego stories en leeg van jou verdelende en aangeleerde identiteite, eers dan sal die geweld, haat en vrees kan eindig. Leeg word is die voorvereiste. Die vraag is nou, wat word presies bedoel met leeg word?
Die maklikste is dalk om dit te probeer verduidelik met ‘n storie van Chuang Tzu. Hy vertel: eendag, lank lank gelede, het ‘n ou man besluit om in sy roeibootjie na die rivier se oorkantste oewer te roei. Terwyl hy besig was om te roei sien hy ‘n leë roeiboot aangedryf kom na sy kant. Toe hy naby die leë boot kom dryf die boot teen sy boot vas. Sonder enige kwade gevoelens het hy eenvoudig die leë boot weggestoot met sy spaan, en voortgegaan.
Maar wat sou gebeur het indien die leë boot nie leeg was nie, indien daar iemand daarin gesit het? Dan sou die ou man verseker anders gereageer het. Heel moontlik sou daar woorde van beskuldiging en selfs woede gewees het. “Hoekom kyk jy nie waar jy gaan nie?” Tog, omdat die boot leeg was, was daar geen beskuldigings of woede nie. Die les hierin is dat indien jy jou lewensboot op die rivier van die lewe kan leeg maak, sal niemand vir jou kwaad word nie.
Dit is belangrik om hier te verduidelik wat Chuang Tzu met “leeg” bedoel. Want veral in Westerse denke word leegheid baie keer verstaan as negatief, te min of ‘n tekort aan iets. Vanuit hierdie verstaan sal ‘n leë boot dan beteken dat iemand gevul is met minderwaardigheid of selfs ruggraatloosheid.
Chuang Tzu verwys egter na leegheid as iets heeltemal anders. Die leë boot in sy storie is die simbool van iemand wat egoloos leef. Iemand wat nie meer inkoop op identiteite en grense nie. Iemand wat leeg is van selfsug, eiebelang en meerderwaardigheid. Iemand wat nie meer inkoop op sy eie storie van wie hy of sy dink hulle is nie. So ‘n mens leef dus lig, vry en met liefde. ‘n Liefde wat beskryf word in die Bybel, in 1 Korintiërs 13 vers 5 as: “Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.” Dit is presies waarna Chuang Tzu verwys met leë boot.
En wat gebeur wanneer iemand so lig, vry en leeg begin lewe? Ander mense met wie hulle in kontak kom – of volgens die storie, teen vasdryf – beleef hulle dan nie as ‘n bedreiging nie. Juis omdat daar geen ego of pynliggaam is nie, en daarom ook geen konfrontasie of konflik nie.
Is dit nie maar presies waarna Spreuke 15 vers 1 verwys met: “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.” Want daar waar woede in jou teenwoordig is, sal dit ook woede in ‘n ander laat ontvlam. Daarom is die logiese afleiding dat wanneer jy egoloos optree, dit ook die ego in die ander nie sal konfronteer nie.
Chuang Tzu se storie help ons om te verstaan dat jou innerlike toestand en intensies aktiveer juis dieselfde in ander en rondom jou. As jou lewe dus vol konflik, aggressie en vrees is, is die vraag wat jy jouself moet afvra, “Hoekom is ek so kwaad, aggressief en bang?” Presies wat Alan Wilson Watts in sy boek, The Way of Zen, verwoord met: “When we attempt to exercise power or control over someone else, we cannot avoid giving that person the very same power or control over us.” Een van die mees effektiewe maniere om jou “boot” leeg te maak, is natuurlik om jou innerlike wêreld met stilte te vul.
Ramana Maharshi sê dit wonderlik met: “When the mind is left without anything to cling to, it becomes still.” En hierdie innerlike helderheid help natuurlik om die ego konstrukte te laat oplos. En wanneer die ego oplos bly wát oor? Hier is ons natuurlik terug by Chuang Tzu se leë boot-metafoor. Wat oorbly is iemand wat lig, vry en met liefde leef. Iemand wat daarmee ook rondom hom dieselfde lig, vryheid en liefde skep. En hiervan het ons in ons ego-gedrewe wêreld, soveel meer nodig. Nie waar nie?
Dalk dan kan ons verstaan wat die ou Zen leermeester Zhaozhou bedoel het met: “Zen is not about adding anything, it is about subtracting everything.” Is ons doel hier op aarde nie juis om te sterf aan die klein self, sodat ons die groot self kan ontdek nie. Juis daarom is dit so belangrik om leeg te word. Om daagliks jouself leeg te maak van jou ego, jou sogenaamde sekerhede en jou idee konstrukte.
Sekerlik daarom dat die Christen teoloog Richard Rohr gesê het: “All great spirituality is about letting go!” Dit is daarom altyd die les. Laat gaan en word leeg. Want onthou net as jy leeg is kan jy die nodige liefde, vryheid, lig en vrede help bewerkstellig.
Recent Comments