Om te begeer is sekerlik die vinnigste pad na lyding, of altans dit is wat Boeddha vir sy volgelinge geleer het. Hier het hy ook nie gestop nie, hy’t verder gegaan: “What is evil? Killing is evil, lying is evil, slandering is evil, abuse is evil, gossip is evil, envy is evil, hatred is evil; all these things are evil. And what is the root of evil? Desire is the root of evil.”

Nou ontstaan die vraag, hoekom het Boeddha so sterk gevoel dat begeertes die bron van lyding is. Dat jou begeertes jou grootste struikelblok in jou lewe kan wees.

Ek vermoed omdat hy geweet het dat jou begeertes jou intrek en vasbind aan tydelike en verbygaande dinge. En daarin lê die lyding. Boeddha verwoord dit so: “Craving and desire are the cause of all unhappiness. Everything sooner or later must change, so do not become attached to anything.”

Want is dit nie so nie dat alles verouder, vergaan en oplos nie? Iewers het ons vergeet dat alles maar net tydelik is. En dat ons ly, wanneer ons ons geluk soek binne die tydelike. Presies wat Matteus 6:19 in die Bybel sê: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.”

Want is dit nie maar so dat niks wat ek besit werklik “myne” is nie. Ons kom kaal in hierdie wêreld in en ons gaan kaal uit hierdie wêreld. Maak dit dus nie veel meer sin om ligter te lewe nie. Om op te hou om soveel bagasie saam te dra. Om op te hou begeer vir meer, groter en beter. Want Boeddha het geweet die oomblik wat iemand bereid is om te sterf aan sy begeertes, so ‘n mens nie doelloos sal ronddobber nie, maar juis dan eers wakker sal word vir die wonder van die lewe. “Vry van begeerte, besef jy die misterie,” sluit Lao Tzu in vers 1 van sy Tao Te Ching hierby aan. Mense moet dus nie net ophou begeer nie, nee, meer as dit jy moet vry kom van begeerte.

Hoekom? Want begeerte is ten nouste gekoppel aan die ego konstruk. En ego is weer ten nouste gekoppel aan vrees. Sekerlik daarom dat Wei Wu Wei skrywe: “The saint is a man who disciplines his ego. The sage is a man who rids himself of his ego.” Die verstaan van ego hier is dieselfde verstaan as die van Marianne Williamson: “The word ego here means what it means to the ancient Greeks: a small and separated self.”

Een manier om dalk na te dink oor die konsep van ‘n ego, is om dit sien as ‘n muur wat ‘n mens rondom jouself bou. Die muur is bedoel om jou te beskerm teen enige aanvalle van buite. Dit gebeur omdat vorige aanvalle jou so seer gemaak het. Aanvalle van pyn, lyding, skaamte, skuld, verlies, vernedering ens.

Ongelukkig veroorsaak hierdie beskermende muur nou ook dat jy afgesny is van die res van die wêreld. En hierdie gevoel van skeiding, bring meer vrees. Nie minder nie. En om afgesny te wees maak ‘n mens paranoïes. En dit bring ‘n selfgesentreerdheid en obsessiewe selfsugtigheid na vore. Daarom is “ek” en “myne” tipiese ego woorde.

Die ego is dus ongetwyfeld gegrond in vrees en skeiding. Presies dit wat meer lyding in jouself en in ander meebring. En ego is heeltyd besig om meer, groter en beter na te jaag. Ego lê dus agter al jou begeertes. En dit is die weg na dieper lyding, nie minder nie. Die hoofrede hiervoor is omdat die ego die “manier” van jou sien en beleef word. Dit kleur alles om jou in, soveel so, dat jy nie meer die werklikheid kan onderskei van jou idee van die werklikheid nie.

Presies dit wat Heraclitus ook probeer sê het: “The soul is dyed the colour of its thoughts.” Dink so daaraan, die werklikheid is nie goed of sleg nie, dit is net. Joseph Campbell gaan verder en skryf: “Life is without meaning. You bring the meaning to it. The meaning of life is whatever you ascribe it to be. Being alive is the meaning.”

Met ander woorde, ons is dié wat begeer, oordeel, klassifiseer en betekenis gee. Ons sien nie meer die lewe raak vir wat dit is nie, ons sien net ons begeertes en oordele raak. En so word jou hele bestaan gekleur deur die ego se paranoia.

Net so werk jou begeertes, dit beïnvloed, kleur en verwring alles. Seker daarom dat die Zen meester Thich Nhat Hanh sê: “Attachment to our views is the greatest impediment to our spiritual growth.” Want dit maak ons blind vir enigiets anders. En dit beteken weereens jy kyk die misterie van die lewe mis, al wat jy sien is jou idees en begeertes.

Dit is dus veel wyser om soos Zhao zhou (Zen Patriarg) te maak: “The true Way is without difficulty, just refrain from picking and choosing.” Met ander woorde, hou op begeer dat dinge anders is as wat dit is. Want slegs dan kan jy sien wat voor jou is. Slegs dan sien jy direk.

Dit waarna die Jesuïete priester Anthony de Mello (1931-1987) wys met: “If you don’t look at things through your concepts and desires, you’ll never be bored. Every single thing is unique. Every sparrow is unlike every other sparrow despite the similarities.”

Hierby sluit Zhao zhou aan met: “Meaning is an idea. Zen does not subscribe to ideas, only to ‘just this’ experience. Zen’s primary instruction was to be present to this moment, this task. Stop looking for ‘Tao,’ pay attention.”

So, die poort na alle insig is die nou. Hierdie moment, dit wat nou voor jou ontvou … net soos dit is. Sonder om te kies vir of teen, om die werklikheid anderkant jou ego vrees-konstrukte te sien.

Word wakker vir wat is. Aanvaar wat is. Maak vrede met wat is. Dan eers sal jy kan verander wat is. Dink jou ‘n lewe in, waar jy nie meer gedryf word deur begeertes tot méér en méér nie. ‘n Wêreld waar dinge en goeters nie die hoogste waarde het nie, maar eerder liefde, deernis en respek.

‘n Lewe waar jy weer die laatmiddag winter sonnetjie op jou vel kan voel en tevrede wees daarmee. Verbeel jou ‘n lewe waar niks jou meer dryf en aanjaag nie, maar tog ‘n lewe waar jy doen wat jy moet en selfs die sweet teen jou voorkop kan geniet. ‘n Lewe waar jy meer jy word, nie minder nie. Dit waarna Henry David Thoreau verwys as: “Wealth is the ability to fully experience life.”