Die moderne mens het weens sy hoë vlakke van spanning en angs, ‘n kortsluiting tussen sy lyf en kop veroorsaak. Dit het meegebring dat mense begin kies het, óf lyf óf kop. En sodoende is die ryk konneksie tussen denke, emosies, gedagtes en die liggaam se wysheid, verloor.
Hierdie diskonneksie het nie net in die individu ‘n wanbalans, ‘n kontak-verbreking gebring nie, maar ook ‘n kollektiewe wanbalans.
Daarom dat ons wêreld so ongebalanseerd is. Dink maar net hoe angstig, obsessief, moedeloos, ongesond, oorgestimuleer en uit voeling meeste mense daagliks leef.
Dit het natuurlik veroorsaak dat ons nie net innerlik sieker word nie maar ook uiterlik. En die gevolg hiervan is die mens se afhanklikheid van krukke, in watter vorm ook al, net om deur ‘n dag te kan kom.
Die definisie van verslawing dus. Van selfmedikasie deur drank, kos, dwelms en ander moderne medisyne tot obsessiewe oefen en fokus op die liggaam, werk, seks en die najaag van tydelike bevrediging en erkenning.
Maar in der waarheid bring enige van bogenoemde krukke, slegs tydelike verligting en balans. Met tyd verswak dit die gebruiker in so ‘n mate hy of sy verval in ‘n spiraal van pyn, wanbalans, angs, spanning en afhanklikheid.
Dit is hier waar die Oosterse wysheid, veral hulle verstaan van harmonie tussen kop en lyf, ons as baie kan help. Anders as by Westerlinge, kies Oosterse wysheid nie tussen kop en lyf nie, nee hulle integreer dit.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is die gedig van die Persiese Soefie en digter, Jalal ad-Din Rumi (1207-1273):
“On Resurrection Day your body testifies against you.
Your hand says, ‘I stole money.’
Your lips, ‘I said meanness.’
Your feet, ‘I went where I shouldn’t.’
Your genitals, ‘Me too.’
They will make your praying sound hypocritical.
Let the body’s doings speak openly now,
without your saying a word,
as a student’s walking behind a teacher
says, “This one knows more clearly
than I the way.”
Lyf en kop het beide wysheid. Ons moet net weer leer om te luister. Beide se “wysheid” is noodsaaklik om vrede met jou omstandighede te maak en die ontvouing daarvan in hierdie oomblik. Om “ja” te kan sê met jou lyf sowel as jou intellek.
Want eers as jy met beide begeertes en drange (so vertel Lao Tzu) kan jy vrede maak, kan jy harmonie en geluk vind. Hierdie filosofie van Lao Tzu word Taoïsme genoem.
Die filosofie van Taoïsme is dat selfs oënskynlike chaos ‘n delikate balans het. Dit word in die Tao Te Ching, vers 29 so mooi omskryf (my vertaling): “Die Ware Wyse sien dinge soos dit is, sonder enige begeerte om dit te probeer verander of teë te staan, sy laat dit eenvoudig wees wat dit is en in die middel van die sirkel rus sy.”
Hierin kom een van die belangrikste beginsels in Taoïsme na vore, naamlik ‘n lewenstyl van harmonie en balans tussen kop en lyf. Dit is waarna “in die middel van die sirkel rus sy…” verwys. Sirkel is die simbool van heelheid en die middel verwys na perfekte balans.
Kan jy jou indink hoeveel minder spanning jy binne jou kop en lyf sal omdra, as jy net kan ophou baklei teen wat is, of probeer om dinge te manipuleer en beheer.
Om op te hou forseer. Om eerder wakker te wees en te fokus op dit wat voor jou ontvou en nie teen die grein van die situasie in te gaan nie, maar eerder daarmee saam te vloei.
En hoe doen ‘n mens dit?
Wel, deur jou innerlike en uiterlik te integreer. Om weer kontak te maak met kop en lyf. Om dinge te bedink maar ook te luister na wat jy voel. Om dus in die “middel te rus.”
Om alles in jou sirkel te integreer soos die Zen leermeester, Bodhidharma sê: “Once you know this, walking, sitting, or lying down, everything you do is Zen.” As jy eers vanuit die middel begin leef, word alles spiritueel.
Jou natuurlike toestand is balans. Jy is beide liggaam en denke. Jy is soveel meer as die enkelsydige storie waarop jy ingekoop het. Net soos met ‘n wiel, die as moet in die middel wees.
Jy is meer as jou lyf en meer as jou intellek en ego storie. En as jy ontspan, sag word, ontknoop en net vir ‘n oomblik by jouself stil word, sal jy iets daarvan kan sien en beleef. Sal jy ook sien jy is ‘n sirkel. Dit sal jou help om eerliker, meer teenwoordig en vollediger in die middel te leef. Nie met vooraf opgestelde idees en uitgewerkte planne nie, nee vryer en ligter. Meer ‘n dans as ‘n geveg.
In Zen en Taoïsme word daar verwys na hierdie dans as: “Yin” (vroulik, sag) en “Yang” (manlik, hard). Yin/Yang word deur die sirkel, wat helfte swart met wit kol in en ander helfte wit met swart kol, uitgebeeld.
Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplimenterende teenoorgestelde het, byvoorbeeld soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag.
Dit is nie negatief teenoor positief nie, nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterwe en dat die een voortvloei uit die ander.
Net soos wat die sonsopkoms gevolg word deur ‘n sonsondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel. En omdat verandering ‘n konstante proses is, is dit baie dom om in te koop op iets as goed of sleg. Die een het die ander nodig, net so het jy ook ‘n skadukant.
Die geheim is om balans te vind. Om geïntegreerd te leef, veral tussen lyf en kop. Die gesindheid wat Alan Watts so verwoord met: “The mystery of life is not a problem to be solved, but rather a reality to be experienced.”
Recent Comments