Ek wil weer een van my gunsteling spirituele leermeesters, Lao Tzu, bekendstel. En daarmee saam wat sy lewensfilosofie was en wat dit vir ons vandag kan beteken.
Net kortliks weer: Lao Tzu het volgens oorlewering in die sesde eeu v.C. geleef. Daar word vertel dat Lao Tzu teen die einde van sy lewe, besluit het om alleen weg te gaan om te gaan sterf. Nadat hy alles ingepak het, het hy op die rug van ‘n waterbuffel geklim en vertrek na die berge. By die Han-ku pas (op pad na Tibet) het die grenswag, met die naam Yin His (wat glo net die vorige aand van Lao Tzu gedroom het) hom voorgekeer en geweier om hom deur te laat as hy nie vir hom iets op skrif stel van sy filosofie en insigte nie. Lao Tzu het toe die Tao Te Ching (uitgespreek Dow De Jing) geskryf. Daarna het hy vertrek, en niemand het hom ooit weer gesien nie. Wel so word die legende vertel.
Die Tao Te Ching is ‘n dun bundel wat bestaan uit een-en-tagtig verse. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en vanuit dit is Taoïsme gebore. ‘Tao’, as direk vertaal word beteken ‘Die Weg.’ En as jy die Tao volgens Lao Tzu se filosofie wil opsom, sal ‘Die weg van minste weerstand’ seker die naaste daaraan kom.
Interessant van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede gekry het vanuit dit wat hy in die natuur waargeneem het. Hy het byvoorbeeld ontdek dat selfs chaos ‘n delikate balans het, en dat in die natuur alles saamwerk om hierdie balans te behou. En dat net soos ‘n rivier, die mens moet vloei daar waar die minste weerstand is.
Lao Tzu het nooit enige aansprake gemaak op goddelikheid of bonatuurlikheid nie. Hy het met sy bundeltjie maar net probeer om sy natuurlike filosofie deur te gee. In vele van die hoofstukke in die Tao Te Ching skryf hy dan ook dat as iemand van hom sou praat as ‘n meester, hulle nie daardeur moet sê hy was iemand wat heilig was nie, nee, hy was maar net iemand wat die verskil geken het tussen die werklikheid en sy idees oor die werklikheid. En in essensie gaan die lering oor ‘n lewenstyl van harmonie, balans en innerlike vrede.
Hierdie eenvoudige verstaan van Lao Tzu kan natuurlik vir ons vandag baie help. Veral ons met ons oorvol, uitkoms gedrewe, aggressiewe en angstige lewens. Dit kan ons veral help om anders te kyk na die sin van die lewe.
En wat presies leer Lao Tzu?
Wel volgens hom is die Tao die verwysing na die oorsprong of bron van alles. Dit is interessant dat hy iets van evolusie verstaan het nog voor iemand soos Charles Darwin op die toneel verskyn het. Hoor hoe beskryf hy dit: “Tao gives birth to One, One gives birth to Two, the Two gives birth to Three, the Three gives birth to all universal things.” As Paulus in die Romeine boek God beskryf met: “Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge,” beskrywe hy in essensie Tao.
Dit alles wys op wat Lao Tzu met Tao bedoel het, “dit wat is,” die realiteit van nou. Om dus vrede te maak met jou omstandighede, die gebeure daarbinne en die ontvouing daarvan in die nou. Dit is om “ja” te sê vir wat is; goed of sleg, ja vir hierdie oomblik, ongeag die oomblik. Want eers as jy kan aanvaar wat is, kan jy vrede in die oomblik beleef. En vanuit hierdie vrede vloei daar dan ‘n krag wat positiewe invloed het op die lewe. Die filosofie van die ‘Weg van Harmonie’ kan veral mense wat moedeloos, ongewaardeer en hartseer voel, baie help. Om net enkele beginsels te noem:
Wu Wei. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanninglose aksie” of “om te doen sonder om te doen.” In Engels vertaal “effortless action.” Met ons westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie, maar eenvoudig gestel beteken dit dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Soos Byron Katie dit sou stel: “Stop forcing life to be the way you want it to be, rather accept and let it be the way it is.”
Hierdie inspanningslose aksie kan waargeneem word by ‘n sportman of -vrou wat in die oomblik is en egoloos vergeet van die skare, ook genoem “flow.” Daarom indien jy sou kon leer om lig en ongeforseerd te leef, soos ‘n arend in vlug, sou baie stres en spanning vanself verdwyn.
Yin en Yang. Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplimenterende teenoorgestelde het, byvoorbeeld: soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag. Dit is nie negatief teenoor positief nie, nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterwe en dat die een voortvloei uit die ander – net soos die sons-opkoms gevolg word deur ‘n sons-ondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel. En omdat verandering ‘n konstante proses is, is dit baie dom om in te koop op enigiets as goed of sleg. Die een het die ander nodig. Net so het jy ook ‘n skadukant. Die geheim is om balans te vind. Om geïntegreerd te leef.
Natuurlik is dit maar ook net nog ‘n manier om na ons werklikheid te kyk. Alhoewel ‘n baie sinvolle lewensfilosofie, kan dit nooit verabsoluteer word as die enigste lewensfilosofie nie. Die kern beginsels wat Lao Tzu deurgegee het kom ook in baie ander wysheidstradisies na vore.
Beginsels wat ons moderne mens kan help om weer diepte en sin te vind. Ten spyte van ‘n wêreld wat deur kapitalistiese uitbuiting, onseker ekonomieë en toenemende desperaatheid gedryf word, kan ons vanuit ‘n stil kern leef. ‘n Innerlike vrede en harmonie kan ons gids wees in ‘n deurmekaar wêreld.
Recent Comments