Nou ja, so het ek, Zelda en ons hele uitgebreide familie toe ook na Lady Gaga gaan kyk. En wat ‘n belewenis. Haar konsert in die ENB-stadion in Johannesburg was, ondanks die wind en skielike koue, ‘n onvergeetlike ervaring.
En kreatief was dit voorwaar, ook glad nie oppervlakkig nie. Om die waarheid te sê, het ek Gaga en die meeste mense daar (meeste natuurlik “Little Monsters”, soos sy na haar aanhangers verwys) as intelligente en denkende mense beleef.
Haar vertoning was gelaai met ‘n magdom simbole en dieper interpretasies (wat sy natuurlik vrylik leen by vele verskillende argetipes, fantasieë en mites) en haar gehoor was ingekoop op haar vertolking daarvan. Sy het self in ‘n stadium aan die gehoor wat aan haar lippe gehang het, gesê: “Ek skep fantasie om my pyn te verbloem. Ek het my eie artistieke manier om dit te doen…”
My goeie vriend, Willie Strauss, verwoord presies my belewenis van die aand: “Was by Lady Gaga se konsert gewees en het dominees, gays, verliefdes, oumense, jongmense, gewone mense en wannabe Gaga’s daar gesien … maar net nie die duiwel nie. Wat ‘n positiewe en kreatiewe vertoning!”
Wel daarmee kan min mense stry, Lady Gaga se vertoning was verseker kreatief. Dit is egter jammer vir my om te sê, maar nie almal in Suid-Afrika het haar kreatiwiteit so positief beleef nie. Vele kerklike stemme het in protes opgegaan.
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se jeugforum was so ‘n stem, wat sterk gevoel het dat Gaga ‘n “vernietigende invloed” op die jeug het en haar van Satanisme beskuldig. So is daar ook vele godsdienstige groepe wat verwys na haar as ‘n “Demoniese priesteres”.
Natuurlik is dit vir my heel verstaanbaar hoekom mense so reageer op Gaga. Dit gebeur maar meestal met mense wat met simbole, metafore en mites probeer werk. Daarom seker dat soveel kunstenaars deur die jare van Satanisme en Duiwelaanbidding beskuldig was (en is).
Dit is natuurlik ‘n fassinerende onderwerp om oor na te dink, die hele idee van die donkerkant wat satanisme, vampiere, zombies, hekse, ensovoorts insluit. En dit word verseker nie altyd beleef as negatief nie. Daarvoor is die gewildheid van die vampier en zombie-genre net te ooglopend groot. Dink maar aan die gewildheid van die vampierrolprent-reeks soos Twilight, met al die jong en sexy vampiere en weerwolwe. Of die gewilde TV reekse soos Vampire Dairies en The Walking Dead. En so ontvou eietydse vampier en zombie legendes, in pas met ‘n moderne wêreld, net soos Lady Gaga se simbole.
Waar kom hierdie mites en legendes, waarvan Lady Gaga so lekker gebruik maak, vandaan? Wel soos enige legende of mitologie, is daar altyd ‘n historiese gebeurtenis, wat dan later verdraai, vergroot of vergoddelik vertolk word.
Kyk nou maar net na die hele vampier-mitologie. Dit was volksverhale vanuit plekke soos Transilvanië (Roemenië) en Bulgarye. Stories wat vertel is om kinders bang te maak. Één so ‘n verhaal is byvoorbeeld deur ‘n skrywer, Johann Weikhard, opgemaak. Hy skryf van ‘n boer met die naam Jure Grando. Hy het gewoon in ‘n klein Kroatiese dorpie Kringa. Nadat hy in 1652 oorlede is, het hy na twintig jaar uit sy graf opgestaan en sy dorp geterroriseer.
Die ontstaan van die geloof in vampiere, kan ook grootliks terug herlei word na die uitbreek van siektes soos onder meer hondsdolheid. Die tipiese simptome van hondsdolheid soos seksuele hiperaktiwiteit en aggressiwiteit, is simptome van dié siekte, en natuurlik begin pasiënte ander mense ook byt. Spierkrampe het daartoe gelei dat iemand wat besmet was, dikwels hulle eie tonge gebyt het, en dan het daar natuurlik bloed uit hulle monde gevloei. Hiermee saam maak die hondsdolheidsvirus mense baie gevoelig vir lig en reuke. Dit verklaar natuurlik baie van die bygelowe wat ontstaan het dat vampiere bang is vir sonlig en die reuk van knoffel. En omdat hondsdolheid so hoogs aansteeklik was, het die volksverhale ontstaan dat mense, wat deur ‘n vampier gebyt was, dan self ook ‘n vampier sal word.
Hierdie volksverhale wat rondom bg. siektes ontstaan het, en oorvertel is as die bewys van vampiere, is vandag vir ons bloedig maar ook onrealisties en snaaks. Bitter min denkende mense sal vandag die vampierlegendes ernstig opneem. Dit is duidelik menslike skeppings – opgestel in ‘n spesifieke plek, tyd en omstandighede.
Tog kom hierdie onkritiese en bygelowige verstaan van antieke mitologie baie meer algemeen voor as wat ons moderne mense sal wil erken. Dit kom baie duidelik na vore met gelowiges se kritiek op Lady Gaga. In haar geval word sy nou wel nie as ‘n vampier of zombie gesien nie, maar as ‘n satanis.
En interessant genoeg kom die moderne verstaan van demoniese besetenheid en satanisme juis vanaf die vampier-mites. Net soos met satanisme is vampiere ook beveg met tipiese godsdienstige simbole. Dink maar net hoe beveg mens ‘n vampier. Met “Holy Water” (water van ‘n doopbak) natuurlik. Of om ‘n Kruis (“Crucifix”) te gebruik as wapen. Dit is presies wat gebruik word in die hele populêre idee rondom uitdrywing van demone en dus bevegting van sataniste.
Die konsep van “duiwelsaanbidding” of satanisme het net soos met die vampier-mites, in die Middeleeue baie aandag in Europa gekry. Daar is geglo dat die sataniste baie ou rituele gebruik het soos menslike offers, die breek van kruise, die uitspreek van vloeke of toorformules en om mense se siele aan die duiwel te verkoop. As gevolg van die vrees en bygeloof is letterlik duisende “duiwelsaanbidders” of hekse lewend verbrand. Die uitsprake van die Inkwisisie en die hekse-verbranding in Europa en Amerika gedurende die 16e en 17e eeu is ‘n hartseer en bloedige getuie hiervan.
En net soos met die vampier- en zombielegendes, is daar ook geen historiese bewyse dat daar ooit sataniste was nie. In voorwetenskaplike tye was sataniste, hekse en vampiere gesien as die “skuldiges” wat siektes, misoeste, natuurrampe en tragedies veroorsaak het. ‘n Goeie voorbeeld van hierdie skuldverplasing is die Joodse sekte van die Essene. Hulle het al eeue voor Christus se geboorte begin om ander Joodse sektes, wat met hulle verskil, as “donker magte” te beskryf, terwyl hulle hulself as die “kinders van die lig” beskou het.
Die vroeë Christene het hierdie benadering vinnig oorgeneem. Tydens die Verligting van die 18de eeu het van die vrydenkende mense van daardie tye teruggeslaan en so het die moderne verstaan van satanisme, as ‘n nuwe filosofiese rigting, ontstaan. Dit was eintlik net ‘n weerstand teen die kerk se dogma van sonde. Die beweging wou nuwe betekenis gee aan vryheid en vrye wil.
Net soos die vampierstories oorvertel is van kampvuur na kampvuur en uiteindelik gearriveer het in vandag se moderne wêreld, net so word die stories van Lady Gaga en sataniste oorvertel en oorvertel.
‘n Goeie voorbeeld van hierdie “oorvertellings” is die feit dat, byvoorbeeld die oorgrote aantal beskrywings en inligting oor satanisme eintlik maar net die fantasieproduk van Christelike skrywers is. Meer as 90% van die sogenaamde satanistiese webbladsye op die internet vandag, word geplaas en bestuur deur Christelike organisasies, en hulle rede: om as afskrikmiddel te dien teen nuuskieriges. En só groei die mite!
Kyk maar net hoe Christene geen moeite ontsien om sogenaamde bewyse van Lady Gaga se satanisme in te samel nie. Foto’s, lirieke, kleredrag, haarstyle, video’s met lang gedetailleerde ontledings daarvan word aangestuur deur e-posse aan miljoene mense. En só groei die mite!
Wat my egter baie fassineer is dat meeste mense onmiddellik vampierstories en zombiestories kan identifiseer as tradisie-mitologie. Maar hulle kan glad nie dieselfde doen met satanisme nie.
Ek meen, al glo biljoene mense iets wat oor ‘n tydperk van eeue oorgedra is, maak dit tog nie die storie waar of onwaar nie. Is dit nie dan waar van alle mites nie? Die mites van gode wat heers, gode wat maagde swanger maak, verhale van ongelooflike wonderwerke en bonatuurlike wesens – en daar is baie mites wat so met oorlewering binne ons verstaan raamwerke kom voortleef, soos die mites van die paashaas, Kersvader, tandemuis, en in die geval van vampiere, zombies en sataniste.
Maar sekere mites word so goed geïntegreer in die kultuur en sosiale leefwêreld, dat dit onkrities behou word as “waarheid.” Byvoorbeeld, die geloof dat Maria ‘n maagd was by Jesus se geboorte en die geloof dat wyn in Jesus se bloed by Nagmaal kan verander en die Duiwel wat jou siel wil steel, pratende donkies, ensovoorts – nie één van hierdie geloofsoortuigings word gestaaf deur enige goeie bewyse nie. Tog glo biljoene mense daarin.
Een van die hoofredes waarom mense dan later in hulle lewens nog steeds die dinge glo wat hulle glo, is dan omdat hulle emosioneel ingekoop het op dit wat hulle vertel is toe hulle jonk genoeg was om enigiets te glo. Hierdie geloof word dan emosioneel vasgelê in hulle simboliese binnewêreld. En hierdie innerlike gevoel, oortuiging en innerlike wete word vir hulle dan ‘n voldoende bewys.
As post-moderne mense kan ons wel verstaan dat daar ‘n tyd en plek was dat mense sekere mites as waarheid geglo het. Maar ons weet tog dat dit nie altyd-geldende, goddelike waarhede is nie.
Miskien is iemand soos Lady Gaga dalk net die een wat ons en ons kinders kan leer wat die verskil is tussen ‘n mite en realiteit. En miskien het ons kunstenaars soos sy meer nodig as wat ons besef. Anders gaan ons met nog ‘n geslag volwassenes sit wat dink die aarde kan misbruik word vir hulle eie selfsugtige behoeftes, want eendag sal alles wonderbaarlik nuut gemaak word.
Nog ‘n geslag wat ander wat nie soos hulle dink nie, afmaak as sataniste of boos en daardeur voel hulle het ‘n goddelike toestemming om lewens te neem. Soos tans gebeur tussen verskillende godsdienste. Want wat mense soms vergeet, is dat een godsdiens ‘n ander godsdiens as “boos” sien. Dit is die oorsprong van heilige oorloë.
Maar na alles, moet ek darem by sê, ek het ook weer hoop gekry vir die volgende geslag, toe ek sien en hoor hoe hulle dink. Een so ‘n voorbeeld kom van seker een van Lady Gaga se grootste Suid-Afrikaanse ondersteuners, haar naam is Renee Heyns (jnr). Haar reaksie op mense se aanklagtes teen Lady Gaga as ‘n satanis, was eenvoudig: “As jy die duiwel soek sal jy hom orals vind.” Lyk my tog of al hoe meer jongmense begin vir hulleself dink!
Daarom kan ek nie anders nie as om Lady Gaga en haar Little Monsters te beleef as positief. En as ek nou terugdink aan haar vertoning was haar boodskap ook eenvoudig: Sy het mense aangemoedig om dapper op te staan vir gelyke regte vir alle mense en om meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees. “Jy is uniek. Jy is goed genoeg!” Het sy ‘n paar keer onder toejuiging gesê. Ek hou daarvan.
Haar droom van ‘n gemeenskap waar elkeen ‘n plek aan die tafel het – is ook my droom.
Recent Comments