Hier in Suid-Afrika, word ons daagliks gebombardeer met korrupsie, misdaad, geweld, en baie ander ontstellende nuus. Nuus wat ons buite beheer en weerloos laat voel.
Dink maar net hoe angstig, gespanne en selfs moedeloos die gemiddelde Suid-Afrikaner vandag is. En hiermee saam help ons pessimistiese uitkyk ook nie regtig om ons minder angstig te laat voel nie. Meeste mense se psigiese ingesteldheid vermeerder hulle spanning, eerder as om dit te verminder. Dit is asof ons verleer het om lig te leef.
Ons is so vasgevang binne ons ego-stories dat bitter min dit meer kan regkry om sagter en vryer te leef. Nou wonder ek, is dit moontlik om in vandag se gejaagde en spanning belaaide wêreld sonder innerlike spanning en gevoelens van desperaatheid te leef?
Dit is hier waar Lao Tzu se konsep van wu wei – om dinge minder te forseer en meer vloeibaar en buigsaam te wees – ons baie kan help.
Maar voor ek verder oor wu-wei uitwei, is dit dalk nodig om net weer Lao Tzu bekend te stel. Hy is vir my een van die grootste denkers en leermeesters wat die mensdom nog opgelewer het. Taoïsme, Zen-Boeddhisme en vele ander Oosterse wysheidstradisies kan direk na sy denke terug herlei word. ‘n Filosofie wat jou kan help om vrede met jou omstandighede te maak en die ontvouing daarvan in hierdie oomblik. Om “ja” te kan sê vir wat is – goed of sleg.
Want eers as jy kan aanvaar wat is, so vertel Lao Tzu, kan jy vrede in die jou lewe beleef. En vanuit hierdie vrede vloei daar dan ‘n krag wat positiewe invloed het op alles in jou lewe. Hierdie filosofie van Lao Tzu word uitgespel in die klein bundeltjie wat ek laas jaar vir die eerste keer in Afrikaans vertaal het, Tao Te Ching (Boek van die Weg). Lao Tzu het dit omtrent 2500 jaar gelede geskryf.
In elk geval, die filosofie van hierdie geskrif is dat selfs oënskynlike chaos ‘n delikate balans het. Hieruit is ‘n filosofie van “volg die weg van minste weerstand” gebore. Dit word in die Tao Te Ching, vers 29 so mooi omskryf (my vertaling):
“Die Ware Wyse sien dinge soos dit is, sonder enige begeerte om dit te probeer verander of teë te staan, sy laat dit eenvoudig wees wat dit is en in die middel van die sirkel rus sy.”
Hierin kom een van die belangrikste beginsels van Lao Tzu se filosofie na vore, naamlik wu wei.
Direk vertaal beteken wu wei “moeitelose aksie,” of in Engels, “effortless action”. ‘n Beter manier om dit te verduidelik is eerder om dit te omskryf met “om nie dinge te forseer nie.” In essensie verwys wu wei na die ingesteldheid om eerder saam met die lewe te vloei as om daarteen weerstand te probeer bied. ‘n Spontane aanvaarding van dit wat in die nou voor jou (en binne jou) ontvou.
Om soos water te wees. Water vloei sonder voorkeur of afkeur waar ook al dit vloei. Niks is te groot of te erg nie. Selfs ‘n rots is maar net nog iets om rondom of bo-oor te vloei.
Die bekende werk van Benjamin Hoff, The Tao of Pooh, beskrywe dit dalk die beste: “When we learn to work with our own Inner Nature, and with the natural laws operating around us, we reach the level of wu wei. Then we work with the natural order of things and operate on the principle of minimal effort. Since the natural world follows that principle, it does not make mistakes. Mistakes are made – or imagined – by man, the creature with the overloaded Brain who separates himself from the supporting network of natural laws by interfering and trying too hard.”
Ek stem saam met Hoff as hy sê die grootste struikelblok in meeste mense se lewens is dat hulle dink hulle is apart of selfs verhewe van die res van die lewe. Juis daarom dink hulle, hul kan manipuleer en forseer. Iets wat nooit werk nie.
Hy gaan dan voort om te verduidelik wat hy verder verstaan onder wu-wei: “When you work with wu wei, you put the round peg in the round hole and the square peg in the square hole. No stress, no struggle. Egotistical Desire tries to force the round peg into the square hole and the square peg into the round hole. Cleverness tries to devise craftier ways of making pegs fit where they don’t belong. Knowledge tries to figure out why round pegs fit into round holes, but not square holes. Wu wei doesn’t try. It doesn’t think about it. It just does it. And when it does, it doesn’t appear to do much of anything. But Things Get Done…”
Hierdie verstaan van die vloei van die lewens-energie, waarvan ons elkeen deel is, beteken natuurlik dat ons ook weer sal moet onthou dat die antwoorde reeds binne ons teenwoordig is. “Using wu wei, you go by circumstances and listen to your own intuition. “This isn’t the best time to do this. I’d better go that way.” Like that. When you do that sort of thing, people may say you have a Sixth Sense or something. All it really is, though, is being Sensitive to Circumstances. That’s just natural. It’s only strange when you don’t listen.”
Kan jy jou indink hoeveel minder spanning jy binne jou sal omdra, as jy net wil ophou baklei teen wat is, of probeer manipuleer en beheer. Om op te hou forseer. Om eerder wakker te wees en te fokus op dit wat voor jou ontvou en nie teen die grein van die situasie in te gaan nie, maar eerder daarmee saam te beweeg. Net soos wanneer jy hout kap, is dit veel makliker om saam met die houtblok se grein te kap.
Die Amerikaanse skrywer, Byron Katie, sê dit so raak met: “Stop forcing life to be the way you want it to be, rather accept and let it be the way it is.” Dit beteken glad nie dat jy passief en besluiteloos is nie. Nee, die teendeel is eerder waar. Jy word eerder meer bewus. Dit is net sonder ‘n ingesteldheid van oordeel, angstigheid of skuldgevoelens, wat so verlammend vir ons psige is.
Die ingesteldheid is eerder om met grasie en sensitiwiteit die strominge van die lewe waar te neem en te verstaan. Sodat daar sinvol gehandel kan word deur dit wat buite jou beheer is te “laat gaan”, dit is natuurlik wat die filosofie van wu wei die meeste van jou vra.
En weereens, om te “laat gaan” beteken nie om net terug sit en oor te gee nie. Nee, dit is ‘n innerlike losmaak van jou oor-identifisering met dinge wat buite jou beheer lê. Selde is “laat gaan” ‘n uiterlike weggee of afstaan van iets. In wese is dit ‘n gesindheid van aanvaarding, vrede maak en losmaak van ‘n gegewe uiterlike omstandigheid. So dalk is hierdie gesindheid van minder forseer en essensieel “laat gaan” net die antwoord vir ons moderne, oorspanne lewensuitkyk. Want dan, slegs dan sal daar genoeg energie en dryf oor wees om werklik ‘n verskil te kan maak.
Recent Comments