Dit is net die menslike spesie wat heeltyd betekenis in sy lewe probeer vind. Wat onophoudelik interpreteer, beoordeel en evalueer. Dit maak natuurlik hulle belewenis van die lewe dualisties; goed en boos, lekker en sleg, gister en more, mooi en lelik, reg en verkeerd.

Maar ongeag die mens se pogings om die lewe met hul betekenis te vul, na hul begeertes en behoeftes te omvorm, bly die lewe (al biljoene jare) ongestoord voortvloei. Want die lewe is nie beperk of onderhewig aan ons oordeel of kategorieë daarvan nie.

Dit is soos Alan Watts dit stel: “The nonverbal, concrete world contains no classes and no symbols which signify or mean anything other than themselves. Consequently it contains no duality. For duality arises only when we classify, when we sort our experiences into mental boxes, since a box is no box without an inside and an outside.”

Die realiteit is, daar is geen bokse nie. Alles wat ons so sorgvuldige name gee en klassifiseer is maar net ‘n menslike poging om beheer uit te oefen oor die lewe. Maar die waarheid is, ons het bitter min beheer en net so min invloed. En alhoewel ons ook onsself troos met stories van gode wat namens ons intree en die lewe beheer en manipuleer, bly ons maar weerlose wesens met ons bokse en al.

Natuurlik is dit juis hierdie realiteit wat meeste spirituele leermeesters deur die eeue heen ontdek het. Dat dit wyser is om saam met die lewe se vloei te gaan, as om weerstand te bied. Want die alternatief, die begeerte dat dinge anders moet wees as wat dit is, het hulle gevind is essensieel die grootste bron van lyding. Daarom is een van die grootste spirituele waarhede, om te kan aanvaar en saam te vloei.

Hierdie aanvaarding, is natuurlik nie dieselfde as die passiewe, negatiewe en wanhopige uitkyk wat bekend staan as nihilisme nie. Dit verwys veel eerder na die realistiese vrede maak met die lewe se ontvouing in die oomblik. Om soos ‘n vaardige branderryer die golwe te leer lees en gebruik eerder as beveg of weerstand te bied.

Net so, moet ons leer om die lewe se vloei te ken en te benut, sonder om dit te probeer verander of te beheer. Anders is spanning (innerlike en uiterlike konflik) ons voorland. ‘n Spanning wat al ons energie steel. En die werklikheid is dat geen hoeveelheid bekommernis, spanning of inspanning iets ooit verander nie.

Daarom seker dat die Boeddha mense aangemoedig het om te leer vloei. Want sien Boeddha het besef dat meeste mense nie kan ‘laat gaan’ en vloei nie, meeste mense gryp vas, bied weerstand, probeer manipuleer en domineer. En alhoewel dit op die kort termyn kan lyk of dit resultate lewer, is die wenner op die ou einde altyd die lewe self.

Daar kan dus geen uitgewerkte plan of vasgestelde stel leerstellinge (dogmas) en bokse wees om ‘n mens te help nie. Nee, spontaneïteit en openheid vir dit wat in die oomblik gebeur is die weg na sukses. Dit is ware vryheid.

Daarom bevat Zen Boeddhisme nie ‘n uitgewerkte plan of boks nie. Slegs ‘n “vingerwysing” na hoe om ‘wakker te word.’ Wakker vir dit wat voor jou besig is om te ontvou, en dit is die stroom van die lewe. Sien dit, leer daaruit, benut dit.

Die Taoïstiese digter Lu Yu stel dit so mooi in sy gedig: “The clouds above us join and separate, the breeze in the courtyard leaves and returns. Life is like that, so why not relax? Who can stop us from celebrating?”

Want is dit nie die eintlike punt van alles nie, om vry en gelukkig te leef?

Daarom is dit so nodig om wakker, bewustelik en in harmonie te leef met dit wat is, om te aanvaar wat in die hier en nou ontvou. En om nie dit wat gebeur persoonlik op te neem nie. Dit is seker die grootste geheim tot ‘n sinvolle en gelukkige lewe.

In die lig van hierdie woorde, word J. Krishnamurti se beskrywing van homself, ‘n wonderlike rigtingwyser: “Do you want to know what my secret is? You see, I don’t mind what happens.” Anthony de Mello sluit hierby aan met: “Reality is not problematic. You are the problem. You identified with ‘me’ and that is the problem. The feeling is in you, not in reality.”

Dink net hoeveel energie jy daagliks vermors omdat jy nie kan aanvaar wat is nie – jy nie saam met die ewigdurende wisselende ritme van die lewe kan vloei nie.

In Zen word na hierdie ‘wakker word’ verwys as ‘Satori.’ Alan Watts omskrywe Satori so: “Satori is to know what reality is not. It is to cease identifying oneself with any object of knowledge about reality.”

Dit beteken ‘Satori’ is om uit die boks te klim. Die boks wat jy gemaak en benaam het. Dit is dus om wakker te word vir ‘n bokslose wêreld.

En dit is om wakker te word vir dit wat reeds hier is, om te aanvaar sonder oordeel en om teenwoordig te wees sonder beoordeling.

Want die oomblik wat jy ophou ‘gryp’ en manipuleer, ophou interpreteer, ontleed en oor-analiseer word jou binneste meer as net kalm, jy word werklik stil. Ramana Maharshi sê dit dalk die raakste: “When the mind is left without anything to cling to, it becomes still.”

En vanuit hierdie stilte word ons wakker vir dit wat voor ons is. Ongeag wat dit is. En skielik is ons vry.