Elke mens is ‘n kunstenaar en die grootste kunswerk is ‘n lewe werklik geleef. Elke dag beleef en interpreteer jy jou lewe. Jy gebruik o.a. woorde, emosies, kuns en fisiese handelinge om jouself uit te druk. So word jy nie net deel van die kunswerk nie maar word jy ook die kunstenaar wat help skep daaraan.

Jou kunswerk is jou lewensstorie. En elkeen van ons is storie-vertellers. Elke keer wat jy jou storie vertel, bevestig jy en versterk jy jou belewenis en interpretasie van die lewe. “All humans are storytellers, and that is what makes us artists. Everything we believe about ourselves is a story we create that is based in reality, but is just our point of view. Our point of view is based on our experience, on what we know, on what we believe. And what we know and believe is just a program; it is nothing but words, opinions and ideas we learn from others and that form our own life experience.” So skrywe Janet Mills.

Hoe ons ons storie beleef en oorvertel hang veel meer af van hoe ons daaroor dink, as van hoe dit werklik is. Elke oomblik wat jy iets waarneem en evalueer, interpreteer jy daardie gebeure en besluit jy op ‘n geskikte vertolking en optrede. Jy en elke ander mens op aarde werk dus met ‘n sekere meesternarratief, of anders gestel met ‘n sekere paradigma. Volgens Steven Covey kan ‘n paradigma vergelyk word met ‘n kaart.

Ons almal weet tog dat ‘n kaart nie die fisiese “terrein” self is nie. ‘n Kaart is slegs ‘n interpretasie en uitbeelding van sekere aspekte van ‘n fisiese terrein. Dit is presies wat ‘n paradigma is, slegs ‘n verduideliking, teorie of model van iets anders.

Jou kaart, of in die geval jou meesternarratief vir die lewe, begin jy reeds voor geboorte ontvang. In die veiligheid van die baarmoeder kry jy al inligting oor wat jy behoort te verwag en kry jou storie vorm. Jy leer van vrees en pyn. Dan word jy gebore en tot en met die ouderdom van sewe skryf jy onkrities fluks aan jou verhaal. Hierdie storie word die meesternarratief van jou lewe.

Jou voorbeelde is van ouers, familie, kerk en invloedryke rolspelers, omgewing en kultuur. Natuurlik maak jy gebruik van die inligting sonder om dit te bevraagteken.

Hierdie meesternaratief word nou jou ‘verstaan van die lewe’, eintlik jou enigste verstaan. Dit word die onbewuste program wat alle inligting orden en verwerk. Jy is nou emosioneel geprogrammeer om in die selfde rigting te gaan soek vir geluk en oplossings as jou ouers, opvoeding, geloof en kultuur.

Miskien daarom dat Oosterse leermeesters soos byvoorbeeld Osho, soveel klem gelê het op kritiese selfkennis: “Your whole idea about yourself is borrowed – borrowed from those who have no idea of who they are themselves.”

Natuurlik is hierdie paradigmas of programme nie net sleg nie. Dit help elkeen van ons om aanvanklik ‘n greep op die werklikheid te kry. Daarsonder sal kinders verlore wees en glad nie kan identifiseer met die komplekse storie van hulle omgewing en lewens nie.

In die boek Die Klein Prinsie sê die jakkals vir die prinsie dat hy ongelukkig nie met hom kan speel nie, en sy rede is dat hy nie mak gemaak is nie. Wanneer die prinsie hom dan uitvra wat hy daarmee bedoel, verduidelik die jakkals dit as volg: “Liewe Prinsie dit beteken om ‘n verhouding te hê. Jy is op die oomblik vir my niks meer nie as ‘n klein seuntjie, nes honderd duisend ander klein seuntjies. Ek het jou nie nodig nie, en jy het my ook nie nodig nie. Ek is vir jou niks meer nie as ‘n jakkals soos honderd duisend ander jakkalse. Maar as jy my mak gemaak het, sal ons mekaar nodig hê. Jy sal my ken en ek sal jou ken, ons sal mekaar goed ken.”

Dit is asof ons as mens nie anders kan as om “mak” gemaak te word nie. Ons het dit nodig om deel te word van die groter storie. Die storie of meesternarratief van die mensdom. Maar soos met enige lewende storie, verander die storie heeltyd.

Dink maar net aan die werk van Thomas Kuhn oor paradigmas en hoe dit altyd verouder en vervang word met aangepaste en uitgebreide paradigmas. In sy boek, The Structure of Scientific Revolutions sê hy dat elke keer wat nuwe inligting die meesterverhaal herskrywe, dit altyd met ongelooflike weerstand gepaard gaan.

Hierdie pyn en ontnugtering wat elkeen van ons beleef wanneer ons bewus word van die beperktheid van ons stories is eintlik een van die grootste geskenke wat ons kan ontvang. Dit is die begin van die spirituele reis waarvan so baie gepraat word. Want om jou beperkings van jou storie oor jouself en jou lewe raak te sien is verseker ‘n goddelike oomblik. Pynlik, ja, maar verseker ook die geboorte van ‘n wonderlike nuwe storie. ‘n Nuwe verhaal, ‘n nuwe kunswerk!

Die begin van ‘n avontuur wat jou in die onbekende gaan inneem. ‘n Nuwe storie, nie plagiaat van iemand anders se ou storie nie. Jou eie, onsekere, soekende, skeppende, lewende en ongeskrewe storie. Jou storie van hier en nou.

Albert Einstein beskryf hierdie nuwe storie as: “The most beautiful thing we can experience is the mysterious. It is the source of all true art and science. He to whom this emotion is a stranger, who can no longer pause to wonder and stand rapt in awe, is as good as dead: his eyes are closed.”

Hierdie storie gaan vele wat na jou kom inspireer om hulle eie storie te skrywe, of dit gaan hulle kreatiwiteit en skeppingsgees doodmaak. Spiritualiteit is vir my dus veel eerder om oop, eerlike en eietydse stories te skep, as om ou stories oor te vertel.

Natuurlik is kop en hart nodig om hierdie stories sinvol en lewend te maak. Emosies en logiese denke is die pen en ink van “…the source of all true art and science.” Die lewe is soveel meer as net dit wat ander voor ons gedink en gevoel het. Dit is om kop eerste in die water van hier en nou in te duik.

Hierdie storie moet met integriteit en eerlikheid geskryf word maar ook met kinderlike nuuskierigheid en vreesloosheid. Hoe meer mense hulle eie stories sien as deel van ‘n groter lewende en wordende storie, hoe meer sal ons ‘n nuwe kunswerk skep.

Skoonheid, goddelikheid en misterie sal karakters word in elkeen se storie. Dit sal maak dat ons die goddelike ervaar in alles rondom en in ons. Want hoe meer ons die eenheid in alles ervaar, hoe meer sal ons lewens ‘n kunswerk word, ‘n kunswerk wat alles transformeer.

Hopelik dan sal ons ook begin verstaan dat ons stories nie die meesternarratief mag word vir ons kinders nie. Dat die volgende geslag vry moet wees om hulle eie stories te skryf. Dat ons vryheid ons kinders se vryheid mag wees!

Ek wil afsluit met ‘n gedig van Kahlil Gibran in sy The Prophet.
Die gedig se titel is Your Children are not Your Children:

“They are the sons and daughters of life’s longing for itself.
They come through you but not from you,
And though they are with you yet they belong not to you.
You may give them your love but not your thoughts,
For they have their own thoughts.
You may house their bodies but not their souls,
For their souls dwell in the house of tomorrow, which you cannot visit, not even in your dreams.
You may strive to be like them, but seek not to make them like you. For life goes not backward nor tarries with yesterday.”