Dit gebeur selde dat iemand my in die straat tromp-op loop en aanvat oor my sienings. Gewoonlik gebeur dit per e-pos, oproep, in ‘n groep of met ‘n persoonlike afspraak.
Maar hierdie oggend was dit anders. Ek het net klaar gemaak met ‘n afspraak en was op pad na my kar. “Askuus tog!” hoor ek iemand agter my roep.
Toe ek omdraai, staan die man voor my en druk sy vinger teen my bors. “Jou sienings laat Christene struikel … hou op daarmee!” voor ek kan terug antwoord gaan hy voort, “En om te dink jy was eers ‘n dominee gewees … jy moet jou bekeer en ophou leuens versprei!”
“Watter leuens versprei ek?” vra ek huiwerig. Want eintlik weet ek van beter, as om in ‘n parkeer-area met ‘n vreemdeling oor geloofsake te probeer debatteer.
“Wel … dat jy sê die Bybel is nie God se geopenbaarde Woord nie en dat jy sê Jesus is nie die enigste verlosser nie,” hy staan ‘n tree terug en gaan dan voort, “…ek meen Jesus is die enigste een wat nog ooit uit die dood opgestaan het, die Bybel is baie duidelik daaroor. Net Jesus het dit reggekry, en sodra ons daarin glo vind ons verlossing.”
Hierdie tema is natuurlik baie belangrik vir Christene, want indien Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, beteken dit hy is nie God nie. En indien hy nie God is nie kan hy tog nie verlossing bewerk nie. En verlossing is vir Christene baie belangrik, dit is hulle geloof se meesternarratief.
‘n Narratief wat verklaar dat die mens is in sonde gebore en ontvang – en het daarom ‘n verlosser so nodig. En in hierdie scenario speel die Bybel ‘n kardinale rol. Dit is, volgens Christene, die enigste Woord van God. En daarin word dit baie duidelik gestel dat almal wat in Jesus glo, die ewige lewe sal beërwe.
Hoe dit presies werk word mooi uiteengesit in die Nuwe Testament, o.a. Korintiërs 15. Daar word vertel hoe Jesus se opstanding sondes oorwin het (1 Korintiërs 15:24-34). En as gevolg van hierdie oorwinning sal almal, wat in Hom glo, ook die dood oorwin (1 Korintiërs 15:50-58) en so die ewige lewe verkry.
Daarom is die opstandingsgeloof vir Christene een van die belangrikste fondasies waarop hulle hul geloof bou. Dink maar aan die woorde van Paulus hieroor: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes.” (1 Korintiërs 15:17.)
Nou met my gesprek in die parkeer-area kon ek nie regtig dieper gesels hieroor nie en het toe aan my gespreksgenoot belowe ek sal my sienings (in sy woorde leuens) hieroor in ‘n rubriek probeer uitspel. So, hier is dit.
Ek besef maar terdeë dat meeste Christene glo die Bybel is deur God geïnspireer en bevat geen teenstrydighede nie. Alles wat daarin staan, is volgens hulle letterlik en histories waar. Byvoorbeeld, Jona was letterlik en histories vir drie dae in die maag van ‘n groot vis en Maria was letterlik ‘n maagd en Jesus het fisies na drie dae uit die dood opgestaan.
Wel kom ons kyk bietjie na hierdie uitsprake. Eerstens, daar is wel teenstrydighede in die Bybel. Toegegee, daar moet in ag geneem word dat die 66 Bybelboeke elk sy eie konteks het – en alles nie gelees moet word sonder om die verskillende genres in ag te neem nie. Dié soort Skrifbeskouing (sonder konteks of genre) is al teen die einde van die negentiende eeu en aan die begin van die twintigste eeu deur verskeie Bybelwetenskaplikes uitgewys as ‘n onverantwoordbare lees van verskillende tekste.
Maar, al verstaan ons dat die Bybel uit verskillende genres bestaan, verklaar dit nog steeds nie hoekom daar soveel ooglopende foute en teenstrydighede voorkom nie. Wat dit wel verklaar is dat die Bybel nie een boek is soos meeste Christene glo nie, maar dat die Bybel soos my ouma se lappieskombers lyk; ander gelowe en kulture is sommer tussen-in bygesit, ingevleg en aangelas.
Navorsers het, byvoorbeeld, lank terug reeds ontdek dat daar materiaal in die Bybel voorkom wat van ander kulture oorgeneem is. Hiervan is die vloedverhaal (die verhaal van Noag en die ark in Genesis 6-9) en die spreuke in Spreuke 22:17 tot 24:22 van die bekendste voorbeelde. Die vloedverhaal kom byvoorbeeld ooreen met die Mesopotamiese vloedverhaal bekend as die Gilgamesj-eposverhaal. En die gedeelte in Spreuke is duidelik oorgeneem uit ‘n Egiptiese wysheidsgeskrif, bekend as Die Wysheid van Amenemope.
Hiermee saam is daar verskeie ander teenstrydighede in die Bybel. Byvoorbeeld, in Genesis 1 en 2 bots die twee skeppingsverhale. In die Nuwe Testament is daar honderde teenstrydighede, om net een te noem as voorbeeld: Die tempelreiniging van Jesus. Volgens die Johannes-evangelie vind dit aan die begin van Jesus se optrede plaas (Joh. 2:13-25), terwyl die sinoptiese evangelies dit aan die einde van Jesus se optrede plaas (Markus 11:15-18; Matt. 21:12-17; Lukas 19:45-48). Wie is reg? Albei kan tog nie reg wees nie.
Nee, die Bybel kom verseker nie direk van God nie (die sogenaamde inspirasieleer wat op 2 Tim. 3:16 gegrond is). Nee die Bybel is ‘n antieke geskrif vol tipies mitiese gebeure, van donkies wat kan praat, mense wat op water kan loop, maagdelike geboortes tot by gode wat uit die dood kan opstaan en in die hemel woon.
Dit is tog so duidelik dat die Bybelskrywers vanuit ‘n voorwetenskaplike wêreldbeeld gedink en geskryf het. Mense wat eerlik geskrywe het vanuit hulle verstaan van hoe die werklikheid werk, volgens hulle in hulle tyd. En vir hulle was die aarde plat, deel van ‘n drie verdieping kosmos gevul met gode, demone en drake. Hulle het alles wat met hulle gebeur het verklaar vanuit daardie verstaan.
Om reg te laat geskied aan die Bybel, is dit volgens my eerder nodig om te verstaan dit is ‘n doodgewone menslike teks. Want dan kan die verskillende verhale en stories gesien word as premoderne mense en hulle voor-wetenskaplike wêreldbeeld. Hierdie verstaan maak dan dat daar met nuwe oë na onder andere die opstanding gebeure gekyk word.
Ek meen, let maar net op hoe Jesus in die Bybel duidelik as ‘n mitologiese figuur uitgebeeld word. Jesus se lewe en sterwe word tipies uitgebeeld as die held, wat in duisende ander mites ook voorkom. Dit word genoem die heldepatroon. Joseph Campbell (bekende kenner van mites) het hierdie heldepatroon só omskryf. (Ek gaan verwysing na Jesus se verhaal bysit want die patroon kom al voor honderde jare voor Jesus se heldeverhaal):
- Die geboorte van die held word deur ‘n orakel of profesie voorafgegaan (bv. Matteus 1:23; Lukas 1:27).
- Sy ma is ‘n maagd, van koninklike afkoms, verwant aan sy aardse pa.
- Sy regte pa is ‘n God.
- Met sy geboorte word daar pogings aangewend om hom dood te maak, omdat hy as ‘n toekomstige politiese bedreiging beskou word (bv. Matteus 2).
- Min is oor sy kinderjare bekend.
- Die held voel hom vervreemd van sy sosiale omgewing en gaan op ‘n avontuur. (Die evangelies beskryf Jesus se lewe as ‘n reis na Jerusalem.)
- Op sy avontuur/reis moet hy verskillende hindernisse oorkom, waarvan baie bo-natuurlik van aard is.
- Hy ervaar ‘n tragiese dood, en daal neer na die onderwêreld (Hades). (Sien vir Jesus, Hand. 2:27, 31; Efesiërs 4:9; 1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:4.)
- Soms vaar hy op na die hemel en word vergoddelik.
- Mense ervaar epifanieë (nadoodse verskynings) en begin om hom te aanbid. Klink dit bekend?
Wel daar is vele helde (veel ouer as Jesus se verhaal) wat op presies bogenoemde patroon gebou is. En meeste van hierdie mites se helde staan ook uit die dood op. Waarom dan sou die Christelike geloof verklaar hulle mite is die beter een, of selfs die enigste een?
Meer nog, sal Christene soos die man in die parkeer-area, vas glo dit is nie ‘n mite nie, dit is vir hom ‘n histories bewysbare gebeurtenis. Maar die ander mites van Dionysos (Dionysus) of Bacchus, Egiptiese god Osiris, Hercules, Thor ens… is slegs stories. En dan praat ons nie eens van ander gelowe se waarheid aansprake wat dan volgens hom vals en selfs demonies is nie.
Ek persoonlik het natuurlik geen probleem as iemand vir my sê dat hy/sy glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Hulle het tog die reg om te glo wat hulle wil.
Maar dan moet hulle ook toegee dat Hindoes, Moslems en Boeddhiste ook kan glo wat hulle wil glo. En dat daar geen onderskeid is in hulle waarheid aansprake nie.
Maar sodra enige gelowiges verklaar dat hulle empiriese bewyse het dat hul geloof van onder andere Jesus se opstanding uit die dood, meer is as net ‘n geloofsverklaring, dan wil ek graag hierdie bewyse sien.
En asseblief, moet nie net die Bybel as bewys voorlê nie. Want alhoewel dit vir Christene die woord van God is, en daarom vir hulle ‘n geldige bewys is, is dit vir my byvoorbeeld, slegs ‘n mitologiese teks. Dit tel nie as ‘n historiese bewys nie.
En eintlik kom dit neer op ‘n sirkel redenasie: Jesus het fisies uit die dood opgestaan want die Bybel sê so. En die Bybel is waar omdat Jesus so sê. Dit laat my dink aan die ‘bumper sticker’ wat sê: “The Bible says it, I believe it and that’s that!” Dit bewys mos niks. Al wat dit sê is dat die persoon wat die uitsprake maak dit werklik wil glo, nie dat dit noodwendig waar is nie.
Hiermee sê ek natuurlik nie dat ek nie dink daar is nie iets groters nie. ‘n Ander manier van verstaan, soos Panenteïsme, “Ground of all being”, God as energie of die goddelike as die lewe self, is alles tog nog oop om te ontgin.
Ek wil egter vra dat hierdie ontginning met eietydse, logiese en eerlike denke gedoen moet word. My logika sê vir my dat, in die soeke na God of die goddelike dit nodig is om te luister na die logika van wetenskap (data, teorieë en empiriese bewyse) en kuns, filosofie, teologie (poësie, metafore, stories, mites en simbole).
Albei is geldig. Behalwe as jy dit met mekaar verwar … as jy nie besef dit verskil nie. Ek is egter daarvan oortuig dat daar na beide geluister moet word. Werner Heisenberg verduidelik dit so: “It is probably true quite generally that in the history of human thinking the most fruitful developments frequently take place at those points where two different lines of thought meet.”
As die man in die parkeer-area dus vir my sê ek mag nie my verstand gebruik as dit kom by God, Jesus en die Bybel nie, spring daar suspisie in my hart op. Hoekom nie? Is die rede dalk dat logiese denke juis die man se eie twyfel aanspreek?
Want kom ons wees eerlik met mekaar, as daar ‘n God is, sal logiese denke hom of haar glad nie bedreig nie. In teendeel die vermoë tot logiese denke sal dan juis ‘n geskenk wees uit hierdie God se hand.
Behou daarom jou nuuskierigheid, dink vir jouself en bly wonder en vrae vra. En doen dit met almal, ook met my en my sienings. Dit is slegs menslike denke, ek maak glad nie aanspraak op enige goddelike gesag nie.
Die lewe is vir my ‘n reis vol onsekerhede, nie ‘n slagveld van sekerhede nie. “Somewhere, something incredible is waiting to be known,” sê Carl Sagan, en ek stem saam. Die reis is ‘n avontuur. Onthou, niemand het finale, altyd geldende antwoorde nie, daar is net voorlopige antwoorde. En daarom neem my “leuens” ook maar met ‘n knippie sout op. Die belangrike ding is dat jy self gaan ontdek wat Jesus, die Bybel en God vir jou beteken. Gaan dan en leef verantwoordelik, eerlik en met deernis teenoor alle mense.
Recent Comments