Christene se sentrale tema van hulle geloof draai rondom die kruisiging en opstanding van Jesus. Sonder Jesus, spesifiek Jesus Christus, val hulle hele geloofskonstruk uitmekaar.

Dit bring natuurlik die vraag na vore, wie presies was hierdie enigmatiese figuur Jesus? En hoe het dit gebeur dat ‘n historiese figuur so getransformeer is tot ‘n mitologiese wese?

Want Jesus van Nasaret, die historiese figuur wat tussen die jare 6 vC en 30 nC in Israel, hoofsaaklik Galilea geleef het, die Joodse Rabbi, is iets heeltemal anders as die mitologiese Jesus, die “verkondigde Christus,” wat verwys na die goddelike wese wat aarde toe gekom het met die doel om vir mense se sondes te sterwe en sodoende vir hulle ‘n ewige lewe na die dood te verseker.

Hoe hierdie vrae en ander beantwoord word, sê egter veel meer van die een wat dit beantwoord as van die waarheid of realiteit van die antwoord self. Daarom dat daar vandag meer as 35 duisend Christelike denominasie bestaan, en glo my, elkeen het ‘n ander antwoord.

Dit gesê, indien iemand wel sou wou meer uitvind oor Jesus, waar sal ‘n mens meer kon uitvind?

Is daar enige bewyse en historiese bronne oor Jesus tot ons beskikking? Want soos met enige historiese figuur, of dit nou die Griekse filosoof Sokrates of die Chinese filosoof Lao Tzu is, iewers moet daar navorsingswaardige bronne gevind word, anders is daar geen manier om meer te kan uitvind nie.

Nou hier begin ons krisis rondom Jesus. As historiese persoon het hy self nooit iets geskryf nie. Die kans is baie goed dat hy glad nie kon skryf nie.

Tweede probleem, niemand ekstern het in die eerste eeu melding gemaak van Jesus nie. Prof. Bart D. Ehrman, ‘n Amerikaanse Nuwe Testamentikus en professor van Religieuse Studies omskryf dit so: “In the entire first Christian century Jesus is not mentioned by a single Greek or Roman historian, religion scholar, politician, philosopher or poet. His name never occurs in a single inscription, and it is never found in a single piece of private correspondence.”

Die enigste bron tot ons beskikking is die Bybel (spesifiek die Nuwe Testament). En wat dit ‘n probleem maak is dat die skrywers self nie ooggetuies is nie.

Want sien die Nuwe Testament, spesifiek die vier Evangelies (Markus, Mattheus, Lukas en Johannes) is eers tussen 40 en 70 jaar na Jesus se dood geskrywe. Dus, geskryf deur mense wat hom nooit self ontmoet of gesien het nie.

Hiermee saam is die grootste gedeelte van die Nuwe Testament deur Paulus geskrywe. Ook iemand wat nooit self Jesus in persoon ontmoet of gesien het nie. In Handelinge 22 word vertel hoe hy op reis na Damaskus en in ‘n visioen Jesus “gesien” het.

Dit maak die Bybel natuurlik ‘n problematiese bron.

Want buite die ooglopende agenda ten gunste van Jesus, is dit nie ‘n suiwer geskiedkundige teks nie, daarvoor is daar te veel mitologiese interpretasies ingevleg.

Kom ek verduidelik vinnig wat ek hiermee bedoel.

Wanneer ons oor 16 Desember 1838 (die Slag van Bloedrivier) oplees, is dit geskiedkundig suiwer om weer te gee: sowat 470 Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius, het ‘n ossewalaer beskerm teen duisende Zoeloe-impies. Ens.

Maar dit is ‘n mitologiese interpretasie om te sê die oorwinning vir die Voortrekkers was omdat die Voortrekkers Christene was of omdat hulle voor die slag gebid het. Dit is ‘n interpretasie, geldig of nie, maar dit is nie suiwer geskiedkundig nie.
Net so, is Jesus se kruisiging ‘n groot geskiedkundige waarskynlikheid, maar sy opstanding uit die dood, is nie.

So ook, enige wonderwerke en bonatuurlike gebeure dui op mitologiese gebeure eerder as geskiedkundige waarskynlikhede.
En die Bybel is vol sulke mitologiese interpretasies, van donkies wat kan praat tot loop op water ens.

Dit maak dit dus moeilik om by die geskiedkundige dele uit te kom, veral as daar oor die historiese Jesus nagevors wil word.

En wat die saak nog meer kompleks maak is dat die Bybel die enigste bron is. ‘n Bron wat eers 400 jaar na Jesus, voltooi is.

Dink so, wie het besluit op die 66 boeke wat in die Bybel opgeneem is? Want daar is heelwat boeke wat nie in die Bybel opgeneem is nie, sommiges veel ouer as die wat wel opgeneem is.

Ek weet daar is nog vele Christene wat glo die Bybel is een boek, maar die werklikheid is, die Bybel is veel eerder ‘n lappieskombers, saamgestel uit vele verskillende los boekrolle.

My punt, die Bybel is verseker nie ‘n geheel-eenheid wat oorgelewer is vanuit die hand van die engele nie. Die Bybel het ‘n menslike geskiedenis, gekies en geskryf deur mense.

En om regtig te weet wie Jesus is, moet daar dus moeite gemaak word om uit te vind hoe die vroeë Christene Jesus gesien het. En onthou hierdie vroeë Christene kon min lees en skryf. Die Ou Nabye Oosterse beskawings – insluitende Ou-Israel – was mondelinge kulture.

So, wat het hierdie vroeë Christene oor Jesus gesê?

Twee belangrike ontdekkings (in die afgelope dertig jaar) kan ons hiermee help. In 1945 is daar in Egipte by Nag Hammadi ‘n ontdekking gemaak deur ‘n Egiptenaar Muhammad Ali, wat ‘n kruik met vroeg-Christelike kodekse (die vroeë vorm van gebinde boeke van perkament) en tekste gevind het.

In 1947 was daar die ontdekking van die Dooie See-rolle met ‘n magdom inligting oor die Joodse godsdiens en die agtergrond van die Christendom.

Beide help ons om te verstaan hoe die eerste-eeuse Christene gedink en geglo het. En natuurlik wat hulle van Jesus gesê het. En wat sê hulle van Jesus?

Wel, hulle het blykbaar nie soos vandag se Christene Jesus noodwendig gesien as ‘n God nie. Dit het vir hulle eerder gegaan oor navolging van sy voorbeeld. Sorg, omgee, liefde en vergifnis.

Maagdelike geboortes en die vleeslike opstandings word deur baie van hulle uitgewys as kinderlike denke en misverstand. Hierdie groepe was genoem Gnostiese Christene.

En anders as die Ortodokse groepe, het hulle die koninkryk van God verkondig as ‘n realiteit wat al in hierdie wêreld bereik kan word. Ook dat God nie iewers daar buite is nie, maar binne en rondom ons. En dat ons één kan word met God.

Dit is dus duidelik dat die Christendom nie net een homogene groep mense was nie. Daar was duidelik verskillende groepe en daarmee saam verskillende sienings en oortuigings oor wie Jesus was. Die twee hoofgroeperings was die ortodoksie en gnostiese bewegings.

Die Gnostici het verskeie sienings gehad van Jesus van Nasaret: Jesus was vir hulle verseker ‘n wonderlike voorbeeld, maar dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, was nie letterlik vir hulle waar nie.

Jesus het gesterwe, maar omdat hulle glo sy herinneringe en woorde leef in elkeen, kan hy ook beskryf word as die opgestane Christus. Hierdie Christus was vir hulle ‘n geestelike belewenis wat ‘n realiteit in jou lewe kon word.

Dit bring weer die hele verstaan van mitologie na vore. Dit waarmee die hele Bybel deurspek is.

Mitologie is en was nooit bedoel om letterlike verklarings vir die werklikheid aan te bied nie, so het die Gnostiese Christene dit dan ook verstaan.

Joseph Campbell in sy boek The Power of Myth, sluit hierby aan: “Mythology is not a lie, mythology is poetry, it is metaphorical.”

‘n Mite se bonatuurlike verklarings was en is nooit bedoel as werklikheid nie – dit is net simbolies. Nee, veel eerder gaan dit oor die verteller(s) se verwondering oor die heiligheid en misterie van die lewe.
Mitologie is dus ‘n manier om oor gewone gebeure op ‘n simboliese, metaforiese en poëtiese wyse te praat met die doel om die hoorder of leser te begelei tot ‘n spirituele ontwaking.

Daarom is Jesus se dood eerder ‘n simbool van sy bereidheid om aan sy eie ego te sterf. En Jesus se opstanding uit die dood, is weer simbolies van sy spirituele ontwaking. Dus, ‘n sterf aan die valse self sodat die Ware Self kan opstaan.
Dit wat Eckhardt Tolle verwoord met: “The secret of life is to ‘die before you die’ – and find that there is no death.”
Mites is dus wonderlike rigtingwysers op die pad van selfontdekking en die spirituele reis waarop ons elkeen ons bevind.

So terug by ons aanvanklike vraag, wie is Jesus?

Dit kan niemand ooit feitlik of selfs histories akkuraat antwoord nie. Dit is ‘n vraag wat elkeen persoonlik moet antwoord. Daarom moet die vraag eerder wees, wie is Jesus vir my? Dit is die eintlike vraag, die enigste vraag.

Wel, vir my, is Jesus nie God nie, nie uit ‘n maagd gebore nie en het nie uit dood opgestaan nie. Nee, hy was ‘n gewone mens, ‘n mens van sy tyd, alhoewel ‘n besonderse mens, ‘n inspirerende mens.

Jesus was en is ‘n simbool vir my van iemand wat egoloos probeer leef het, iemand wat wakker geword het vir sy ware identiteit, sy goddelike natuur – ook genoem Christus bewussyn.

Hy was ‘n mens wat bereid was om te sterf vir dit waarin hy geglo het. Dit alleen maak hom al navolgenswaardig vir my. Net soos Mahatma Gandhi wat ook bereid was om te sterf vir dit waarin hy geglo het.

Jesus is dus ‘n rigtingwyser, net soos Boeddha voor hom ook was. Dit beteken dat hulle heenwys na iets groters as hulle self. Daarom die mitologiese elemente, om die hoorder en leser te help om dieper te kyk.

Om hulle dus te aanbid as gode is afgodery. Ons moet eerder kyk na wat hulle uitgewys het, en nie in hulle vaskyk nie. Dit wat die Zen leermeester, Matsuo Basho so mooi gestel het: “Seek not to follow in the footsteps of men of old: seek what they sought.”

En waarna wys Jesus? Na die potensiaal wat in ons elkeen leef. Om wakker te word vir die Christus bewussyn (of ook genoem die Boeddha natuur of Ware Self), binne ons. En om vanuit hierdie identiteit te leef, eerder as die ego of valse self.

Die Evangelie van Thomas vers 2 en 3:
Jesus sê: “Laat hy wat wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Al heers en rus vind.” Jesus sê: “As hulle wat julle voorgaan vir julle sê: ‘Kyk, die koninkryk is in die hemel,’ sal die voëls van die hemel voor julle daar wees. As hulle sê: ‘Dit is in die see,’ sal die visse van die see voor julle daar wees. Maar die koninkryk is in julle en rondom julle. Wanneer julle julself ken, sal julle geken word en julle sal besef dat julle kinders van die lewende vader is. Maar as julle nie julself ken nie sal julle in armoede lewe en julle sal self die armoede wees.” (Dr. Piet Muller se vertaling.)