Die lewe is soos ‘n seilboot op die oop see.
En jy is stuurman of -vrou van hierdie seilboot. Jy is die kaptein. Iets van wat William Ernest Henley na verwys in sy gedig Invictus: “I am the master of my fate: I am the captain of my soul.”
Maar soos jy groter word, verder en wyer begin seil, word jy ook al hoe meer bewus van die grootsheid van die oseaan waarop jy vaar. En daarmee saam word jy ook bewus van die gevare en onbekende elemente wat heeltyd teenwoordig is.
En so begin hierdie woorde van Henley vir jou ander betekenis kry. Waar dit eers vir jou verwys het na jy is in beheer, begin jy nou verstaan dit gaan veel eerder oor fokus. Want sien, hoe meer ondervinding jy opdoen en meer vaardigheid jy ontwikkel, hoe meer begin jy besef jy is eintlik oorgelewer aan die elemente. Want die gevare wat onder in die donker blou skuil, die wind en die weer van bo, is alles dinge wat buite jou beheer lê.
Die enigste keuse wat jy het, is waarop gaan jy fokus te midde van die storms en onstuimige see. Om te fokus op jou vaardigheid om die seile te span, die lees van die weer-tekens en die seestrome. Om die tegnieke van seilkuns so goed onder die knie te kry dat jy nie op die ou einde oorweldig word nie.
Uit die seilbootmetafoor leer ons dus dat hoe meer gefokus die kaptein van die seilboot is, hoe beter is die kans op oorlewing. Met ander woorde, hoe vaardiger hy of sy is met dit wat binne hul beheer is (seilboot), hoe beter vaar hulle met dit wat buite hul beheer is (storm).
Dit is ‘n gegewe dat die gebied van beheer veel kleiner is as die gebied buite ons beheer. Maar die goeie nuus is dat indien jy fokus kan hou op dit wat binne jou beheer is jy wel jou invloed op dit wat buite jou beheer is, kan uitbrei.
‘n Voorbeeld hiervan is iemand wat geleer het om sy humeur te beteuel. So ‘n persoon het ‘n beter kans op sukses in ‘n oomblik van krisis as iemand wat gereeld sy emosie die oorhand laat kry.
Die essensie van hierdie benadering is dus om dit te laat gaan wat buite jou beheer is. Hugh Prather sê dit so goed: “You can’t control other egos and events, so let go of control. You can only control your focus. So focus on what unites, comforts, and stills your mind.”
‘n Goeie kaptein weet dus wat en wanneer om te laat gaan en waarop om te fokus. Die verskil tussen die twee lê natuurlik by die onderskeid tref van wat is binne jou vermoë om te beïnvloed en dit wat daar buite lê. En dan dit waaroor jy geen beheer uitoefen nie te los.
Om te “laat gaan” beteken nie terugsit en oorgee nie. Nee, “laat gaan” is ‘n innerlike losmaak van jou oor-identifisering met jou uiterlike omstandighede. Selde handel “laat gaan” oor ‘n uiterlike weggee of afstaan van iets. In wese gaan dit veel meer oor ‘n gesindheid van aanvaarding, losmaak en vrede maak met die feit dat daar heelwat dinge is wat buite jou beheer is.
Dit wat die Chinese filosoof Chuang Tzu beskryf as ‘n wyse persoon: “It is only in letting go of our wish to be in control that we can truly dwell in the world as a sage. It is only in this letting go that we will have everything that we need.”
Presies waarna die skrywer van Prediker (11:6) ook verwys met: “Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ‘n oes lewer nie en of al twee ewe goed sal wees nie.” Hy impliseer dat dit wat jy kan doen (saai), jy moet doen en goed ook. En dit waaroor jy nie beheer het nie, moet jy uitlos. Doen wat jy kan en staan dan terug.
Dit wat Lao Tzu in sy Tao Te Ching (vers 2) ook sê:
“Die Wyse vloei saam met die dinge wat manifesteer,
Die Wyse probeer nie vasklou aan dit wat oplos nie.
Die Wyse het sonder om te besit,
Gee sonder om iets terug te verwag.
Wanneer die Wyse haar werk voltooi het,
vergeet sy dadelik daarvan.
Daarom het dit ewigheidswaarde.”
Eenvoudig gestel, is “laat gaan” om te weet dat jy net beheer het oor jou eie aksies, optrede, gesindheid, keuses en fokus. Die res is buite jou beheer, los dit uit. Dit is ‘n vermorsing van energie om daaroor te tob, bekommer en stres. Die Griekse filosoof Epictetus gaan so ver as om oor “laat gaan” te sê: “Daar is net een weg na lewensgeluk en dit is om op te hou bekommer oor dinge wat buite die mag van ons wil is.” Veilig seil, Kaptein
Recent Comments