Baie gelowiges is ontsteld oor Ds. Klaas Hendrikse se stelling dat God nie “bestaan” nie. Hendrikse sê God is “iets” wat in jou kop “gebeur”. Om alles te kroon word hy deur die kerk (Ring van Zierikzee in die konserwatief-Protestantse provinsie Zeeland in Nederland) vrygespreek en word hy toegelaat om met sy bediening voort te gaan.

Die uitsprake van Hendrikse, wat nou as die “ateïstiese” dominee van Nederland bekend staan, het gelowiges reg oor die wêreld aan die praat. Hendrikse verduidelik sy eie posisie as ateïs só: hy sê hy is teen teïsme en daarom beskou hy homself as ‘n “a”teïs. Hy maak dit egter duidelik daar is vir hom ‘n onderskeid tussen ‘n ateïs en iemand wat glad nie glo daar is ‘n God nie. Hy gaan verder deur te sê: “God is vir my geen wese nie, maar ‘n woord vir wat tussen mense kan gebeur.”

Vir Hendrikse beteken “God wat in jou kop gebeur” dat God ‘n woord is wat mense uitgedink het (ook die skrywers van die Bybel) om hul verstaan van iets groters as hulself te verwoord en met mekaar te deel. Want soos ons vandag besef, weet ons veel meer as ons voorgangers oor hoe dinge inmekaarpas – van atome tot sterrestelsels. Ons besef ook dat daar baie is wat ons nog nie weet nie. Dink maar net aan hoe min ons nog van donkermaterie verstaan.

Dalk daarom dat die mens toenemend met minder selfvertroue oor en namens God wil praat. Want as God ís, ís God gans anders as óns woorde oor Hom. Die wese van misterie (Griekse woord mysterion) is dat dit onsêbaar is. So beskou, is óns woorde oor God nie ‘n bewys vir sy bestaan nie; net so min as wat kritiese en skeptiese woorde sy nie-bestaan bewys. Wanneer ons met mekaar oor God praat, is dit eintlik ‘n soort soeke – gedagtes en indrukke wat ons met mekaar deel.

Mense se beperkte gedagtes het nog altyd in die verlede (en nog vandag) idees rondom die goddelike as die “heilige” waarheid aangebied. Lees maar in die koerante se briewekolomme hoe verskillend mense “húl” God beleef en elkeen reken hy of sy is reg en natuurlik is die ander verkeerd.

Wat my egter opgewonde maak is dat daar wêreldwyd al hoe meer ‘n oopte “gebeur”. Hiermee bedoel ek dat mense meer en meer begin praat oor hulle twyfels. Waar ons ‘n paar jaar terug geen geluide gehoor het van gewone mense se soeke nie (dit was asof almal tevrede was met hulle kerk se dogmas) is daar nou orals mense wat begin praat en skrywe oor hulle eietydse soeke na God.

En hiervan is Hendrikse vir my ‘n voorbeeld en daarmee saam die feit dat die kerk in Nederland ná ‘n ondersoek bevind het Hendriks kan voortgaan met sy werk as predikant. Vir my sê dit dat ook binne die gevestigde geloofstrukture mense besig is om nuut oor hulle verstaan van God begin dink. Dat daar ‘n nuwe bewustheid wakker word rondom hoe ons ons werklikheid en ons verstaan van die transendente begin sien, is verseker!

Hiervan is Renaissance Gemeente ‘n wonderlike voorbeeld. Dit gebeur selfs dat al hoe meer tradisionele kerke ook na nuwe woorde en begrippe soek om geykte sienings van God mee te vervang.

Een van my teologiese professore by die Universiteit van Pretoria (en leraar binne die NG kerk) onder wie ek soveel jare studeer het, Prof. Julian Muller, skrywe nou die dag in Beeld die volgende:
“Ek, aan die ander kant, sou myself ‘n post-teïs wou noem. Dit beteken ek aanvaar doelbewus dat daar ‘n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het. Natuurlik word ek nog daardeur beïnvloed en is dit bykans onmoontlik om nie reste daarvan in my eie denke en taal saam te dra nie. Ek dink nog, praat nog en sing nog in die ou taal en word selfs daardeur aangespreek. Aan die ander kant weet ek dat ek onherroeplik aanbeweeg het en nou gefassineer en geïnspireer word deur nuwe denkraamwerke oor God. En dan ontdek ‘n mens daar is Bybelse uitsprake oor God wat die post-teïstiese verstaan van God ondersteun. Dit het nooit dogma geword nie, en dit was miskien nie so dominant in die vorming van ons wêreldbeeld nie, maar dit was heeltyd daar. In kerklike dogma is allerhande filosofiese eienskappe aan God toegedig, maar die Bybel praat bloot van God as Liefde en Gees. En het iemand al die diepte van die betekenis van Paulus se uitspraak in Athene (Handelinge 17:28) deurgrond?: ‘Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.’ Dít klink na taal wat pas by ‘n post-teïstiese verstaan van God. Vir baie Christene is die panenteïsme, waarvolgens alles in God is en God in alles, ‘n uitweg uit die vasgeloopte teïsme. Dán word God die immer Moontlike, die Een wat is en wat was en wat kom; die Een wat om elke hoek en draai kan verskyn in enige gedaante of gebeure, maar wat nooit voorspel en vasgevang kan word in ons gedagtes en formulerings nie. Die God, oor wie ek nie meer kan praat asof ‘hy’ ‘n manlike koning of generaal is nie, maar die God wat nooit verder van my af is nie as my eie gedagtes en woorde.”

Ons lewe in wonderlike interessante tye! Dit is hoekom ek die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit begin het. Ek wil so veel moontlik denkers aan die woord stel om te skrywe oor hulle soeke en worstelings oor wie God vir hulle vandag, hier en nou is. Ek wil nie net logos (rede, uiterlike, wetenskap) se verstaan hoor nie, ek wil ook mythos (simboliese, innerlike, godsdienstige) verstaan hoor. Want saam soek ons na die goddelike. Saam met Hendrikse en Muller probeer ons woorde gee aan die goddelike wat in ons koppe en harte gebeur.

As afsluiting wil ek my antwoord herhaal op ‘n vraag wat iemand eenkeer aan my (agnostikus, soeker en baie keer skepties) gevra het, “Hoekom soek jy nog, as God heel moontlik nie bestaan nie?”:
Met hierdie vraag laat jy my dink aan die student wat by sy leermeester aankom en sê dat hy vir hom ‘n lemoen sal gee as hy vir hom kan bewys dat daar ‘n God is. Hierop antwoord die leermeester: “Ek sal vir jou twee lemoene gee as jy kan bewys daar is nie ‘n God nie!”

Hoe sou ‘n mens liefde bewys? Deur afleidings te maak om na mense se gedrag te kyk. En dan te sê kyk hoe lief is daardie ma vir haar kind. Maar dit bewys nog steeds nie liefde nie! Is liefde ‘n gevoel? Is liefde ‘n biologiese proses binne jou brein? Is liefde instink? Wie weet?! Wat ons wel weet, daar is “iets” soos liefde … ons beleef dit elke dag. Miskien is God baie soos liefde … miskien soek ons God op die verkeerde plekke. Dalk daarom dat ons sê God kan nie met vleeslike oë gesien word nie, maar net met die oë van die hart. Kom ons bly soek. Kom ons bly saam soek! Wat ‘n avontuur!!