Daar is ‘n direkte verband tussen jou liggaam, jou gemoedstoestand en jou gesondheid. Meer nog, jou liggaam het ‘n intelligensie. Iets wat die moderne mens verleer het om na te luister. Daarom dat daar o.a. soveel gevalle van uitbranding voorkom.
Uitbranding is die beskrywing van liggaamlike uitputting, wat weens oormatige, langdurige spanning en angstigheid gebeur. Iets wat as gevolg van die mens se onderdrukking van hulle liggaamlike intelligensie gebeur. Want meeste van ons luister eenvoudig net nie meer na ons liggame nie, ons onderdruk die simptome met medikasie. Hoofpyn – drink ‘n pil, slaaploosheid, drink ‘n pil. Sonder om te besef dat beide voorbeelde jou liggaam se manier is van kommunikeer dat iets nie in orde is nie.
En indien jy nie leer luister na jou liggaam nie kan dit jou só siek maak dat jy later nie meer kan funksioneer nie. Sekerlik daarom dat Pema Chodron sê: “Realize that this very body that we have, that’s sitting right here right now … with its aches and its pleasures … is exactly what we need to be fully human, fully awake, fully alive.”
Dus is jou liggaam net so nodig as jou kop, indien jy ‘n wakker, bewustelike en gebalanseerde lewe wil leef. Spiritualiteit gaan dus in essensie oor die wakker word vir beide liggaamlike en kop intelligensie. Presies waarheen G.I. Gurdjieff verwys met: “It is only by grounding our awareness in the living sensation of our bodies that the ‘I Am,’ our real presence, can awaken.”
Nou, die brug tussen kop en lyf is so naby soos jou asem. Deur te fokus op jou asemhaling is jy direk in kontak met jou liggaam. Daarom dat Taisen Deshimaru ons aanmoedig met: “Start to think with your whole body.” Kom ek verduidelik.
Dit is ‘n erkende feit dat hoe jy asemhaal, uiteindelik direk weerspieël wat in jou lyf aangaan, wat jou emosionele energievlak is. Stel dit gerus self op die proef.
Hoe haal jy asem as jy agterkom jy is angstig? Vinnig en vlak. Haal nou vir ‘n minuut diep en stadig asem. En daarmee saam sal jy die verandering in jou lyf en gemoed ook waarneem.
Die rede? Elke emosionele toestand het ‘n bepaalde asemhalingspatroon daaraan gekoppel. Dink maar net hoe ‘n toestand van vrees, skok of verrassing se asemhalingspatroon verskil van wanneer iemand rustig en ontspanne is. Natuurlik is dit logies. Maar kom ons neem hierdie logiese beredenering ‘n stappie verder.
Jy kan dus jou asemhalingspatroon doelbewus reguleer, om sodoende die gunstige emosionele toestand vir optimale vrede of vreugde te bereik. Dit is dus binne jou invloed om jou emosionele toestand te beïnvloed, ongeag die omstandighede waarin jy jou bevind. Presies dit is my bedoeling met, asem is die mees direkte brug tussen kop en lyf. Jou asemhaling beïnvloed direk ook ander fisiologiese stelsels in die liggaam.
Die asemhalingstelsel is nou verbind met die senu-, spier-, been-, kardiovaskulêre, endokriene-, vertering-, limfatiese en immuunstelsel. En wanneer jy jou asemhalingspatrone koördineer en harmoniseer het dit ‘n rimpel-uitwerking op al die ander organe in ‘n mens se lyf. Asemhaling word deur die liggaam se chemiese prosesse beheer. Die liggaam pas ‘n mens se asemhaling aan wanneer meer suurstof benodig word. Deur reg asem te haal kan ‘n mens ook help om beter te konsentreer. Juis daarom is regte asemhaling so ‘n wonderlike teenvoeter teen stres.
Luidens ‘n kliniese studie wat deur die Italiaanse Universiteit van Camerino se eksperimentele en publieke gesondheidsdepartement gedoen is, kon mense hul stresvlak verlaag deur net ‘n eenvoudige diafragmatiese asemhalingsoefening te doen.
Deur die stresvlakke van mense wat gereeld mediteer te ontleed is aangetoon dat hulle het ‘n lae stresvlak, ‘n lae kortisolvlak (die sogenaamde streshormoon) en ‘n hoë vlak van melatonien (die hormoon wat ‘n mens se slaappatroon reguleer). Deur diep asem te haal word ‘n mens se hele lyf en wese wakker in die hier en nou; kom daar ‘n harmonisering tussen kop en lyf. Dit werk amper soos die instel van ‘n musiek-instrument. Sodoende, om by jou asem te bly, kan jou help om uit jou kop te kom in jou liggaam in. Weg van die ewigdurende gedagtestrome en emosionele energie.
En soos die Indiese leermeester Ramana Maharshi dit stel: “When the mind is left without anything to cling to, it becomes still.” Of soos dit in Zen beskrywe word, Zazen (om te sit en te vergeet).
Meditasie is dus ‘n wonderlike hulpmiddel om doelbewus verby jou innerlike gedagtestroom te beweeg en om wakker te word in die hier en nou. Natuurlik is daar verskillende vorme van meditasie om jou lyf se intelligensie in spel te bring. Hier dink ek, buiten die verskillende asem- en sit meditasies, ook aan joga, Tai Chi en o.a. die Alexander Tegniek. Selfs iets soos Biodanza (vorm van vrye dans en musiek) kan ‘n baie nuttige tegniek wees.
Dit is tog hoekom meditasie (in sy verskillende vorme) so ‘n wonderlike dissipline is. Meditasie is letterlik om te oefen om by jou asemhaling te bly, en sodoende kop en lyf te kalibreer.
Dit is daarom nie toevallig dat in Zen Boeddhisme daar soveel klem op regte asemhaling gelê word nie. Want hoe meer bewus jy van jou asemhaling word, hoe meer bewus word jy van jou lyf en die omgewing waar jy jou bevind. En is dit nie wat ‘n bewustelike lewe (mindfulness) beteken nie?
Want wanneer jou kop stil word as gevolg van jou diep en rustig asemhaling, betree jy ‘n nuwe realiteit. Dit wat die Amerikaanse skrywer Ram Dass so mooi verwoord met: “When your mind is quiet, you enter into the flow of love, and you just flow from one moment to the next as naturally as breathing.” Dit is tyd dat jy gesonder lewe, meer in voeling met jouself; kop en lyf. Onthou die woorde van Plato: “The part can never be well unless the whole is well.”
Recent Comments