Huldeblyke aan Abel

Abel,

my wêreld is geskud. Ek is verlore.

Die beste ding wat my Mamma ooit vir my gedoen het is om jou in my lewe te bring. Ek weet nie wat sou van my geword het as dit nie vir jou was nie. My ma sou nie vir my kon sorg soos wat sy nogsteeds doen as dit nie vir jou was nie. 

Ek het nog tussen jou en my ma geloop sodat julle nie kon hande vashou nie, later het ek klip hard in jou kar gesing oppad skool toe.

Met al die duisend goed van toe tot nou, waar ek en jy op die stoep sit en die wêreld se probleme oplos met idees oor wêreldsieninge, politiek, mense, en nie die antwoord soek nie, maar eintlik die vraag oor wat die regte probleem in die wêreld is.

Waar al jou argumente eintlik altyd uit liefde en empatie bestaan, en jy altyd die massas verdedig wat nie hulle self kan verdedig nie.

Al jou maniertjies en goetertjies wat jou eintlik vir my Abel maak, wat al die mense wat jou filosofie en akademiese en sielskennis waardeer, nie eers van weet nie, is wat ek die meeste gaan mis in die huis.

Jy wat altyd skelm een of ander “sweet” eet.
Jy wat altyd n nuwe ietsie koop.
Jy wat altyd die neute bak vol maak, en wel op eet.
Jy wat altyd die verkeerde lirieke van n liedjie sing.
Jy wat altyd aspris iets verkeerd sê en wag dat ek of my ma jou korrigeer, en dan giggel jy.
Jy met jou snaakse stories en dat jy altyd die “punchline” van n grappie vergeet.
Jy met jou pap broek, uitgerekte trui en aardige skoene.
Jy wat dieselfde denim vir dae lank dra totdat my ma met jou raas.
Jy wat met my en ma raas omdat ons die koffie te veel klits.
Jy wat vir my ma sê dat ek die sjokolade geëet het, dan was dit eintlik jy.
Jy wat sê my ma drink soveel koffie dat sy deur liters melk gaan, maar eintlik is dit jy wat net melk koffie drink.
Jy wat omtrent elke aand kos op Neo se rug mors.
Jy wat altyd die voëltjies kos gee.
Jy met jou sigaar en whiskey.
Jy met jou motorfiets.
Jy wat die inkopies in jou baadjie bêre as jy met die motorfiets winkel toe was.
Jy wat altyd n nuwe boek koop om in te skryf.
Jy wat my altyd spot omdat ek my kos weeg, en dan eet ek “sweets”.
Jy , wat n pa vir my is, asook my vriend, en my mentor en rots. 

Tog is dit ook net die Abel wat ek geskep het.
Jy is nie wie enige iemand dink jy is nie.
Jy is ook nie die denker of die filosoof nie.
Jy is net.
Jy sal altyd net wees.

 

Vir wie gaan ek nou my nuwe klere aanpas, of vra of my skoene by my uitrusting pas?
Met wie gaan ek nou argumenteer – asof ek n beter “job” sou doen as ek president was, of al die reëls gemaak het?
Saam met wie gaan ek lag oor die donker grappies en sarkasme en mense wat dink hulle weet meer as wat hulle eintlik doen? 
Saam met my ma – want julle het saam geleef in Harmonie, mekaar aangevoel asof julle een is. Julle is deel van mekaar, en jy sal altyd in haar leef en sy in jou.
Net soos wat jy altyd in my sal leef. 

 

Jy het altyd gesê n mens sterf twee keer, die eerste keer as jou liggaam sterf, en die tweede keer as iemand vir die laaste keer jou naam sê.
So het jy jou eie hemel  en “ewige lewe” geskep met dit wat jy nagelaat het – diep, diep woorde en spore in duisende mense lewens.
Soos wat jy altyd vir my gesê het: Ag Janétjie, dis nie so erg nie en dit sal ook verby gaan, alles wat kom, sal ook gaan.
Daar is nog te veel goed waarvoor ek jou kort –
Gelukkig verstaan ons mekaar, en jy het genoeg agter gelos vir my en my ma om sterk te wees – saam.

Ek belowe ek sal mooi na my mamma kyk.
Ek sal haar altyd hanteer soos wat jy het – Jou prinses, Jou Zellie, Jou sexy vroutjie.

Jané

 

 

 

’n Kaalkop man sit op sy stoep en teug aan sy whisky. Hy sit in stilte voor die geraas van die lewe aankom.  Hy trek stadig aan sy sigaar en loer na sy regterkant. Dis weer André. Hy weet wat ek wil hê, want langsaan, in sy erf is sy braaivuur al aan die gang. “Gee vir my dan braai ek vir julle” sê hy.  Sonder om te aarsel, vat hy die vleis by my en maak net ‘n vinnige grappie om my op my plek te sit. So het dit byna elke dag in die week gegaan…iets word altyd oor die muur aangegee of gesê.

Elke middag 4uur sit Abel op sy eie en neem die lewe in, en in daai oomblik het hy die beste raad vir ons almal gegee. WEES IN DIE NOU, IN STILTE.

Ek mis my vriend, Guru en buurman. Hy het die grootste inpak op my lewe gemaak het. ’n pa wat ek altyd wou hê!

Abel, jou bydra tot my mensewees, kan nie omgesit word in woorde nie!

Andre Velts

 

 

 

Ek is so bly dat ek die geleentheid kry om te kan sê wat ek sooo graag vir Abel wou sê, maar toe nie die geleentheid gehad het nie.

Ai, Abel!  Waarvoor ek vir altyd dankbaar is, en sal wees, tot sekerlik die dag van my dood is die Tao wat hy vertaal het. Ek put elke liewe dag inspirasie uit daardie wonderlike geskrif. Dit is my anker en rigtingwyser. En Abel, jy het daardie deur vir my oopgemaak. Ewigheidswaarde!

Liefde,
Rienie

 

 

 

Abel

It is not often that someone comes along who is a true friend and a mentor. Someone who has found his own way in life. His own way to cope with the ups and downs of life. His own way to cope with failure and his own way to cope with success. Someone who is unassuming and kind-hearted. Abel you were all of these. Thank you for sharing your thoughts, talents and life with Petra and me. You always called me “Dad”, and you were like a son to me. Your absence has left a great void in my life.

Ivan Horak (Dad)

 

 

 

“Abel was vir my ‘n vriend en ‘n steunpilaar en het in ‘n tyd van krisis vir my die weg gewys na ‘n veilige hawe waar ek berusting kon vind en veilig voel.  Sy boodskappe was altyd ‘n inspirasie en motivering vir my.  Hy was ‘n liefdevolle mens en het sy lewe gewy aan sy medemens.”

Martelle Steyn

 

 

 

“He was a guiding light in my tumultuous life. I wish I had listened to him earlier because it would have saved me earlier.”

Wat ek van Abel onthou is sy kalmte wat hy is. Hy het die lewe so maklik laat lyk.

Dirk Lombaard

 

 

 

7 Jaar was jy daar om jou kennis en wysheid te deel met my sodat ek daardie kennis kon gebruik en die vaardighede aan te leer om my hart weer heel te maak…

Kan so goed onthou met ons ontmoetings in 2016 waar jy telke male vir my gesê het “Veronica” jy weet mos wat om te doen en as jy nie die les gaan leer nie gaan jy net weer pyn verduur. So het ek uiteindelik die lesse geleer, na baie pyn (lol!)

Soos wat ek nou hier skryf, met trane in my oë en knop in my keel, mis ek my wyse man, my raadgewer.

Ek sal jou nog gereeld in my kop hoor praat.

Jy het altyd tyd gemaak, nooit geoordeel nie, net geluister en maar net weer raad gegee.

Jy het my geleer om asem te haal..

Jy het my geleer om geduldig te wees (het jy geduld om te wag dat die modder in ‘n modderpoel af sak en die water helder word), te wag en nie oorhaastig te wees, glo my dit was nie maklik nie maar het my nou al baie konflik en hartseer gespaar.

Jy het my geleer om te “Leef in die Oomblik” Hier en nou! Vereers was dit moeilik, en met tyd het dit makliker geword. “Taste the orange” 😊

Jy het my geleer om te laat gaan, dit wat ek nie kan verander nie;

Jy het my geleer dat die lewe gebeur, maak nie saak wat nie, so ons kan maar net die kleur van ons Surf Board kies en daai golf ry! Leef voluit! Asof dit jou laaste dag is.

Jy het my geleer om nie in my eie storie vasgevang te word nie, om ‘n gedagte te laat gaan en nie daar te begin lewe nie en verlore raak.

Jy het my geleer om myself te vra wat is my Waarheid, omdat my waarheid kan verskil met iemand anders . Klou vas aan jou waardheid;

Jy het my geleer dat mense se onredelike optrede (hardheid) niks met my te make het nie maar dat dit daardie persoon se eie hartseer en negatiwiteit is, glo my die een was seker die moeilikste vaardigheid en het ek baie met myself geworstel en gepraat totdat ek dit kon bemeester.

Daar is te min woorde om my dankbaarheid uit te spreek teenoor Zelda dat sy einde 2014 my aan jou voorgestel het en dat ek die voorreg gehad het om ‘n pad met jou te kan stap om my ‘n beter, gelukkiger mens te maak.

Baie dankie Abel, My hart is heel.

Mis jou

Veronica Visser

 

 

 

Abel was my beste vriend.  Hy het geweet hoe om werklik te luister.  Ek mis hom baie.

Cecile Kotze

 

 

 

Hoe verduidelik mens in woorde wat ’n persoon op soveel vlakke vir jou beteken het? Hy was nie net my mentor nie, maar ook my buurman en ’n vriend. ’n Buurman wat enige iets vir jou sou doen (al is dit net ’n soetigheidjie vir my op die muur te los) en mentor wat my altyd wou laat groei het op ’n menslike, maar ook geestelike manier.

Abel se rustigheid, wysheid en liefde het my altyd laat veilig voel. My gelos om self my pad te vind, maar genoeg leiding gegee om op my voete te bly. Sy lewe het gespreek van wat sy oortuigings was en sy hart het die liefde uit gestraal vir wat vir hom belangrik was. 

Abel was vir my vastigheid, goedheid en ’n lig in hierdie deur mekaar chaostiese lewe.

Jy word so baie gemis!
Liefde
Juanita Veltz

 

 

Ek sal van Abel altyd sy gemaklikheid met mense onthou en ook met my as Christen. Alhoewel ons drasties verskil het, het hy my standpunte altyd ernstig opgeneem en my laat voel hy luister. Respek was vir hom baie belangrik. Ek bet dit altyd waardeer.

Ek het ook altyd gevoel dat hy die beste wou vir my werk en bediening in Oosterlig gemeente. Wanneer ek en hy ‘n gesprek gehad het op my podcast het hy altyd bemoedigend gereageer na die tyd en goeie voorstelle gehad oor hoe ek my eie werk nog beter kan doen.

Abel was my vriend en ek sal hom altyd so onthou.

Roedolf

 …

 

 

 

Abel se betekenisvolle bydrae op my innerlike lewensreis:

My vreugde was tot oorlopens toe gevul ná my gereelde instap by Renaissance Gemeenskap se Sondagbyeenkomste, waar Abel Pienaar die woord gevoer het, toe ek vir die eerste keer vanuit kanselgesprekke bevestiging kry dat outentieke selfkennis van essensie, as “Ek-is”, (awareness/bewustheid) die onontbeerlike vertrekpunt van die innerlike lewensreis en skeppingsmoontlikhede in die ‘nou’ bepaal. Sy benadering het  in my lewe my gerugsteun in toenemende ont-(oop)dekking van my outentieke essensie wat bepaal waartoe ek bemagtig is.  Daarsonder is ‘n mens se  innerlike reis ‘n hier-vat en daar-vat mistasting uit lyn met jou essensie … wat dan  waarheen lei … ???  Abel het dikwels gesê jou essensie (jy) is  soos die blou lugruim wat ewig is en altyd onveranderd bly, ten volle toegerus met ALLES vir jou innerlike spirituele reis.  Wolke (gebeure) kom en gaan, maar kan en sal die blou lugruim as essensie nooit kan verander/vernietig nie. – onbegryplik oorweldigend, maar realisties eg beleefbaar.

Logies volg op bg. fundamentele benadering, die vraag van hoe verloop my lewensreis hier op aarde in die ”nou” t.o.v. medeskepper te wees. Ook hier het Abel, los van enige dogmatiese beginsels, vir my as wegwyser gedien, eerder as op ‘n bestemming af te mik.  Medeskepping word vanuit my outentieke selfkennis/-essensie bepaal om deur liefdes-diensbaarheid positiewe verandering gedurende my tydelikheid hier op aarde, vanuit my Ware Self te skep. In sy eie woorde: “Ontdek jou eie pad, jou eie weg, herontdek jou Ware Self en leef vanuit die wysheid” – TAO van Wakker Word (Naledi 2021. p.131). Wat ‘n asembenemende vryheid tot verantwoordelikheid !!!

Voor in my kopié van sy vertaling in Afrikaans van die Tao Te Ching het hy geskryf:   “Lenca, dis so lekker om jou te ken en saam met jou te reis.” My antwoord, in groot dankbaarheid:  “Ditto Abel, en dankie vir jou inset in my reis. Ek kan geen beter wegwyser, tydens dié tydstip op my innerlike reis, bedink het nie!” Soos die kontemporêre digter Christopher Logue  in Ode to the Dodo:Poems from 1953 to 1978 (London: Jonathan Cape, 1981.  p. 96.):  in tweegesprek, ‘n groep initiate, wat hulle binne vreemde ongekende vaarwaters bevind het, inspireer het, het Abel soortgelyke rol op my innerlike reis vertolk:

“Come to the edge.
We might fall.
Come to the edge.
It’s too high!
COME TO THE EDGE
and they came,
and he pushed,
and they flew.”

Lenca Smith – 14 Mei 2022

 

 

 

Jy bly konstant in ons koppe, Abel – en die verlies aan jou bly in ons harte. Ek wou nog soveel hoor… soveel leer… Jy was my baken, my mentor, my ligtoring – soos vir baie…dankie dat jy ook my kinders se moeilike dae ligter kon maak.. vir hulle ‘n anker gebied het waar ek nie kon nie… ons wou so graag nog vasgehou het…. Die journey was te kort. Ons almal wat jou geken het, struggle, maar ons try… want jy sou dit so wou. Go well… Ons is kort op jou hakke… Die golfies in die oseaan smile…

Hanelie Dippenaar

 

 

 

Abel Pienaar, in sy fleur onverwags van lewe ontneem, was ‘n buitengewone mens met ‘n buitengewone nalatenskap. In voorkoms was hy sterk; in gesins-, familie- en vriendskapsverband liefhebbend en geliefd; in optredes voor skares  charismaties en oortuigend; in gesprekke met enkelinge en klein groepe meelewend vriendelik en simpatiek. As denker was hy diepsinnig, intens bewus van die epogale religieuse nood van ons tyd, veral soos in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap  gemanifesteer. Sy baanbrekende standpunte was altyd rustig en gebalanseerd uiteengesit, sonder om wesenlike uitgangspunte te verloën of kompromiteer, of om voorsiene uitwerkings te misken, maar ook sonder om in engtes van beginseldrywery of alwetende voorskriftelikheid te verval. As skrywer het hy die gawe gehad om nuwe gedagtes bevatlik te formuleer, en het hy ‘n wye en waarderende leserspubliek gehad. Hy sal deur almal wat hom direk of op ‘n afstand ontmoet het, onthou word, nie slegs vir sy skeppende assosiasie met Renaissance nie, maar vir sy pioniersaandeel in die vestiging van ‘n noodsaaklike, nuwe denkwyse oor religie, met die oorheersende klem op insluitende mistiek. Gedurende sy lewe het ek die grootste waardering vir hom gehad, en na sy heengaan duur dit voort. Hy was werklik ‘n toekomsskeppende figuur.

Kobus Krüger

(Abel se “Mentor,” dit is so in Abel se foon se tellefoonlys gestoor)

 

 

 

Abel het minder van my geweet as ek van hom. Ons het mekaar per geleentheid raakgeloop en een maal saam uitgeëet. Ek sou graag  meer tyd met hom spandeer het. Hy het die eerlikste in almal om hom uitgebring. Maar ‘n mens hoef maar net jouself te gewees met hom – al die lig  en donker kante het hy met ewe veel  grasie aanvaar. Hy was een van daai rare mense wat gelyktydig beide sag en sterk kon wees. Ek mis hom soos die broer wat ek nooit gehad het nie.

 

In sy geloofsbelydenis van ‘n soeker sê hy dat ‘n mens jouself moet verloor in die ritme van die dans van die lewe. ‘n Bevestiging dat dit gaaf is om net mens te wees. Nederigheid is edel, en daar is plek vir sensitief leef.

 

Ons bind die more, die dag aan die jare,
en vloei deur die tyd soos bloed deur die are;
deur die grys ou wêreld gaan ons wat jonk is,
ons wat met drank van die ewigheid dronk is;
en wie, wat die droom in ons oë gelees het,
al rus of ooit weer wees soos hy gewees het? 

uit “Alleenspraak” van N.P. van Wyk Louw.

Abri Jordaan

 

 

 

Abel en ek

Dit was nooit nodig om mekaar se drumpels deur te trap nie
‘n Koffie of twee of ontbyt by ‘n stil plek was genoeg
Diep gesprekke en die tyd wat vlieg
Oomblikke van stille mymeringe…
Oggendritte met my Burgman en jy op jou Royal Enfield
Dik, geurige sigare met styl aangesteek en stadig gerook
En whisky op ys langs die kaggelvuur by die see…
My vriend…
Die dag toe die kanker my platslaan het jy gesê
Vat dit eers dag vir dag…een tree op ‘n slag
Dankie dat jy my help dra het…
En jou wens dat ek elke dag sal LEWE!

 

Michelle Gurevich, die sangeres, se woorde opgedra aan Abel my vriend..

 

The world we knew
My mind you blew
Such cherished adventures
Now we’re down to mostly memories

Kindred spirits walk
Together, a while
Amidst low hanging branches
Talk and listen, share minds 

Like to the end
Such unwritable stories
But now the stories
Are just stories

And where does kindness go
When we are no more
Where does kindness go?
Where goes the sacrifice
The fight for life
When we leave…
When there’s no one left to remember?

 

Despite the fact we’ve shared so much
My friend we’re losing touch
We know that’s how it goes and such
It is so very sad we had to lose touch….

Fanus le Roux

 

 

 

Ek en Abel ontmoet mekaar April 2006 by Greenfields koffiewinkel in Lynnwood, Pretoria. Hy wil weet van Renaissance en na ‘n heerlike kuier besluit Abel om deel van Renaissance te word. Ons was maar 2 jaar aan die gang en dit was harde-bene kou. Tog het Abel ‘n positiwiteit gebring wat help bou aan ‘n besonderse gemeenskap en vir 8 jaar werk ons baie nou saam.

Ons was nie net kollegas nie maar het ook hegte en diep vriende geword in ‘n vriendskap wat 16 jaar lank sou duur tot by sy afsterwe. Ek ontmoet Zelda ook by Renaissance in 2006 en 2 jaar later verbind ek Abel en Zelda op die strand in Kaapstad in die huwelik! Wat ‘n voorreg om saam met die 2 besonderse mense ‘n pad te stap.

Ek en Abel het baie gedeel; lief en leed, sweet en bekommernisse maar ook vreeslike goeie jare met vakansies saam weg en altyd die saambindende faktor van ons gemeenskaplike liefde vir die gemeenskap van Renaissnace en sy mense.

Abel het ‘n reus geword in die spirituele gemeenskap van Suid Afrika en oor die wêreld. En kort-kort het ons opgevang en mekaar ondersteun al het my paaie my na Kanada en later Skotland geneem. 

Ek salueer jou my vriend, my kollega, my bondgenoot in Renaissance – ons mis jou!

Gert Janse van Rensburg

 

 

 

Met Abel se afsterwe –
het dit ‘n groot leemte by baie mense gelaat –
ook by my – 

Dit laat my gedagtes onwillekeurig teruggaan na die rolprent (The Mission),

waar een van die karakters in die film gesê het:
“The spirit of the dead will live forever in the memory of the living”

 

Abel sal vir ewig lewe.

Pieter van Heerden

 

 

 

En toe kruis my pad met Abel s’n

 

Toe Zelda my vra om te vertel hoe my pad met Abel s’n gekruis en verloop het, moes ek stil gaan sit en nadink. En toe onthou ek: die eerste ontmoeting was meer as twintig jaar gelede kort na my eerste “botsing” met die Ned Geref Kerk.

Ek het ’n referaat tydens die kongres van Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van SA op Stellenbosch in 1996 gelewer. Dit het gehandel oor die boek Jona en die profeet se ontsteltenis dat die Nineviete (“heidene”) nie gestraf gaan word nie. My referaat is in Die Burger gerapporteer en enkele sinne van die slot het die koerant gehaal. Die slotparagraaf van die referaat het só begin: “Die Ned Geref Kerk staan aan die begin van die 21ste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening van die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste.” Ek het op ’n subtiele wyse gevra dat die NG Kerk moes herbesin oor die Bybel as God se Woord én oor die oortuiging dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is. Wat bedoel was as ’n uitnodiging tot gesprekvoering is misverstaan en dit het gelei tot veroordeling en aanklag.

Om myself skielik in ’n teologiese storm te bevind, was vir my onhutsend. In dié tyd loop ek die volgende stelling van Jürgen Moltmann raak: “Whether a religious community recognizes ‘freedom of religion’ is always demonstrated by the way in which it deals with its dissidents and apostates.” Die klag teen my sieninge is gelukkig afgewys, maar ek het besef dat ek nie meer die eng gereformeerde oortuigings huldig nie.

’n Jaar of wat daarna vra Abel my of hy met my kan kom gesels, want alles is ook nie meer vir hom so duidelik nie. Hy was jeugpredikant in die NG Gemeente Skuilkrans. Ons het die aand gesels oor wat ’n mens te doen staan wanneer jou oortuigings nie meer strook met die gereformeerde leer nie. Bly jy in die kerk aan en probeer jy gesprek daaroor binne die kerk voer, of vat jy jou goed en loop? My raad aan hom was om nie sommer te bedank nie. Die NG Kerk het my nie uitgeskop nie. Daar is, lyk dit my, wel ruimte vir verskille en twyfelvrae word nie summier veroordeel nie.

Na ’n tweede “botsing” het ek egter besef dat daar nie regtig ruimte vir verskille binne die NG Kerk bestaan nie en twyfelvrae word nie geduld nie. Dié keer het ek die erfsondeleer bevraagteken. Die botsing het tot my bedanking gelei omdat ek besef het dat my standpunt onversoenbaar was met wat tradisioneel geglo word. Hierna het die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) tot stand gekom en waarskynlik het dit bygedra tot Abel se bedanking ’n jaar of wat daarna. Ek het hom nooit daaroor uitgevra nie. Abel was wel van oordeel dat hy ’n eie rigting kon inslaan wat minder op dekonstruksie van die Christelike leerstellings gefokus het en meer op ’n konstruksie van ’n eietydse spiritualiteit. Op die wyse is die Renaissance-gemeente en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES) gebore.

Abel was lief om van die onderskeid tussen “logos” en “mythos” te praat. Vir hom was dit nie belangrik om alles met sy rede uit te pluis nie (“logos”), maar om sin te vind in verhale van hoe om met die lewe om te gaan (“mythos”). Don Cupitt verwoord iets hiervan met sy stelling dat ons in die hier-en-nou sin moet vind deur onsself in die lewe te werp: “Instead of locating life’s chief end in the world beyond death, we want to find the highest good in the way we throw ourselves into life in the here and now.” Abel het hom met toewyding in die lewe gewerp en meer en meer geskryf oor hoe om sin te vind in die hier-en-nou.

Die NHN, Renaissance en SES het van meet af aan goed saamgewerk. Die NHN het Abel jaarliks oorgenooi om in Midrand ’n lesing te kom lewer en op sy beurt het hy my oorgenooi om jaarliks by Renaissance te kom “preek”. Hy het van ons lede ook genooi om as sprekers op te tree tydens die eerste seminaar van SES wat by die Pretoriase Onderwyskollege in Groenkloof gehou is. Die seminaar is goed bygewoon en dit was duidelik dat Abel ’n aar raak geboor het. Heelwat mense wat weggestap het van die tradisionele Christelike godsdiens het steeds die behoefte ervaar om weekliks ’n spirituele byeenkoms te beleef waar mooi musiek, stilte en ’n kort “oordenking” hulle lewe kon vul. Omdat Abel hom meer en meer op die studie van Boeddhisme toegespits het, het die raakvlakke tussen die NHN en Renaissance minder geword. Maar Abel het daarin geslaag om die Renaissance-gemeente ’n eie identiteit te gee. Sy boeke het groot aftrek gekry en dit was vir almal wat hom geken en sy boeke gelees het ’n skok toe hy verlede jaar oorlede is. Sy teenwoordigheid en rustigheid sal my altyd bybly.

Prof Sakkie Spangenberg

 

 

 

As ek terugdink onthou ek die oggende gesprekke wat ek en Abel voor die diens op  Sondae gehad het oor letterlik alle fasette van die lewe.  Ons kon baie gedagtes uitruil en oor baie gebeure gesels.  Dit het vir my ontsettend baie beteken en my lewe verryk en dis n groot gemis in my lewe en sal alyd by my bly.  Gelukkig is daar mooi herinneringe en onthou ons sy nalatingskap

Neels Rautenbach

 

 

 

Abel Pienaar….

Hoe ek hom sal onthou.

Die man met die vele talente. Die man wat gehou van skryf en wat gehou van navorsing. Die man wat gehou het van filosofeer.

Abel, die intellektuele mens.

Maar dan was daar ook die sosiale Abel. Hy het daarvan gehou om Sondae vriende te nooi en ‘n hoender op die kole te sit. Zelda moes die slaai en bykosse voorsien. En so saam-saam met die heerlike ete is baie vriendskappe gesluit en verstewig.

Abel het ‘n groot hart gehad. Hy het nie sommer nee gesê as dit gegaan het om mense te help nie. Hy kon ‘n saak prakties uitpluis en het vele mense gehelp om weer die “lig” te sien.

Miskien is wat ek die meeste van Abel sal onthou is sy humorsin. Hy kon lekker terg en self heerlik saam lag en met ‘n ondeunde kyk in sy oë na jou kyk.

Ek het hom op ‘n keer gevra of hy nie kwaad word as die mense hom openlik aanvat oor sy teologiese beskouings. Sy antwoord was: Nee ek word nie kwaad nie ek word wel kriewelrig as ek agter kom dat mense nie dink nie.

Die gemis aan Abel is ‘n daaglikse ervaring. Baie meer vir Zelda as vir ons wat sy vriende is. Abel en Zelda het ‘n baie gelukkige huwelik gehad. Ek wil graag vir Zelda noem, dat as die hartseer kom nesmaak in jou binneste vra dit van jou dat jy fyn moet trap tussen die pietersielie van emosies anders gaan jy jouself op ‘n baie eensame plek bevind….Zelda, ons is daar vir jou!

Zelda ek hoop jy kan ruimte vind om hierdie eensame pad saam met jou familie en baie van jou vriende asook jou kinders te kan stap.

Schalk