Huldeblyke aan Abel – Deel 3

buite én binne bereik – vir Abel én vir ons

Jou brander het skielik teruggetrek in Die See in,
Altans, skieliker as wat ons verwag het

1 Julie 2021
“Die eerste”: simbolies van ‘n begin,
en tog was dit jou einde,
of was dit?

En nou, nou eggo jou woorde nóg harder as voorheen:
Jy is ‘n klein golf wat op die strand breek,
maar jy is óók Die Groot See.

Die herinneringe trek my gedagtes al verder terug in tyd,
na die Renaissance byeenkomste oor die jare…
na al die openhartige gesprekke wat uiteindelik
‘n diep transformasie in ons harte sou bewerkstellig

Abel, jy het ons ingeneem, jy het na ons geluister,
jy was saam met ons deurmekaar, ontnugter,
jy het ons getroos, jy het ons moed ingepraat,
jy was nie bang nie…
jy het ons laat voel dat dit okay is om hardop te wonder,
jy het nuwe paaie saam met ons verken,
jy het nuwe betekenis gesoek én geskep
sonder om die ou bekende verhaal te begrawe
jy het Hom op ‘n nuwe manier naby gehou

Jy het saam met ons ‘n alternatiewe vrede ondersoek en ontdek,
‘n vreedsaamheid in onsekerheid gevind
Jy het ons herinner om te stop waarmee ons besig is,
om stadiger in en uit asem te haal…

en al die pad het jy ons só lekker laat lag…
met jou eerlike sin vir humor oor die lewe se ups and downs,
oor die ontelbare grysareas van ons bestaan

So nou…in óns Nou van nóú Abel,
sukkel ons maar nogsteeds om te laat gaan
sukkel ons maar nogsteeds om te verstaan,
om werklik te snap dat jou heengaan
ons grootste beproewing geword het

ek het lui geword…
want jy was altyd die een wat die shortcuts gevind of geskep het
na nuwe maniere van dink oor ons bestaan
en so vrygewig uitgedeel het

die verantwoordelikheid is so groot
om jou werklik te laat gaan

want ons mís jou wyse woorde, ons mis jou jokes,
ons verlang na jou alternatiewe manier van uitreik,
jou inklusiewe lewensuitkyk

Jou hart wat so opreg uit liefde kon vibreer
Jy hét ons gehelp, jy help ons stééds
om die lewe te verteer

Hoe hét jy dit reggekry?
Of nee: hoe kry jy dit stééds reg?
Is jy dan werklik…. wég?

Ek hoor jou stem :
« Op pas om vas te klou aan Die Nou,
Die Nou is ewigveranderend

Dit is so moeilik om aan te hou stap op ‘n pad
waarop jy nie meer saam loop nie
‘n pad waarop ons op tye nogsteeds so donners alleen voel

Maar dit gaan nie nou oor ons nie
dit gaan nou oor jou,
oor jóú Nou

Dit voel net soos te veel gevra

So dalk gaan ek eers vir ‘n ruk lank
stukkend wees, en selfs kwaad, oor wat gebeur het
oor die “dit-wat-is” – jou woorde, nogmaals
Dalk gaan ek eers ‘n hele paar afdraaipaaie vat
tot diep binne in die donker klowe van die hartseer
tot by die uitgestrekte vlaktes van verlatenheid

Jy gaan waarskynlik my gedrag geamuseerd dophou,
op ‘n sagte en mooi manier giggel in jou mou

Wat ís dit wat jy vir my wil sê?
Dat ek fyn moet luister na my pyn?

Ons sal okay wees Abel,
Ons sal maak soos jy sou maak
soos die brawes onder ons nog altyd moes maak
Ons sal aanhou stap, met oop oë die onbekende in
met jou stem in ons agterkoppe as wegwyser
ek hoor jou voorstel:
maak dit “stemme”, maak dit “weëwysers”…

Jy mág en kán en móét in vrede rus
al is jy nou tegnies buite bereik
weet ons ook eintlik
dat jy steeds diep binne is

Met liefde van Willemien

Braam en Karin Oberholzer