Huldeblyke aan Abel – Deel 2
Abel se betekenisvolle bydrae op my innerlike lewensreis:
My vreugde was tot oorlopens toe gevul ná my gereelde instap by Renaissance Gemeenskap se Sondagbyeenkomste, waar Abel Pienaar die woord gevoer het, toe ek vir die eerste keer vanuit kanselgesprekke bevestiging kry dat outentieke selfkennis van essensie, as “Ek-is”, (awareness/bewustheid) die onontbeerlike vertrekpunt van die innerlike lewensreis en skeppingsmoontlikhede in die ‘nou’ bepaal. Sy benadering het in my lewe my gerugsteun in toenemende ont-(oop)dekking van my outentieke essensie wat bepaal waartoe ek bemagtig is. Daarsonder is ‘n mens se innerlike reis ‘n hier-vat en daar-vat mistasting uit lyn met jou essensie … wat dan waarheen lei … ??? Abel het dikwels gesê jou essensie (jy) is soos die blou lugruim wat ewig is en altyd onveranderd bly, ten volle toegerus met ALLES vir jou innerlike spirituele reis. Wolke (gebeure) kom en gaan, maar kan en sal die blou lugruim as essensie nooit kan verander/vernietig nie. – onbegryplik oorweldigend, maar realisties eg beleefbaar.
Logies volg op bg. fundamentele benadering, die vraag van hoe verloop my lewensreis hier op aarde in die ”nou” t.o.v. medeskepper te wees. Ook hier het Abel, los van enige dogmatiese beginsels, vir my as wegwyser gedien, eerder as op ‘n bestemming af te mik. Medeskepping word vanuit my outentieke selfkennis/-essensie bepaal om deur liefdes-diensbaarheid positiewe verandering gedurende my tydelikheid hier op aarde, vanuit my Ware Self te skep. In sy eie woorde: “Ontdek jou eie pad, jou eie weg, herontdek jou Ware Self en leef vanuit die wysheid” – TAO van Wakker Word (Naledi 2021. p.131). Wat ‘n asembenemende vryheid tot verantwoordelikheid !!!
Voor in my kopié van sy vertaling in Afrikaans van die Tao Te Ching het hy geskryf: “Lenca, dis so lekker om jou te ken en saam met jou te reis.” My antwoord, in groot dankbaarheid: “Ditto Abel, en dankie vir jou inset in my reis. Ek kan geen beter wegwyser, tydens dié tydstip op my innerlike reis, bedink het nie!” Soos die kontemporêre digter Christopher Logue in Ode to the Dodo:Poems from 1953 to 1978 (London: Jonathan Cape, 1981. p. 96.): in tweegesprek, ‘n groep initiate, wat hulle binne vreemde ongekende vaarwaters bevind het, inspireer het, het Abel soortgelyke rol op my innerlike reis vertolk:
“Come to the edge.
We might fall.
Come to the edge.
It’s too high!
COME TO THE EDGE
and they came,
and he pushed,
and they flew.”
Lenca Smith
…
Jy bly konstant in ons koppe, Abel – en die verlies aan jou bly in ons harte. Ek wou nog soveel hoor… soveel leer… Jy was my baken, my mentor, my ligtoring – soos vir baie…dankie dat jy ook my kinders se moeilike dae ligter kon maak.. vir hulle ‘n anker gebied het waar ek nie kon nie… ons wou so graag nog vasgehou het…. Die journey was te kort. Ons almal wat jou geken het, struggle, maar ons try… want jy sou dit so wou. Go well… Ons is kort op jou hakke… Die golfies in die oseaan smile…
Hanelie Dippenaar
…
Abel Pienaar, in sy fleur onverwags van lewe ontneem, was ‘n buitengewone mens met ‘n buitengewone nalatenskap. In voorkoms was hy sterk; in gesins-, familie- en vriendskapsverband liefhebbend en geliefd; in optredes voor skares charismaties en oortuigend; in gesprekke met enkelinge en klein groepe meelewend vriendelik en simpatiek. As denker was hy diepsinnig, intens bewus van die epogale religieuse nood van ons tyd, veral soos in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap gemanifesteer. Sy baanbrekende standpunte was altyd rustig en gebalanseerd uiteengesit, sonder om wesenlike uitgangspunte te verloën of kompromiteer, of om voorsiene uitwerkings te misken, maar ook sonder om in engtes van beginseldrywery of alwetende voorskriftelikheid te verval. As skrywer het hy die gawe gehad om nuwe gedagtes bevatlik te formuleer, en het hy ‘n wye en waarderende leserspubliek gehad. Hy sal deur almal wat hom direk of op ‘n afstand ontmoet het, onthou word, nie slegs vir sy skeppende assosiasie met Renaissance nie, maar vir sy pioniersaandeel in die vestiging van ‘n noodsaaklike, nuwe denkwyse oor religie, met die oorheersende klem op insluitende mistiek. Gedurende sy lewe het ek die grootste waardering vir hom gehad, en na sy heengaan duur dit voort. Hy was werklik ‘n toekomsskeppende figuur.
Kobus Krüger
(Abel se “Mentor,” dit is so in Abel se foon se tellefoonlys gestoor)
…
Abel het minder van my geweet as ek van hom. Ons het mekaar per geleentheid raakgeloop en een maal saam uitgeëet. Ek sou graag meer tyd met hom spandeer het. Hy het die eerlikste in almal om hom uitgebring. Maar ‘n mens hoef maar net jouself te gewees met hom – al die lig en donker kante het hy met ewe veel grasie aanvaar. Hy was een van daai rare mense wat gelyktydig beide sag en sterk kon wees. Ek mis hom soos die broer wat ek nooit gehad het nie.
In sy geloofsbelydenis van ‘n soeker sê hy dat ‘n mens jouself moet verloor in die ritme van die dans van die lewe. ‘n Bevestiging dat dit gaaf is om net mens te wees. Nederigheid is edel, en daar is plek vir sensitief leef.
Ons bind die more, die dag aan die jare,
en vloei deur die tyd soos bloed deur die are;
deur die grys ou wêreld gaan ons wat jonk is,
ons wat met drank van die ewigheid dronk is;
en wie, wat die droom in ons oë gelees het,
al rus of ooit weer wees soos hy gewees het?
uit “Alleenspraak” van N.P. van Wyk Louw.
Abri Jordaan
…
Abel en ek
Dit was nooit nodig om mekaar se drumpels deur te trap nie
‘n Koffie of twee of ontbyt by ‘n stil plek was genoeg
Diep gesprekke en die tyd wat vlieg
Oomblikke van stille mymeringe…
Oggendritte met my Burgman en jy op jou Royal Enfield
Dik, geurige sigare met styl aangesteek en stadig gerook
En whisky op ys langs die kaggelvuur by die see…
My vriend…
Die dag toe die kanker my platslaan het jy gesê
Vat dit eers dag vir dag…een tree op ‘n slag
Dankie dat jy my help dra het…
En jou wens dat ek elke dag sal LEWE!
Michelle Gurevich, die sangeres, se woorde opgedra aan Abel my vriend..
The world we knew
My mind you blew
Such cherished adventures
Now we’re down to mostly memories
Kindred spirits walk
Together, a while
Amidst low hanging branches
Talk and listen, share minds
Like to the end
Such unwritable stories
But now the stories
Are just stories
And where does kindness go
When we are no more
Where does kindness go?
Where goes the sacrifice
The fight for life
When we leave…
When there’s no one left to remember?
Despite the fact we’ve shared so much
My friend we’re losing touch
We know that’s how it goes and such
It is so very sad we had to lose touch….
Fanus le Roux
…
Ek en Abel ontmoet mekaar April 2006 by Greenfields koffiewinkel in Lynnwood, Pretoria. Hy wil weet van Renaissance en na ‘n heerlike kuier besluit Abel om deel van Renaissance te word. Ons was maar 2 jaar aan die gang en dit was harde-bene kou. Tog het Abel ‘n positiwiteit gebring wat help bou aan ‘n besonderse gemeenskap en vir 8 jaar werk ons baie nou saam.
Ons was nie net kollegas nie maar het ook hegte en diep vriende geword in ‘n vriendskap wat 16 jaar lank sou duur tot by sy afsterwe. Ek ontmoet Zelda ook by Renaissance in 2006 en 2 jaar later verbind ek Abel en Zelda op die strand in Kaapstad in die huwelik! Wat ‘n voorreg om saam met die 2 besonderse mense ‘n pad te stap.
Ek en Abel het baie gedeel; lief en leed, sweet en bekommernisse maar ook vreeslike goeie jare met vakansies saam weg en altyd die saambindende faktor van ons gemeenskaplike liefde vir die gemeenskap van Renaissnace en sy mense.
Abel het ‘n reus geword in die spirituele gemeenskap van Suid Afrika en oor die wêreld. En kort-kort het ons opgevang en mekaar ondersteun al het my paaie my na Kanada en later Skotland geneem.
Ek salueer jou my vriend, my kollega, my bondgenoot in Renaissance – ons mis jou!
Gert Janse van Rensburg
…
Met Abel se afsterwe –
het dit ‘n groot leemte by baie mense gelaat –
ook by my –
Dit laat my gedagtes onwillekeurig teruggaan na die rolprent (The Mission),
waar een van die karakters in die film gesê het:
“The spirit of the dead will live forever in the memory of the living”
Abel sal vir ewig lewe.
Pieter van Heerden
…
En toe kruis my pad met Abel s’n
Toe Zelda my vra om te vertel hoe my pad met Abel s’n gekruis en verloop het, moes ek stil gaan sit en nadink. En toe onthou ek: die eerste ontmoeting was meer as twintig jaar gelede kort na my eerste “botsing” met die Ned Geref Kerk.
Ek het ’n referaat tydens die kongres van Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van SA op Stellenbosch in 1996 gelewer. Dit het gehandel oor die boek Jona en die profeet se ontsteltenis dat die Nineviete (“heidene”) nie gestraf gaan word nie. My referaat is in Die Burger gerapporteer en enkele sinne van die slot het die koerant gehaal. Die slotparagraaf van die referaat het só begin: “Die Ned Geref Kerk staan aan die begin van die 21ste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening van die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste.” Ek het op ’n subtiele wyse gevra dat die NG Kerk moes herbesin oor die Bybel as God se Woord én oor die oortuiging dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is. Wat bedoel was as ’n uitnodiging tot gesprekvoering is misverstaan en dit het gelei tot veroordeling en aanklag.
Om myself skielik in ’n teologiese storm te bevind, was vir my onhutsend. In dié tyd loop ek die volgende stelling van Jürgen Moltmann raak: “Whether a religious community recognizes ‘freedom of religion’ is always demonstrated by the way in which it deals with its dissidents and apostates.” Die klag teen my sieninge is gelukkig afgewys, maar ek het besef dat ek nie meer die eng gereformeerde oortuigings huldig nie.
’n Jaar of wat daarna vra Abel my of hy met my kan kom gesels, want alles is ook nie meer vir hom so duidelik nie. Hy was jeugpredikant in die NG Gemeente Skuilkrans. Ons het die aand gesels oor wat ’n mens te doen staan wanneer jou oortuigings nie meer strook met die gereformeerde leer nie. Bly jy in die kerk aan en probeer jy gesprek daaroor binne die kerk voer, of vat jy jou goed en loop? My raad aan hom was om nie sommer te bedank nie. Die NG Kerk het my nie uitgeskop nie. Daar is, lyk dit my, wel ruimte vir verskille en twyfelvrae word nie summier veroordeel nie.
Na ’n tweede “botsing” het ek egter besef dat daar nie regtig ruimte vir verskille binne die NG Kerk bestaan nie en twyfelvrae word nie geduld nie. Dié keer het ek die erfsondeleer bevraagteken. Die botsing het tot my bedanking gelei omdat ek besef het dat my standpunt onversoenbaar was met wat tradisioneel geglo word. Hierna het die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) tot stand gekom en waarskynlik het dit bygedra tot Abel se bedanking ’n jaar of wat daarna. Ek het hom nooit daaroor uitgevra nie. Abel was wel van oordeel dat hy ’n eie rigting kon inslaan wat minder op dekonstruksie van die Christelike leerstellings gefokus het en meer op ’n konstruksie van ’n eietydse spiritualiteit. Op die wyse is die Renaissance-gemeente en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES) gebore.
Abel was lief om van die onderskeid tussen “logos” en “mythos” te praat. Vir hom was dit nie belangrik om alles met sy rede uit te pluis nie (“logos”), maar om sin te vind in verhale van hoe om met die lewe om te gaan (“mythos”). Don Cupitt verwoord iets hiervan met sy stelling dat ons in die hier-en-nou sin moet vind deur onsself in die lewe te werp: “Instead of locating life’s chief end in the world beyond death, we want to find the highest good in the way we throw ourselves into life in the here and now.” Abel het hom met toewyding in die lewe gewerp en meer en meer geskryf oor hoe om sin te vind in die hier-en-nou.
Die NHN, Renaissance en SES het van meet af aan goed saamgewerk. Die NHN het Abel jaarliks oorgenooi om in Midrand ’n lesing te kom lewer en op sy beurt het hy my oorgenooi om jaarliks by Renaissance te kom “preek”. Hy het van ons lede ook genooi om as sprekers op te tree tydens die eerste seminaar van SES wat by die Pretoriase Onderwyskollege in Groenkloof gehou is. Die seminaar is goed bygewoon en dit was duidelik dat Abel ’n aar raak geboor het. Heelwat mense wat weggestap het van die tradisionele Christelike godsdiens het steeds die behoefte ervaar om weekliks ’n spirituele byeenkoms te beleef waar mooi musiek, stilte en ’n kort “oordenking” hulle lewe kon vul. Omdat Abel hom meer en meer op die studie van Boeddhisme toegespits het, het die raakvlakke tussen die NHN en Renaissance minder geword. Maar Abel het daarin geslaag om die Renaissance-gemeente ’n eie identiteit te gee. Sy boeke het groot aftrek gekry en dit was vir almal wat hom geken en sy boeke gelees het ’n skok toe hy verlede jaar oorlede is. Sy teenwoordigheid en rustigheid sal my altyd bybly.
Prof Sakkie Spangenberg
…
As ek terugdink onthou ek die oggende gesprekke wat ek en Abel voor die diens op Sondae gehad het oor letterlik alle fasette van die lewe. Ons kon baie gedagtes uitruil en oor baie gebeure gesels. Dit het vir my ontsettend baie beteken en my lewe verryk en dis n groot gemis in my lewe en sal alyd by my bly. Gelukkig is daar mooi herinneringe en onthou ons sy nalatingskap
Neels Rautenbach
…
Abel Pienaar….
Hoe ek hom sal onthou.
Die man met die vele talente. Die man wat gehou van skryf en wat gehou van navorsing. Die man wat gehou het van filosofeer.
Abel, die intellektuele mens.
Maar dan was daar ook die sosiale Abel. Hy het daarvan gehou om Sondae vriende te nooi en ‘n hoender op die kole te sit. Zelda moes die slaai en bykosse voorsien. En so saam-saam met die heerlike ete is baie vriendskappe gesluit en verstewig.
Abel het ‘n groot hart gehad. Hy het nie sommer nee gesê as dit gegaan het om mense te help nie. Hy kon ‘n saak prakties uitpluis en het vele mense gehelp om weer die “lig” te sien.
Miskien is wat ek die meeste van Abel sal onthou is sy humorsin. Hy kon lekker terg en self heerlik saam lag en met ‘n ondeunde kyk in sy oë na jou kyk.
Ek het hom op ‘n keer gevra of hy nie kwaad word as die mense hom openlik aanvat oor sy teologiese beskouings. Sy antwoord was: Nee ek word nie kwaad nie ek word wel kriewelrig as ek agter kom dat mense nie dink nie.
Die gemis aan Abel is ‘n daaglikse ervaring. Baie meer vir Zelda as vir ons wat sy vriende is. Abel en Zelda het ‘n baie gelukkige huwelik gehad. Ek wil graag vir Zelda noem, dat as die hartseer kom nesmaak in jou binneste vra dit van jou dat jy fyn moet trap tussen die pietersielie van emosies anders gaan jy jouself op ‘n baie eensame plek bevind….Zelda, ons is daar vir jou!
Zelda ek hoop jy kan ruimte vind om hierdie eensame pad saam met jou familie en baie van jou vriende asook jou kinders te kan stap.
Schalk
…
‘n Sonnet opgedra aan Abel Pienaar
Die jaar verloop in donker ondertoon
Ek klim en wonder watter wet ek glo
Sal iemand weet waar ek op aard kan woon …
Al steiler word die trap, en nóú na bo.
Geen lig te sien, die tonnel sluk my in
My elmboë, knieë strompel, du my voort
Ek het te veel verloor, en wat’s te win?
‘n Storie wil ek skryf, dus … woord bring woord.
Soek kuur vir al die stryd wat in my woed
en onder kwarantyn sal ek my plaas
Kan dit my ooit genees? Van waar kom moed?
Word ek gehoor? En wie’s dan wel my baas?
‘n Stem roep my om uit die graf te kom
Helaas! ‘n nuwe bries, en ek volg hom …
Estelle Kruger
…