Huldeblyke aan Abel – Deel 1
Abel,
my wêreld is geskud. Ek is verlore.
Die beste ding wat my Mamma ooit vir my gedoen het is om jou in my lewe te bring. Ek weet nie wat sou van my geword het as dit nie vir jou was nie. My ma sou nie vir my kon sorg soos wat sy nogsteeds doen as dit nie vir jou was nie.
Ek het nog tussen jou en my ma geloop sodat julle nie kon hande vashou nie, later het ek klip hard in jou kar gesing oppad skool toe.
Met al die duisend goed van toe tot nou, waar ek en jy op die stoep sit en die wêreld se probleme oplos met idees oor wêreldsieninge, politiek, mense, en nie die antwoord soek nie, maar eintlik die vraag oor wat die regte probleem in die wêreld is.
Waar al jou argumente eintlik altyd uit liefde en empatie bestaan, en jy altyd die massas verdedig wat nie hulle self kan verdedig nie.
Al jou maniertjies en goetertjies wat jou eintlik vir my Abel maak, wat al die mense wat jou filosofie en akademiese en sielskennis waardeer, nie eers van weet nie, is wat ek die meeste gaan mis in die huis.
Jy wat altyd skelm een of ander “sweet” eet.
Jy wat altyd n nuwe ietsie koop.
Jy wat altyd die neute bak vol maak, en wel op eet.
Jy wat altyd die verkeerde lirieke van n liedjie sing.
Jy wat altyd aspris iets verkeerd sê en wag dat ek of my ma jou korrigeer, en dan giggel jy.
Jy met jou snaakse stories en dat jy altyd die “punchline” van n grappie vergeet.
Jy met jou pap broek, uitgerekte trui en aardige skoene.
Jy wat dieselfde denim vir dae lank dra totdat my ma met jou raas.
Jy wat met my en ma raas omdat ons die koffie te veel klits.
Jy wat vir my ma sê dat ek die sjokolade geëet het, dan was dit eintlik jy.
Jy wat sê my ma drink soveel koffie dat sy deur liters melk gaan, maar eintlik is dit jy wat net melk koffie drink.
Jy wat omtrent elke aand kos op Neo se rug mors.
Jy wat altyd die voëltjies kos gee.
Jy met jou sigaar en whiskey.
Jy met jou motorfiets.
Jy wat die inkopies in jou baadjie bêre as jy met die motorfiets winkel toe was.
Jy wat altyd n nuwe boek koop om in te skryf.
Jy wat my altyd spot omdat ek my kos weeg, en dan eet ek “sweets”.
Jy , wat n pa vir my is, asook my vriend, en my mentor en rots.
Tog is dit ook net die Abel wat ek geskep het.
Jy is nie wie enige iemand dink jy is nie.
Jy is ook nie die denker of die filosoof nie.
Jy is net.
Jy sal altyd net wees.
Vir wie gaan ek nou my nuwe klere aanpas, of vra of my skoene by my uitrusting pas?
Met wie gaan ek nou argumenteer – asof ek n beter “job” sou doen as ek president was, of al die reëls gemaak het?
Saam met wie gaan ek lag oor die donker grappies en sarkasme en mense wat dink hulle weet meer as wat hulle eintlik doen?
Saam met my ma – want julle het saam geleef in Harmonie, mekaar aangevoel asof julle een is. Julle is deel van mekaar, en jy sal altyd in haar leef en sy in jou.
Net soos wat jy altyd in my sal leef.
Jy het altyd gesê n mens sterf twee keer, die eerste keer as jou liggaam sterf, en die tweede keer as iemand vir die laaste keer jou naam sê.
So het jy jou eie hemel en “ewige lewe” geskep met dit wat jy nagelaat het – diep, diep woorde en spore in duisende mense lewens.
Soos wat jy altyd vir my gesê het: Ag Janétjie, dis nie so erg nie en dit sal ook verby gaan, alles wat kom, sal ook gaan.
Daar is nog te veel goed waarvoor ek jou kort –
Gelukkig verstaan ons mekaar, en jy het genoeg agter gelos vir my en my ma om sterk te wees – saam.
Ek belowe ek sal mooi na my mamma kyk.
Ek sal haar altyd hanteer soos wat jy het – Jou prinses, Jou Zellie, Jou sexy vroutjie.
Jané
…
’n Kaalkop man sit op sy stoep en teug aan sy whisky. Hy sit in stilte voor die geraas van die lewe aankom. Hy trek stadig aan sy sigaar en loer na sy regterkant. Dis weer André. Hy weet wat ek wil hê, want langsaan, in sy erf is sy braaivuur al aan die gang. “Gee vir my dan braai ek vir julle” sê hy. Sonder om te aarsel, vat hy die vleis by my en maak net ‘n vinnige grappie om my op my plek te sit. So het dit byna elke dag in die week gegaan…iets word altyd oor die muur aangegee of gesê.
Elke middag 4uur sit Abel op sy eie en neem die lewe in, en in daai oomblik het hy die beste raad vir ons almal gegee. WEES IN DIE NOU, IN STILTE.
Ek mis my vriend, Guru en buurman. Hy het die grootste inpak op my lewe gemaak het. ’n pa wat ek altyd wou hê!
Abel, jou bydra tot my mensewees, kan nie omgesit word in woorde nie!
Andre Velts
…
Ek is so bly dat ek die geleentheid kry om te kan sê wat ek sooo graag vir Abel wou sê, maar toe nie die geleentheid gehad het nie.
Ai, Abel! Waarvoor ek vir altyd dankbaar is, en sal wees, tot sekerlik die dag van my dood is die Tao wat hy vertaal het. Ek put elke liewe dag inspirasie uit daardie wonderlike geskrif. Dit is my anker en rigtingwyser. En Abel, jy het daardie deur vir my oopgemaak. Ewigheidswaarde!
Liefde,
Rienie
…
Abel
It is not often that someone comes along who is a true friend and a mentor. Someone who has found his own way in life. His own way to cope with the ups and downs of life. His own way to cope with failure and his own way to cope with success. Someone who is unassuming and kind-hearted. Abel you were all of these. Thank you for sharing your thoughts, talents and life with Petra and me. You always called me “Dad”, and you were like a son to me. Your absence has left a great void in my life.
Ivan Horak (Dad)
…
“Abel was vir my ‘n vriend en ‘n steunpilaar en het in ‘n tyd van krisis vir my die weg gewys na ‘n veilige hawe waar ek berusting kon vind en veilig voel. Sy boodskappe was altyd ‘n inspirasie en motivering vir my. Hy was ‘n liefdevolle mens en het sy lewe gewy aan sy medemens.”
Martelle Steyn
…
“He was a guiding light in my tumultuous life. I wish I had listened to him earlier because it would have saved me earlier.”
Wat ek van Abel onthou is sy kalmte wat hy is. Hy het die lewe so maklik laat lyk.
Dirk Lombaard
…
7 Jaar was jy daar om jou kennis en wysheid te deel met my sodat ek daardie kennis kon gebruik en die vaardighede aan te leer om my hart weer heel te maak…
Kan so goed onthou met ons ontmoetings in 2016 waar jy telke male vir my gesê het “Veronica” jy weet mos wat om te doen en as jy nie die les gaan leer nie gaan jy net weer pyn verduur. So het ek uiteindelik die lesse geleer, na baie pyn (lol!)
Soos wat ek nou hier skryf, met trane in my oë en knop in my keel, mis ek my wyse man, my raadgewer.
Ek sal jou nog gereeld in my kop hoor praat.
Jy het altyd tyd gemaak, nooit geoordeel nie, net geluister en maar net weer raad gegee.
Jy het my geleer om asem te haal..
Jy het my geleer om geduldig te wees (het jy geduld om te wag dat die modder in ‘n modderpoel af sak en die water helder word), te wag en nie oorhaastig te wees, glo my dit was nie maklik nie maar het my nou al baie konflik en hartseer gespaar.
Jy het my geleer om te “Leef in die Oomblik” Hier en nou! Vereers was dit moeilik, en met tyd het dit makliker geword. “Taste the orange” 😊
Jy het my geleer om te laat gaan, dit wat ek nie kan verander nie;
Jy het my geleer dat die lewe gebeur, maak nie saak wat nie, so ons kan maar net die kleur van ons Surf Board kies en daai golf ry! Leef voluit! Asof dit jou laaste dag is.
Jy het my geleer om nie in my eie storie vasgevang te word nie, om ‘n gedagte te laat gaan en nie daar te begin lewe nie en verlore raak.
Jy het my geleer om myself te vra wat is my Waarheid, omdat my waarheid kan verskil met iemand anders . Klou vas aan jou waardheid;
Jy het my geleer dat mense se onredelike optrede (hardheid) niks met my te make het nie maar dat dit daardie persoon se eie hartseer en negatiwiteit is, glo my die een was seker die moeilikste vaardigheid en het ek baie met myself geworstel en gepraat totdat ek dit kon bemeester.
Daar is te min woorde om my dankbaarheid uit te spreek teenoor Zelda dat sy einde 2014 my aan jou voorgestel het en dat ek die voorreg gehad het om ‘n pad met jou te kan stap om my ‘n beter, gelukkiger mens te maak.
Baie dankie Abel, My hart is heel.
Mis jou
Veronica Visser
…
Abel was my beste vriend. Hy het geweet hoe om werklik te luister. Ek mis hom baie.
Cecile Kotze
…
Hoe verduidelik mens in woorde wat ’n persoon op soveel vlakke vir jou beteken het? Hy was nie net my mentor nie, maar ook my buurman en ’n vriend. ’n Buurman wat enige iets vir jou sou doen (al is dit net ’n soetigheidjie vir my op die muur te los) en mentor wat my altyd wou laat groei het op ’n menslike, maar ook geestelike manier.
Abel se rustigheid, wysheid en liefde het my altyd laat veilig voel. My gelos om self my pad te vind, maar genoeg leiding gegee om op my voete te bly. Sy lewe het gespreek van wat sy oortuigings was en sy hart het die liefde uit gestraal vir wat vir hom belangrik was.
Abel was vir my vastigheid, goedheid en ’n lig in hierdie deur mekaar chaostiese lewe.
Jy word so baie gemis!
Liefde
Juanita Veltz
…
Ek sal van Abel altyd sy gemaklikheid met mense onthou en ook met my as Christen. Alhoewel ons drasties verskil het, het hy my standpunte altyd ernstig opgeneem en my laat voel hy luister. Respek was vir hom baie belangrik. Ek bet dit altyd waardeer.
Ek het ook altyd gevoel dat hy die beste wou vir my werk en bediening in Oosterlig gemeente. Wanneer ek en hy ‘n gesprek gehad het op my podcast het hy altyd bemoedigend gereageer na die tyd en goeie voorstelle gehad oor hoe ek my eie werk nog beter kan doen.
Abel was my vriend en ek sal hom altyd so onthou.
Roedolf
…