Ek verstaan spiritualiteit as ‘n reis en nie ‘n bestemming nie.

Daarom is dit vir my so belangrik om ‘n lewe van verwondering, eerbied en nederigheid voor die groot en onpeilbare Geheim wat ons die goddelike noem, te probeer leef.

Dit is nie moontlik om hierdie goddelike in enige vaste mense-woorde of formules vas te vat nie. Dit waarna vers 1 van die Tao Te Ching verwys met:

Die Tao wat beskryf kan word,
is nie die Ewige Tao nie.
Die Naam wat genoem kan word,
is nie die Ewige Naam nie.

“Die Ewige is onnoembaar…” gaan die vers verder. ‘n Tydige waarskuwing, want die oomblik wat mense met sekerheid en vanuit vaste leerstellings oor die goddelike praat, word die goddelike ‘n afgod. ‘n Beperkte, mens-geskepte idee.

Dit is ongelukkig wat gebeur wanneer ons met sogenaamde vaste waarhede werk. Ja, dit is lekker om met sekerheid te leef. Natuurlik is daarmee niks fout nie, die probleem kom net in wanneer die pendulum heeltyd swaai tussen onseker en seker. Hierdie pendulum staan nooit stil nie. Want alles verander, skuif, pas aan en beweeg heeltyd.

Daarom is sekerheid so gevaarlik, want dit kan jou verblind vir die realiteit reg voor jou oë. Kyk nou maar net wat gebeur het met die Amerikaanse verkiesing. Meeste kenners het weens hulle sekerhede nie gesien hoe verdeel en verskeurd die bevolking werklik is nie.

Sekerheid is nooit vas nie. Net soos die seisoene wissel dit met reëlmaat tussen tye van sekerheid en tye van onsekerheid. ‘n Gedurige wisselwerking, waarvan die Amerikaanse skrywer Zora Neale Hurston skryf: “There are years that ask questions and years that answer.” Ook in godsdiens-geskrifte lees ons van hierdie beweging. By die Christene leer ons (Prediker 3): “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans…”

By die Boeddhiste leer ons dat die lewe soos ‘n rivier is. Boeddha beskryf dit so: “The river of yesterday is not the same as the river of today. The river of this moment is not going to be the same as the river of the next moment. So does life. It changes continuously, becomes something or the other from moment to moment.”

Hierdie konstante vloei stop nooit nie. Enigiemand wat dus baklei teen hierdie vloei (‘n vloei wat natuurlik onsekerheid impliseer) is besig om teen die lewe self te baklei. As jy dit ignoreer of selfs probeer ontken, stel jy jouself oop vir baie hartseer. En hieruit vloei depressie en gevoelens van hopeloosheid en angs. En geen godsdiens, filosofie of pilletjie sal jou van hierdie realiteit kan red nie.

Miskien is dit juis mense se onvermoë om met verandering sinvol saam te leef wat hulle so angstig maak. Wysheid is om te besef die beweging tussen seker en onseker sal altyd daar wees, sal ook altyd deel uitmaak van ons lewens. Dit is juis die spanning tussen die twee uiterstes wat beweging moontlik maak.

Daarom, wees baie versigtig vir enigiets of -iemand wat ewige sekerhede bring. Is dit nie maar wat Karl Marx bedoel het met, godsdiens is die opium vir die volk nie? Want net soos opium ‘n dwelm is, is politiek en godsdienste se sekerheids-antwoorde ‘n dwelm vir die massas. Dit probeer die spanning tussen sekerheid en onsekerheid oplos. En niks kan dit ooit vir lank doen nie.

Die geheim van ‘n lewe van ware vryheid en innerlike vrede, is ironies genoeg, om bewustelik te beweeg in die rigting van aanvaarding van die spanning tussen onsekerheid en sekerheid. Ek sê ironies, juis omdat dit op die oppervlak lyk asof dit meer spanning en onvrede gaan bring. Maar die teendeel is juis waar, soos John Allen Paulos dit stel: “Uncertainty is the only certainty there is, and knowing how to live with insecurity is the only security.”

Die mense wat die spanningsveld tussen sekerheid en onsekerheid kan omhels is dan ook, deur die geskiedenis van die mensdom heen, dié wat met nuwe planne, kreatiewe oplossings en energieke lewens na vore gekom het. R.I. Fitzhenry stel dit so: “Uncertainty and mystery are energies of life. Don’t let them scare you unduly, for they keep boredom at bay and spark creativity.”

‘n Sinvolle manier om te leef lê juis daarom in die aanvaarding van die spanning wat heers. Om te kan aanvaar dat die spanning tussen die twee, die einste energie is wat my, jou, die wêreld en die kosmos aan die beweeg hou.

Daarom stem ek heelhartig saam met Nathaniel Branden as hy sê: “The first step toward change is awareness. The second step is acceptance.” Want vanuit aanvaarding word die kreatiewe energie binne ons wakker om te kan skep. En met aanvaarding verwys ek nie na ‘n passiewe of hopelose boedel-oorgee houding nie. Nee, ek verwys eerder na dit waarna Paul Tournier verwys: “Acceptance of one’s life has nothing to do with resignation; it does not mean running away from the struggle. On the contrary, it means accepting it as it comes, with all the handicaps of heredity, of suffering, of psychological complexes and injustices.”

Dink maar net hoeveel meer krag jy sou hê indien jy jou energie kon fokus op die hier en nou, in plaas van heeltyd bekommerd wees oor dit wat kon of selfs moes wees. Om dit wat is, te aanvaar en vandaar jou beste gee.

En hiermee saam jou oë weer oop te maak vir die skoonheid, geskenke en beloftes wat reeds in jou reis opgesluit lê.