“There is neither East nor West, Border, nor breed, nor Birth. When two strong men stand face to face, though they come from the ends of the earth!” – Rudyard Kipling (1865-1936).

‘n Paar weke gelde het ek geskrywe oor Jesus en Boeddha. Dit het heelwat mense ontstel. Hulle het gevoel dat ek twee onversoenbare godsdienstige figure langs mekaar probeer indwing.

Dit het my net weer laat besef hoe beperk meeste mense se kennis van ander godsdienstige tradisies is. Meeste mense dink, leef en beweeg met oogklappe net binne hulle eie geloofstradisie en beskou enige ander gelowe as óf verlore siele óf aanbidders van afgode. Maar is dit regtig so? Is dit regtig so dat enige godsdiens tradisie nog kan dink hulle oortuigings en geloof het binne ‘n vakuum ontstaan? Is dit nie so dat alles wat is, maar deur ‘n proses van ewolusie voort beweeg nie?

Dit geld veral vir godsdienstige idees en filosofieë. Alle godsdienstige tradisies bestaan maar uit oor en weer uitruilings en wedersydse beïnvloedings. Geen een is uniek en los van enige ander liggaam van kennis en belewenisse nie. Kom ek illustreer hierdie stelling van my deur Jesus en Boeddha se ooreenkomste uit te wys.

Hoekom spesifiek die twee? Wel aan die een kant omdat ek myself binne beide tradisies tuis vind en daarom iets van albei verstaan, en andersyds omdat die twee seker die twee grootste godsdienstige figure in die wêreld is.

Marcus Borg, ‘n Christen teologiese professor van die Universiteit van Oxford, het juis op ‘n keer oor Boeddha en Jesus gesê: “I think that if the Buddha and Jesus were to meet, neither would try to convert the other – not because they would regard such an effort as hopeless, but because they would recognize one another.” Hierby sluit Jack Kornfield, ‘n Amerikaanse Boeddhis en kenner van spesifiek die Theravada Boeddhisme, aan met: “When we listen deeply to their words, we find that in many ways, they speak with one heart.”

Die ooreenkomste tussen die Boeddha (563vC tot 400vC) en Jesus (ongeveer 4vC tot 30nC) is werklik groot. Natuurlik is daar ook verskille, maar dit word volgens my oorskadu deur die ooreenkomste.

Veral as jy in ag neem dat die twee ongeveer vyfhonderd jaar uitmekaar geleef het, in uiteenlopende kulture, omtrent vyfduisend kilometer verwyder van mekaar.

Eerstens, is dit opmerklik hoeveel ooreenkomste daar is in dit wat hulle, hul volgelinge geleer het. Beide in hulle spesifieke lerings (byvoorbeeld, om jou vyand liefde te hê) en ook in hulle algemene lering (byvoorbeeld, die klem op omgee en deernis vir jou medemens).

Tweedens, beide Boeddha en Jesus het naby aan hulle dertigste verjaarsdag, lewens-veranderende ondervindings gehad. Hiermee saam het beide van hulle deur ‘n diep suiweringstyd gegaan; Boeddha het na ‘n ses jaar spirituele reis in die wildernis, onder ‘n boom sy verligting beleef en Jesus het weer in die woestyn-wildernis sy verligting en roeping gevind. Hierna het beide van hulle met hulle openbare optredes begin.

Derdens, het albei vanuit hulle geloofstradisies waarin hulle opgegroei het, nuwe bewegings begin. Boeddha was ‘n Hindoe en het dit herinterpreteer en Jesus was ‘n Jood wat die Judaïsme herinterpreteer het. Tog interessant, het nie een van die twee hulself ooit gesien as stigters van nuwe godsdienste nie.

Vierdens, beide is deur die mites wat rondom hulle ontstaan het beskou as heilig, selfs as God geïnkarneer. Daar is vele mitologiese voorbeelde waar hulle bonatuurlik voorstel word.

Die Jesus verhaal is dalk meer bekend aan ons hier in die weste. Jesus se volgelinge het ‘n dekade na sy dood ‘n hupstoot gekry toe daar by die Konsilie van Nisea (saamgeroep deur Keiser Konstantyn) aan Jesus ‘n statusverhoging gegee is; van Joodse leermeester tot ‘n fisiese inkarnasie van God.

Boeddha se storie is wel nie so bekend by ons Westerlinge nie, maar dit is wel ‘n baie bekende storie in die Ooste – ‘n storie wat honderde jare voor dié van Jesus al bestaan het. Daar is juis heelwat teorieë wat beweer dat Jesus dalk beïnvloed was deur Boeddha se idees. “The moral teachings of Buddha,” skryf Burnett Streeter van die Universiteit van Oxford, “has a remarkable resemblance to the Sermon on the Mount.”

En nes Jesus, is daar ook vertel dat die Boeddha deur bonatuurlike bevrugting en maagdelike geboorte in die lewe gekom het. Hy word ook beskou as ‘n inkarnasie van God in mense vorm.

Jack Kornfield beskryf die ooreenkomste in hulle geboorte stories soos volg: “In the Gospel of Luke, the Angel Gabriel acts as God’s messenger, proclaiming that Mary will bear a child ‘who will be called the Son of the Most High.’ Buddha’s birth, according to the second-century-B.C. Digha Nikaya, is attended by devas who say to Queen Maya, ‘Rejoice, a mighty son has been born to you.”

Siddhartha Gautama – die historiese Boeddha – was beskou as die manifestasie van die kosmiese Boeddha hier op aarde. En in sommige Boeddhistiese tekste word hy selfs as “The God of gods” beskryf.

Natuurlik is dit hoogs onwaarskynlik dat Boeddha of Jesus hulle self sou herken in die mitologiese taal wat gebruik word om hulle te beskryf. Om die waarheid te sê het beide van hulle dit ten sterkste ontken dat hulle God is.

In die evangelies is daar selfs ‘n plek waar Jesus beswaar maak wanneer hy as “goed” beskrywe word, wat nog te sê van heilig. Dieselfde word ook van Boeddha vertel.

Natuurlik verstaan ek heeltemal hoekom daar sulke verheerlikingstaal rondom Boeddha en Jesus ontstaan het. Mense is nou maar eenmaal so, hulle wil die wat ‘n impak op hulle lewens het, verheerlik, selfs vergoddelik. Kyk maar wat gebeur het met Mahatma Gandhi en nou met ons eie Madiba.

Alhoewel daar heelwat parallelle is, wil ek een spesifiek uitlig. Vir my, die mees opvallendste een. En dit is die feit dat beide Boeddha en Jesus wysheids-leermeesters was. En met wysheid verwys ek na dit wat meer is as net morele en etiese waarhede.

Ja verseker sluit dit morele en etiese waarhede ook in, maar wysheid is veel meer. Marcus Borg omskryf wysheid as: “Wisdom is not just about moral behaviour, but about the ‘center,’ the place from which moral perception and moral behaviour flow.”

En Boeddha en Jesus was albei leermeesters van hierdie dieper wysheid.

‘n Wysheid wat die konvensionele insigte van hulle tyd natuurlik radikaal uitgedaag het. Seker daarom dat hulle beide nie baie gewild was onder die heersende godsdienstige en morele leiers van hulle tyd nie.

Boeddha en Jesus het byvoorbeeld albei gepraat van ‘n nuwe weg of pad, ‘n alternatiewe manier van leef. Boeddha se vier “noble truths” eindig juis in so ‘n beskrywende ‘agtvoudige weg of pad’.

Net so, praat Jesus ook die heeltyd van die ‘weg’. Dink maar aan die Nuwe Testamentiese boek, Handelinge, waarin Jesus se nuwe beweging aanvanklik genoem was, ‘Mense van die Weg’. Ook in die Johannes evangelie word Jesus beskrywe as die inkarnasie van die ‘weg,’ “Ek is die weg en die waarheid…”

En as Boeddha en Jesus oor die ‘weg’ praat, kom dit in essensie op dieselfde neer. Om die waarheid te sê was meeste van Jesus se vertellings en gelykenisse, sowel as Boeddha se lerings gefokus daarop om die hoorders uit te nooi tot ‘n nuwe manier van sien.

Kyk maar net hoe sentraal die tema van sien (teenoor blind wees), ook genoem bekering en wakker word, by hulle was.

Ek meen die boodskap van ‘verligting’ en ‘wakker word’ gaan presies hieroor. Want dit is wat verligting (enlightenment) eintlik beteken; om anders te sien.

En by beide Boeddha en Jesus was daar ook die fokus om hulle volgelinge te help om ‘n innerlike transformasie te ondergaan – om op ‘n nuwe manier die lewe en ander te sien en sodoende anders te begin leef. Dink maar net aan die bekende woorde van die Christelike gesang: “Ek was eens blind gewees, maar nou kan ek sien…”

In die tweede plek, gaan beide se nuwe weg oor ‘n proses van ‘los maak’ en ‘laat gaan’ van die ego gehegtheid of ‘inkoop’ (attachment) op die tydelikheid van die lewe.

Volgens Boeddha is hierdie gehegtheid die hoofoorsaak van enige lyding.

En die weg van ‘laat gaan’ (letting go) kom neer op bevryding en innerlike vrede. En alhoewel Jesus nie soos Boeddha ‘n sistematiese ‘noble truths’ uitgewerk het nie, kom daar wel ‘n deurlopende tema van ‘laat gaan’ in al sy leerings na vore.

“The Gnostic Christ (and the historical Jesus), like the Buddha taught that all material things are impermanent – whether they be riches, or one’s own body. Attachment to that which is impermanent causes suffering. Give up attachment and suffering ceases,” skryf die Amerikaanse teoloog Richard Hooper hieroor.

Dink maar aan Jesus se woorde in die Nuwe Testament (Matt. 19:21) “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

Beide Boeddha en Jesus het sterk gevoel dat op hierdie nuwe weg, die ego moet sterf sodat die ware self kan opstaan. By Jesus is die tema ‘neem jou kruis op’ of ‘sterf’ en by Boeddha is die tema ‘leeg word van begeertes’ of ‘laat gaan’.

Dus is die Boeddhistiese ‘laat gaan’ en die Christelike ‘sterf’ dieselfde beskrywing vir die weg tot bevryding. Marcus Borg omskryf dit so: “This ‘letting go’ is liberation from an old way of being and resurrection into a new way of being. There is thus a Buddhist ‘born again’ experience as well as a Christian ‘liberation through enlightenment’ experience.”

Derdens, is die uitkoms of resultate vir die wat hierdie nuwe weg bewandel dieselfde. In beide gevalle transformeer die weg jou innerlike ingesteldheid teenoor jou mede mens en mede lewensvorme. Jy word Iemand met groter deernis (compassion).

In Boeddhisme word so ‘n nuwe mens ‘n bodhisattva (rofweg vertaal, ‘n heilige) genoem. In die Christendom sou St. Franciscus van Assisi so ‘n bodhisattva se visie omskryf as: “‘n Instrument van vrede. Iemand wat waar daar haat is, liefde bring. En waar daar onreg is, vergifnis…”

Dus is in beide die Boeddhisme en die Christendom die toets vir ware vernuwing of verligting, dit wat in die Bybel (Matteus 7:16) genoem word: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken…” En die vrugte? Die bewys van ‘n bodhisattva?

Natuurlik die bekende Galasiërs 5 vers 22; “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid…” Beide Boeddha en Jesus sou hiermee gelukkig gevoel het.

Die weg bring dus ‘n spirituele transformasie by die een wat dit bewandel, en wat dit bring is ‘n hart vol deernis vir ander. Marcus Borg skrywe dan ook dat dit presies is wat die weg vir Christene is: “Paul’s word for compassion is love, and he spoke of love as the primary fruit of the Spirit and the greatest of the spiritual gifts.”

Dus sou ‘n mens kon sê dat beide Boeddhiste en Christene se hoogste strewe is om bodhisattvas te word. Ja, ten spyte van die verskillende simboliese en kulturele taal kom die leering van Boeddha en Jesus op dieselfde neer.

Daarom as Jesus sê, doen aan ander soos jy graag wil hê hulle aan jou moet doen – kom dit tog neer op wat Boeddha gesê het met, behandel ander soos jouself. En wanneer Jesus sê, gee aan die wat van jou iets vra. Klink dit vir my presies na Boeddha se woorde “…gee wanneer jy gevra word.”

So, miskien is Boeddha en Jesus tog sielsgenote, broers. En dalk kan ons hulle beter verstaan as ons hulle albei beter verstaan. En dalk is die Zen leermeester Thich Nath Hanh in die kol as hy skryf in sy briljante boek, Living Buddha, Living Christ: “I touch both of them as my spiritual ancestors.”

Ek wil afsluit met die woorde van Jesus en Boeddha, woorde wat my daagliks rig en my help om eerlik die weg te bewandel. ‘n Weg waarop ek beide reisgenote nodig het.

Boeddha (Die Dhammapada): “Die Weg is nie in die hemele te vind nie; die Weg is in elkeen se hart.”

Jesus: “As iemand vir julle sê: ‘Kyk die koninkryk is in die hemel’, moet julle oppas dat die voëls nie voor julle daar is nie … nee, die koninkryk is in julle.” (Die Thomas Evangelie, vers 3.)