“Carpe Diem” beteken, gryp die dag. Dit is ‘n kragtige spreuk, dit inspireer maar ongelukkig ontstig dit ook ‘n mens.

Die ontstig deel kom in wanneer die spreuk (soos deur baie mense verstaan) geïnterpreteer word as net ‘n aansporing om elke oomblik vol te prop met onvergeetlike, hoogtepunt oomblikke. Met ander woorde jy moet soveel moontlike plekke sien, soveel moontlike verskillende avonture beleef, elke oomblik gevul met passie en oorgawe.

Ook bekend as die “Bucket-list sindroom.” Dink maar net aan die hoë definisie advertensies met mooi eilande, en slagspreuke soos “maak elke dag naweek!” “Leef jou drome waar!” Alles gefokus op dit wat jy nog moet doen en sien voor jou lewe om is.

Maar is dit realisties, moontlik en selfs gesond om so ‘n hoogtepunt-lewe na te jaag? ‘n Lewe wat net gevul is met wonderlike helder oomblikke maar nie die donker hartseer en pynvolle oomblikke (wat ‘n gegewe is) in ag neem nie.

Letterlik die dans tussen gesond en siek, plesier en pyn, sukses en mislukking, vreugde, verlies, vrede, oorlog ens.

Iets van wat ek in ‘n gedig van my probeer verwoord het:

wees geduldig met kinders
respekvol teenoor gryses
sag teenoor verloorders
en verdraagsaam teenoor wenners
want in jou lewe sal jy een van elk wees

Dit is tog ‘n realiteit dat in hierdie lewe daar lig en donker tye sal wees. Daarom is dit onrealisties om nie die op en af ritme van die menslike bestaan te erken nie.

Dink maar net aan die wat in armoede leef en sukkel om elke dag te oorleef? Of mense wat vasgevang sit in die greep van ‘n burgeroorlog. Is dit regtig moontlik om dan elke oomblik vol te kan prop met intensiteit en passie?

Of is dit net moontlik in flieks, romanse en selfhelpboeke? En die wat nog rondreis en wegbreek vakansies kan bekostig?

En al is daar genoeg geld, sekuriteit en sukses, sal iemand wat so probeer leef, nie in elke geval vinnig uitbrand nie? Dink maar aan die suksesvolles en rykes onder ons, mense wat alles het, alles kan doen en tog nie gelukkig of vervuld is nie.

Presies waarna die Amerikaanse akteur Jim Carrey verwys: “I think everybody should get rich and famous and do everything they ever dreamed of so they can see that it’s not the answer.”

Wat sê die Ware Wyses en wysheidsleermeesters hieroor? Een so ‘n Wyse is aan die woord in die Bybelboek, Prediker 3. (Die boek is geskrywe as ‘n wysheidteks en in hoofstuk 3 sê die skrywer die lewe het ‘n vaste ritme.)

“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans…”

Met ander woorde die skrywer sê dat soos die see se hooggety en laaggety ‘n gegewe natuurwet is, net so het elkeen van ons vaste op ritmes en af ritmes.

Geen mens kan dit vryspring nie, dit is deel van menswees, deel van hier wees, sê Prediker. Is hy reg?

Wel kom ons ondersoek dit saam.

Die feit van die saak is wel dat ons nooit op een plek vashaak nie – ons is die heeltyd besig om te verander. Alles is. Selfs ons emosies bly nooit vas en konstant nie. Na ‘n op emosie volg ‘n af emosie, soms nie so sigbaar direk na mekaar nie, dit kan soms dae vat maar dat dit gebeur is wel ‘n feit.

Om elke dag te gryp sal dus uiteraard wonderlike oomblikke en geleenthede beteken maar ook hartseer en donker tye, geen mens kan net op die bergpieke leef nie. Ons almal moet ook deur die vallei-tye gaan.

So as ek en jy Prediker se beskouing aanvaar, moet ons dalk herdefinieer wat ons bedoel met ‘vol lewe’, nie waar nie?

Miskien beteken Carpe Diem nie soos dit vandag bedoel word, ‘Jaag die op-oomblikke na nie’, maar eerder dat wat is, aanvaar en erken moet word.

Dit is Wysheid! Hierby sluit nog ‘n Wyse, Lao Tzu in Tao Te Ching 29 aan met:

Daar is ‘n tyd om voor te loop,
‘n tyd om agter te loop;
net soos jy inasem en uitasem.
‘n Tyd vir werk, ‘n tyd vir rus;
‘n tyd om sterk te wees, ‘n tyd om swak te wees;
‘n tyd vir saamwees, ‘n tyd vir alleenwees.

Die Ware Wyse sien dinge soos wat dit is,
sonder om dit te probeer verander of beheer.
Sy laat dinge soos dit is,
terwyl sy in die middel van die sirkel rus.

Sy laat dinge soos dit is. Dit beteken dat aanvaarding is die eerste stap na ‘n vol lewe of dan ‘n Carpe Diem lewe. Dus nie net die beste probeer maak nie, want dit impliseer dat jy weer begin jaag na ‘n beter oomblik en nie die Nou met sy pyn en plesier, reg voor jou aanvaar nie. Want dan kan jy die rykdom van hierdie oomblik se les mis.

Maar aanvaarding beteken ook nie om in die slegte oomblikke vas te val nie. Aanvaarding is nie ontkenning of onderdrukking nie, ook nie vermyding of ontvlugting nie.

Aanvaarding is om vrede te maak met wat is. Of dit pyn of plesier is. Om die realiteit in die oë te kyk sonder om weg te vlug. Om nie pyn te probeer vermy en plesier te soek nie … Want slegs dan kan jy dit wat jou voor jou vind transformeer.

Eers wanneer jy vrede gemaak het met jou lewe en jouself kan jy werklik ‘n verskil maak. Sekerlik waarna Alfred D’Souza probeer wys het met:

“For a long time it had seemed to me that life was about to begin – real life. But there was always some unfinished task, time still to be served, a debt to be paid. Then life would begin. At last it dawned on me that these obstacles were my life.”

Carpe Diem beteken dus vir my, leef so eerlik, braaf en wakker, as wat moontlik is. Kyk die lewe, die oomblik en die gegewe situasie reguit in die oë, sonder om weg te kyk.

net die wat wakker is
staan op heilige grond