Wat moet jy doen as jy vir Boeddha of Jesus iewers sou raakloop? Wel, maak hulle dadelik dood.
Hierdie uitspraak kry ek by die Zen meester Lin-ji. Wanneer jy uiteindelik oor die skok is van hierdie uitspraak, kyk bietjie dieper na die betekenis van sy woorde.
Hiermee bedoel hy dat ‘n mens moet versigtig wees vir enigiemand wat vir jou antwoorde en redding belowe. Want niemand kan jou red nie, net jy self kan dit doen. En ja, daar is baie sogenaamde leermeesters wat met beloftes van redding en finale antwoorde te koop loop. Wat hulle self voordoen as hedendaagse Jesus’se of Boeddhas of een of ander verlosser.
Die hartseer werklikheid is egter, dat die oomblik wat jy jou vertroue op so ‘n iemand, oplossing, idee, ideologie, godsdiens plaas, jy daarmee saam ook jou vryheid en kreatiwiteit verloor.
Jy verstil daarmee jou eie stem en word afhanklik en ‘n slaaf van iets of iemand anders se antwoorde, wil en waarheid.
‘n Psigoterapeut, Sheldon B. Kopp, het die volgende oor bogenoemde uitspraak geskrywe: “No meaning that comes from outside of ourselves is real. The Buddhahood or Christhood of each of us has already been obtained. We need only recognize it. Thus, the Zen Master warns his disciple to kill the Buddha, if he meets him.”
Ongelukkig is daar altyd mense wat hulle self so probeer aanbied as die antwoord. En dan daardeur tot nadeel van hulle volgelinge hulleself verryk, materieel en emosioneel. Want so skep hulle dan die illusie dat sonder hulle waarheid, goedkeuring of raad, mense verlore sal wees. Terwyl die eintlike waarheid is, dat jy niemand nodig het om lewensin en lewensvreugde te vind nie.
Hierteenoor is ‘n goeie leermeester van onskatbare waarde.
Maar so ‘n leermeester sal slegs van waarde wees as jy werklik besef dat hy jou nie kan red nie. Hy is slegs ‘n rigtingwyser.
‘n Mooi Boeddhistiese waarheid som dit op, “When the student is ready, the teacher will appear.” Want die realiteit van die saak is dat meeste van ons blind is vir ons ego se misleiding. En daarom is iemand wat dit kan uitwys van onskatbare waarde.
Gelukkig is daar wel wyse leermeesters te vind. Jy kan hulle gewoonlik herken aan hulle egoloosheid. Hulle is glad nie vatbaar vir vleitaal of ego-streling nie.
Ek onthou so goed, die dag toe ek na ‘n lang meditasie sessie, baie trots by die Zen leermeester my visioene en goddelike insigte gaan verklaar het. Hy het geduldig na my geluister en sonder enige emosie vir my gesê: “I see… now remember to return to your breathing.” En daarmee het hy my spirituele ego ontmasker en ek is bevry en kon verder groei.
Dit is die rol van ‘n goeie leermeester. Want sonder so ‘n hulp verval ons maklik binne ‘n eindelose misleidende binne-gesprek. Seker daarom dat Eckhart Tolle daarna verwys as: “The human condition: Lost in thought.”
In isolasie van die afgesonderde ‘ek’ is daar meestal ‘n doellose sirkelgesprek in ‘n poging om self ‘n oplossing te vind. Die Romeinse keiser en filosoof Marcus Aurelius Antonius (121-179 nC) het gesê dat wanneer mense hulself soek, maak hulle gewoonlik die fout om hulself af te sonder iewers op ‘n stil plekkie by die see of in die berge. Hy sê: “Dit is tog so onsinnig, want jy kan tog enige tyd toevlug neem in jouself.”
Lao Tzu stem hiermee saam wanneer hy, eeue terug reeds, gesê het: “Om ander te ken is slim; om jouself te ken is wysheid. Om oor ander te heers dui op mag; om oor jouself te heers dui op krag. Eers wanneer jy besef jy het genoeg, sal jy waarlik ryk wees. Eers wanneer jy die middelruim jou tuiste maak en jou sterflikheid met jou hele hart aanvaar, sal jy waarlik vir ewig leef.”
Dit blyk dus duidelik hieruit dat ons beste leermeesters die mense is wat die helderste spieël vir ons kan op hou.
So kan ‘n goeie leermeester eintlik enigiemand wees, veral wanneer dit iemand is wat jou help om verby jou eie selfbedrog te kyk.
Om dus die Boeddha dood te maak, gaan in essensie daaroor om nie in te koop op enige idee wat ‘n absolute onveranderde waarheid buite jou verkondig nie.
Dit het die innerlike gevolg dat jy vergeet jy is genoeg. En so ontstaan vrees dat jy minder gaan word, verlies gaan beleef en dit verloor wat jy glo jou meer kan maak.
Sien jy raak dat hierdie eintlik die geboorte van ego is. En so verblind dit mense vir die feit dat hulle reeds genoeg is, reeds die waarheid het.
Daarom is ‘n wyse leermeester daardie persoon wat jou help om weer te onthou. Wat jou wakker maak vir dit wat reeds teenwoordig is. “A true teacher does not have anything to teach in the conventional sense of the word, does not have anything to give or add to you, such as new information, beliefs, or rules of conduct. The only function of such a teacher is to help you remove that which separates you from the truth of who you already are and what you already know in the depth of your being. The spiritual teacher is there to uncover and reveal to you that dimension of inner depth that is also peace,” omskryf Eckhart Tolle so ‘n leermeester.
Recent Comments