Met die evolusie van die mens het daar vyf kenmerkende gedragspatrone na vore getree. Dit is taal, die maak van gereedskap, musiek, kuns en natuurlik godsdiens. En ja, van hierdie kenmerke is ook teenwoordig in die diereryk, met die uitsondering, van godsdiens.

Godsdiens het vir seker vir die mens ‘n evolusionêre voordeel ingehou. Want godsdiens het by uitstek gehelp om mense bymekaar te groepeer. En hoewel die individu heelwat moes opoffer om aan so ‘n spesifieke groep te behoort, was die belofte aan beskerming ongetwyfeld die moeite werd.

Die ‘ons-gevoel’ wat sodoende versterk word. En dit op sy beurt hou die groep bymekaar, en hoe groter die groep hoe veiliger die lede. Omtrent soos rooibokke wat oorleef deur hulle getalle.

Kyk maar net na die Jode as voorbeeld. Ten spyte van vervolging, diaspora, inkwisisie en die Holocaust het die Jode as groep oorleef. En daarmee saam het hulle ook dit reggekry om hulle groepsidentiteit te behou.

Want godsdiens bring meer as net ooreengestemde waarheid en ‘n sosiale kontrak. Godsdiens bring veral goddelike gesag. God se wil en God se reëls. En wie wil teen God se reëls gaan? Daarvoor is die straf eenvoudig net te groot.

Reëls soos: dit is sonde om met iemand van ‘n ander geloof te trou. Die sogenaamde ‘gelowige en ongelowige mag nie aan dieselfde juk trek’ nie. Dit het die Jode ten spyte van hulle verspreiding oor die wêreld heen, as ‘n groep met taal, kultuur en gebruike, behoue laat bly.

Dink ook aan iets soos liggaamlike tekens. Tekens wat reeds van kindsbeen af aangebring word. Hier dink ek byvoorbeeld aan die besnydenis van seuns en meisies. Hiermee saam die oortuiging dat sekere klere, haarstyle en gedragsreëls nagekom moet word, as teken van deel wees en lojaliteit aan ‘n sekere groep. Kyk maar net hoe maklik is dit, tot vandag toe, om Ortodokse Jode of Moslems uit te ken.

Ook is meeste godsdienste se reëls gefokus daarop om voortplanting te bevorder. Dit gebeur deur o.a. voorbehoeding te verbied. Op dié manier bly die groep se getalle groei. Byvoorbeeld, die Islam word tans bereken as die vinnigste groeiende godsdiens juis om hierdie rede. Die geloof word dan versprei deur kinders te produseer en hulle van geboorte af te indoktrineer.

Godsdiens oortuigings word net soos moedertaal, tydens ‘n kind se vroeë ontwikkeling in sy breinnetwerk vasgelê. Die Britse evolusiebioloog, Richard Dawkins word juis daarom so kwaad as mense praat van ‘Christelike, Moslem of Joodse kindertjies.’ Jong kinders het geen geloof nie, dit word deur hulle Christelike, Moslem of Joodse ouers in die vroeë ontwikkelingsfase ingeprent – ‘n fase wanneer hulle nog besonder vatbaar daarvoor is.

Indoktrinasie op ‘n jong ouderdom is dan ook baie maklik. Dit sou die groot en langdurige impak wat die ouers se geloof op ‘n kind maak, kon verklaar. Nabootsing, wat die grondslag is vir aanleer van sosiale vaardighede, is ‘n baie effektiewe meganisme in die proses.

Daarom is dit so belangrik om te besef dat wanneer dit kom by veral godsdiens, mense uiteindelik nie veel van ‘n vrye keuse het nie. Jy dink jy kies self wat om te glo, maar wat jy doen is maar net nabootsing.

Daarom dat dit gewoonlik so ‘n intense innerlike worsteling meebring wanneer hierdie nabootsing wat in die vroeë ontwikkelingsfase begin het, verander of ontslae van geraak wil word. Die realiteit is, wanneer iemand eerlik, krities, eietyds en kreatief begin dink, word hy of sy vinnig bewus van die feit dat hulle meestal as slawe van ander se denke leef.

Soos Steve Jobs dit raak sê: “Don’t be trapped by dogma – which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”

Ware vryheid is dus in die eerste plek geleë binne die individu se vermoë om vir hom of haar self te begin dink. Daarsonder verloor hy of sy hulle vryheid en verloor ook hulle menswaardigheid.

Wanneer iemand wel oopkop, krities en denkend begin omgaan met hulle werklikheid, verloor godsdiens vinnig sy houvas. En dit is natuurlik ook deel van die voortgaande evolusie proses.