God en mens, goed en boos, Hemel en hel, siel en liggaam, bonatuurlik en natuurlik. So verdeel biljoene gelowige mense hulle verstaan van hulle realiteit in twee opponerende werklikhede. Dink byvoorbeeld aan die verdeling van ‘n natuurlike en ‘n geestelike / bonatuurlike werklikheid. Hierdie dualiteit laat godsdienstige mense daarom eerder iets buite die natuurlike soek, as binne die elke dag lewe.
Gelukkig is dit nie die enigste verstaan nie, en alhoewel baie gelowiges vandag nog in bogenoemde dualiteit vasgevang leef, is daar ook ‘n ander verstaan.
Hierdie verstaan loop deur die Romantiese mistiek van die 19de eeu. In hierdie tyd was daar ‘n agnostiese poging om die kloof tussen die mens en God te oorbrug deur ‘n teruggrype na die Oosterse verstaan van God, veral soos dit voorkom in die Taoïsme.
Hierin word God meer beskryf as ‘n tipe lewens-energie, ‘n weg wat jou ontwyk die oomblik as jy dit ‘n naam probeer gee. Iets wat is, iets naby en natuurlik. En slegs wanneer jy jouself is, volledig mens (natuurlik), volledig teenwoordig, kan jy iets daarvan beleef.
Met ander woorde, God is nie bonatuurlik of transendent nie. Nee, die goddelike is volledig aards, natuurlik en teenwoordig. Dit wat in die Thomas-evangelie so mooi verwoord word: “Die koninkryk van God is oor die hele aarde uitgesprei en tog sien mense dit nie.”
Die goddelike is dus te vind in die hier en nou, in die elke dag lewe. Die goddelike is nie in ‘n ander-wêreldse of bonatuurlike nie, dit is om op die verkeerde plek te soek. God kan nie deur sulke dualistiese denke vasgevang word nie.
Miskien is die goddelike, soos ons in die Boeddhisme en Taoïsme leer, veel nader as wat ons kan dink of beredeneer. Miskien is God veel meer as wat jou self-geskepte en beperkte dualistiese prentjies van hom of haar ooit kan wees.
‘n Idee wat algaande deur filosowe en digters geformuleer word as ‘n mistieke godheid wat nie bonatuurlik of transendent hoef te wees nie. ‘n God wat deel is van ons, binne en naby. Dalk die bron, die kern van alles. Hierdie nuwe denke is nie net deur filosowe bedink nie, nee, ook Christen teoloë soos Paul Tillich het begin argumenteer dat ‘n teïstiese (God buite ons, ‘n wese op ‘n troon) en persoonlike god ‘n gevaarlike idee is, wat sal moet sterf.
Ander filosowe en denkers het hierby aangesluit, soos Schopenhauer en Hegel, wat albei gesê het God kan dalk eerder in die mens se elke dag doen en late gevind word as in iets bonatuurliks of werklikheidsvreemd.
Klink amper soos die antieke mense se mitiese verhale wat ook maar net wou sê die goddelike is hier en naby. In een so ‘n antieke geskrif, die Thomas-evangelie, ‘n boek wat deur sommige geleerdes so vroeg as omstreeks 50 n.C. gedateer word, kom Jesus en sê die volgende: “Laat hy wat soek nie ophou soek tot hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Alles heers en rus vind.”
In die Thomas-evangelie is dit duidelik dat die weg ‘n innerlike weg is. Dus as Jesus hier sê soek, praat hy van reis na binne en dus ook binne vind. En wat sal jy binne vind?
Jou onlosmaaklike deel van Alles. Jy en God en die lewe is Een. Alles is een. Alles is in ‘n dans met mekaar. Die dans van vorm en materie, gees en vlees, yin/yang.
Dit maak vir my veel meer sin om op hierdie manier oor God en die werklikheid van die lewe te dink. Om die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie, filosofie en teologie by my verstaan te integreer en daarop te bou. Eerder as om dit ‘n opponerende en teenstrydige waarheid te maak.
En so sal ons die goddelike vandag weer kan herontdek, opnuut ervaar, en so in die klein en die groot krisisse van ons lewens weer sin vind. Vir elke mens kan dit ‘n ander vorm aan neem, iets anders wees.
En só begin ons reageer, nie op ‘n bonatuurlike, ver weg en antieke God nie, maar op dié goddelike wat elke dag binne ons koppe, verhoudings en lewe gebeur.
En kan ons die werklikheid eerliker, oper, genadiger en vryer maak. En dit laat ons God weer op ‘n nuwe manier tussen ons gebeur. En hopelik sal generasies na ons, ons idees, mites, verhale, poësie oor ons huidige verstaan van God kan gebruik om weer hulle te help, met hulle eietydse soeke.
Recent Comments