Op 10 Oktober 2012 word ‘n 14-jarige meisie van Pakistan in ‘n skoolbus op pad skool toe geskiet. Die man wat haar geskiet het is nie ‘n rower of immorele persoon nie, nee, die teendeel is eerder waar. Hy is ‘n diep gelowige man wat met sy hele wese God aanbid. Hy glo in reg en verkeerd en hy glo onwrikbaar in die voorskrifte wat hy in die woord van God kry.
Hier in Suid-Afrika is daar ‘n gelowige prediker. Hy is ‘n diep gelowige man wat met sy hele wese God aanbid. Hy glo in reg en verkeerd en hy glo onwrikbaar in die voorskrifte wat hy in die woord van God kry. Hy het nou wel niemand geskiet nie maar hy glo net soos die man van Pakistan dat God se voorskrifte baie duidelik is oor die plek van die vrou.
En wat glo hulle is hierdie voorskrifte? Wel, dat die vrou haar plek moet ken in die orde van God. Met ander woorde God het alles geskape sodat dit pas binne ‘n bepaalde orde en solank ons as mens binne hierdie orde beweeg sal God nie vir ons kwaad word nie en sal Hy ons uiteindelik seën.
Die orde lyk soos volg: die man is net ‘n klein bietjie minder as die engele (soos onder meer gevind kan word in die Bybel, Hebreërs 2 vers 7) en die vrou is vanuit die man gemaak (Genesis 2 vers 22). Daarom moet vroue besef dat hulle deur God as ‘n mindere wese geskape is en dus vanselfsprekend tot onderdanigheid aan die man moet leef. Deur hulle onderdanigheid eer hulle dan vir God en Sy skeppingsplan.
En as jy gedink het net hierdie twee diep gelowige mans verstaan dit so, is jy ver verkeerd. Baie diep gelowige vroue in Pakistan sowel as hier in Suid-Afrika glo dit ook as absolute waarheid. Hoor hoe skryf Ina de Klerk, deel van die groep Susters vir Ekklesia in Pretoria dit: “Solank as wat die vrou onderworpe is, sal sy onder die beskerming van haar man se outoriteit wees. Die oomblik wat sy, onder sy outoriteit uit-rebelleer, beweeg sy onder die outoriteit uit, en kom dan te staan teen die aanvalle van die Satan en boonop ook God se toorn.”
Hoe durf ons verskil van sulke diep gelowige mans en vroue wat net uitleef en verkondig wat Godself in Sy woord leer? Want die diepgelowige man van Pakistan, die diep gelowige prediker van Suid-Afrika en die diep gelowige vrou van Pretoria sê tog maar net wat God self sê. Nie waar nie?
Die enigste probleem is net dat die diep gelowige man van Pakistan en die diep gelowige prediker van Suid-Afrika nie sal saamstem oor wie presies God is nie. Want die een is ‘n fundamentalistiese Moslem en die ander een is ‘n fundamentalistiese Christen. Wie is reg en wie het die kat aan die stert beet? Wel dit hang seker maar net af van watter kant jy kyk?
Maar terug by die twee diep gelowige mans wat albei wel saamstem oor die onderdanigheid van die vrou. Albei glo dit, albei predik dit, en albei leef dit.
Die Moslem man van Pakistan kry in die woord van sy God, die Koran, die volgende: “O, julle mense, vrees jou Here, wat die man van ‘n enkele siel geskep het en daaruit sy metgesel die vrou geskep het.” (Soera 4:1) En alhoewel die Koran die werke van mans en vroue as afhanklik in hul bestaan beskou, word hulle nie beskou as gelyke waarde nie. Die manne is veel hoër op as die vroue en hulle gaan so ver om duidelik te sê ‘n man is beter as ‘n vrou.
En die diep gelowige Christen-prediker van Suid-Afrika, kry in die woord van sy God, die Bybel, die volgende: “…omdat hy [man] die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Dit is nie God se wil dat ‘n onderhewige sal heers oor ‘n hoër een nie, maar dat hulle eerder onderworpe sal wees.” (1 Korinthiërs 11:7-9.)
Dis verstaanbaar dat albei glo hulle beweeg binne hulle God se wil, as hulle daagliks heers oor hulle vrouens en kinders. Nou is dit interessant om te sien hoe hierdie verstaan in die praktyk gestalte kry.
Die diep gelowige man van Pakistan skiet die 14-jarige meisie, Malala Yousafzai, omdat sy durf aandring op gelyke regte vir vroue en daarmee vra vir onderrig vir meisies.
Want hoe kan dit? Meisies moet by die huis bly, besig met huiswerke wat pas by ‘n vrou. Dit is tog God se wil!
Die diep gelowige prediker van Suid-Afrika verkondig aan duisende mans om hulle “hoofskap” teenoor hulle vrouens en kinders terug te neem om sodoende “God se natuurlike orde” vir verhoudings te herstel. ‘n Ideologie van hiërargie wat mans se hoofskap afdwing in die huis, as leiers en meerderes in die beroepswêreld, organisasies, kerk en samelewing. Dit terwyl die afmetings van geweld teen vroue en kinders, in die Suid-Afrikaanse samelewing (ook in Christelike huishoudings) die hoogste in die wêreld is. En omdat albei met mag en beheer werk, lees hulle en verkondig hulle die Bybel en die Koran vanuit hierdie gesag. Die hartseer realiteit is dus dat hierdie verstaan van die “orde van God,” met tyd altyd sal neerkom op geweld, mishandeling en onreg. Dalk nie in alle gevalle nie, maar net soos met slawerny skep dit gunstige toestande vir misbruik en magsmisbruik.
Want die wyse waarop mans beheer uitoefen en mag in stand hou, vorm uiteindelik die kern van geweld teen vroue. Soos Elize Morkel (‘n kliniese sielkundige) dit dan ook stel: “Talle studies dui daarop dat die beginsels van mans se ‘hoofskap’ en die onderwerping van vroue aan mans in die meeste godsdienste en kulture regstreeks verbind kan word met geslagsgegronde geweld en, nog meer ontstellend, met vroue se besluit om in gewelddadige huwelike te bly.”
Dit maak nie saak hoe hard die voorstanders van hierdie antieke en voorwetenskaplike verstaan van menswees dit probeer regverdig nie, uiteindelik sal dit lei tot geweld en miskenning van menswees. En hiervan is die voorbeeld van Malala Yousafzai, die 14-jarige Pakistanse meisie wat in haar kop geskiet is, ‘n wrede herinnering.
Die oop gesprek waarvoor ek en vele soos ek pleit sal juis moet begin met ‘n eerlike dekonstruksie van manlikheid binne die moderne verstaan. Mans sal moet eerlik kyk na hoe hulle hul identiteit verstaan en hoe lyk ‘n ware spirituele man binne die konteks van die huidige ongelyke magstrukture van geslag, ras, seksualiteit en klas. Dit sou verseker kon bydra tot ‘n meer vredevolle en gelyke samelewing. Dit waarvan Boeddha, Jesus, Ghandi, Mandela en vele ander gedroom het.
So gepraat van Mandela, ek wonder wanneer sal Suid-Afrika se inklusiewe Grondwet ooit sy pad na die hart van die verskillende godsdienste vind? Soms dink ek ons Grondwet is meer spiritueel as wat enige van die verskeie godsdienste in ons land ooit kan wees.
Natuurlik is daar wêreldwyd vele mans wat vernuwend en inklusief dink as dit kom by vroue. Maar ongelukkig word baie van daardie denke deur fundamentalistiese denke getroef.
Totdat mans in die algemeen ‘n kopskuif maak en inklusief begin dink, sal vroue gemarginaliseerdes en miskendes bly. En mans hoef nie as hulle nie wil nie, buite hulle godsdienste te gaan soek vir hoe om nuut te dink oor die sake nie. Want as ek na iemand soos Jesus kyk was sy vertolking van manwees baie anders as die “hoofskap” model wat die Islam en Christendom tans verkondig. Het hy nie juis op ‘n alternatiewe manlikheid gewys nie; een wat gegrond was op wederkerigheid eerder as oorheersing, vennootskap eerder as hiërargie en, heel belangrikste, op liefde eerder as mag.
Die hartseer realiteit is egter dat die gesprek binne vele godsdienste nou al lankal verby sy vervaldatum is. Ek begin nou saamstem met die Amerikaanse komediant, George Carlin: “Men are from Earth, women are from Earth. Deal with it.”
Komaan, die tyd is hier vir ‘n nuwe, gelyke en respekvolle menswees. En Joss Whendon slaan die spyker op die kop as hy sê: “Equality is not a concept. It’s not something we should be striving for. It’s a necessity. Equality is like gravity. We need it to stand on this earth as men and women, and the misogyny that is in every culture is not a true part of the human condition. It is life out of balance, and that imbalance is sucking something out of the soul of every man and woman who’s confronted with it. We need equality. Kinda now.”
Recent Comments